Diere in die hemel

Diere in die hemel – Francois Malan

Elize vra:

Ek wil graag weet of diere (ons troeteldiere) eendag saam met ons die nuwe aarde sal bewoon. Sal ons weer ons geliefde diere sien – my logika sê vir my dat God sy skepping lief het en dat ‘n liefdevolle God weet hoe lief ons ons diere het en daarom sal hy ons nie skei van mekaar. Dit pla my baie, want ek klou aan die hoop dat ek my diere weer sal sien in die hiernamaals en my hart was baie seer met hul afsterwe – ek dink nog elke oomblik van die dag aan hulle en ek glo dat ek hul weer sal ontmoet.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ons weet nie. Wat vir ons wag bly ‘n verrassing, en ons kan seker wees dit sal baie anders wees as hier, baie beter sonder sonde en dood, en dat ons by die Here sal wees. Sy heerlikheid sal ons lig  wees en die Lam ons lamp waarby ons sal lewe (Openb. 21:22-27), maar wat die heerlikheid van God inhou sal ons nog sien. Ons sal in elk geval lewe in die heerlikheid van God se liefde, waarin dié mense lewe wat in Jesus Christus glo as die Here van hulle lewe.

Dat die nuwe aarde nuut sal wees, beteken dat God sy skepping gaan nuut maak, maar nie vernietig nie. En dat daar diere sal wees, word in die Bybel voorsien. Jesaja 11:6-8 sê bv. wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees, en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.

In Romeine 8:19-22 sê Paulus die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het (toe die mens in sonde geval het, het die dood in die wêreld gekom soos God gesê het Gen 2:17. En sedertdien sterf alles in die skepping ook). Daarby het Hy die belofte van hoop gegee, die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat behoort by die heerlikheid van die kinders van God. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Verskillende vorms van doop?

Verskillende vorms van doop? – Jan van der Watt

Ben vra:

Ek is erg bekommerd. Ek het die webblad besoek, maar dit wil vir my voorkom of elkeen maar kan kies in watter doop hy of sy belang stel na gelang van die verskillende skrywers se sieninge. Dit kan mos nie. Efesieérs4,5 leer vir ons een Here een geloof een doop.

Die Bybel maak dit baie duidelik in Handelinge2 ,38 dat ons tot bekering moet kom en in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word tot vergewing van sondes. Die Naam van Jesus verteenwoordig sy bloed gestort aan die kruis tot vergifnis van ons sonde. Handelinge 10,43 Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo,vergifnis van sonde deur sy Naam ontvang. Met verwysing na u vertaling wat die dooptekste so duidelik  verstaanbaar maak, sou ek graag wil weet, hoe is u gedoop en hoe voer u die doop sakrament uit.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jy is reg, daar is verskillende opinies op die webblad wat deur verskillende persone geskryf is. As jy mooi kyk by die doel van die webblad is dit nie om ‘antwoorde’ te gee nie, maar om kennis beskikbaar te stel. As jy die verskillende standpunte lees, kyk hoe argumenteer die persoon wat dit geskryf het, kyk watter verse hy gebruik en hoe hy of sy dit verstaan. Die gevaar is altyd dat ons net sekere verse kies en dan ons leer daarop bou. Die vraag is dan waarom ons die ander uitlos wat miskien op iets anders van die doop klem lê? Die geheim van goeie Bybeluitleg is om balans te hou en nie die een vers bo die ander te kies nie. Ons praat van ‘n innerkanoniese (of binne-Bybelse) gesprek, waar ons al die betrokke verse wat oor ‘n saak, byvoorbeeld die doop, gaan saam lees en dan vra hoe ons dit moet verstaan sonder om die een bo die ander te bevoordeel, want dan kry jy eensydige verstane van die teks.

Natuurlik is daar maar een Here en een doop – die Christelike doop wat, as jy die artikels lees, die aanduiding is van die verandering wat in ‘n mens se lewe plaasvind as jy ‘posisies’ verruil van die negatiewe posisie van ‘n nie-gelowige tot die posisie van ‘n gelowige. Dit moes in die openbaar tussen jou nuwe ‘familie’ gedoen word sodat almal dit kan sien en kan weet waar jy nou tuishoort. Daarom is daar nie voorgeskryf presies hoe dit gedoen moet word nie (bv. baie of bietjie water, in ‘n rivier, dam of by ‘n doopbak) nie. Dit wat dit doop wou se, naamlik die verwisseling van posisies was die belangrikste.

Oor die groot en kleindoop kan jy heelwat op die webblad lees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Mense in die Bybel: Tomas

Mense in die Bybel: Tomas – Coen Slabber

Ons lees maar min van Tomas in die Bybel. In die drie sinoptiese evangelies kry ons net sy naam in die lys van twaalf dissipels/apostels (Matteus 10:3; Markus 3:18; Lukas 6:15 – ook in Handelinge 1:13). Dit is slegs in die Johannes evangelie wat ons meer van hom lees.

Tomas wat ook Didimus genoem is. Tomas is ‘n Aramese woord wat “tweeling” beteken; Didimus is die Griekse woord vir “tweeling.”

 

Jesus hoor dat Lasarus siek is. Na twee dae sê Jesus vir sy dissipels: Kom ons gaan terug na Judea toe (Johannes 11:7). Die dissipels probeer om Hom om te praat om dit nie te doen nie: Nou die dag wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen? Jesus lig hulle in dat Lasarus dood is en dat Hy na Lasarus toe wou gaan. Tomas sê toe vir die ander dissipels: Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe – allermins die woorde van ‘n lafaard of iemand wat bedenkinge oor Jesus het. Maar Tomas, net soos die ander dissipels, het Jesus verlaat toe Hy gevange geneem is.

Jesus en sy dissipels sit aan die tafel. Dit was net voor die paasfees. Jesus gesels met sy dissipels en sê vir hulle dat Hy weggaan. Dan is dit Tomas wat vra: Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken? Dan antwoord Jesus hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14:5 – 6).

Ons onthou egter vir Tomas veral omdat hy nie wou aanvaar dat Jesus opgestaan het, nadat die ander apostels hom daarvan vertel het nie: As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie – ongelowige Tomas (Johannes 20:25). Selfs sy tien vriende kon nie vir Tomas oortuig dat Jesus opgestaan het nie. Agt dae later verskyn Jesus weer aan sy dissipels – en Tomas is ook daar. Jesus nooi vir Tomas uit en vra hom om na sy hande te kyk, sy vinger in die spykermerke te steek en sy hand in sy sy. Of Tomas dit gedoen het, weet ons nie. Wat ons wel lees, is sy belydenis: My Here en my God. Daarna lees ons ook Jesus se teregwysing: Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo (Johannes 20:26 – 29).

 

thomas

Skildery: Die ongelowigheid van Tomas deur Caravaggio 

Tomas was ook een van die dissipels wat teenwoordig was toe Jesus aan ‘n paar van hulle by die See van Tiberias verskyn het (Johannes 21:2). Dit is wat ons met sekerheid van Tomas weet.

Daar is egter heelwat apokriewe en pseudepigrafiese (= vals geskrifte of geskrifte geskryf onder ‘n skuilnaam, veral Joodse geskrifte, wat toegeskryf word aan die patriarge, profete of apostels in die Bybel) materiaal oor Tomas. Daar is ook sekere geskiedkundige data  wat daarop dui dat van hierdie materiaal wel stukkies waarheid bevat. Daar is veral twee dokumente van belang:

(1) Die Evangelie van Tomas. Hierdie is ‘n gnostiese geskrif van ongeveer 140 nC. [Gnostisisme = Filosofiese en godsdienstige stelsel  van die 1ste tot die 6de eeu, wat geleer het dat kennis eerder as geloof die sleutel tot die saligheid is – HAT.] Hierdie geskrif is in 1945 by Nag Hammadi in Egipte gevind. Dit bevat 114 gesegdes van Jesus wat deur Tomas behou is. Prof Adrio König het ‘n artikel oor hierdie evangelie op die webblad geskryf.

(2) Die Handelinge van Tomas (die Acta Thomae). Hierdie is ook van gnostiese oorsprong en baie besonderhede is erg oordrewe. So word onder meer beweer dat Tomas die tweelingbroer van Jesus was. Dit word beweer dat die apostels die destydse wêreld in bedieningsgebiede verdeel het. Tomas word so verantwoordelik vir Indië. Hy het die evangelie aan die Jode in Kerala verkondig. (As gevolg van die vervolging van Jode en Christene het sommige Jode selfs so ver as Indië uitgewyk.)

Dat Tomas die evangelie in Indië verkondig het, word in beide die Ooste en die Weste aanvaar. Of hy wel so ver suid as Madras gereis het, kan nie bewys word nie. Volgens oorlewering is hy daar met spiese gemartel totdat hy gesterf het. Daar word beweer dat hy in Edessa begrawe is.  Aan die weskus van Indië is daar wel ‘n groepie Christene wat ‘n Siriese dialek in hulle liturgie gebruik. Of hierdie groepie se oorsprong na Tomas se bediening teruggevoer kan word, is onseker. As Tomas in Indië die evangelie verkondig het, was hy waarskynlik die enigste apostel wat die evangelie buite die Romeinse Ryk verkondig het.

Ons is geneig om Tomas in ‘n baie negatiewe lig te sien – die ongelowige Tomas. Tomas se twyfel het egter ‘n doel gehad – hy wou agter die waarheid kom. Daarom sy vraag aan Jesus: As ons nie weet waarheen U gaan nie, hoe kan ons die pad soontoe kry? Twyfel is nie altyd negatief nie, want dit laat ons weer dink oor wat ons glo. Dit mag egter nooit ‘n permanente gesindheid word nie. Jesus Christus verwerp nie eerlike twyfel nie.

Twyfel en ongeloof is twee heeltemal verskillende dinge. As ons twyfel, en alle gelowiges twyfel op een of ander stadium, moet ons doen wat Tomas gedoen het: ons moet ons twyfel na Jesus Christus neem en Hom toelaat om ons van die waarheid te oortuig.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Sewe woorde aan die kruis

Sewe woorde aan die kruis – Francois Malan

Drie van die sewe woorde aan die kruis is in Lukas opgeteken en drie in Johannes; en een wat in Markus en Matteus voorkom. Ons gaan eers luister na die drie kruiswoorde wat Jesus met die mense rondom Hom en met ons gepraat het as aanwysings vir die lewe. Aan die einde van die drie uur duisternis hoor ons na die vier woorde van sy worsteling met God oor ons en ons sonde.

Met sy eerste woorde aan die kruis bid Jesus

 

vir die Romeinse soldate wat Hom vasspyker aan die kruis,

vir Pilatus en die Joodse Raad wat Hom tot die dood veroordeel,

vir die volk wat aanhoudend geskreeu het: weg met Hom, kruisig Hom.

Jesaja sê: Hy het die sondes van baie op Hom geneem en vir die oortreders gebid

Jesus bid: ‘Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie! (Lk 23:34).      So stel Hy vir ons ‘n voorbeeld van die gebed wat Hy ons geleer het: Vader vergeef ons ons sondes, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Mt 6:12; Lk 11:4).

So pleit Hy ook vandag nog vir ons by sý Vader in die hemel, en deur sy offer ook óns Vader (Rom 8:34).

Die tweede kruiswoord: Daar is u seun – daarmee maak Jesus Hom los van Maria as sy moeder en bind haar aan Hom as haar Here (Joh 19:26). Sy word een van sy dissipels, een van sy  volgelinge, wat na die Hemelvaart saam met die dissipels in die bovertrek volhard in gebed (Hand.1:14). Reeds voor sy geboorte sing sy: ek juig oor God my Verlosser (Lk 1:47)

Daar is jou moeder – voortaan sal sy geliefde dissipel vir haar sorg as sý moeder; sy volgelinge, ons,  moet mekaar liefhê en mekaar versorg. Volgelinge van Jesus is aan mekaar gebind deur sy liefde vir ons. Die aand voor sy kruisiging het Hy gesê: Ek gee julle ‘n nuwe gebod; julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is

Die derde kruiswoord: Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.

Van die koning van hemel en aarde vra die misdadiger slegs ‘n gedagte, dat Jesus, die Verlosser, aan hom moet dink –  en hy kry ‘n paradys. Hy vra ‘n druppel, en word oorstort met ‘n oseaan van genade. Vir die mense wat na Hom toe kom, sluit Hy die paradys oop, uit sy liefde en volmag as koning van die koninkryk van God. Die misdadiger aan die kruis is soos die verlore seun wat uit die vér land teruggekeer het, die heerlike kus van vergifnis ontvang het, en gaan sit het aan die feesmaal van sy Vader (Lk 15:20).

So het Jesus ook vir ons die pad na die ewige paradys by God oopgemaak, en ons deel gemaak van sy sondaarsliefde, sodat ons ook ons vyande sal liefhê en vir hulle die pad na die paradys aan te wys deur die liefde van God waarin Hy ons laat deel.

Vierde kruiswoord: Toe God die Egiptenaars gestraf het oor hulle sonde en hardkoppigheid, het Hy dit vir drie dae pikdonker gemaak in die hele Egipte. En daarna het Hy elke eersgeborene in Egipte laat sterf (Eks 10:21-12:30). Daardie nag is die Joodse Paasfees ingestel.

Op die paasfees voltrek God sy oordeel oor die sonde van die wêreld aan sy enigste Seun.

Daar aan die kruis daal Jesus ter helle neer, in die vuur van God se toorn oor die sonde van die hele wêreld, ook oor my sonde, en Hy roep uit:

My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mt 27:46; Mk 15:34; Ps 22:2)

Die hel is die toestand van Godverlatenheid, dat God jou prysgee. Vir drie uur het Jesus die beker van God se toorn oor ons sonde gedra. Johannes die Doper het gesê: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Joh 1:29). In die duisternis van God se oordeel oor ons sonde word die Seun van God deur God verlaat. Dit is sy diepste lyding.

Vyfde kruiswoord: ‘Ek is dors.’Joh 19:28 (Ps 69:22)

Toe die rykman in die doderyk in pyn verkeer vra hy dat Lasarus net die punt van sy vinger in water steek om sy tong te kom afkoel in die verskriklike vuur (Lk 16:24). So is Jesus dors na sy stryd in Getsemane, sy verhore voor die Joodse Raad en Pilatus, sy mishandeling deur die soldate, en sy drie-uur lange worsteling in die duisternis om ons verlossing te bewerk. Deur sy lyding vervul Jesus die profesie van Ps 22:16 my tong kleef aan my verhemelte; Hy wat die water van die lewe oorvloedig aan ons gee (Joh 4:10; 7:38), versmag in sy sterwe van die dors.

Sesde kruiswoord: Dit is volbring! (Jh 19:30) – ‘n juigkreet van die dienskneg van die Here.

Hy het die lyding deurstaan, die straf op ons sonde gedra, die werk voltooi wat die Vader hom gegee het om op aarde te volbring (Joh 17:4). God het deur Christus die wêreld met Homself versoen, en reken die mense hulle oortredinge nie toe nie (2 Kor 5:19). Sy versoeningswerk is volbring. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Sewende kruiswoord: Met die gebed wat Maria Hom as kind geleer het, waarmee Hy elke aand gaan slaap het, is Jesus se laaste woorde in ‘n groot stem: Vader, in u hande gee Ek my gees oor (Lk 23:46; Ps 31:6). Hy lê self sy lewe af in die hande van sy Vader – Hy kan Hom nou weer ‘Vader’ noem. Sy Vader sal Hom op die derde dag opwek uit die dood, sodat Hy die angel uit die dood kan wegneem, ook vir ons. Daarom kan Stefanus, terwyl hulle hom stenig, uitroep: Here Jesus, ontvang my gees! (Lk 7:59). Niks kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom 8:39).

 

Skrywer: Prof Francois Malan