Geloofsvrae: Jesus Christus: Naam en titels

Geloofsvrae: Jesus Christus: Naam en titels – Adrio König

Naam en titels van Jesus Christus

Daar is teveel aanduidings van Christus (soos verlosser, middelaar, koning, profeet) om elkeen te bespreek. Die keuse wat aangebied word, is eerder dié wat in die geskiedenis besondere aandag getrek het.

Jesus

`Jesus’ is die naam van Jesus Christus. Christus, Here, Seun van God, Seun van die mens, is titels van Jesus.

Die naam Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua en dit kom dikwels sowel in die OT as in die NT voor. In die OT lees ons van Josua wat die volk in die beloofde land ingelei het, maar later ook van ander persone met dié naam. In die NT kry ons die naam Jesus vir ander persone in Mat 27:16; Hand 13:6 (Barjesus beteken: seun van Jesus); Kol 4:11. Teen die begin van die tweede eeu n.C. verdwyn hierdie algemene naam egter onder die Jode. Dit is waarskynlik ‘n Joodse reaksie teen Jesus Christus.

Die feit dat Jesus ‘n naam gehad het wat algemeen onder die Jode was, beklemtoon sy menslikheid. Maar die apostels verkondig juis hierdie mens as die Messias (Christus) van Israel en die Here van die wêreld. Dit gaan in Jesus en dus ook in God se reddingsplan vir die wêreld nie om ‘n idee of om ‘n nuwe leer nie, maar om ‘n persoon. God wil mense red omdat Hy hulle liefhet. Hy doen dit deur hierdie Mens.

Die naam Jesus beteken `die Here help’ of `die Here verlos.’ Volgens Matteus sê die engel vir Josef dat hy die kindjie van Maria Jesus moet noem omdat Hy sy volk van hul sondes sal verlos (1:21). Dit beteken o.a. dat Jesus aanvanklik op Israel gerig was in ‘n laaste poging om hulle terug te bring na God sodat God deur hulle die nasies kon nadertrek (die OT se `sendingmetode,’ Jes 2:2-5). Eers toe hulle Hom verwerp het, het Hy alle mense in die oog gekry, en uiteindelik word Hy die Verlosser van die wêreld (56 en 60).

Christus

Christus was oorspronklik nie ‘n eienaam soos Jesus nie, maar ‘n titel van Jesus. Dit is die Griekse woord (in Afrikaanse letters geskryf) van die Hebreeus Messias. Dit is trouens jammer dat dit nie soms in ons vertalings met Messias weergegee word nie omdat Christus eintlik vir ons ‘n eienaam geword het, en ons dikwels nie meer besef nie die NT bedoel met `Jesus Christus’ eintlik `Jesus die Messias (van die Jode).’

Daar is ander titels van Jesus wat direk met Christus (Messias) verband hou, soos Seun van Dawid, en Koning, wat dikwels in die NT voorkom. God het aan Dawid die belofte gegee (2Sam 7:12ev) dat daar altyd een van sy nasate op die troon in Jerusalem sou wees. Toe die Jode later in ballingskap weggevoer is en nie meer in Jerusalem ‘n koning gehad het nie, het die verwagting dus ontstaan dat ‘n nasaat van Dawid hulle sal kom verlos van die oorheersing van die Babiloniërs. Hulle het dus ‘n `seun van Dawid,’ of ‘n (toekomstige) koning of Messias verwag. `Messias’ het gesalfde beteken en daarmee het hulle verwys na Dawid wat ook as koning gesalf is.

Dit beteken dat die Messiasverwagting van die begin af ‘n sterk politieke konnotasie gehad het, en dat ons die Jode en die dissipels in die tyd van Jesus nie so maklik moet kwalik neem dat hulle sterk politieke verwagtings aan die komende Messias gekoppel het nie (Hand 1:6). Jesus het hierdie profesie net so vry vervul as talle ander. Hy is nie bloot ‘n letterlike vervulling van die verwagtings in die OT nie, Hy is oneindig meer.

Andersyds is dit verkeerd om al die profesieë oor ‘n besondere persoon wat sou kom as Messiaanse profesieë te beskou. Die Messiasverwagting kom eers laat in die OT na vore, en daar is ouer profesieë oor ander figure soos ‘n profeet (Deut 28:15ev), en die dienaar van die Here (Jes 53). Later word ook die seun van ‘n mens verwag (Dan 7:13ev). Dit was verskillende verwagtings wat nie verband met mekaar gehad het nie. Eers in Jesus se optrede blyk dat al hierdie verwagtings in Hom vervul is, een van die aanduidings van hoe wonderlik Hy werklik was.

In hierdie lig word twee sake duidelik. Eerstens is dit verkeerd om bv. van Jes 53 as ‘n Messiaanse profesie te praat. Die verwagting van die dienaar van die Here was nie dieselfde verwagting as dié van die Messias (seun van Dawid) nie. Die Messias sou in die nageslag van Dawid kom en as ‘n magtige koning sy volk van alle oorheersing verlos (Jes 9:5ev). Jes 53 is die verwagting van ‘n dienaar, iemand wat in nederige diens sal kom, geen aansien sal hê nie, en deur die mense verwerp sal word. Dit het eers agterna geblyk dat albei verwagtings (en nog meer) in dieselfde Persoon vervul is. Tweedens is dit dus heeltemal korrek dat die voornaamwoorde vir die dienaar in Jes 53 nie met hoofletters begin word nie. In die NT word vir die eerste letter van sulke voornaamwoorde vir Jesus tereg ‘n hoofletter gebruik. Ons doen dit uit eerbied vir sy goddelikheid. Maar dit sou foutief wees in Jesaja omdat die skrywer van Jes 53 nie geweet het dat sy profesie in iemand vervul gaan word wat self God is nie.

Dit staan teenoor Jes 9:5-6 waar inderdaad hoofletters gebruik is omdat dit duidelik was dat die persoon in wie hierdie belofte vervul word, meer as ‘n gewone mens sou moes wees (magtige God, ewige Vader).

Dit is baie interessant om ‘n vergelyking te tref tussen die gebruik van `Christus’ en `Here’ soos dit vir Jesus gebruik word. `Christus’ word gewoonlik gebruik as Jode aangespreek word (o.a. Hand 9:22; 17:1-3; 18:5), en `Here’ in die geval van heidene (Hand 10:36; 11:20; Rom 10:9,12).

In ‘n neutedop saamgevat beteken dit dat al wat op die pad na Damaskus met die gelowige Jood Saulus gebeur het, is dat hy tot die oortuiging gekom het dat Jesus van Nasaret werklik die verwagte Joodse Messias is. En al waarvan Hy op sy sendingreise die Jode wou oortuig, is presies dít: Jesus is julle verwagte Messias. Dit was die enigste verskil tussen die Jode en die vroegste Christene: die Christene het aanvaar dat die belofte van die Messias in Jesus vervul is, en die Jode nie. Vir ‘n Jood om ‘n Christen te word, was net dit nodig: die oortuiging dat die Messias gekom het. Jode en Christene het saam in die God van Israel geglo. Daarom het die vroeë Christene ook aanvanklik gereeld die tempel besoek en aan die gewone Joodse godsdiensoefeninge deelgeneem (Hand 3:1ev; 5:12; 21:20-21,26). Eers later het die vyandskap van die Jode so erg geword, dat die weë van dié twee groepe geskei het.

‘n Mens moet dit alles nie verkeerd verstaan nie. Die feit dat ‘n gelowige Jood net moes aanvaar dat die beloofde Messias in Jesus gekom het, beteken nie dat daar dan verder niks gebeur het nie. Dit het in werklikheid ‘n radikale omkeer in so ‘n Jood se lewe meegebring, soos inderdaad duidelik uit Paulus se lewe.

Terloops, Paulus se naam het nie by sy bekering van Saulus na Paulus verander nie, hoe mooi en romanties dit ook al klink, want tot jare na sy bekering word hy nog altyd Saulus genoem. Eers op sy eerste sendingreis skryf Lukas: `Maar Saulus, dit is Paulus’ (Hand 13:9), en daarna bly hy konsekwent by die naam Paulus. Paulus het eenvoudig twee name gehad soos baie ander Jode, die Hebreeuse naam Saulus (eintlik `Saul’ soos koning Saul – Hd 9:4), en ‘n Griekse naam Paulus. Die dubbel name was ‘n aanduiding daarvan dat hulle in twee wêrelde geleef het. By ons het veral baie swart persone ook ‘n tradisionele naam én ‘n Westerse naam, gewoonlik ‘n Bybelse naam.

Maar terug na Paulus se bekering. Alhoewel hy net moes aanvaar dat die Messiasbelofte in Jesus vervul is, het dit radikale implikasies vir sy geloof en sy lewe gehad. Dit het beteken dat Jesus en dit wat Hy gedoen het, sy Ou Testamentiese geloof oneindig verryk het. Veral Jesus se kruis en opstanding het sy lewe op ‘n ander vlak geplaas.

Waarom is die nadruk van die boodskap aan die heidene dan nie ook dat Jesus die Messias is nie, maar eerder dat Hy die Here is? Daaroor gaan ons nou nadink.

Here

Soos reeds onder die bespreking van `Christus’ gesê is, is die nadruk in die boodskap aan die heidene daarop dat Jesus die Here is. Die heidene se bekering het in ‘n sekere sin ‘n ander inhoud gehad. Heidene het nie vooraf alreeds in die God van Israel geglo nie. Die OT was nie hulle eie geskiedenis nie, Abraham, Isak en Jakob nie hulle voorouers nie. Hulle is nie deur die besnydenis in die genadeverbond van God met Abraham opgeneem nie. Hulle het ander gode gedien. Hulle bekering het beteken dat hulle ‘n ander God moes begin dien, dat hulle totale siening van wat godsdiens is, moes verander, en ander etiese waardes en godsdienstige gebruike moes aanvaar.

In die Grieks-Romeinse wêreld was die begrip Here (kurios) veral vir Gode en gesagsfigure gebruik. `Here’ was in hierdie verband nie die vertaling van God se Naam (Jahwe) in die OT nie, maar die titel van iemand wat absolute gesag oor jou het. Die Griekse gode is dikwels as Here aangedui. Later is die keiser van Rome, onder wie se gesag Israel in die tyd van Jesus gestaan het, ook Here genoem, en van alle onderdane is verwag om by sekere openbare geleenthede te bely dat die keiser Here is. Daar was ‘n wydverbreide oortuiging dat die keiser goddelike mag gehad het.

Dit is dus volkome begryplik dat die apostels aan mense wat in die Grieks-Romeinse kultuur geleef het, Jesus verkondig het as die Een wat absolute gesag oor hulle het. Daarmee het hulle ook sy goddelikheid beklemtoon, want `Here’ is veral vir Gode en die goddelike keiser gebruik.

Intussen het hulle daarmee ook vir Jode iets gesê. Die Jode het die titel `Here’ goed geken uit die Septuaginta. Dit is gebruik om o.a. die Naam van God (Jahwe) in Grieks te vertaal. Deur Jesus nou Here te noem, het hulle Hom as die God van die OT aangedui. Daar is wel verskil onder geleerdes of dit regtig die implikasie is, maar in die lig van veral Fil 2:9-10 lyk dit tog so. Daar lees ons God het aan Jesus `die Naam gegee wat bo elke naam is.’ Daar kan min twyfel bestaan dat dit vir Jode na net een Naam kon verwys: Jahwe, die Naam van God. Die titel (of naam!) Here beklemtoon dus die Goddelikheid van Christus en dui veral op sy gesag. Daarom sal almal uiteindelik die knie voor Hom buig en bely (nie bloot `erken’ soos NAV nie) dat Hy Here is (Fil 2:11).

Seun van God

Ons ken hierdie titel gewoonlik net as aanduiding van Jesus se goddelikheid. Dit sorteer onder die Christologie van bo (58). Hy is die ewige Seun van God, die tweede persoon in die drie-enige God, wat ‘n mens geword het deur sy geboorte uit Maria. Die feit dat Hy die Seun van God genoem word, beteken nie dat Hy `minder’ God is as die Vader wat dan die `eintlike’ God sou wees nie. `Seun’ beteken in die Bybel dikwels `van dieselfde soort as…’ In Esegiël tree ‘n seun van die mens op (2:1,3; 3:1 ens) wat tereg eenvoudig met `mens’ vertaal is. Dit is dus moontlik dat Seun van God juis God beteken en Jesus se goddelikheid aandui.

As ons van agter na Christus kyk (60), vanuit Israel se geskiedenis, kry ons ‘n ander perspektief wat baie interessant is. Die begrip `seun(-s) van God’ is bekend in die OT. Dit word gebruik vir hemelwesens van wie die Satanfiguur een was (Gen 6:2; Job 1:6; 2:1); maar ook vir Israel (Hos 2:10) en vir die koning van Israel (Ps 2:7). Verder word dit in die NT gebruik vir die gelowiges, gewoonlik vertaal as kinders van God (Mat 5:45; Rom 8:14; Open 21:7). Dit is ook nie bloot toevallig dat dieselfde begrip vir Christus en die kinders van God gebruik word nie. Daar word doelbewus ‘n verband tussen die twee gelê. In Romeine word ons die broers van die Seun genoem (8:29), en in Hebreërs is ons `seuns’ (kinders) van God, en noem Jesus ons sy broers (2:10-11).

Dit lei dus geen twyfel dat daar verband is tussen sy Seunskap en ons s’n nie. Hy is immers die seun van Dawid, en omdat Dawid die koning van Israel was, is hy self ook `die seun van God’ genoem. As ons verder onthou dat Jesus juis die plek inneem van Israel, wat ook seuns van God genoem is, moet ons aanvaar dat Hy in tweërlei sin Seun van God is: die ewige Seun en die heilshistoriese Seun. In die tweede sin deel ons sy seunskap omdat ons deur Hom ook seuns (kinders) van God word soos Israel dit was, en daarom bondgenote van God. Die verskil is dat Hy die `natuurlike’ Seun van God is, terwyl ons deur Hom tot seuns (natuurlik seuns én dogters) van God aangeneem word.

Seun van die mens

Daar is baie Christene wat meen dat die titel `die Seun van die mens’ veral die menslikheid van Jesus beklemtoon. Die saak is egter nie so eenvoudig nie.

In Esegiël kom wel ‘n verwante uitdrukking voor (Hebreeus: seun van ‘n mens – 3:1,2,4 ens) wat eenvoudig as `mens’ vertaal kan word (NAV), maar in Dan 7:13-14 kom dieselfde uitdrukking voor (NAV: ‘n menslike wese) as verwysing na ‘n hoogheidsfiguur wat alle heerskappy ontvang. Die NT se gebruik dui eerder in hierdie rigting: die Seun van die mens is ‘n buitengewone persoon wat in ‘n besondere verhouding met God staan en uiteindelik in heerlikheid sal kom en oor alles sal regeer. Hierdie betekenis pas goed vir Jesus veral as ons onthou dat heelwat van die uitsprake oor die Seun van die mens in die NT juis verwys na ‘n figuur wat in die toekoms in heerlikheid sal kom (o.a. Mat 10:23; 13:41; 16:27ev; 19:28; 24:27).

Een probleem is dat Daniël se `menslike wese’ skynbaar na Israel self verwys. Dan 7:18 is skynbaar ‘n verklaring van 7:13-14, net soos 7:16-17 ‘n verklaring is van 7:3-8. Maar hoe kan Daniël se menslike wese na Israel verwys en uiteindelik in Jesus vervul word?

Dit pas eintlik in by ‘n bepaalde patroon wat ons al vroeër teengekom het: Jesus neem die plek in van die ontroue Israel, Hy het sy eie uittog (Mat 2:14-15), Hy is die dienaar van die Here wat ook oorspronklik op Israel self betrekking gehad het (Jes 49:3ev), en Hy doen dit alles omdat Israel faal as bondgenoot van God sodat God dan Iemand voorsien om dit in hul plek te doen (60). As Seun van die mens staan Hy uiteindelik in die plek van alle mense, soos blyk uit die feit dat Hy sy lydensuitsprake juis formuleer as die lyding van die Seun van die mens (Mark 8:31; 9:31; 10:32ev).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: God en mens

Geloofsvrae: Jesus Christus: God en mens – Adrio König

Christus: God én mens?

Hier sal ons nie in besonderhede ingaan op die goddelikheid en die menslikheid van Christus nie, maar op een besondere probleem: hoe is dit moontlik dat een persoon tegelyk God en mens kan wees?

Een van die oudste kerklike belydenisse oor Christus is dat Hy God én mens is, die ware God en ‘n ware, regverdige mens, wat ook beteken dat Hy God én mens openbaar, d.w.s. dat ons in sy optrede leer wie en hoe God is, én wie en hoe ‘n mens is.

Hoe is dit moontlik? In ‘n vorige artikel het ons kritiek uitgespreek oor die verdeling van sy lewe in twee dele: ‘n deel waarin Hy in sy goddelike natuur sou optree en waarin Hy dus vir God openbaar (bv in sy wonderwerke), en ‘n deel waarin Hy as mens optree en openbaar hoe die mens is (bv dat Hy nie weet wanneer sy wederkoms sal wees nie).

As ons standpunt reg is dat die Bybel nie sy lewe so in twee dele verdeel nie, maar sy lewe as ‘n eenheid voorstel, beteken dit dat Hy in een en dieselfde Persoon, en in dieselfde dinge wat dié Persoon sê en doen, tegelyk openbaar wie en hoe God is én wie en hoe die mens is.

Hoe is dit moontlik? God en mens verskil tog heeltemal. God is ewig, almagtig, onveranderlik, en die mens is tydelik, swak, veranderlik. Hoe kan Christus in sy een lewe tegelyk God én mens openbaar?

Speel ons Godsbegrip ons nie `parte’ nie, soos die ou mense gesê het? Ons het twee dinge vergeet: eerstens dat God nie Plato se onveranderlike, in sigself genoegsame, onbeweeglike wese is nie, maar die lewende God van liefde wat vir mense omgee; en tweedens dat ons as sy beeld geskep is met die roeping om Hom te verteenwoordig, d.w.s. iets van sy manier van lewe in ons lewe te openbaar. In terme van die NT: ons moet soos God en soos Christus optree. Maar dan sal ‘n lewe waarin God sigbaar word, vanselfsprekend ook wys hoe die mens behoort te lewe.

Die probleem lê dus nie by Christus nie, maar by ons. Deur ons sonde word dit onmoontlik om in ons lewe te wys hoe God is. Maar Jesus was juis sonder sonde, en daarom het sy lewe God én mens geopenbaar. God is liefde, en ons moet Hom en ons naaste liefhê. Dus sien ons in Jesus se lewe van liefde God én mens geopenbaar.

Soos reeds gesê het ons tradisioneel Jesus se lewe in twee dele verdeel, en gewoonlik sy wonderwerke aan sy goddelikheid toegeskryf. Maar waarom nie ook aan sy menslikheid nie? God het mag oor die natuur en daarom sien ons Hom daarin. Maar ons is geskape om namens God oor die natuur te heers. Daarom kan ons in die wonderwerke óók dit sien wat God met ons bedoel het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Matteus 27:52 – 53

Matteus 27:52 – 53 – Francois Malan

Danie vra:

Dagsê, hoe moet ek die gedeelte uit Mat. 27 verstaan? Was dit ‘n werklike opstanding en indien só het die opgestanes in vlees verskyn of in verheerlikte liggame? Of, was die opstanding ‘n simboliese verwysing na die opstanding. 52.Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53 en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus skets Jesus se sterwe met drie taferele vooraf en drie daarna, wat met mekaar verband hou om te bewys dat Jesus die Seun van God is. As Seun van God sterf Hy in ellende, as ‘n misdadiger en iemand wat deur God vervloek is om die vloek van ons sonde te dra, sodat ons saam met Hom kan opstaan uit die sonde en uit die dood.

a duisternis (27:45)

Geen gewone sonverduistering kan met volmaan geskied nie en die paasfees vind met

volmaan plaas. Maar helder oordag word dit donker as teken van God se toorn oor die

sonde oor die hele land wat Hom verwerp, oor die mense wat spot oor Hom wat die

sonde van die wêreld dra, as vervulling van Amos 8:9.

b verlatenheid (27:46)

Hy wat op God vertrou het (v43), word deur God verlaat (Ps. 22:2). Hoewel Hy deur God

versaak is, versaak Hy God nie. Hy dra die helse straf van God op ons sonde

(Deutr.21:23; Jes.53:10).

c spot (27:47-49)

Sy gebedsroep word spottenderwys misverstaan as ‘n roep tot Elia om Hom te red (vgl.

vv 40,41,43). Selfs die een wat sy pyn met ‘n slukkie soldatewyn wil verlig, word deur

die ander gekeer. Niemand op die aarde en niemand uit die hemel sal Hom red nie, waar

Hy tussen hemel en aarde hang om die hemel en die aarde te versoen. Redderloos sterf

die Redder.

d Jesus sterf (27:50)

Sy naam Jesus beteken die Here red. Jesus skreeu sy angskreet en sterf. (26:66). Om sy

Vader se wil uit te voer (26:39,42) onderwerp Hy Hom aan die Vader se verwerping om sy volk van hulle sonde te verlos (1:21).

a1 tekens (27:51-53)

Soos die duisternis voor sy dood ‘n teken was (a), gee God tekens ná die dood van Jesus

(a1). God skud die aarde: Hy skeur die voorhangsel van bo na onder en Hy skeur die

rotse oop.

Die geskeurde voorhangsel is ‘n teken van die vrye toegang vir alle mense tot

God se teenwoordigheid deur die offer van sy Seun, wat die offerdiere by hulle tempel

vervang (vgl. Hebreërs 9:7; 10:19-20).

Die geskeurde rotse laat baie ontslape gelowiges uit die rotsgrafte uitkom (vgl.Esegiël

37:13 sodat die mense sal besef dat Hy die Here is; Jesaja 26:19 as voorloper-teken van

die opstanding van die gelowiges met Christus se wederkoms; Daniël 12:2 ook die

ongelowiges sal opstaan om geoordeel te word). Die opgestane gelowiges, wat in

Jerusalem aan baie mense verskyn het, bewys dat Jesus die dood self oorwin het met sy

opstanding. Daarmee word alle gelowiges verseker van hulle opstanding.

b1 belydenis (27:54)

Teenoor sy Godverlate skreeu (b), klink die vroeër spottende wagte (27:29) se bevreesde

belydenis (b1): ‘Hierdie man was werklik die Seun van God.’ Heidene gaan die Jode

voor in die koninkryk van die hemel (8:11). Dit is ‘n teken van Jesus se oorwinning oor

die volke van die wêreld (Ps. 22:28-29).

c1 getroue dienaresse (27:55-56)

Teenoor sy spotters (c) staan die vroue van Galilea wat Jesus getrou gedien het tot die

end (c1). Die vroue is getuies van sy vreeslike dood; party van hulle ook van sy begrafnis

en opstanding (27:61; 28:1). Hulle staan op ‘n afstand terwyl die dissipels gevlug het

(26:56). Jesus het ook die vroue kom verlos, ook uit hulle onderdrukte posisie in Israel.

God het hierdie gelowiges opgewek as ‘n unieke gebeurtenis om die betekenis van Jesus se sterwe en opstanding daarmee te onderstreep. Matteus is die enigste Evangelie wat dié stukkie getuienis opskryf, omdat hy glo dat Jesus die Here is oor dié wat lewe en dié wat reeds dood is. Vir Matteus was dit dinge wat werklik gebeur het, en wat hy gebruik om sy boodskap oor te dra. Dit gaan oor die betekenis van Jesus se dood en opstanding. Dit is die begin van die eindtyd. Dit is deel van die goeie boodskap dat die dood self oorwin is, en die volk van God kan seker wees van die opstanding.

Of hulle soos Lasarus van Johannes 11 uit die dood opgewek is, wie se grafdoeke moes losgemaak word, en daarom later weer gesterwe het (in die vlees), of soos Jesus wat na sy opwekking nie weer sterwe nie (verheerlikte liggame), word nie gesê nie. Die God wat vir Jesus uit die dood opgewek het en vir Lasarus, kan enige van die twee met hulle gedoen het. Dit is in elk geval simbole van die opstanding van Jesus, wie se dood die lewe aan ons gee.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Matteus 12:31 – 32

Matteus 12:31 – 32 – Francois Malan

Luanette vra:

Kan u my asb help met die volgende teksverse in die Bybel wat ek nie verstaan nie? Matteus 12 verse 31 en 32

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Matteus 12:9-14 word vertel hoe Jesus in die sinagoge, op die sabbatdag, ‘n man met ‘n gebreklike hand genees het, en die Fariseërs toe begin planne maak om Jesus dood te maak, omdat Hy hulle hele verlossingsleer omkeer, van offers en goeie werke, o.a. om die sabbatdag heilig te hou deur nie te werk nie – jy kan maar jou skaap wat in ‘n sloot val op die sabbat uithaal, maar om ‘n gebreklike te genees mag nie (12:11,12). Die gesag van Jesus het egter die gesag van die skrifgeleerdes en die Fariseërs vervang en hulle hele siening van God en sy gebooie omver gewerp.

In 12:15 word vertel van baie mense wat Hy genees het. Daarna (12:22) genees Hy ‘n blinde en stom man wat in die mag van ‘n duiwel was. Die mense begin sê Hy is die Seun van Dawid (die beloofde Messias/Gesalfde koning/priester/profeet – wat die seggenskap by die Fariseërs kom oorneem. Nydig en jaloers wil die Fariseërs die mense wegtrek van Jesus en sê Hy dryf die duiwels alleen maar uit met die hulp van die aanvoerder van die duiwels, nl. Beëlsebul (12:24) – dit is die tipe gesag wat Jesus sou hê. Nadat Jesus hulle nie met sy argumente kon oortuig nie (12:25-30), sê Jesus openlik Hy dryf die duiwels uit met die Gees van God (12:28). Daarna waarsku Hy die mense, en veral die Fariseërs, dat om te beweer die werk van die Heilige Gees is die werk van die leierduiwel, is laster teen die Heilige Gees, en dit kan nie vergewe word nie (12:31-32).

Daarop volg 12:33-37 waar die Fariseërs slange genoem word, wie se monde openbaar wat in hulle harte aangaan. Op grond van hulle ligsinnige en boosaardige woorde sal hulle op die oordeelsdag beoordeel word.

Party van die skrifgeleerdes en Fariseërs kabbel toe terug en vra nog ‘n wonderteken om te bewys wie Jesus is en waar Hy sy gesag vandaan kry. Jesus noem hulle ‘n slegte en afvallige geslag wat nie kan raaksien wie by hulle is nie, Iemand baie groter as die profeet Jona na wie die heidense Nineve geluister het, en Salomo na wie die heidense koningin van Skeba geluister het (12:38-42).

Die slegte mense van Jesus se dag word gewaarsku dat die duiwels besig is om in húlle in te trek om hulle weg te lei van die waarheid (12:43-45). Maar elkeen wat die wil doen van Jesus se Vader wat in die hemel is deur in Jesus te glo en Hom te volg, is sy moeder en sy broers, word kinders van God soos Jesus die Seun van God is, word deel van God se groot huisgesin (12:46-50).

Jesus noem Homself telkens ‘die Seun van die mens’, wat bloot ‘n mens kan beteken, maar in die lig van Daniël se nagtelike visioen in Daniël 7:9-14 is Jesus die Seun van die mens (NAV ‘n menslike wese) wat voor die Een wat Ewig lewe staan en aan wie gegee word die ewige heerskappy vir wie al die volke, nasies en taalgroepe sal dien. Daarom gebruik Jesus ook die benaming wanneer Hy vertel van sy koms op die wolke van die hemel met die groot krag en majesteit, dat Hy Jesus God is, wat kom oordeel oor die mense se woorde en dade (Mat.24:30-31; 26:64).

Maar terwyl Hy nog op aarde was, was Hy in die nederige gestalte van ‘n gewone mens, teen wie mense kan praat, sondig en laster, en dit sal hulle vergewe word as hulle in Hom begin glo (12:31-32). Maar die Heilige Gees is die Gees van God, self ook God. Hy werk in die lewens van mense om hulle tot geloof in Jesus te bring. Hy kom woon in ons (Rom.8:9,11), om ons daagliks te lei en ons met die krag van God se liefde te dra en te versterk sodat ons ook in die liefde bly lewe. En as Jesus uit liefde ‘n besete man, wat blind en stom is, op die sabbatdag genees, dan is dit juis deur die Gees van God wat Jesus duiwels uitdryf (12:28). En as die Fariseërs die werk van die Heilige Gees toeskryf aan die mag van Beëlsebul, die leier van die duiwels (12:24), dan is hulle besig om die Gees van God, God self, te belaster. Dit word vir ewig nie vergewe nie (12:31-32).

Die enigste onvergeeflike sonde is om God willens en wetens en uit beginsel te ontken, selfs met soveel duidelike aanduidings uit sy Woord (vgl. Lukas 16:31), want die Heilige Gees gebruik juis die woord van God om ons te oortuig (Joh.16:5-15).

Maar as iemand nog eg bekommerd is of hy of sy al die onvergeeflike sonde teen God gedoen het, is sy/haar bekommernis ‘n aanduiding dat hy/sy nie skuldig is aan so ‘n godslastering of miskenning nie, maar dat die Gees van God juis besig is om hom/haar te oortuig dat Jesus die Seun van God is wat vir ons die pad na God toe oopmaak om van ons kinders van God te maak (vgl. Rom.8:14-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan