Na die dood?

Na die dood – Francois Malan

Hilda vra:

Waar gaan jy heen as jy sterf? Paradys of wag almal in die graf tot Jesus terugkeer?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vir die misdadiger aan die kruis wat vir Jesus gevra het om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom, het Jesus gesê: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Luk.23:42-43). In Lukas 16:19-31 vertel Jesus van die arm Lasarus wat deur die engele weggedra is na die ereplek langs Abraham, en die ryk man wat na sy begrafnis in die doderyk in pyn verkeer en kla dat hy verskriklik ly in hierdie vuur. Die gelykenis wil eintlik net sê dat daar ‘n skeiding sal wees tussen die geluksaliges en dié wat in pyniging tereg kom. Hoe dit daar sal uitsien, kan nie hieruit afgelei word nie. Die paradys en die boesem van Abraham is voorstellings van gelukkige gemeensaamheid in die hemel, soos die tuin van Eden waar die mense met God gemeenskap gehad het voor die sondeval, en ‘n herinnering aan God se genadeverbond met Abraham.


Die Joodse verwagting oor die lewe na die dood, waarby Jesus hier aansluit, het ‘n wye verskeidenheid van gedagtes daaroor gehad. Aan die begin is gedink dat die dooies in die doderyk slaap tot die algemene opstanding en oordeel. Langs dié verwagting het ‘n ander ontwikkel dat die siele van die regverdiges na hulle sterwe dadelik hemel toe gaan. Dit word deur Jesus bevestig met ‘vandag’ en ‘met My’. Die ‘ereplek langs Abraham’ (letterlik: aan die boesem van Abraham) verwys na die sitplek aan die feesmaal langs Abraham, soos in Johannes 13:23 gebruik, vgl. Matteus 8:11).

In die heel eerste brief wat ons van Paulus het, 1 Tessalonisense 4:13-17 praat hy van die mense wat in Christus geglo het en gesterf het, dat hulle sal opstaan/opgewek word met die wederkoms van Christus (vgl. 1 Kor 15:52). In 2 Kor. 5:1-10 skets Paulus tog ‘n ander prentjie. Wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word = doodgaan, dan het ons reeds ‘n vaste gebou in die hemel en dat God ons vir hierdie oorgang voorberei het. Ons wil graag daar gaan woon, maar of ons nou hier woon of daar, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil, want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn oor hoe ons op aarde gelewe het. En in die laaste brief wat Paulus geskryf het voor sy eerste verhoor in Rome, verwag hy die ergste van die aanstaande verhoor voor die keiser op wie hy hom beroep het. Hy skryf aan die Filippense 1:21,23,24 ‘om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins…Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.’

Om die twee gedagtes wat in die Skrif te vind is te akkommodeer, van dadelik na die Paradys gaan of eers met die opstanding, antwoord die Heidelbergse Kategismus vraag 57: Die troos van die opstanding van die vlees is dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (Lk 16:22; 23:43; Fil.1:21,23), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (Job 19:25,26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21).

Maar hoe dit presies gaan werk, bly vir ons ‘n verrassing. Dit weet ons vir seker, as ons as gelowiges sterwe, is ons by die Here – hoe en waar, weet ons nie. Paulus sê ons kyk nog soos in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken (1 Kor.13:12)

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Ou Apostelkerk – Vraag

Die Ou Apostelkerk – Francois Malan

Annelie vra:

Ek het in die Ou Apostel Kerk groot geword. Na Matriek het ek oor gekatkiseer in die NG Kerk en is ook oor gedoop. Ek weet presies hoekom ek alles moes oordoen, want ons almal weet watter tipe kerk die Ou Apostelkerk is. Alles wat hulle op my geplaas het omdat ek die kerk verlaat het, het ek nie aanvaar nie want ek het geweet GOD is in Beheer en ek is nie bang nie. Ek het my kinders in die NG Kerk groot gemaak. My dogter het getrou met iemand uit die Ou Apostelkerk. Ek het geweet wat wag, en het alles verduidelik voor hul troue en my skoonseun het gesê hy sal oor katkiseer in die NG Kerk. Dit het nie gebeur nie. Ons Ds het gesê my dogter kan haar kinders alleen doop met haar man aan haar sy, maar hy mag nie antwoord nie. (Ek weet hoekom) My vraag is die volgende : Daar word nou vir my gesê ons kerk het hom eintlik weggejaag omdat hulle hom nie toelaat om sy kinders saam sy vrou te doop nie en hom nie aanvaar nie. (Nie waar nie). Hulle sê ook dat kinders nie klein gedoop mag word nie omdat hulle nog nie self kan erken dat hulle Christene is nie. Dis verkeerd om klein te doop. Ek het baie geleer in die NG kerk, maar kan nie al hierdie vrae antwoord nie. Al wat ek weet is dat Alles gaan oor GOD, HY alleen moet alle eer kry. Ek sien die klein doop as my verbond met GOD om my kind van HOM te leer. Wat meer kan ek antwoord? Ek is bekommerd omdat daar nog geen verbond met GOD gemaak is rakende my 2 Kleinkinders nie. Ons DS was meer as behulpsaam, my skoonseun het nie die afsprake wat ek vir hom gemaak het, nagekom nie. Ek voel niemand kan gedwing word nie, dit moet van jouself af kom. Hulle is al 9 jaar getroud. Help asb. Baie Dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Annelie ken die Ou Apostelkerk, maar ek ken nie hulle leer en wat hulle oor die doop glo nie. Sy weet ook hoekom haar dominee nie die skoonseun wou laat antwoord nie. Ek verwys na ‘n paar tekse in die Bybel oor God se genadeverbond, die doop as teken van die verbond, en van die doop van kinders.

God het ‘n verbond met Abram en sy nageslag gemaak (Genesis 12:1-3) en 25 jaar later, toe Isak 13 jaar oud was, het Hy die besnydenis ingestel as teken van die verbond. Dit moes aan alle manlike lede van sy gesin gedoen word, ook aan die seuntjies vandat hulle agt dae oud is (Genesis 17:11,12). Die nageslag van Abraham se kleinseun Jakob, wat die Here by Pniël die naam Israel gegee het (Genesis 32:28), het na ‘n hongersnood in die beloofde land Kanaän na Egipte getrek (Genesis 46:2-7), waar hulle vir 400 jaar gebly het en later slawe geword het. Toe die Here Israel uit die plek van slawerny uitgelei het terug na Kanaän toe, het Hy sy gebooie vir hulle by Sinai gegee (Eksodus 20:1-17) en sy verbond met hulle gesluit toe Moses hulle met die bloed van bulle besprinkel het (Eksodus 24:8). Terug in Kanaän het hulle vir 600 jaar telkens die verbond verbreek deur afgode te dien en soos die heidense Kanaäniete geleef het. Toe het die Here hulle in ballingskap laat wegvoer Babilon toe, maar Hy het belowe dat Hy ‘n nuwe verbond met hulle sal maak, wat nie op die onderhouding van ‘n uiterlike wet gebaseer is nie, maar waarin die Here sy woord op hulle harte sal skryf en in hulle gedagtes sal vaslê (Jeremia 31:31).

Die Woord van God, self ook God, word mens so ‘n 600 jaar na Jeremia (Johannes 1:1,14). Voordat Jesus aan die kruis gesterf het om vir al ons sonde versoening te doen, het Hy tydens sy laaste paasmaaltyd die nagmaal ingestel as teken van die nuwe verbond wat Hy met sy bloed beseël (Lukas 22:19-20). Na sy opstanding stuur Hy sy dissipels na al die nasies toe met die opdrag om hulle sy dissipels te maak, hulle te doop in Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy hulle geleer het (Matteus 28:19). Met die opdrag verbind Jesus elke gelowige aan God die Vader wat ons roep en as sy kinders versorg (Romeine 8:14-17), en aan die Seun aan wie se dood en opstanding God ons verbind om saam met Christus aan ons self te sterf en saam met Hom te lewe (Romeine 6:8-11), en aan die Heilige Gees wat God is en wat self in ons kom woon om die geloof in Jesus in ons te kom bewerk, om ons te lei en om ons die liefdeskrag te gee om al meer soos Jesus te word (2 Korintiërs 3:18; Galasiërs 5:22-23).

Na Jesus se hemelvaart word die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort om by en in ons te kom woon. Petrus preek op die Pinksterdag en omtrent 3,000 mense sluit hulle by die dissipels aan deur die werking van die Gees in hulle harte. Vir hulle sê Petrus: Bekeer julle (van afgode en sondige lewenswyses) en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep (Handelinge 2:38-39). Daarmee word die teken van die doop vir seuns en vir dogters aangebied. Dit is nie meer net die seuns wat die teken van die verbond kry nie. Paulus sê: Deur die geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Galasiërs 3:26-29).

In Romeine 4:9-12 praat Paulus van God se verbond met Abraham, dat Abraham aan God behoort en dat Hy sy Abraham se God sal wees, dat die verhouding begin het voordat Abraham besny was, toe God hom vrygespreek het omdat hy geglo het in God se woord en belofte. Later het hy die besnydenis as ‘n teken ontvang waardeur Abraham uitgeken kan word as God se kind, en verseker kan wees van God se verbond met hom. God het met hom ‘n verbond gesluit toe 75 jaar oud was en nog nie besny nie. Eers toe hy 99 jaar oud was het hy die besnydenis ontvang. God se doel met die verbond nog voordat hy besny was, is dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie, maar ook van die wat wel besny is en soos hy in God glo.

Aan die Kolossense skryf Paulus: In Christus is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor al die bose magte. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het (Kol. 2:9-15).

Vir die Filippense skryf Paulus: Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur die Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op die uiterlike dinge vertrou nie (Flp. 3:3).

Die doop maak nie ‘n mens lid van God se verbond nie. ‘n Mens word lid van God se verbond deur God se genadige besluit wat bewerk word die Heilige Gees wat in ons werk om ons te oortuig, onder andere deur God se woord wat ons van ander gelowiges hoor en self in die Bybel lees (Romeine 10:13-15). Die Gees maak ons verhouding met God reg deur ons aan Jesus en sy offer vir ons sonde te verbind. Hy maak ons kinders van God (Rom.8:11,14-17). Die doop is die seël waarmee God ons bestempel as lede van die verbond.

Ons doop die kinders van gelowige ouers, omdat God sy verbond met hulle en hulle kinders gemaak het. In die Bybel is daar voorbeelde van verskillende huisgesinne wat gedoop is, waarin baie moontlik ook kinders was: Handelinge 16:15 Lidia en haar huisgesin; 16:33 die tronkbewaarder en al sy mense; 18:8 Krispus en sy hele huisgesin; 1 Kor.1:16 die huisgesin van Stefanas. In 1 Kor 7:14 sê Paulus die kinders van ‘n gelowige man of gelowige vrou behoort aan die Here.

Die eenheid van die kinders saam met die gemeente sien ons bv. in Hand. 21:5 waar die vrouens en kinders ook deelneem aan die afskeid van Paulus; kinders word aangespreek in Paulus se briewe aan die Efesiërs (6:1) en Kolossense (3:20); in Johannes se briewe (1 Joh.2:12). Jesus sê: wie ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang my (Mat. 18:3); en: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle (Mark. 10:14).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die wil van God vir my lewe

Geloofsvrae: Die wil van God vir my lewe – Adrio König

Die wil van God vir my lewe

Die wil van God vir ons persoonlike lewe is ‘n uiters belangrike saak. Omdat God die Here is, omdat Jesus in die Nuwe Testament ook die Here genoem word, het God reg op my lewe. Paulus noem homself ‘n slaaf van Christus. Dit beteken nie dat hy aan willekeurige en wrede mag uitgelewer is nie, maar wel dat hy onvoorwaardelik en in elke opsig aan God behoort, in sy diens staan, en sy wil moet doen.

Dit is egter ‘n vraag wat ‘n mens bedoel met God se wil vir my lewe. Veral onder jongmense is dit dikwels ‘n dringende vraag wat God vir hul lewe beplan het. Daar word dan ook gepraat van die spesifieke plan van God met elke individuele lewe. Dit word ‘n groot vraag of die persoon ná skool moet gaan werk of studeer, na ‘n technikon of universiteit moet gaan, en dan ook nog na watter een? Dit word vir mense ‘n dringende vraag watter huis of kar die Here wil hê dat hulle moet koop, of met watter persoon hulle moet trou.

Daar is dan ook verskillende maniere waarop mense in die Bybel na antwoorde soek. ‘n Mens kan die Bybel eenvoudig oopslaan en lees waar jou oog val. Dan probeer ‘n mens daaruit die wil van God oor die bepaalde saak aflei. Gewoonlik is allerlei vergeestelikings of spronge nodig om God se wil daaruit af te lei, omdat die meeste van die sake waaroor dit gaan, nie regtig in die Bybel aangespreek word nie. In baie gevalle het die betekenis wat iemand uit die teks aflei min of selfs geen verband met wat daar regtig staan nie. Uiteindelik ontkom ‘n mens nie aan die gevoel dat hier baie willekeur op die spel is nie.

Agter hierdie soeke na die wil van God in ‘n spesifieke saak, sit die oortuiging dat God met elke mens se lewe ‘n plan het wat in volle besonderhede uitgewerk word. En die gelowige se taak is dan om in elke klein besonderheid presies te wete te kom wat hierdie plan is en dit getrou uit te voer. Die werk wat die persoon eendag moet doen, die plek waar hy of sy moet woon, die persoon met wie hy of sy moet trou, die huis, kar, vriende alles is presies in God se plan vir elke individuele lewe ingesluit en moet presies só uitgevoer word. En omdat die Bybel nie regtig sulke besonderhede bevat nie, is daar dan allerlei interpretasietegnieke nodig om dit uit die Bybel af te lei.

Die eerste vraag is natuurlik of God regtig so ‘n spesifieke plan vir elke mens se lewe het. Dit kom baie na aan die totale voorbeskikking van God behalwe dat mense wat dit glo, gewoonlik oortuig is dat ‘n mens buite die wil van God kan beland – wat dan juis ten alle koste vermy moet word. Dit word egter uiters moeilik om jou in te dink hoe dit kan werk as ‘n paar mense wel aan God se wil ongehoorsaam is en byvoorbeeld met verkeerde persone trou. Dan kan die persone wat God eintlik vir hulle bedoel het, natuurlik nie meer met hulle trou nie. Hulle moet dan ook almal met verkeerde maats trou … En die bedoelde maats van dié maats met wie hulle trou, ook …!?

Wat is God se wil? Is dit nie duidelik in die Bybel uitgestippel nie? En is dit nie onnodig om so ‘n haglike soektog op tou te sit om dinge uit die Bybel af te lei wat nooit regtig deur die Bybelskrywers bedoel is nie?

Het God ‘n spesifieke doel met elke individu se lewe? Is Hy regtig so begaan of ek ‘n verpleegster of ‘n onderwyser of ‘n sekretaresse word?

Of lê sy wil op ‘n ander vlak? Is dit nie eerder sy wil dat ek op ‘n bepaalde manier sal leef of ek nou ‘n verpleegster of ‘n onderwyser of ‘n sekretaresse word nie? Sy wil is tog duidelik in sy Woord, o.a. in die Tien Gebooie, in Jesus se opsomming van die wet, in die vermaninge in die briewe, in die profete. En verder weet ons ook oor meer spesifieke sake wat sy wil is. Ons weet wat sy wil is as ons onregverdig ly, of wat sy wil is as ons mense in nood raakloop, of as ons iemand ken wat nie sy kind is nie.

Hierdie siening gaan uit van die standpunt dat God ‘n omvattende roeping vir al sy kinders het: om Hom te verheerlik deur vir ander mense om te gee, hulle belange hoër as hul eie te ag, niks uit selfsug of eersig te doen nie … en duisend ander heel spesifieke en konkrete aanduidings van hoe Hy wil hê dat ons moet leef. En ons weet ook wat sy wil oor huiskoop en karkoop of klerekoop is: dat ons binne ons vermoë sal bly, wat beteken dat ons ‘n eenvoudige lewenswyse sal handhaaf sodat ons iets sal oor hê om die armes te help (Fil 2:3-7; Ef 4:28).

Trouens ek weet ook wat God se wil is oor die persoon met wie ek moet trou: iemand wat by my pas, iemand wat ek kies nadat ek die verantwoordelikste raad ingewin het wat beskikbaar is, iemand wat Hom ook ken en liefhet, en so is daar heelwat aanduidings van sy wil wat my help om die beste keuse te maak. Oor die beroep wat ek kies, weet ek ook daar is sekere beroepe wat eenvoudig teen sy wil is (dwelmhandelaar, prostituut), en ek weet dat sover dit moontlik is, ek ‘n beroep moet kies waarin ek Hom sal kan dien en verheerlik, waarin ek die spesifieke aanleg en vermoëns wat Hy my gegee het, goed sal kan gebruik.

Maar uiteindelik is ek self vir my keuses en besluite verantwoordelik. God besluit nie vir my en ek moet net uitvoer wat Hy besluit het nie. Ek moet self verantwoordelikheid aanvaar

nadat ek in alles wat ek doen sy wil gesoek het sover as dit moontlik is. Maar om te aanvaar dat Hy vir elke ding wat ek moet doen, al klaar namens my besluit het en ek moet dit net iewers uit die Bybel probeer aflei, kan maklik lei tot ‘n baie willekeurige gebruik van die Bybel en gebrek aan verantwoordelikheid vir my eie lewe.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die almag van God en sonde

Geloofsvrae: Die almag van God en sonde – Adrio König

Die almag van God, en sonde en lyding

Elders is al opmerkings gemaak oor die mag of die almag van God. Daar is dit gestel dat God se almag in elk geval nie kan beteken dat Hy enigiets kan doen nie. Hy kan nie dinge doen wat logies teenstrydig is nie, en Hy kan ook nie dinge doen wat in stryd met sy wese is nie, bv om sonde te doen.

Uit die geskiedenisse in die Bybel is dit ook duidelik dat God nie altyd dadelik kan regkry wat Hy wil nie. Die talle kere wat die profete die volk in die Naam van God oproep tot bekering sonder dat hulle luister, getuig hiervan. Die feit dat God nie wil hê dat ons sy wet moet oortree nie, maar dat ons dit tog doen, getuig ook daarvan, netsoos die feit dat Jesus in sekere omstandighede sekere dinge nie kan doen nie (Mark 6:5).

Ons sal moet probeer om hierdie fasette van ons geloof in ons siening van God se mag in te bou. Ons vra Hom om ons te bewaar, byvoorbeeld op ‘n lang reis. Soms kom ons tog in ‘n ongeluk, selfs ‘n fatale een. Hoe nou?

Mense wat sondermeer en probleemloos glo dat God se almag beteken dat Hy enige oomblik alles kan regkry wat Hy wil, beland soms in ernstige geloofsprobleme. Hulle kan eenvoudig nie verstaan waarom hulle in ‘n ongeluk beland nie. Hulle het Hom dan om bewaring gevra, en hulle glo sy beloftes.

Daar is ‘n paar uitweë wat taamlik algemeen is: óf ons het nie reg gebid nie, óf ons was in ‘n ander opsig ongehoorsaam aan Hom en nou straf Hy ons daarvoor, óf God het ‘n goeie, onbekende doel met ons ongeluk. Elkeen van hierdie uitweë het natuurlik weer sy eie probleme.

Is dit ook moontlik om soos volg op so ‘n situasie te reageer: God bewaar sy kinders sover as Hy kan, maar weens mense se sonde kan Hy nie altyd nie, netsoos Hy nie altyd daarin slaag om mense te oorreed om hulle te bekeer of sy kinders te oorreed om sy wil te doen nie? God kry dit nie altyd reg om te verhoed dat iemand ongehoorsaam aan Hom is en hom dronk drink en in ons vasry nie.

‘n Moontlike reaksie hierop sou wees dat ons nie meer op God sal kan vertrou as Hy nie dadelik alles kan doen wat Hy wil nie. As Hy ons wil beskerm maar Hy kry dit nie reg nie, sal dit nie help om tot Hom te bid nie.

Is dit regtig so? Ouers kan nie hul kinders altyd met al hul probleme help nie. Maar die kinders hou nie om daardie rede op om met hul probleme na hul ouers toe te kom nie. Selfs as die ouers die kinders nie met ‘n bepaalde probleem kan help nie, kom hulle nog altyd en bespreek dit saam en probeer ‘n uitweg kry. Hulle vertrou hul ouers nie omdat die ouers se hulp onfeilbaar is nie, maar omdat die ouers hulle liefhet en alles wat hulle kan, vir die kinders doen.

Kan ons hierdie analogie op ons verhouding met God toepas? Hoe kan God nou my gebed vir my dogter se bekering verhoor as sy haar nie wil bekeer nie en al die roepstemme van God weerstaan? Maar dit help nog altyd om met hierdie probleem na God te gaan. Daar is nog altyd troos en raad by Hom. Saam stry ons voort om haar te probeer oortuig.

Maar beteken dit dan nie dat ons in ‘n baie onveilige wêreld leef waar slegte dinge met ons kan gebeur nie? Natuurlik! En wie dit met die hulp van ‘n voorsienigheidsgeloof probeer ontken, steek sy of haar kop soos ‘n volstruis in die sand. Die klipharde werklikheid waarvan die Bybel vol is, is dat daar vreeslik baie dinge teen die wil van God gebeur, dinge wat God in Bybeltye probeer verhoed het (deur sy wet, die profete, en op baie ander maniere) maar nie altyd kon regkry nie omdat mense aan Hom ongehoorsaam was. En dit is nie net met ongelowiges wat daar vreeslike dinge as gevolg van hulle sonde gebeur nie. Ook God se kinders ly soms erg. Mense rig vreeslik baie ellende op aarde aan.

Hoe dit moontlik is dat mense aan God ongehoorsaam kan wees, is ‘n baie moeilike vraag wat elders bespreek is. Maar die feit dat dit oor en oor gebeur, is eenvoudig deel van die werklikheid waarin ons (tans nog! ) leef. Daar is oorweldigende getuienis hiervoor in die Bybel.

Dit was teen God se wil dat sy volk in Egipte verdruk is, maar dit het ‘n tyd geneem voordat Hy hulle daarvan kon bevry. God was fel teen Auschwitz, maar Hitler wou nie luister nie. God het apartheid van die begin af veroordeel, maar die verantwoordelike instansies wou nie luister na die talle roepstemme wat Hy na hulle gestuur het nie. As ons Hom vertrou omdat ons glo dat Hy alles altyd dadelik kan regkry, glo ons anders in Hom as wat die Bybel ons leer. En as ons probeer argumenteer dat al hierdie sonde en ellende tog maar eintlik deur Hom beskik is en dus sy verborge wil is, maak ons die Bybel ongeloofwaardig. Die profete kan nie in die Naam van God die volk tot bekering oproep maar al die tyd is dit tog die beskikking van God dat die volk so onbekeerlik moet bly nie.

Ons belydenis van God se almag is ‘n loflied op die wonderlike dinge wat Hy doen (waarvan die Bybel vol is en waarvan baie van ons kan getuig), nie ‘n resep wat beteken dat niks in die wêreld kan skeefloop nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.