Lukas 8:18

Lukas 8:18 – Francois Malan

Piet vra:

Bespreek of verduidelik Lukas 8:18 aan my asseblief.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Soos in Markus 4:21-25, volg Lukas 8:16-18 op die verklaring van die gelykenis van die saaier wat die woord van God saai. So word Jesus se volgelinge vermaan om die woord wat hulle ontvang het oor Jesus se verlossing van sondaars te saai/verkondig: hulle het die lig van die evangelie ontvang, en moet dit nie vir hulleself hou soos ‘n lamp wat met iets toegemaak of onder ‘n bed gesit word nie. Die lig is juis daar om die duisternis te oorwin (vgl. ook Luk 11:35). Dit moet op ‘n staander gesit word sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien (v16). Die mense wat binnekom sal op verskillende maniere op die lig/saad reageer soos die gelykenis van die saaier verduidelik het.

Aan die volgelinge van Jesus is dit deur God gegee om die gelykenisse te verstaan, hulle is ingewy in die verborgenhede van die koninkryk van God (v9). Maar hierdie verborgenhede moet nie geheim gehou word nie. Hulle moet dit bekend maak. God gebruik hulle om alles bekend te maak tot seën van die mense. Maar as iemand huiwer en self probeer lyf wegsteek om die goeie nuus te verkondig, sal God hom/haar aan die kaak stel. Niks of niemand kan voor God geheim bly nie (v17).

Vers 18 is ‘n vermaning oor hoe gelowiges hoor: hoe hulle die evangelie verstaan en hoe hulle dit aan ander oordra as saaiers, getuies van Christus. As iemand die Woord reg gehoor het, mag hy/sy dit nie in hulle hart opberg nie. As hulle dit doen sal hulle op ‘n dag ontdek dat hulle die Woord kwyt is. Die besit van die Woord word vermeerder deur die aanwending daarvan. Soos die saaier moet hulle die saad van die Woord uitstrooi. Dan sal hulle vermeerdering van hulle besit daarvan verwag, deur die vrugbaarheid van die saad in goeie grond – die mense wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra (vv8,15) – vers 21 sê dit gebeur: deur na die woord van God te luister en daarvolgens handel.

Maar as hulle dit gaan wegsteek of verborge hou of by hulleself alleen hou, sal hulle vind dat dit van hulle weggeneem is, deur die duiwel, deur beproewings, deur die sorge, rykdom en genietinge van die lewe, en sal hulle bedroë daarvan afkom, soos die saad wat op die pad geval het (vv5,12) op die klipbank (vv6,13) tussen die onkruid (vv7,10).

Dieselfde beginsel word deur Jesus uitgespreek oor geestelike besit in die gelykenis van die goue muntstukke (Luk. 19:26; vgl. Mat. 25:29; en Luk 6:38). Slegs hulle wat het, hulle wat hoor, bewaar en daarmee werk, ontvang werklik God se gawe, terwyl diegene wat dink dat om te ontvang is genoeg, eendag sal sien dat hy/sy met leë hande staan, dat God die onbenutte gawe van hom/haar wegneem.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Neerval en die Heilige Gees

Neerval en die Heilige Gees – Francois Malan

Sunet vra:

Ek is op soek na ‘n vers in die Bybel wat bevestig oor die neerval onder die krag van die Heilige Gees. Kan u asb help.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Handelinge 9:4 word vertel dat Paulus op die grond neergeval het toe hy soos ‘n besetene voortgegaan het om die volgelinge van die Here met die dood te dreig en na Damaskus gegaan het om die aanhangers van die leer van die Here gevange te neem, maar daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal het en hom op die grond laat val het om hom te stop, sodat Jesus uit die hemel met hom kon praat en sy lewe omdraai (vgl. Hand 22:7 waar hy dit vir die Jode vertel, en Hand. 26:14 waar hy dit vir koning Agrippa vertel).

Maar dit is nie die gewone manier van die Heilige Gees om ons tot besinning te bring nie. Die Heilige Gees is God, wat deur sy woord in die Bybel of in die prediking of in die getuienis van gelowige mense, ons oortuig van ons sonde, omdat ons nie in Jesus glo en Hom vertrou vir ons verlossing nie (Johannes 16:8,9). Hy oortuig ons ook van geregtigheid, dat Jesus die verhouding tussen ons en God reggemaak het deur sy sterwe aan die kruis vir ons sonde. Die Heilige Gees lei ons tot geloof in Jesus, dat Jesus God is wat vir ons sonde gesterf het, en die Heilige Gees kom woon in ons, om ons aan Jesus te verbind. So word ons kinders van God wat deur die Heilige Gees gevorm word om al meer soos Jesus te word (Romeine 8:9-17; 2 Kor 3:18).

Jesus het vir Nikodemus gesê: ‘Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is (Joh. 3:7,8).

Ons sien die krag van die Heilige Gees in die lewe van ‘n mens wat deur Jesus ‘n kind van God geword het, in die volgende kenmerke, wat die vrug van die Gees se werking in jou is (vgl. Galasiërs 5:22,23):

liefde, selfs vir jou vyande (Matteus 5:43-48),

vreugde (wees altyd bly in die Here, Filippense 4:4),

vrede (Christus is ons vrede, vrede met God en met my medemens, Efesiërs 2:13-18),

geduld (met mekaar se swakhede)

vriendelikheid of sagmoedigheid (soos Jesus, Matteus 11:29)

goedhartigheid (soos ons Vader se goedheid wat Hy in Jesus aan ons bewys het, Ef. 2:7)

getrouheid (in ons diens aan God en aan mekaar, Matteus 25:21)

nederigheid (dat ek ander mense hoër ag as my self, Filip. 2:3)

en selfbeheersing (van my humeur en my selfsugtige begeertes)

Neerval is nie die teken van die werk van die Gees van die Here nie, maar waar hierdie 9 kenmerke wat Paulus in Galasiërs 5:22,23 opgenoem het in die lewe van ‘n mens gesien word, kan ons weet dat die Heilige Gees in hom of haar werk. Die duiwel laat ‘n mens ook neerval (vgl. Markus 9:18,20,25).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Ek hoor nie die Heilige Gees nie

Ek hoor nie die Heilige Gees nie – Francois Malan

Ina Vra:

Ek ervaar baie die HG in my kamer en lofprysinge by ons kerk, deur handbewegings hetsy staande of deur val, maar ek sien of hoor niks van die HG nie. Het u vir my ‘n verklaring daarvoor?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Jesus het vir Nikodemus gesê: ‘Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is (Joh. 3:7,8). Jy hoor die woorde van ‘n mens wat deur die Gees van God gelei word, en jy sien sy optrede teenoor ander mense, maar die Gees van God kan ons nie sien of hoor nie. Maar Hy woon in elkeen wat in Jesus glo, en ons kan met Hom praat, in ons gedagtes, of hardop in gebed. Hy lei ons in ons besluite van elke dag en gee ons die krag om dit uit te voer. Daarvoor vra ons elke dag dat Hy ons wyse besluite laat neem en dat ons hele lewe ‘n diens word aan ander mense. Dit is wat Jesus gesê het: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Deur die Heilige Gees woon die Vader en die Seun in ons, en verbind Hy ons gelowiges ook met sy liefde aan mekaar (Johannes 17:20-23).

Ons sien die krag van die Heilige Gees in die lewe van ‘n mens wat deur Jesus ‘n kind van God geword het, in die volgende kenmerke, wat die vrug van die Gees se werking in jou is (vgl. Galasiërs 5:22,23):

liefde, selfs vir jou vyande (Matteus 5:43-48),

vreugde (wees altyd bly in die Here, Filippense 4:4),

vrede (Christus is ons vrede, vrede met God en met my medemens, Efesiërs 2:13-18),

geduld (met mekaar se swakhede)

vriendelikheid of sagmoedigheid (soos Jesus, Matteus 11:29)

goedhartigheid (soos ons Vader se goedheid wat Hy in Jesus aan ons bewys het, Ef. 2:7)

getrouheid (in ons diens aan God en aan mekaar, Matteus 25:21)

nederigheid (dat ek ander mense hoër ag as my self, Filip. 2:3)

en selfbeheersing (van my humeur en my selfsugtige begeertes)

Waar hierdie 9 kenmerke wat Paulus in Galasiërs 5:22,23 opgenoem het in die lewe van ‘n mens gesien word, kan ons weet dat die Heilige Gees in hom of haar werk.

Die Heilige Gees is God, wat deur sy woord in die Bybel of in die prediking of in die getuienis van gelowige mense, ons oortuig van ons sonde, omdat ons nie in Jesus glo en Hom vertrou vir ons verlossing nie (Johannes 16:8,9). Hy oortuig ons ook van geregtigheid, dat Jesus die verhouding tussen ons en God reggemaak het deur sy sterwe aan die kruis vir ons sonde. Die Heilige Gees lei ons tot geloof in Jesus, dat Jesus God is wat vir ons sonde gesterf het, en die Heilige Gees kom woon in ons, om ons aan Jesus te verbind. So word ons kinders van God wat deur die Heilige Gees gevorm word om al meer soos Jesus te word (Romeine 8:9-17; 2 Kor 3:18).

Die feit dat ek in Jesus Christus glo, bewys dat die Heilige Gees in my woon en dat Hy besig is om my te verander dat ek al meer soos Jesus word en die vrug van die Gees in my lewe vertoon. Romeine 8:15,16 sê: die Gees maak ons kinders van God en getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Egskeiding en weer trou

Egskeiding en weer trou – Kobus Kok

Louise vra:

Ek sit met ‘n vraag wat ek soveel verskillende opinies oor kry dat ek nie meer weet watter kant toe nie en wat die regte opinie is nie. Volgens die 10 gebooie in die Bybel mag jy nie “adultery” pleeg nie en indien jy na ‘n egskeiding weer sou trou (as jou man nog lewe) pleeg jy “adultery”, want God sê wat Hy saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Dus as jou man nog lewe en jy skei is julle eintlik nog steeds een vlees. Nou word daar gesê in 1 Kor 6:9-10 dat mense wat “adultery” pleeg nie hemel toe sal kan gaan nie. Ek hoor soveel opinies hieroor want sommige mense sê dat God vir ons sondes aan die kruis gesterf het en dat Sy liefde en genade vir ons so groot is dat as jy om vergifnis vra (repentance) jy wel hemel toe sal gaan. Is dit so of nie? My probleem is ook dat indien jy reeds weer getrou het, moet jy dan skei van jou tweede man omrede jy “repent” het anders gaan jy nie die Koninkryk van God sien nie (hel toe gaan). U leiding en hulp in die verband sal baie waardeer word.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Mag ‘n Christen wat geskei het weer met iemand anders trou?

Voordat ons hierdie vraag begin beantwoord, moet ons vir mekaar dit duidelik stel dat die Bybel van die begin af al dit duidelik maak dat getrouheid ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees. In die Ou Testament word die verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou dikwels as analogie (voorbeeld) gebruik om te verduidelik hoe God getrou is aan sy beloftes aan sy volk wat telkens ontrou is. Trouheid is met ander woorde ʼn baie belangrike motief regdeur die Bybel.

Indien ons nou die vraag wil beantwoord of ʼn Christen wat geskei het weer kan trou, moet ons die vraag eers so paar stappe terugvat in die proses, deur daaroor te besin deur die bril van lewenslange getrouheid. Indien getrouheid en lewenslange trou ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees, gaan mens heeltemal anders met jou verhoudingslewe om as wat iemand daarmee sal omgaan vir wie hierdie waarde nie belangrik is nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy keer op keer sal óór begin, dat jy as huweliksmaat aan jouself en jou karakter sal werk sodat jou huwelik kan groei en nie skipbreuk sal lei nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy ander keuses maak as dit kom by die hou van gesonde grense met iemand by die werk of by sosiale geleenthede. Indien mens van die begin van jou huwelik al die saak uitmaak dat jy NIE gaan skei nie, en dat daar nie vir jou ʼn ander opsie IS nie, dan gaan jy anders omgaan met die uitdagings, pyn en teleurstelling wat mens in ʼn huwelik beleef. Omdat God die sentrum van jou lewe is en jy Sy wysheid soek, sal Hy jou in elke seisoen van jou verhoudingslewe op ʼn opwindende karakterreis van groei en verdieping neem.

Soms gebeur dit egter dat ʼn verhouding eindig, en dat ʼn egskeiding onafwendbaar is. Vat maar net die man wat sy kinders molesteer en jare lank drink en sy vrou emosionele en fisiese geweld aandoen. In sommige gevalle is ʼn egskeiding die weg tot genesing.

Hou die Bybelse konteks in gedagte 

Ons moet versigtig wees om die Bybelse teksgedeeltes wat oor egskeiding handel te maklik op ons eie situasie en konteks toe te pas. Die Bybelse tekste verteenwoordig ʼn lang groeiproses en daar was ook bepaalde dinge wat in daardie konteks rondom die dimensie van egskeiding plaasgevind het. Ons lees byvoorbeeld in Matteus 19:9 dat Jesus egskeiding verbied. Hierdie gedeelte in Matteus moet egter in die regte konteks verstaan word en die agtergrond daarvan moet eers belig word. Hier in Matteus 19 vra die Fariseërs vir Jesus ʼn strikvraag om hom uit te daag. Hulle wil weet of dit ʼn man geoorloof is om vanweë allerlei redes van sy vrou te skei?  Die teks waarna die Fariseërs verwys, verwys na ʼn konteks in die geskiedenis van Israel wat lank van te vore ter sprake was. Uit ons navorsing wil dit voorkom dat in die tyd van Jesus, die antieke Mediterreense kultuur grootliks ʼn paternalistiese sisteem was. Dit beteken dat die pa die onbetwisbare hoof van die huis was. Mans in die Grieks-Romeinse wêreld kon selfs so ver gaan as om te besluit of hulle hulle kind se lewe sal spaar of nie. Ons weet van gevalle waar mans aan hulle swanger vrouens skryf dat indien hulle geboorte gee aan ʼn dogter dan moet hulle ontslae raak van die kind, maar as dit ʼn seuntjie is kan hulle die kind maar hou. Dit het dikwels gebeur dat babas op die ashope gegooi is. Die pa het dus die mag oor lewe en dood gehad in die antieke tyd. Verder was die pa die hoof van die huis en die res van die gesin moes maar volgens sy pype dans. Dit wil verder uit ons navorsing voorkom dat baie mans vrouens beskou het as synde nie veel meer as ʼn stuk vleis nie. Hulle kon ook baie maklik van ʼn vrou skei deur eenvoudig vir die vrou ʼn skeibrief te gee as sy die kos een keer te veel gebrand het. Vrouens het baie min regte in ʼn paternalistiese sisteem gehad en so is vrouens eintlik in ʼn baie brose posisie gelaat. Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus se uitspraak dan verstaan moet word. Jesus se uitspraak is dus ook ʼn sterk reaksie teen die uitbuiting van die vrou en die absolute, soms onregverdige optrede aan die kant van mans. Jesus se reaksie op die vraag van die Fariseërs slaan die hamer reguit op die spyker en dring deur tot op die kern van die saak: Dit wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Hier maak Jesus dus ʼn baie sterk stelling wat reguit ingaan teen die algemene kultuur van sy dag.

Die Fariseërs het vinnig hierop gereageer en voor al die getuies beroep hulle hulle op die gebruik wat volgens hulle teruggaan na die groot leier  van Israel, naamlik Moses. Moses het volgens hulle die ruimte geskep om gewoon ʼn skeibrief te gee aan jou vrou en van haar te skei (vgl. Matt 19:7). As Moses dit gesê het, en geoorloof het, wie is Jesus dan om te stry, was hulle grootste verweer. Jesus het onmiddellik daarop gereageer en die bal weer terug in die hande van die Fariseërs gegooi en hulle skynheilige karakters blootgestel deur te argumenteer dat Moses wel die ruimte gelaat het vir skeibriewe, maar dit gedoen het as gevolg van die hardheid en koudheid van hulle harte. Dit was egter nie van die begin af deel van God se hart of plan vir die mens nie. Jesus kom gee hulle dan ʼn nuwe siening, wat nie teruggaan na Moses nie, maar teruggaan na God se oorspronklike plan, en in sy betoog haal Jesus ʼn teks uit Genesis aan en argumenteer dat ʼn man sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou as een vlees/wese/mens leef.  Jesus sê verder dat die implikasie daarvan is dat die wat skei, teen die wil van God optree en niks minder as die sewende gebod oortree nie, naamlik dat mens nie mag egbreuk pleeg nie (Kyk ook Luk 16:18, Mark 10:12 en Matt 5:31, 32). Jesus het dus die ganse paternalistiese sisteem op sy kop geswaai en gewys dat verhoudings, integriteit, karakter en innerlike oriëntasie, radikale selfopofferende liefde, barmhartigheid en diens die belangrikste is.

Terug na ons tyd vandag. Kan ʼn Christen wat geskei het weer trou? Miskien is die vraag nie óf en hoe vinnig ʼn Christen wat geskei is weer kan trou nie, maar in hoe verre ʼn Christen kan wys dat opregte verhoudings en trou wat in God gewortel is kan hou! Miskien trou en skei ons heeltemal te vinnig vandag. ʼn Vriend van my wat ʼn prokureur is en egskeidings hanteer, is vandag skatryk omdat soveel mense skei, sommiges selfs na ʼn paar maande se getroude lewe. Ek wonder of mens regtig al die huwelik of mekaar ʼn kans gegee het na so ʼn kort tyd. Tog is daar regtig ook situasies waar ʼn egskeiding onafwendbaar is en dikwels die weg tot genesing is.

In Jesus se hantering van die Samaritaanse vrou wat al meer as 5 mans gehad het in Johannes 4 en die vrou wat op ontug betrap is in Johannes 8 sien ons Jesus se radikale hart. Jesus skep tweede kanse en gee lewe. Terwyl ek glo dat lewenslange trou en liefde die reël is, glo ek ook dat God vir ons tweede kanse kan skep en ons mislukkings in verhale van hoop en genesing kan verander. Indien ons opreg in ons verhouding met Hom leef en ons weer trou na ons geskei het, sal Hy ook vir ons die geskenk van vergifnis en nuwe lewe gee. Ek ken mense wat ʼn tweede keer getroud is en wat God in hulle verhouding ten volle eer en wat Hom al meer in die nuwe verhouding ontdek.

Opgesom: God se wil is dat man en vrou in ʼn liefdevolle verhouding van trou leef wat Hom in die sentrum stel. God se hart klop nie vir egskeiding nie, maar vir liefdevolle trou. Soms is egskeiding onafwendbaar. In sulke gevalle kan God weer tweede kanse skep, maar dit moet eerder die laaste uitweg wees.

 

Lees gerus die volgende boek wat vir my persoonlik baie beteken het:

Thomas, G., 2000, Sacred Marriage. What if God designed Marriage to make us Holy, more than to make us Happy? Zondervan uitgewers.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok