Mag jy net een huweliksmaat hê?

Mag jy net een huweliksmaat hê? – Kobus Kok

Teresa vra:

Is daar ‘n skrifgedeelte in die Bybel wat daarna verwys dat ons net een huweliksmaat mag hê?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Waar së die Bybel mens mag net een vrou he?

In die tyd wat die Nuwe Testament geskryf is, is monogame huwelike definitief die reël. In die Nuwe Testament staan daar nou nie eksplisiet jy mag net een vrou hê nie, maar dit was nie nodig om dit te sê nie omdat almal dit goed geweet het. Vir die vroeë Christene was seksuele reinheid baie belangrik. Paulus skryf in 1 Korintiërs 6:16 en Efesiërs 5:31 dat twee mense wat geslagsgemeenskap het een persoon word. Hy sinspeel op Genesis 2:24 wat sê dat die twee een sal word. Daar is nie plek vir ‘n derde nie. In Markus 10:7-8 sien ons ook dieselfde gedagte.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Kain se vrouens

Kain se vrouens – Kobus Kok

Yvonne vra: 

Ek het ‘n vraag van my dogter gekry en nou wonder ons oor die antwoord: Kain het gaan woon in Nod en het ‘n vrou geneem. Ons neem aan dat dit in Nod was, maar waar kom die mense vandaan as Adam en Eva die eerste mense op die aarde was? Kan ek ook baat vind uit David Pawson se “Unlocking the Bible” .

Antwoord:

Prof Kobus Kok antwoord: 

Die feit dat Adam se oudste seun Kain vir hom ‘n vrou gaan kry het elders (vgl. Gen 4:16-17) wys mos dat die Bybel se skeppingsverhaal meer genuanseerd verstaan moet word. Die Bybel gaan selfs verder deur te sê dat Kain se een seun met die naam Lamech ook vrouens geneem het. Die Bybel sê met ander woorde nie Adam en Eva was die enigste mense wat geskape was nie. God het ook ander mense geskep. Die probleem is nie die Bybel nie, maar die manier waarop ons dit vir mekaar in die Sondagskool verduidelik.

Die boek van David Pawson is nie aan my bekend nie. Ek dink indien u dieper wil delf in die teks, koop ‘n goeie kommentaar deur ‘n geleerde wat spesialiseer in die boek Genesis. Hierdie kommentare kan gekoop word by toonaangewende Christen boekwinkels of bestel word op www.amazon.com. Een so ‘n reeks vir die wat dieper wil delf is die Word Biblical Commentary reeks.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Wyn of Druiwesap

Wyn of Druiwesap – Francois Malan

Jacobus vra: 

Watter gebruik: DRUIWESAP van die wingerd(wynstok) en of GEGISTE (alkoholiese) WYN word by die nagmaal gebruik?Ons het ‘n verskil omdat sekere lidmate geharde drinkers was voor hulle bekering en nou wil die kerkraad net druiwesap tydens die nagmaal bedien. Is dit verkeerd om nagmaalwyn te gebruik ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesus se tyd was wyn ‘n algemeen bekende drank in Palestina omdat daar baie druiwe verbou is, soos bv. in die Boland waar wyn ‘n algemene drank is  (daar is gebiede waar druiwe en wyn heeltemal onbekend was – in Noord-Sotho is daar bv. geen woord vir druiwe of wyn nie en is die Afrikaanse woorde ‘druife’ en ‘beine’ in die ou Bybelvertalings gebruik).

Jesus het van die gebruiklike drank en die stapelvoedsel brood gebruik vir die instelling van die Nagmaal tydens die viering van die Joodse Paasfees wat in vreugde teruggedink het aan Israel se verlossing uit Egipte (Eksodus 12). Die Nasireërs het hulle vir ‘n tyd aan die Here gewy en het dan geen wyn of bier gedrink het nie (Numeri 6:2-4). So het Johannes die Doper gevas en geen wyn gedrink nie (Lukas 1:15). Hy word in Matteus 11:16-18 verbind met die treurlied tydens ‘n begrafnis, omdat Johannes die Doper vir Israel geroep het tot bekering van hulle sonde, ter voorbereiding vir die koms van God se Gesalfde (Messias, Christus). Maar die mense se nydige reaksie op Jesus se optrede is dat hy ‘n vraat en ‘n wynsuiper is, omdat Hy Hom met die vreugdelied van die huweliksdans vereenselwig het, die Vriend van tollenaars en sondaars deur met hulle saam te eet (Matt.11:16-19; 9:10-11). Hy is die bruidegom wat gekom het, en die bruilofsgaste kan nie vas terwyl Hy by hulle is nie (Matteus 9:14-15). So het Hy by die bruilof te Kana ‘n groot klomp wyn gemaak toe die wyn opraak (Johannes 2:6-11).

Markus 14:23-5 en Matteus 26:26-29 se weergawes van die instelling van die Nagmaal noem nie wyn nie, maar die beker, omdat daar by die Paasmaal vier keer wyn gedrink is wat die 1e,2e,3e,4,e beker genoem is. Jesus praat ook van die produk (vrug) van die wingerdstok wat Hy saam met sy dissipels sal drink in die koninkryk van sy Vader, letterlik staan daar: ‘ek sal nie drink van hierdie vrug van die wynstok nie tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink saam met julle in die koninkryk van my Vader’ (NAV het dit probeer verduidelik twee keer in die teks die woord  ‘wyn’ te gebruik). Die ‘produk van die wingerdstok’ verwys gewoonlik na wyn, maar kan ook na mos of druiwesap verwys.

Lukas 22:17-18 praat ook van die beker en die produk (vrug) van die wingerdstok; en 22:20 van die beker.

1 Korintiërs 11:25-26 praat ook net van die beker.

In Matteus 9:17, Markus 2:22 en Lukas 5:37 word gepraat van ‘nuwe wyn’ wat nie in ou leersakke gegooi moet word om te gis nie. Die term ‘nuwe wyn’ wys gewoonlik na mos of druiwesap, wat nie soos Monis se druiwesap gepreserveer is om nie te gis nie.

Ek vermoed dat die gedagte van die kerkraad om net druiwesap te gebruik, iets te doen het met Paulus se uitspraak in Romeine 14:21 dat dit goed is as ‘n mens nie wyn drink wat jou broer laat struikel nie. Die hele gedeelte 14:19-23 waarsku die sterkes in die geloof om nie hulle vryheid te misbruik as dit ‘n swak broer laat struikel nie; maar waarsku ook die swak broer om nie eise te stel wat die vryheid van die sterke aan bande lê nie.

Ek sou sê dat Nagmaal bedien kan word met wyn en druiwesap, sodat elkeen kan kies, as die houer verbykom, wat hy of sy wil gebruik om aan die bloedoffer van Jesus vir ons sonde te dink, en dit vir onsself in geloof toe te eien. Wat van belang is, is nie die simbole wyn of druiwesap nie, maar die bloed van ons Here, wat ook ‘n simbool is vir sy offer van sy lewe wat ons volkome vry maak van ons sonde deur in Hom te glo as God self wat vir ons die straf op ons sonde gedra het (vgl. Hebreërs 10:11-18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die einde met vuur

Die einde met vuur – Francois Malan

Jan Smith vra:

[Hierdie is ’n opvolgvraag]

Is dit die bedoeling dat die huidige aarde en hemele met vuur sal vergaan soos wat Petrus aandui? In 11 Petrus 3: 12 en 13 is daar vermelding van “julle” wat die koms van die dag van die Here verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt maar “ons” verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Saamgelees met vers 7: Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf (destruction) van die goddelose mense.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In 2 Petrus 3 waarsku Petrus die gemeentes teen die dwaalleraars wat nie meer die wederkoms van die Here verwag nie, en ook nie ‘n oordeelsdag nie (v4). Hy wys eers daarop dat die dwaalleraars gerieflik die feit ignoreer dat dit  God is wat die hemel en die aarde geskep het deur sy woord, en deur sy woord die hemel en die aarde onderhou (v5). Deur sy woord is die wêreld in die ou tyd deur water verwoes/vernietig (v6, NAV vergaan). Deur die woord van God bestaan die hemel en die aarde vandag nog tot by die wederkoms van Christus om die goddelose mense te oordeel en te verdelg (v7, dieselfde woord van God wat deur water die aarde verwoes/ vernietig het volgens v6).

Die vergelyking met die sondvloed waardeur die wêreld verwoes is, gee ietwat van ‘n aanduiding dat die nuwe hemel en nuwe aarde wat deur die woord van God geskep gaan word na die verbranding van die hemel en die aarde, wel ‘n verband sal hê met die huidige hemel en aarde wat die Here deur sy woord geskep het en in stand hou; maar dat dit heeltemal nuut sal wees.

Die nuwe aarde wat te voorskyn sal kom as God sy oordeel oor alles laat gaan het, as die hemele verbrand en die elemente in die vuur weggesmelt het (3:12), as die son verduister het en die maan sy glans nie meer gee nie, as die sterre van die hemel geval het en die magte van die hemel wankel (Markus 13:24-25; Mat 24:29) – die nuwe aarde wat dán te voorskyn sal tree, sal die ou aarde wees wat God geskep het, maar deur God se oordeel gereinig is van al die sonde en die gevolge van die sonde. Dit sal die aarde wees soos God dit oorspronklik bedoel het en sou gewees het as daar geen sonde was nie.

Die Bybel praat van ‘n wêreld wat verbygaan of ondergaan (Markus 13:31 vgl. Jes.34:2,4; Joel 2:10), wat verdwyn of bevry word van diensbaarheid aan die verganklike (Openbaring 21:1; Romeine 8:19-22), wat soos ‘n kledingstuk verwissel word, of deur vuur gelouter word. Hoe dit gebeur weet ons nie. In die Skrif gaan dit nie om ‘n presiese beskrywing van ‘n ou wêreld wat ondergaan of ‘n nuwe wêreld wat opstaan nie. Alleen enkele en algemene buitelyne word vir ons getrek: die nuwe aarde sal anders wees as die ou aarde, maar steeds die aarde wat God geskep het, waarop alles tans doodgaan weens die sonde van die mens, maar wat smag om van die dood verlos te word saam met die kinders van God.

Na die eerste argument teen die valse leraars, volg die tweede oor God wat ‘n ander tydsmate het as die mens (2 Petr.3:8) en die derde argument oor God se lankmoedigheid om die oordeel uit te stel en mense nog ‘n kans gee om tot bekering te kom (v9). Dan volg die vierde argument in vers 10 om die gemeente lewendig gereed te hou, dat Jesus onverwags sal kom soos ‘n dief in die nag op ‘n tyd wat niemand ken nie. Daarby word dan uitgebrei oor die vernietiging van die hemel en die aarde. Die hemel sal met ‘n groot gedruis verbygaan, ophou bestaan, die hemelliggame sal brand en wegsmelt en die aarde met alles daarop sal vergaan (die woord ‘sal vergaan’ is ‘n groot vertaalprobleem – die Griekse woord wat gebruik word in die beste manuskripte uit die vroeë derde eeu n.C., nl. ‘sal gevind word’,  pas nie in die konteks van die vers nie (vgl. by v12). Daarom het ou manuskripte dit probeer verander (‘n derde eeuse teks voeg ‘n ‘nie’ in: ‘sal nie gevind word nie; ‘n 4e eeuse manuskrip voeg ‘n woord by: ‘sal versmelt/ontbind gevind word’;  5e eeu se tekste verander die woord na: ‘sal verdwyn’;  of: ‘sal verbrand word’).

Met die vier argumente wil Petrus die gemeente wakker skud om aan God toegewy te lewe (v11), terwyl ons uitsien na die dag wanneer God kom om die hemel en die elemente te laat verbrand en wegsmelt, soos met Sodom en Gomorra gebeur het, sodat ons kan woon op die nuwe aarde met die nuwe hemel waar geregtigheid sal heers, dat ons met God in die regte verhouding sal lewe as sy kinders wat sy wil doen en daarin ons vreugde vind om Hom en ons naaste uit liefde te dien (v12,13). So waarsku Petrus teen die dwaling van beginsellose mense wat ons van ons standvastigheid wil beroof (3:17), maar dat ons steeds moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (v18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan