Die laaste oordeel

Die laaste oordeel – Francois Malan

Francois Conradie vra:

Kinders van God by die laaste oordeel. a) Sal gereddes by die laaste oordeel verantwoording moet doen vir hulle verkeerde dade en woorde alhoewel hulle nie veroordeel sal word nie? (Openbaring 20:12 +15) b)Na aanleiding van 1 Petrus 4:17 + 18: Word gereddes hier op aarde getugtig en gestraf vir verkeerde dade ens sodat hulle nie by die oordeelsdag saam met die wêreld veroordeel word nie?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vraag 1

Jesus het gesê Hy sal in majesteit kom om al die volke vanuit sy koninklike troon te oordeel, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ‘n wagter die skape van die bokke skei  (Mat.25:32).

Paulus sê: Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Kor.5:10);

en van gelowiges sê hy: elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is (1 Kor.3:13-15).

In 1 Kor.4:5 sê hy: die Here sal ook die dinge, wat in duisternis verborge is , aan die lig bring en die bedoeling van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.

In Gal.6:7-10 sê hy: Moenie julleself mislei nie. God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai (dit verwys na die mense wat met die genade van God speel en voortgaan met die sondes wat in 5:19-21 genoem is),  sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai (dit verwys na die vrug van die Gees  wat in 5:22-23 genoem is), sal van die Gees die ewige lewe oes. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.


In Rom.2:6 -8 sê hy: God (wat regverdig oordeel) sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.

1 Petrus 1:17: Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.

Gelowiges weet dat God gaan oordeel oor ons gesindhede, woorde en dade, maar ons Regter is Jesus wat vir ons gesterf het en deur sy Gees in ons woon om ons te lei en te versterk. Die oordeel gaan oor ons goeie en slegte gesindhede, woorde en dade. En die Heilige Gees is juis besig om ons te vorm om al meer soos Christus te word in gesindheid, woord en daad (vgl. 2 Kor.3:18). Tog bly ons steeds selfsugtig in al ons doen en late, en het maar begin op die pad van selfverloëning. Daarom sal ‘n klomp van ons werke verbrand in die oordeel van God (vgl. 1 Kor 3:15 hierbo), sodat ons volmaak sal liefhê soos ons Vader (vgl. Mat.5:44,45,48). Die goeie in die lewe van die gelowige sal bevestig word en vir ewig bestendig word; die verkeerde sal vir ewig uit hom verwyder word. Ons verlossing bly egter uit God se genade waarop ons vertrou as sy kinders wat Hy aangeneem het, ook tot in die oordeelsdag. Ons bly vertrou op Jesus se liefdesoffer vir ons en op God se liefde vir ons, want ons is oortuig dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie (Rom.8:39). Daarom moet ons as reaksie op sy liefde uit dankbaarheid Hom liefhê met ons hele lewe en ook ons medemens soos ons self (Mat.22:37-40; 1 Joh.4:19-21).

Openbaring 20:12,15 – ons skrywe elke dag in ons eie lewensboek deur al ons gesindhede, woorde en dade, goeies en slegtes. Dit word alles oopgemaak. Maar God skryf die name van sy kinders in die boek van die lewe, dié wat Hy vir Hom aangeneem het  deur die offer van sy Seun aan die kruis en ons verbondenheid aan Hom deur geloof wat die Heilige Gees in ons bewerk (Rom 8:9-17).


Vraag 2

Hebreërs 12:5-6 haal Spreuke 3:11,12 aan: ‘My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.’ Verdra tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie…Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel (12:10b).

Hebreërs 5:8 sê selfs: Hoewel  Hy (Christus) die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. Kyk maar na sy stryd in Getsemane  (Matteus 26:36-45).

Romeine 2:9-11 sê: Lyding en benoudheid bring God oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. Wat verhewe en eervol is, en vrede, skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie.

Romeine 3:10-12 haal Prediker 7:20 en Ps 14:2 aan: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar in nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goeddoen nie, selfs nie een nie.  Almal het gesondig en is vér van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek gered.

1 Kor.11:32 sê: Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Die woord ‘getugtig’ (Grieks paideuo) beteken om iemand op te voed, hom te leer wat die regte optrede en gedrag is, hom te dissiplineer, hom te straf met die doel dat sy gedrag sal verbeter. Daarom sê 11:31 dat ons ons self reg moet ondersoek om te sien of ons optree soos kinders van God, en waar ons dinge anders moet doen. Ons maatstaf is Jesus en sy optrede. Hy het Homself vir ons gegee (11:24-26). Dit sê Paulus vir die Korintiërs wat die nagmaal misbruik deurdat die rykes apart alles opeet, en die armes en slawe eenkant niks kry om te eet nie (11:17-22), en dit terwyl die nagmaal bedoel is as die teken en bevestiging is dat Christus Homself in liefde vir ons sondaars aan die kruis gegee het (11:23-26).

1 Petrus 4:17,18 – Ja, gelowiges word hier op aarde wel gestraf en getugtig, sodat ons sal begin om reg ter lewe en op te tree, soos mense wat saam met Christus sterwe aan ons self, soos kinders van God wat liefhet. Maar as ons voortploeter in die sonde, deur ons eie sondige begeertes te volg en vir ons self te lewe, sal ons saam met die ongereddes veroordeel word (soos 1 Kor.11:32 sê). Die doel van God se tug  is egter om ons, wat Hy reeds as sy kinders aangeneem het, gehoorsaamheid te leer, dat ons die sonde aflê, sodat ons voorberei word vir die lewe wat God vir ons bestem het, naamlik om Hom met ons hele lewe lief te hê en te vertrou en te gehoorsaam, en om mekaar lief te hê soos ons self. Hy is besig om ons as sy kinders in sy gesin, te leer hoe om te lewe as sý kinders, in sý huisgesin, saam met Hom as ons Vader (vgl. Romeine 12:1-2). Dit behels dat ons die sonde aflê en al minder selfsugtig vir ons self lewe. Maar die veroordeling van ons sondes het Jesus reeds aan die kruis op Hom geneem. Dit is deur Homself te offer in ons plek, dat ons nie veroordeel sal word nie, en dit net uit God se genade en liefde. Die tugtiging wil ons juis leer om op God en sy genade te vertrou en nie op ons self en op ons eie werke nie.

Maar mense wat God se liefdesoffer aan die kruis verwerp of nie aanvaar nie, word veroordeel  oor hulle hele lewe waarin hulle hulle rug gedraai het op God en sy liefde en genade en op sy aanwysings vir ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Sabbat en Sondag

Geloofsvrae: Sabbat en Sondag – Adrio König

Sabbat en Sondag

Die viering van Sondag is vir eeue lank al ‘n saak waaroor groepe Christene sterk verskil. Daar is die een uiterste van Christene wat op Sondag sal kerk toe gaan maar verder sal doen wat hulle wil, en dan die ander uiterste van Christene wat dink Sondag is ‘n Sabbat, en dan soveel as moontlik van die OT se Sabbatswette op die Sondag wil toepas.

Daar is by baie Christene die misverstand dat die Sabbat net in die NT van Saterdag na Sondag verskuif het. Die Sabbat en die Sondag is twee dae met heeltemal verskillende karakter. Die Sabbat is ‘n rusdag, ‘n dag van niks doen nie; die Sondag is ‘n feesdag, ‘n dag van aktiewe toewyding.

Ons het nie in die NT enige spesifieke aanduidelings van hoe die Sondag gevier moet word nie. Ons het die voorbeeld van sekere gemeentes wat gereelde byeenkomste gehad het, en ook bepaalde dinge gedoen het (Hand 20:7ev; 1Kor 16:1ev; Open 1:10). Wat ons van hulle Sondagviering weet, het direk in verband gestaan met die opstanding van die Here Jesus (Joh 20:1ev, 19ev, 26ev) en die feit dat hulle die opstanding verstaan het as beslissend vir hulle verlossing (1Kor 15). Hulle het egter sover ons weet, geen van die wette of gebruike van die Sabbat op die Sondag toegepas nie. Trouens ons weet dat sekere Joodse Christene tot in die derde eeu nog sowel die Sabbat as die Sondag gehou het, die een as ‘n rusdag, en die ander as ‘n feesdag. Daar is nooit in die NT sprake van rus op die Sondag nie. Trouens die base van slawe sou hulle ook nie toegelaat het om nie te werk nie, en ons weet uit ander bronne dat Christene Sondae voor sonop bymekaar gekom het, waarskynlik om dan die res van die dag met hul gewone (slawe-)werk te kan aangaan.

As ons vra na die betekenis van die vierde gebod vir Christene, moet ons dus nie aan die Sondag dink nie, maar eerder aan die hele week. Die rus van die Sabbat word in die NT die rus van ons sonde, en daarvoor is Sondae te min! (Heb 4:9ev) Die vraag of ons die vierde gebod hou, word dus Maandag en Dinsdag beantwoord.

Dit het besondere voordele om ‘n spesiale dag te hê waarop ons kan feesvier. Maar dit moet nie beteken dat ons ons godsdiensbeoefening en -uitlewing tot dié dag beperk nie, net dat ons op dié dag besondere voorbereiding en inspirasie kry om die hele week die evangelie te leef en met ander te deel. Dan hou ons die vierde gebod.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die vrou in die amp

Geloofsvrae: Die vrou in die amp – Adrio König

Die vrou in die amp

Onder `die vrou in die amp’ verstaan ons die toelating van vrouelidmate tot die besondere ampte (predikant, priester, pastoor, ouderling en diaken). Dit is nie ‘n eenvoudige saak nie en daar is sterk emosies by betrokke. Dit is nie waar dat die verskil bepaal word deur die feit dat ‘n kerk progressief (`liberaal’) of konserwatief is nie. Kerke wat as liberaal beskou word, was en is steeds baie terughoudend oor die vrou in die amp (Anglikane), terwyl volkome `konserwatiewe’ kerke, byvoorbeeld in die Heiligheidsbeweging, al vir dekades lank vroue aanvaar het.

Dit lei geen twyfel nie dat sekere uitsprake in die NT (soos 1Kor 14:34ev en 1Tim 2:11ev) ernstige probleme skep vir vroue in ‘n leeramp. Maar dit is net die helfte van die waarheid. Die kerke wat haar uit die leeramp weer, laat haar wel toe om in verskillende hoedanighede in die erediens en andersyds in die gemeente op te tree terwyl die genoemde uitsprake duidelik alle deelname in gemeentebyeenkomste verbied. Tot vyf keer toe staan in genoemde tekste dat sy in byeenkomste moet stilbly en nie moet praat nie, en daar is geen rede om dit skielik te beperk tot amptelike, gesagvolle onderrig nie. En hierdie verbod word ondersteun met die argumente dat Adam eerste gemaak is (en dus skynbaar belangriker as Eva is) en dat Eva, en nie Adam nie, verlei is (1Tim 2:13ev).

Wat die probleem nog moeiliker maak, is die feit dat ons aan die ander kant in dieselfde 1Korintiërbrief lees dat die vrou nie met ‘n onbedekte kop mag profeteer of bid nie, wat beteken dat sy dit wel mag doen as sy ‘n hoofbedekking of sluier op het (1Kor 11:5).

As ‘n mens die leeraktiwiteite van vroue in die vroeë gemeentes hier byvoeg (o.a. Hand 18:26), word dit uiters moeilik om die verskille te harmoniseer. Kon ‘n vrou in ‘n gemeentebyeenkoms optree of nie?

Intussen is dit nie onmoontlik om die probleem teen ‘n kulturele agtergrond te sien nie, en dan te aanvaar dat die negatiewe uitsprake veroorsaak is deur die feit dat dogters en vroue normaalweg net geleer is om huis te hou en kinders groot te maak, en nie dieselfde akademiese en vormende onderrig as seuns en mans ontvang het nie. Hulle was dus normaalweg eenvoudig nie instaat om op die vlak van mans te kommunikeer nie, en moes daarom wag tot hulle tuis vir hul eie mans vrae kon vra.

Omdat ons egter in ‘n nuwe situasie leef waarin dogters en vroue presies dieselfde akademiese en professionele onderrig ontvang, en leiding neem op die meeste gebiede in die samelewing, is dit natuurlik uiters frustrerend vir hulle, en verarmend vir die hele gemeente, as hulle skielik nie in die gemeente mag deelneem nie.

Die argumente van 1Timoteus moet op dieselfde vlak hanteer word as die argumente dat slawe aan hulle base onderdanig en getrou moet wees. As ‘n mens ‘n gegewe situasie regverdig, kan jy argumente gebruik wat later, in ‘n nuwe situasie, nie meer oortuigingskrag het nie. In hierdie lig kan daar nie prinsipiële besware wees teen vroue in die besondere ampte nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

 

Skrywer: Prof Adro König




Geloofsvrae: Die ampte en regering van die kerk

Geloofsvrae: Die ampte en regering van die kerk – Adrio König

Die ampte en die regering van die kerk

In die kerke met ‘n Gereformeerde (Presbeteriale) vorm van kerkregering is daar meestal drie besondere ampte (predikant, ouderling, diaken), en dan ook die amp van die gelowige. Die beginsel van hierdie stelsel is dat alle ampte gelyk is en net verskillende verantwoordelikhede in die kerk het. Daar is ander vorme van kerkregering soos die biskoplike (episkopale) stelsel wat ‘n hiërargiese stelsel is waar sommige ampte meer gesag as ander het. Die uitgangspunt is die biskop wat die Here in die plaaslike gemeente verteenwoordig. Hy kan in die meeste gevalle alleen besluite neem. In die Katolieke Kerk is daar ‘n hele reeks ampte o.a. die priester, biskop, aartsbiskop, en uiteindelik die pous. Hy het gesag oor die hele Katolieke Kerk.

Dit is nie moontlik om die verskillende stelsels uit die Bybel af te lei nie. Verder is daar heelwat vir en teen elke stelsel te sê. Die amp van biskop of predikant of pastoor as ‘n voltydse ampsdraer wie se vergoeding ten volle deur die kerk betaal word, kom nie só in die NT voor nie. Die oorheersende rol wat hierdie ampte in die meeste kerke speel, is ook vreemd aan die NT.

Een groot verskil tussen die presbeteriale en die biskoplike stelsels van kerkregering is die vraag waar die gesag geleë is. By ons is dit in kerkvergaderinge (kerkraad, ring en sinode) geleë omdat alle besondere ampte gelyk is, maar in die biskoplike stelsel is dit in die hoogste amp geleë, uiteindelik in die pous. Die pous delegeer dan sekere magte na onder sodat die biskop byvoorbeeld die gesag in die plaaslike gemeente het.

Hierdie twee vorme van kerkregering het dit in gemeen dat die plaaslike gemeentes in ‘n noue verband met mekaar staan en groter projekte dus makliker deur ‘n bepaalde kerk onderneem kan word.

Teenoor hierdie twee vorme van kerkregering staan ‘n groot verskeidenheid van vorme in die Pinkster- en Charismatiese Kerke en talle ander kerke. In sommige gevalle is daar een enkele persoon wat die mag het, in ander gevalle ‘n groep (kerkraad). Veral in die Charismatiese kerke is daar min onderlinge verbondenheid van die onafhanklike kerke, en in baie van hierdie kerke is een persoon se woord wet.

Die sinodale vorm van kerkregering het voor- en nadele. Dit skep ‘n sterker band tussen die plaaslike gemeentes sodat daar groter eenvormigheid in die denominasies kan wees en groot projekte aangepak kan word, en dit verminder die moontlikheid dat een persoon die situasie oorheers. Maar dit is in die meeste gevalle baie lomp en langdradig en in sy huidige vorm beswaarlik nog geskik in ‘n samelewing waar belangrike besluite dikwels vinnig geneem moet word. Die amp van biskop (en die enkelel gesagspersoon in die groot onafhanklike Charismatiese kerke) kan inderdaad vinnige besluite neem, maar dit vestig teveel gesag in een persoon. Die oorheersende rol wat die predikant en die pastoor in baie gevalle in die historiese en Pinksterkerke speel, herinnner aan dié van biskop en het dieselfde voor- en nadele.

Die lofwaardige nadruk op die amp van die gelowige – alle gelowiges het die verantwoordelikheid om die Here in die gemeente en in die wêreld te dien – het nie in die historiese kerke regtig soveel goeie resultate opgelewer nie. Gemeentelede is in die meeste gevalle nie volwasse lidmate wat hulle geloof verstaan en entoesiasties kan `verkoop’ nie. Dit is goed moontlik dat die Pinkster- en Baptiste kerke beter daarin geslaag het om hul lidmate daarvoor voor te berei.

Daar is gedurende die laaste aantal dekades heelwat aandag gegee aan die charismatiese struktuur van die plaaslike gemeente. Die kerk van die NT was ‘n charismatiese kerk waarin daar nie ‘n duidelike onderskeiding was tussen wat ons vandag ken as die ampte en die gawes nie. In die lyste `gawes’ word heelwat ingesluit wat ons vandag eerder as ampte sou klassifiseer (o.a. 1Kor 12:28ev en Rom 12:6ev: apostels, profete, leraars, leiding, diens, onderrig gee, hulp verleen). Individuele inisiatiewe is gebiedend noodsaaklik in die lewe van elke gemeente, en denominasies behoort ernstig te kyk na die werkwyse van ander denominasies omdat ons baie van mekaar kan leer.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König