Geloofsvrae: Die Doop: Misverstande

Geloofsvrae: Die Doop: Misverstande – Adrio König

Misverstande

Daar was ‘n keuse om die doop in die hoofstuk oor die kerk te behandel of hier by die heilsweg. Dit is ‘n moeilike besluit omdat die doop eintlik in albei posisies pas. Een van die betekenisse van die doop is inlywing in die kerk, maar dit het ook die ruimer betekenis van inlywing in die heil. ‘n Mens sou dit selfs ‘n heilsmiddel kon noem. Om dit te beklemtoon, word dit hier behandel.

Die verskille oor de kinderdoop het veroorsaak dat daar min aandag aan die doop as sodanig gegee is. Daar is gekonsentreer op argumente vir of teen die kinderdoop. Die saak is nog vererger deur allerlei onnoukeurighede en misverstande. Dit is voorgestel as ‘n stryd tussen die kinderdoop en die grootdoop – wat tog onsinnig is, omdat geen kerk nog ooit die grootdoop verwerp het nie. Wat sou so ‘n kerk maak met iemand wat tot geloof kom uit ‘n ander godsdiens? Dit is ewe onnoukeurig om besprinkeling en onderdompeling teenoor mekaar te stel omdat die kerke van Gereformeerde oorsprong beide doopmetodes erken al beoefen hulle meestal net die besprinkeling.

Dit is dus goed om van die begin af duidelik te sê waaroor dit gaan. Dit gaan oor die vraag of die kinderdoop naas die grootdoop ‘n aanvaarbare vorm van doop is, en of die besprinkeling naas die onderdompeling ‘n aanvaarbare doopmetode is. Die kerke wat dit verwerp, is nie `grootdoopkerke’ nie – alle kerke erken die grootdoop – hulle is kerke wat teen die kinderdoop en die besprinkeling is. En die kerke wat dit aanvaar, is nie `kinderdoopkerke’ en `besprinkelingskerke’ nie, hulle erken ook die grootdoop en die onderdompeling. Hulle is kerke wat beide vorme erken.

Die konsentrasie op die verskil oor die kinderdoop en die besprinkeling het meegebring dat daar min aandag aan die doop as sodanig gegee is. Daarom gee ons eers spesifiek aandag daaraan.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Dag en Datum

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Dag en Datum – Adrio König

‘Dag en datum’ – hoe deel verbondskinders in die heil?

Dit is ‘n vraag waarmee ‘n mens dikwels gekonfronteer word: Wat van kinders wat in die gemeente gebore word in ‘n huis waar die Here gedien word, en wat dus as verbondskinders groot word?

Daar is by sommige die oortuiging dat elke mens `’n dag en datum’ moet hê, ‘n identifiseerbare geleentheid toe hy of sy ‘n kind van die Here geword het.

 

Die posisie van kinders word nie so duidelik behandel in die NT nie. Ons sal weer daarmee te doene kry by die behandeling van die doop. Kinders was eenvoudig nie so belangrik in die samelewing van daardie tyd nie. Boonop is die NT veral ‘n sendingboek wat konsentreer op die vestiging van die eerste gemeentes as vrug op die sending. Kinders kom dus selde ter sprake.

 

In die OT het ons enigsins ‘n duideliker beeld van die posisie van die kind in die genadeverbond. Die gesin was die fokuspunt van die godsdienstige lewe. Die kinders is in die verbond gebore en geleer om in die verbond te lewe en aan die Here getrou te wees. Ons kry nie die gedagte van ‘n bepaalde beslissing wat hulle een of ander tyd moes neem nie. Hulle is deel van die geloofsgemeenskap en staan onder die verpligting om aan die verbondseise getrou te wees.

Wat wel kon gebeur, en inderdaad op ‘n groot skaal gebeur het, is dat individue en die volk as geheel nie aan die Here getrou was nie. Hulle is vroeg en laat deur die profete aangespreek en selfs gewaarsku dat die Here hulle sal verwerp. Die volk het op die lang duur nie positief gereageer nie en is uiteindelik in ballingskap weggevoer.

Maar die eis was nooit om ‘n beslissing te neem om in die verbond in te kom nie. Hulle is in die verbond gebore en het as babas die sakrament van insluiting ontvang – die besnydenis. Die eis was om binne te bly, of uiteindelik verwerp te word.

Ons leef nog altyd in die Abrahamverbond. Daar is nie rede om te aanvaar dat die verbond op hierdie punt verander het nie. Trouens dit is sondermeer duidelik dat kinders van gelowige ouers van die begin af deel van die geloofsgemeenskap is. Ons bid vir hulle selfs nog voor hulle gebore is, van kleins af deel hulle in die warm liefdesgemeenskap van die kinders van God, die Here seën hulle saam met hul ouers en die gemeente, en hulle leer om te bid en op Hom te vertrou soos hulle leer aantrek en loop. Dat Jesus ons Verlosser is, hoor en beleef hulle van kleins af.

Natuurlik kan hulle weerstand bied as hulle groter word. Soos enige mens op enige stadium van jou lewe aan die Here ontrou kan word, so hulle ook. En dan moet hulle vermaan en tereggewys word. En dit kan soms lank duur en erg skeefloop. Maar dit is kinders van die Here wat vermaan word, nie heidene wat opgeroep word om vir die ware God te kies nie.

Dit is die ideaal. Maar die kerk is nie in ons dag in ‘n ideale toestand nie. Daarom moet ons ernstig bly rekening hou met die moontlikheid dat bepaalde kinders se ouers wel in die boeke van die kerk ingeskryf is, maar nie deel van die geloofsgemeenskap is nie sodat – al is die kind ook gedoop – die kind nie in die verbond groot word nie, nie die geloofsgemeenskap beleef nie, nie eens sy of haar ouers sien bid nie, en dus eenvoudig nog die geleentheid moet kry om hom of haar met Jesus te identifiseer. Dit maak bekeringsprediking as ‘n oproep tot ‘n basiese keuse vir Jesus onontbeerlik.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Doop: Weer doop

Doop: Weer doop – Francois Malan

Doop: Weer doop

Op die webblad is daar baie artikels en antwoorde op vrae oor die doop. U kan gerus die soek instrument gebruik om hierdie artikels saam met hierdie te lees.

Johannes het ’n vraag gevra of iemand wat groot gedoop is, weer in die Jordaanrivier gedoop kan word. Op Prof. Malan se antwoord, skryf ’n leser:

Johannes het gevra of dit toelaatbaar is dat mense wat “groot gedoop” is hulle weer laat doop in die Jordaanrivier op besoek aan Israel.

In sy antwoord aan Johannes slaag Professor Malan daarin om die kinderdoop prominensie te gee as sou dit die “waarborgseël” wees vir die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het. En dan verwys hy na Kol 2: 11,12 en sê “word ons by die doop deur Christus besny, nie met die hande nie, maar deurdat Hy ons sonde wegneem omdat ons glo in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het”. Petrus sê agt mense is in die tyd van Noag deur die ark gered waarvan die teëbeeld, die doop, ons ook nou red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete deur die opstanding van Jesus Christus. Die vraag ontstaan dus of die stelling dat Christus by die doop ‘n besnydenis uitvoer korrek is? In wese het die baba wat betrokke is geen benul van wat met hom/haar gebeur nie. As ons sê dat hierdie besnydenis wat deur Jesus deur die werking van die Heilige Gees aan ‘n verstandelik bevoegde persoon bedien word inderdaad die wedergeboorte is wat hy/sy deelagtig word dan sou dit meer korrek wees maar dit geskied beslis nie tydens die doop nie. So ‘n persoon vereenselwig hom/haar met die dood en opstanding van Jesus – soos wat Hy begrawe is, word hy/sy in die watergraf van die doop neergelê en uit die water opgelig om saam met Hom in ‘n nuwe lewe te wandel.

 

Verder sê prof Malan: “Hy maak die genade verbond met ons wat ook ons kinders insluit (Hand 2: 38 en 39) en regverdig dit deur Johannes die Doper wat van sy geboorte af vervul is met die Heilige Gees (Luk 1: 15). Lydia se huisgesin (dus insluitend haar kinders) wat gedoop is en ook dié van die tronkbewaarder. Dan kom hy tot die gevolgtrekking dat wanneer die kind groter word en die Heilige Gees hom/haar oortuig van Christus se liefdesoffer en hy/sy besluit om vir die Here te lewe (bekering), dan is die tweede doop (groot doop) nie nodig nie.

Niemand het nog ooit weer die rol gespeel wat vir Johannes die Doper bestem was nie. Hy was die een wat die pad moes kom berei vir die Messias wat sou volg en volgens Jesus was daar nie ‘n groter profeet as hy nie. Om dus sy geval te veralgemeen om alle kinders in te sluit lyk nie vir my reg nie. In die geval van Lydia en die tronkbewaarder is die moontlikheid van klein kindertjies nie uitgesluit nie maar net sowel kon dit opgeskote kinders gewees het wat kon verstaan. In die geval van die klein kindertjies ontstaan die vraag onwillekeurig: Op welke wyse is hulle gedoop? Ek sou dink dat onderdompeling die enigste metode was want Johannes die Doper het in die Jordaanrivier gedoop omdat daar baie water was. Die Hofdienaar van Ethiopië het uitgeroep: “ Daar is water, wat verhinder my gedoop te word”. Met alle respek, sy drinkwater wat hy op die wa gehad het sou voldoende gewees het om hom te besprinkel.

Slegs die manlike geslag was by die oorspronklike verbond ingesluit en is besny. Indien die kinderdoop (besprenkeling) in die plek van die besnydenis gekom het hoe word die vroulike geslag nou ook ingesluit as die belofte volgens Joël betrekking het op die uitstorting van die Heilige Gees en nie die verbond met Abraham nie. (Joël 2: 28). Hy is immers die stamvader van die Israeliete na die vlees en vir die wat uit die geloof is, is hy ‘n geestelike vader omdat hulle glo soos wat hy geglo het. (Gal 3: 7).

Jesus is fisies op die agste dag besny en is gedoop net voordat Hy sy bediening begin het. Hy het geen sonde gehad nie en tog sê Hy: “Laat dit nou toe want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul”. ( Mat 3: 15).

Weer gedoop in die Jordaan kan slegs sentimentele waarde hê.

Antwoord:

Prof Malan reageer so op die leser se kommentaar:

1 Dat wedergeboorte nie plaasvind tydens die doop nie, is waar.

Volgens Johannes 3:5 sê Jesus vir Nikodemus: ‘Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.’ Die water verwys waarskynlik na die doop van Johannes die Doper (1:31), as simbool van die reiniging van sonde (Mark 1:4), en die Gees na radikale vernuwing deur die Heilige Gees waarna Joh.1:33 verwys het as die doop met die Heilige Gees (vgl. Mark. 1:8). Die reiniging van sonde geskied deur die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh.1:29).

Die wedergeboorte geskied deurdat die Heilige Gees, God self, in ons kom woon en ons aan die dood en opstanding van Christus verbind (Joh.14:17; Rom.8:9-11). Na aanleiding van die besnydenis van Abraham en sy nageslag, wat Paulus as ‘n teken en seël beskryf in Rom.4:11, is die doop ook in die kerk gesien as ‘n teken en seël van God se genadige verbondsverhouding met die gelowiges. Wedergeboorte is God se werk aan ons om van ons sy kinders te maak deur ons aan sy Seun Jesus te verbind, en die doop is God se uiterlike teken en waarborgseël dat Hy ons as sy kinders aangeneem het (daarom word ons nie weer en weer gedoop nie).

2 Dit is waar dat Jesus gesê het, ‘dit verseker Ek julle: onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie’ (Mat.11:11a) maar die teks gaan voort ‘…en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy’ (Mat.11:11b; vgl. Luk.7:28). Johannes is die profeet wat Mal.3:1 voorspel het, die voorloper van die Here wat kom. Maar die gawe om in die koninkryk van God te wees, oortref alle menslike grootheid.

3 Dat ‘verstaan’ ‘n voorvereiste sou wees vir die doop is my probleem. Dit beteken dat die mens wat gedoop word eers moet reageer op God se belofte deur dit aan te neem, voordat God se belofte vervul kan word.

Ef.2:8-10 lui letterlik soos volg: want deur genade is julle verlostes deur geloof; en dit is nie uit julle nie, dit is ‘n gawe van God; nie uit werke nie, sodat niemand kan roem nie. Want ons is sy handewerk, geskep in Christus Jesus vir goeie werke wat God vooraf voorberei het sodat ons daarin sou wandel .

Ons verlossing en ons geloof in Christus Jesus, dat Hy God is wat vir ons sonde gesterf het en opgewek is om saam met Hom te lewe met die soort lewe wat God vooraf vir ons gereed gemaak het, dit is alles God se werk vir ons en aan ons. Ja ook ons geloof is die werk van die Heilige Gees in ons.

Die Heilige Gees bring volwassenes tot geloof in Christus en sy werk vir ons, deur hulle te oortuig met die verkondiging van die woord van God oor Christus en sy werk vir ons. Dit is ons wedergeboorte deur die Gees, sodat ons kinders van God word. En God bevestig sy aanneem van die gelowige as sy kind deur die doop.

En vir hulle sê Petrus in Hand.2:39 ‘want die belofte (van God) is vir julle en vir julle kinders (die term geld vir seuns en dogters) en vir almal wat vér is, elkeen wat die Here ons God na Hom toe sal roep.’ Deur sy woord het God die heelal geskep (Gen.1). Deur sy beloftewoord skep Hy ons as sy kinders (Johannes die Doper het selfs gesê: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek; Mat.3:9; Luk 3:8).

1 Kor 7:14 sê dat die ongelowige man deur sy gelowige vrou geheilig is, en die ongelowige vrou deur haar gelowige man (letterlik: die geestelike ‘broer’); anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig – dit beteken hulle is aan God gewy, hulle behoort aan God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die eindtyd: Merk op regterhand en voorkop

Die eindtyd: Merk op regterhand en voorkop – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Ons het ‘n e-pos gekry wat handel oor Motorola wat ‘n chip ontwerp het bekend as Mondex wat onder mens se vel of onder jou skedel of op jou hand ingeplant word. Weet julle enigiets daarvan?

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord: 

Die eindtyd: Merk op regterhand en voorkop

Dr. Kobus Kok

Deesdae sirkuleer verskeie eposse waarin daar beweer word dat ‘n bepaalde maatskappy “chips” ontwerp het wat die gewone bankkaart sal vervang. Hierdie “chip” word dan of in die hand of in die voorkop ingeplant. Baie mense wonder of dit na die merk van die dier verwys waarvan ons in Openbaring lees.

Die antwoord is eenvoudig nee. In Openbaring word daar wel verwys na die merk van die dier wat op mense se voorkoppe en hande sal wees. Dit moet egter simbolies verstaan word. Vandag sal ons byvoorbeeld sê: “Ag man, skryf dit maar op jou maag”. Daarmee probeer ons simbolies sê dat jy maar daarvan moet vergeet. Net so moet Openbaring se verwysing na die merk op die voorkop en die hand simbolies verstaan word as dat die merk op die voorkop verwys na besit aan die een kant, en mense se manier van dink aan die ander kant. In die antieke tyd is slawe dikwels gemerk op die voorkop en so word daar gewys aan die wie die slaaf behoort. Die slaaf het ook die verantwoordelikheid gehad om lojaal te wees aan die eienaar in woord en daad.

In Openbaring is dit nie net die kinders van die duiwel wat die merk sal dra nie. God se kinders word in Openbaring ook op die voorkop gemerk (vgl. Openb 7:3). Inteendeel, in die verhaal van Openbaring word die kinders van God op hulle voorkoppe verseël voordat daar nog enigsins sprake is van dat die duiwel se volgelinge ‘n merk dra. Daarom kan ons sê dat die duiwel die aksie van God eintlik dupliseer, hy kon dit nie eers self uitdink nie. Die merk waarmee God sy kinders merk dien as bewys dat hulle God se eiendom is en dat die duiwel nie reg op hulle lewens het nie. Die mense met God se merk op hulle voorkoppe is ook diegene wat in hulle denke en dade lojaal is teenoor God.

Myns insiens is die eposse wat die rondte doen verkeerd as hulle die mikro-chips verbind aan die merk van die dier in Openbaring. Ons moet onthou dat die boodskap van Openbaring vir die eerste lesers belangrike betekenis gedra het in die eerste eeu. Deur die boodskap te beperk tot ons tyd beteken dat ons die boodskap daarvan vir die eerste lesers ontken. Vir die eerste lesers twee duisend jaar gelede sou die merk op die voorkop die konnotasie dra van eienaarskap, met die duidelike boodskap dat mens of aan God of aan die duiwel behoort. Dit kan veral gesien word in die manier waarop mens dink en optree.

Hier onder verskyn die tekste uit Openbaring wat handel oor die merk van God en die merk van die dier:

Openbaring 7:1 En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie.

Openbaring 7:2 En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig

Openbaring 7:3 en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.

(Openbaring 13:16 AOV) En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;

(Openbaring 13:17 AOV) sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.

(Openbaring 14:9 AOV) En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang,

(Openbaring 14:11 AOV) En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.

(Openbaring 16:2 AOV) Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.

(Openbaring 19:20 AOV) En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.

(Openbaring 20:4 AOV) En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.

 

Skrywer: Dr Kobus. Kok