Is dit sonde om alkohol te gebruik?

Is dit sonde om alkohol te gebruik? – Kobus Kok

Luanette vra: 

Ek wil graag weet is dit sonde vir ‘n Christen om alkohol te gebruik?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord: 

Om alkohol te gebruik kan vir sommige mense sonde wees. Laat ek verduidelik. Paulus stel dit duidelik dat ‘n Christen homself of haarself nooit laat verslaaf nie. Die rede? Indien mens jou laat verslaaf aan iets dan het daardie iets ‘n beheer oor jou lewe. Dit beheer dan jou gedrag, jou verhoudings en jou toekoms. In die geval van alkohol wat misbruik word, kan dit jou lewe verwoes en mense om jou geweldig seer maak. Vir mense wat ‘n probleem het met alkohol is die gebruik van alkohol sonde in die sin dat jy jou laat beheer deur iets wat sondige gedrag en denke kan teweegbring. Indien mens woon saam met iemand vir wie drank ‘n probleem is en jy is onsensitief teenoor daardie persoon, en jou gedrag beïnvloed so ‘n persoon om nie weg van die probleem nie maar juis reguit na die probleem te hardloop, dan is jou optrede sonde. Neem ander mense se geestelike lewe dus in ag en bemeester die kuns om ‘n fasiliteerder van geestelike uitnemendheid te wees. Verder is dit ook belangrik om sensitief te wees vir die groep waarin jy beweeg. So het ek eenmaal in New Orleans by die Baptiste Seminarium navorsing gedoen en verneem dat die studente geskors kon word indien hulle gevang word met drank binne of buite die seminarium. In daardie konteks maak dit sin dat mens heeltemal wegbly van alkohol ter wille van die ander mense in die sisteem.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Geloofsvrae: Siekte

Geloofsvrae: Siekte – Adrio König

Siekte

Dit het alreeds duidelik geword dat die dood ‘n baie ingewikkelder verskynsel is as wat ons normaalweg daaronder verstaan: die beëindiging van ons lewe. Dit is sowel ‘n bose mag wat ons in sy greep kry as die plek van verskrikking: die doderyk.

Siekte voeg nog by by die ingewikkeldheid van die dood. Ons kan siekte ‘n voorvorm van die dood noem, ‘n manier waarop die dood alreeds gedurende ons lewe op ons begin beslag lê. Volgens die OT is iemand wat ernstig siek is, alreeds `in die dood’ of `in die kuil,’ en iemand wat weer gesond word, word `weer lewendig gemaak.’ Die OAV is oor hierdie saak nader aan die oorspronklike tale as die NAV omdat die NAV so seker was dat ons as moderne Westerlinge dit nie sal verstaan nie, dat hulle dit toe maar met Westerse begrippe weergegee het. Vergelyk hieroor Ps 30:4 wat die getuienis is van iemand wat siek was: `Die Here het my opgelig uit die doderyk, my lewendig gemaak uit die wat in die kuil (die dood) neergedaal het‘ (OAV).

‘n Mens kan nie alle sieninge van siekte wat daar in die Bybel is, onder een noemer bring nie. Daar is hoofsaaklik twee oortuigings: die een is dat die Here mense siek maak (die berustingstandpunt) en die ander een is dat dit die duiwel is (die dramatiese standpunt).

Die eerste standpunt lui dat die Here mense siek maak óf as straf op hul sonde, óf met een of ander goeie doel.

Die tweede standpunt is dat die duiwel mense siek maak as deel van sy omvattende aanslag op die skepping van God, en dat God die Geneesheer is.

Beide standpunte aanvaar dat die Here mense weer gesond maak, maar die tweede standpunt het ‘n baie aggressiewer houding teenoor siekte, en daarom word dit die dramatiese standpunt genoem. Die mense wat deur Jesus gesond gemaak is, was onder die mag van die duiwel (Hand 10:38), en daarom moet die duiwel teengestaan word en die sieke in die Naam (d.i. deur die gesag van Jesus) genees word. Dit is ‘n stryd teen, en ‘n oorwinning oor Satan.

Daarteenoor staan die berustingstandpunt. Daar word wel vir die sieke gebid, maar omdat die Here ‘n onbekende goeie doel met die siekte kan hê, is dit ‘n baie terughoudender gebed wat graag eindig met `as dit volgens u wil is’.

Die berustingstandpunt beroep hom hoofsaaklik op die OT, en die dramatiese standpunt op die NT. Die berustingstandpunt pas goed in by die vroeg-Outestamentiese oortuiging, wat ons ook die profetiese standpunt kan noem, dat die Here alles doen. Hy seën én Hy straf. Daar is nog min sprake van die duiwel, en in elk geval nie van sy gedaante in die NT van radikale opstand teen God nie. Hy is nog eerder die `onskuldige’ aanklaer, een van die `hemelwesens’ (Job 1:6).

In die vroeër OT het ons nog ‘n `natuurlike’ wêreldbeeld. Net soos God die volk se gehoorsaamheid met allerlei natuurlike seëninge beloon soos goeie oeste of oorwinning oor hul vyande, straf Hy hulle sonde met allerlei natuurlike rampe soos droogte, hael, sprinkane en vyande. Een daarvan is siekte. Maar as hulle gehoorsaam is, sal geen siekte hulle tref nie, en as hulle hulle bekeer, is die Here in elk geval ook hulle geneesheer (Eks 15:26). (Vir voorbeelde van mense wat gestraf word vir hul sonde, lees veral Num 12:1ev; 1 Sam 25:37ev; 2 Kon 1:16ev; 5:26ev; 21:15ev; vir die Here se waarskuwings Num 32:23; Deut 28:59ev; 29:21).

Daar is natuurlik ook die ander gedagte (43.3) dat die dood ook ‘n bose mag is wat mense in sy greep kry. As siekte ‘n voorvorm van dood is, kan daar min twyfel bestaan dat die OT natuurlik ook die mag van die dood betrokke gesien het by siekte. Daarmee saam was daar ook nog die chaosmagte wat al in die voorstelling van stryd by die skepping ‘n rol gespeel het. Maar alhoewel die gelowiges bely dat God mag het oor die dood (Deut 32:29; 1 Sam 2:6; 2 Kon 5:7), en ook ‘n paar dooies weer lewendig gemaak het (1 Kon 17:20ev; 2 Kon 4:33ev), bly dit ‘n selfstandige lyn wat nie versoen word met die oortuiging dat die Here mense siek maak nie. Die gelowiges aanvaar siekte uit die hand van God, en bid tot Hom om uitredding.

In die NT tree radikale veranderinge in. Dat God mense siek maak, tree heeltemal op die agtergrond. Die duiwel kom na vore as die bewerker van siekte, terwyl Jesus die Geneesheer is. Jesus kondig die koms van God se heerskappy (koninkryk) aan, en ‘n wesenlike deel van sy werk is om mense te genees wat onder die mag van die duiwel is, omdat God met Hom is (Hand 10:28). In die Sinoptiese Evangelies word aan geen ander faset van Jesus se bediening soveel aandag gegee as aan sy wondergenesings nie. Daardeur bevry Hy die mense van die duiwel wat hulle van God gesteel het (Luk 11:14-23). Die genesings en die boodskap oor genesing gaan in Handelinge voort (o.a. 5:12-16).

Jesus sien sy genesings as oorwinnings oor die duiwel wie se mag oor die mense en die natuur gebreek moet word. Daarom praat ons van die dramatiese siening. Jesus se genesings het nie soseer etiese betekenis nie. Hy leer die mense nie dat hulle siekte God se straf op hul sonde is en dat hulle hul moet bekeer en God dan vra om hulle te genees nie. Daar is ook nie enige vaste orde van eers geloof en dan genesing of vice versa nie. Trouens in talle genesings is daar hoegenaamd nie van geloof sprake nie. Dit gaan in Jesus se wonders om die koms van die koninkryk, om die vestiging van God se heerskappy deur die verbreking van die duiwel se mag oor die mense en die natuur.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die dood in die Nuwe Testament

Geloofsvrae: Die dood in die Nuwe Testament – Adrio König

Die dood in die Nuwe Testament

In die NT verkeer ons in ‘n ander wêreld. Wat in die OT ondenkbaar was, lees ons hier uitdruklik: `Om te sterwe is vir my wins’ (Fil 1:21). Totaal verskillend van die weersinwekkende dood in die OT! Waarom? Omdat daar intussen iets met die dood gebeur het: die leë graf. Jesus Christus het uit die dood opgestaan en só die mag van die dood gebreek. `Die dood het nie meer mag oor Hom nie’ (Rom 6:9).

Jesus het nie maar net weer lewendig geword nie, maar deur die dood deurgegaan, en anderkant uitgekom. Hy het die dood nou `agter die rug’! Hy het die sleutels van die dood en die doderyk (Openb 1:18). Daarom dink gelowiges in die NT anders oor die dood as dié in die OT.

Dit alles beteken natuurlik nie ‘n terugkeer na Plato nie. Omdat hy nie die moed gehad het om die dood in die oë te kyk nie, het hy ‘n goedkoop uitweg gesoek: daar is iets in die mens, die siel, wat sterker is as die dood – het hy gehoop – en daarom hoef jy nie die dood te vrees nie. Die gelowiges in die OT het nie hierdie volstruispolitiek gevolg nie maar die dood vierkantig in die oë gekyk en eerlik bely: ons sien nie kans daarvoor nie. En toe het God ‘n antwoord gestuur: nie iets in ons wat tog sterker as die dood is nie, maar sy Seun wat die mag van die dood gebreek het. Ons hoop lê dus in Hom, nie in ons nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Vrouedrag in die Kerk

Vrouedrag in die Kerk – Francois Malan

Jacobus vra: 

Ek behoort aan een van die Pinkster Kerke wat baie gekant is dat vroue broeke aantrek en hul hoofde bedek moet word in die eredienste. Kan u asseblief uitbrei en hulp gee op hierdie vraag.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek veronderstel dat die kerk se teenkanting teen vroue wat broeke dra, kom uit die lees van Deuteronomium 22:5, en die voorskrif oor die bedekking van hulle hoofde uit 1 Korintiërs 11:5.

Deutr.22:5 vra dat die uiterlike onderskeid tussen geslagte en soorte wat God ingestel het eerbiedig sal word. Dit dra die stempel van die ou wettiese bedeling van Israel.

Die Hebreeuse woord keli wat deur die oorspronklike skrywer van Deuteronomium gebruik is, dui nie net kleredrag aan nie, maar ook wapens vir oorlog en ander gebruiksvoorwerpe vir die plaas en die huis. Die vroueklere simelot wat die mans nie mag dra nie, verwys weer na die vrou se mantel waarmee sy haar toedraai. Dit beteken dat ‘n vrou nie moet probeer om soos ‘n man te lyk of op te tree nie, en die man nie soos ‘n vrou nie.

Die afsku (Hebreeus: to’ebat) van die Here God, waarvan Deutr.22:5 praat, wys dat die uitruiling van mans en vroue se klere ook te doen het met die gebruike wat by die heidense Kanaäniete voorgekom het, en die Here wil nie hê dat Israel deelneem aan die Kanaäniete se feeste en die gebruike wat hulle daar beoefen nie, wat waarskynlik ook met homoseksuele dade gepaard gegaan het.

In 1 Korintiërs 11 verwys Paulus na die gebruike van sy tyd, toe dit vir ‘n vrou ‘n skande was om haar hare af te sny of af te skeer (v6).

Die aanwysings van Paulus oor optrede in die gemeente se samekoms volg op die beginsels wat hy in 1 Kor 10:23-11:1 gestel het – vgl. bv. vers 32: Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Hier was nou ‘n gebruik van die Jode in die gedrang. ‘n Joodse vrou kon destyds in haar huis kaalkop bly, maar as sy uitgaan moes haar kop bedek wees. Vir ‘n getroude vrou om in die openbaar sonder iets om of op haar kop was ‘n ernstige skande. En so het die eerste gemeentes wat met Joodse gelowiges begin het, die gebruik in die kerk gevolg dat vroue se kop bedek was.

In 1 Kor 11:13 vra Paulus die gemeente om self te oordeel of dit betaamlik is (letterlik: of dit gepas is) vir ‘n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid. ‘Gepas’ sluit aan by die mode van die tyd, of dit in die algemene gebruik pas. En in v16 verwys hy na die gewoonte in Korinte en in ander gemeentes, na die algemene gebruik. Daarom is Paulus teen die vroue wat hulle vryheid in Christus wat hulle van die wet vrygemaak het, misbruik deur aanstoot te gee aan ander gemeentelede en ander gemeentes.

Die gebruike van ons tyd verskil baie van destyds, en dit is nie meer onvanpas vir ‘n vrou om sonder ‘n hoed op straat of in vergaderings te verskyn nie – ook nie met broeke wat vir vroue gemaak is nie.

Christus het ons vry gemaak van ‘n wettiese lewe, waar ons met goeie werke ons verlossing of God se goedkeuring probeer verkry. Hy het die verhouding van ons sondaars met God kom regmaak deur ons sondes alles op Hom te neem, sodat ons in die verhouding van kinders tot ons Vader kan lewe (Romeine 8:14-17). Dit is alles uit God se genade en liefde vir ons (Galasiërs 5:1). Ons groot vraag vandag is of ons ons vryheid in Christus uitleef in liefde vir God en ons medemens, en nie vir ander ‘n struikelblok is nie (vgl. 1 Kor. 10:23-11:1)..

 

Skrywer: Prof Francois Malan