Geloofsvrae: Strukture

Geloofsvrae: Strukture – Adrio König

Die Wese van die sonde

2. Strukture

Maar sonde is ook meer as slegte verhoudings. Sonde néstel ook in strukture, en dit is juis in strukture waar die mag van die sonde duidelik na vore kom.

Ons leef trouens juis ons verhoudings in strukture. Anders gesê: strukture is die wyse waarop ons ons lewe en samelewing inrig en organiseer. Ons besluit nie elke oggend van voor af hoe ons ons geld gaan verdien, hoe ons ons kinders gaan laat leer, hoe ons by die werk gaan kom, of ons links of regs op die pad gaan ry, hoe ons ons godsdiens gaan beoefen nie. Ons lewe is gestruktureer. Sonder ‘n onderwysstelsel, ‘n verkeerstelsel, ‘n regstelsel, ‘n handelsisteem, ‘n kommunikasiesisteem, en noem maar op, sou lewe chaoties gewees het.

Die meeste strukture is skeppinge van mense. Strukture word gewoonlik oor ‘n lang tyd gevorm en sommige word agterna voortdurend geleidelik aangepas. Die meeste Christene glo daar is wel ‘n paar wat oorspronklik deur God ingestel is soos die huwelik en gesin. Strukture het egter nie ‘n waarde in hulself nie. Hulle staan in diens van die mens en daarom beoordeel ons hulle in die mate waarin hulle ruimte gee vir goeie verhoudings.

Omdat mense sondaars is, kan ons verwag dat ons die strukture negatief sal beïnvloed. Ons kan óf verkeerd optree in ‘n struktuur, óf sondige fasette in die struktuur inbou, óf ‘n struktuur ontwikkel wat self totaal sondig is. As twee mense aan mekaar ontrou is in hul huwelik, sondig hulle persoonlik terwyl die struktuur self goed is. Dit is relatief maklik om so ‘n situasie te hanteer. Daar hoef niks aan die struktuur te verander nie, hulle moet net hul persoonlike verhouding in orde kry en dan kan hul gelukkig voortleef in hul huwelik.

Maar in ‘n onderwysstelsel waarin sekere groepe beter hulpmiddele as ander het (byvoorbeeld die ou apartheidsonderwys), is ‘n sondige faset ingebou. Die struktuur as sodanig is nie sleg nie, net die diskriminasie teen ‘n sekere groep. Maar om so ‘n sondige faset in ‘n struktuur te verander, is baie moeiliker as om net anders binne ‘n struktuur op te tree. Hoe moeilik, weet die hele Suid-Afrika in die lig van die krisis in die onderwys sedert die instelling van demokrasie.

Daar is egter ook strukture wat wesenlik sondig is en net eenvoudig vervang moet word. Die hele kommunistiese sisteem, die slawehandel en apartheid is klassieke voorbeelde van strukture wat nie verbeter kon word nie. Maar op sy beurt is dit weer oneindig moeiliker om ‘n struktuur te vervang as om net ‘n bepaalde faset van ‘n struktuur te verander. Dit voel ons nou nog aan ons lyf met die oorgang van apartheid na ‘n demokrasie.

Sonde is dus nie net verkeerde dade (verkeerde optrede in ons verhoudings) nie, dit sétel ook in strukture waardeur dit duidelik word wat die mag van sonde is. Daarom is dit so moeilik om sondige fasette van ‘n struktuur of die struktuur self te verander. Die apostels was duidelik genoeg bewus van die mag van sonde. Hulle praat van die heerskappy van die sonde in ons lewe en dat ons slawe van die sonde is, sodat ons sonde nie net vergewe moet word nie, maar dat ons ook verlos en vrygemaak moet word van die sonde (Rom 6:12ev; Joh 8:36).

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Slegte Verhoudings

Geloofsvrae: Slegte Verhoudings – Adrio König

Die wese van die sonde

1. Slegte verhoudings

Die mens is ‘n verhoudingswese. Ons lewe ons hele lewe in verhoudings. Ons is bedoel om in ‘n netwerk van hegte, opbouende verhoudings te leef: met God, met mense, en met die natuur. Die kwaliteit van ons lewe word bepaal deur die kwaliteit van hierdie verhoudings.

Ons verhouding tot God is die basiese en beslissende verhouding: ons is geskape om in die verbond met Hom te leef, om sy bondgenoot en beeld te wees. Ons is ook geskape in ‘n netwerk van verhoudings met ander mense én met die natuur. Elke mens het ten minste ‘n vader en ‘n moeder, en ons is ook deel van ander groepe. Verder is ons soseer met die natuur in verhouding dat ons eintlik self ‘n deel van die natuur is en volkome aangewese is op die hulpbronne uit die natuur: suurstof, water, voedsel.

Wat is sonde dan? ‘n Mens sou kon sê sonde is die verbreking van ons verhoudings. Maar dis nie heeltemal waar nie. Ons kan nie ons verhoudings verbreek in die sin dat ons hulle beëindig en nie langer in verhoudings staan nie. Ons kan bv. wel sleg met die natuur omgaan – die water en die lug besoedel of die hulpbronne mors – maar ons bly nog altyd in hierdie verhouding, ons het nog altyd die water en die suurstof nodig.

Ons kan in ‘n slegte verhouding met ons ouers leef, maar ons bly hul kind. Ons kan God verwerp en vergeet, maar ons leef nog altyd ons lewe voor sy oë en ons is nog altyd bedoel om sy bondgenoot en sy beeld te wees.

Dit is dus meer korrek om te sê sonde is slegte verhoudings, ontrouheid in die verbond, die verkeerde omgang met God, ander mense, en die natuur. En omdat ons verhoudings wesenlik vir ons lewe is, kan ons verwag dat sonde ons lewenskwaliteit radikaal sal beïnvloed.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




God se wil

God se wil – Francois Malan

Frikkie vra: 

Ek wil graag GOD se wil doen, maar hoe weet ek wat Sy wil vir my is?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die wil van God word in die Bybel aangedui. Dit word op ‘n paar plekke saamgevat, bv. Eksodus 20 met die tien gebooie wat die Here gegee het vir sy volk wat Hy uit Egipte verlos het, as die aanduiding ook vir ons, van hoe ‘n mens lewe wat deur die Here verlos is uit die slaweskap van die sonde.

Jesus brei op die gebooie uit, en verduidelik vir sy volgelinge in die bergrede in Matteus 5-7 hoe ons as kinders van God in die wêreld moet lewe. In Matteus 22:37-40 vat Hy dit alles saam in twee gebooie van liefde vir God en liefde vir ons medemens. Matteus 7:12 het nog ‘n korter samevatting: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.

En nadat Jesus ons sonde aan die kruis gedra het, opgewek is en na die hemel opgevaar het, kom woon die Heilige Gees in ons om dit wat Hy vir ons gedoen het, in ons te kom uitwerk. In Romeine 8:9-11 word Hy die Gees van God genoem en ook die Gees van Christus. Hy maak ons kinders van God, sê Rom.8:15. Letterlik staan daar, Hy is die Gees van aanneming waardeur God ons aanneem as sy kinders, deurdat die Gees ons aan sy Seun se dood en opstanding verbind en van ons mede-erfgename van Christus maak, wat ook in die wêreld saam met Christus ly en saam met Hom verheerlik sal word. Johannes 3:8 sê, ons word deur die Gees weergebore tot kinders van God. Johannes 14:16 noem Hom die Voorspraak (of Helper) wat vir ewig by ons sal wees, en 14:23 sê as iemand My liefhet en my woorde ter harte neem, sal die Vader hom/haar liefhê, en Ons sal na hom/haar toe kom, en by hom/haar woon. Dit doen die Vader en die Seun deur die Heilige Gees wat ons alles sal leer en ons aan alles sal herinner wat Jesus geleer het.

In Johannes 16:7-11 sê Jesus dat dit vir ons voordelig is dat Hy weggaan, want nou kom die Heilige Gees in elkeen van ons woon. Hy kom ons oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel. Ons bly in sonde as ons nie in Jesus glo wat ons daarvan kom verlos nie. Geregtigheid beteken dat die verhouding tussen ons en God reggemaak is deur Jesus se sterwe en opstanding, en dat ons nou kan lewe as God se kinders, deurdat die Heilige Gees ons aan Jesus se dood en opstanding verbind (vgl. Rom 6:3-11). Aan die kruis is God se oordeel oor die sonde klaar deur Jesus gedra, en ons word deel van die verlossing wat Hy vir ons bewerk het. Ook ons geloof in Jesus word deur die Gees in ons gewerk. Die Gees is besig om ons al meer te verander om soos Christus in liefde te lewe (2 Kor.3:18).

In Romeine 8:3-9 worstel Paulus met ons sondige natuur, die eie-ek, wat nog altyd met ons is, en waarteen die Gees ons daagliks probeer oortuig om nie vir ons self te lewe nie, maar vir God – want dit is vir ons die allerbeste. In Romeine 13:9-13:14 gee hy ook ‘n uiteensetting van hoe ‘n gelowige behoort te lewe as ‘n uitlewing van Jesus se gebod tot naasteliefde.

Maar hoe weet ons in elke omstandigheid wat om te kies en wat om te doen?

Ons laat ons leer deur die aanwysings in die Bybel, soos bv. in die Skrifgedeeltes hierbo. Ons kyk of die besluit selfsugtig is en hoe dit ons medemens gaan raak, en ons bid om die leiding van die Gees van God wat in ons woon om ons te oortuig van die optrede wat volgens God se wil sal wees. Te midde van dit alles bly ons sondige mense wat ons self maklik regverdig vir wat ons besluit of doen, maar ons bid dat die Gees ons versterk, sodat ons nie sal toelaat dat die sonde oor ons heerskappy voer nie en die begeertes van ons sterflike aardse bestaan te gehoorsaam nie (Rom.6:12), maar dat ons elke deel van ons liggaam in diens van God sal stel as werktuig om te doen wat God wil (Rom.6:13). Dit is ook goed om te wag om te sien watter deure die Gees vir ons toemaak en watter nuwe geleenthede en moontlikhede opduik, vgl. bv. sy leiding van Paulus-hulle op die tweede sendingreis (Handelinge 16:6-10).

En as ons oortuig is dat ‘n spesifieke besluit of taak die wil van die Here is, doen ons dit met volle oorgawe. Maar deurentyd toets ons ons self of ons dit nog van harte doen vir die Here en nie om deur mense geprys te word nie (Kol.23; vgl. Matteus 6:2-4).

Lees ook Galasiërs 5:13-26 waar Paulus verduidelik dat as ons ons deur die Gees laat lei, staan ons nie onder die wet om daardeur God se guns te wen nie (v18). Ons is reeds sy kinders en Hy wil hê dat ons die beste pad loop. Die werk wat die Gees in ons bewerk word in 9 woorde saamgevat in vv22-23 liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die mens: liggaam en siel

Geloofsvrae: Die mens: liggaam en siel – Adrio König

Die mens: liggaam en siel? Of ore? 

Daar is nog een belangrike begrip waarna ons moet kyk: ore. Dit mag baie plat klink totdat ons die evangeliese betekenis daarvan begryp het.

Om dit te verstaan, moet ons onthou dat ons mensbeskouing op ons siening van God gebou is (27-29). Die mens staan in ‘n verbondsverhouding met God, ‘n verbond waarin God die groot bondgenoot is wat die inisiatief neem waarop ons dan moet reageer. Hoe neem Hy die inisiatief? As ons dit weet, sal dit ons help om te weet hoe ons moet reageer.

God het Homself geopenbaar in die geskiedenis van Israel en in Jesus. Hoe? Wat is die middele waardeur Hy dit gedoen het? Daar is baie: drome, visioene, waarsêery, die lot. Maar nie een van hulle speel regtig ‘n belangrike rol nie, en die meeste verdwyn later.

Maar van die begin af is daar twee middele wat prominent is: Hy verskyn en Hy praat. Mense reageer dus deur te sien en te hoor.

Reeds sedert die vroeë geskiedenis met Abraham kry ons die staande uitdrukkings: `Die Here het aan Abraham verskyn en vir hom gesê,’ of `die woord van die Here het in ‘n gesig tot Abraham gekom’ (Gen 12:7; 15:1; 17:). By die profete is dit baie opvallend.

En tog hou woord en verskyning mekaar nie in balans nie. Die woord oorheers altyd. Gewoonlik begin ‘n openbaring met ‘n verskyning, en soms is daar selfs taamlike nadruk op die verskyning (soos Jes 6:1-7), maar wat uiteindelik die belangrikste is, is die woorde (Jes 6:8-13).

In die NT is dit nie anders nie. Hier openbaar God Hom veral in Jesus Christus. Ook hier speel sy verskyning ‘n belangrike rol (1 Joh 1:1-3; Tit 2:11; 3:4), maar uiteindelik is dit weer die woorde wat oorheers. Daar is byvoorbeeld geen belangstelling in die vraag hoe Jesus gelyk het nie, terwyl die evangelies vol is van sy woorde. Ook sy dade word deur sy woorde verduidelik, en Hy word self die Woord genoem. Daar is dus ‘n bepaalde logika daarin dat ons van die Bybel as die Woord van God praat.

Hoe reageer ‘n mens op woorde? Deur te hoor. En op God se woorde? Deur te ge-hoor-saam. Dat die volk die woorde van die Here moes hoor en gehoorsaam, is veral ‘n wesenlike faset van die profete se boodskap. Toe ons die leeb (`hart’) behandel het, het ons gekyk na die geskiedenis van Salomo. Die Here het vir hom ‘n wyse en verstandige leeb gegee (1 Kon 3). Dit was in reaksie op Salomo se versoek om letterlik ‘n `horende’ leeb te kry, NAV: `gehoorsaamheid aan U.’

Die wysheid wat Salomo kry, is dus nie wysheid wat hy moet uitdink of leer nie, dit is wysheid wat hy moet hoor – by die Here. Maar ‘n mens hoor eers as jy ge-hoor-saam. Kyk ook na Ps 40:7-9. Teenoor die tradisionele offers stel die psalmdigter iets beters: `Ore het U vir my gegrawe’ (OAV). Dis tog seker nie letterlik bedoel nie. Hy het tog seker ore gehad. Nee, hy het nie, as hy hulle nie gebruik het nie! Ons ken die uitdrukking goed: Het jy nie ore nie?

Ore is onmisbaar om werklik mens te wees soos God dit bedoel het. Hy is die Verbondsgod wat die inisiatief neem. Hy praat. Om komplementêr (paslik) te reageer, moet ons hoor en gehoorsaam. Daarin lê ons wese opgesluit. Só is ons mense soos Hy dit bedoel het. Ons ore sê dus veel meer oor ons wese as ons `siel.’

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König