Paaseiers

Paaseiers – Francois Malan

‘n Leser vra:

Ons wil nie probeer stry oor die feit dat paaseiers dalk van heidense oorsprong is nie, maar die boodskap wat ons kry is: jy staan kans om gered te word solank jy net nie die ou baie lekker paaseiertjie of –bolletjie oor paasfees eet nie. Eet hom maar in Julie? Wat is die verskil? Die oorsrong is mos steeds heidens. Hoe kanselleer die eet van ‘n paaseier Jesus se verlossingsdood aan die kruis uit? Vir ons is dit tog net ‘n sweetie.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 KorintIërs 8 en 10 bespreek Paulus die probleem van die eet van vleis wat aan die afgode geoffer is. Hy stem saam met die ‘sterk gelowiges’: dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie (ook nie Ishtar nie), en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. Hoewel daar baie sogenaamde gode is, is daar vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe, en net een Here Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe (8:4-6).

Daar is party mense wat nog vleis eet asof dit ‘n offer aan ‘n afgod is (soos party mense blykbaar ook oor paashasies dink). Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. Wat ons eet bring ons nie nader aan God nie. As ons nie eet nie , verloor ons niks, en as ons eet, wen ons niks nie. Vir so ‘n swakke moet ons dan nie laat struikel nie (8:7-13), maar in liefde mekaar verdra.

Alles wat in die slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan die Here (10:25-26) Paulus haal hier Ps.24:1; 50:12; 89:12 aan.

Paulus sê: As ek iets met danksegging geniet, waarom word daar van my kwaad gepraat oor iets waarvoor ek God dank? Of julle eet en of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Maar ons moenie aanstoot aan ander gee nie (10:30-32).

Jesus het gesê: Niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, kan hom onrein maak nie – dit kom nie in die hart nie maar in die maag. Markus sê dat Jesus alle kos rein verklaar het. Maar die dinge wat uit ‘n mens uitkom, uit sy hart, dit maak hom onrein, slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid (Markus 7:15-23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Soldate in die Nuwe Testament

Soldate in die Nuwe Testament – Coen Slabber

Op die webblad is daar drie artikels oor oorlogvoering in die Ou Testamentiese tyd. In verskeie gedeeltes in die Nuwe Testament word daar ook na soldate verwys. As ons kyk na films wat handel oor gebeure van daardie tyd, kry ons amper die indruk dat daar ‘n soldaat op elke straathoek was. Was dit so? Kom ons kyk eerstens na wat ons weet van soldate in Judea en Galilea in Jesus se tyd. Darna gaan ons kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Soldate in Judea en Galilea

Herodes die Grote: Sy persoonlike leër het bestaan uit Jode sowel as buitelandse huursoldate. Rome het drie legioene aan hom geleen. Hierdie legioene moes die invallers uit Parthië uitdryf. ‘n Legioen in die Romeinse leër het uit 3 000 tot 6 000 soldate bestaan. Teen die tyd van Jesus se geboorte het Herodes egter nie meer Romeinse troepe gehad nie. Hy het wel heelwat Joodse soldate gehad plus een eenheid (kohort) elk van huursoldate uit Duitsland, Gallië (die huidige Frankryk) en Thrasië (‘n antieke land geleë wes van die Swartsee en noord van die Egeïese See). ‘n Kohort het bestaan uit ses afdelings van 100 soldate elk. Herodes het wel ‘n paar Romeinse raadgewers en offisiere gehad.

Herodes Antipas. Hy het ook sy eie leër gehad. Ons weet egter min van sy leër – sy soldate was waarskynlike Jode en buitelandse huursoldate.

Pontius Pilatus. Sy setel was Sesarea Maritima, die provinsiale hoofstad van die Romeine. Daar was vier kohorte soldate en ‘n kavallerie. In Burg Antonia, in Jerusalem, was nog ‘n kohort gestasioneer. Hulle het die fort en die asenaal beskerm. Vir die groot Joodse feeste het die goewerneur na Jerusalem gereis. Daar het soldate saam met hom gekom. Hulle was tydelik in die Praetorium, die goewerneur se paleis, gestasioneer. Romeinse soldate het gewoonlik met vaandels, wat hulle gode vereer het, gereis. As hulle na Jerusalem gereis het, het hulle die vaandels agtergelaat, want die Romeine het probeer om die godsdienstige gebruike van die land waar hulle gestasioneer was, te eerbiedig. Hierdie soldate is hoofsaaklik in Sirië gewerf en hulle gebruikstaal was Grieks. Die senior offisiere was waarskynlik Italianers.

Die hoëpriester. Die Romeine het die hoëpriester toegelaat om Jerusalem en Judea te regeer. Die goewerneur het egter die hoëpriesters aangestel en verwyder en slegs die goewerneur kon die doodstraf instel. Die soldate van die hoëpriester se primêre taak was polisiëring, maar hulle kon ook die stad beskerm.

Met hierdie as algemene agtergrond kan ons nou kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Die soldate en Johannes die Doper (Lukas 3:14): Ons lees dat soldate na Johannes die Doper gekom het en hom uitgevra het. Omdat Johannes veral in Galilea opgetree het, was hierdie waarskynlik soldate van Herodes Antipas – Jode.

‘n Offisier kom na Jesus (Matteus 8:5 – 13): ‘n Offisier kom na Jesus. Hy vertel vir Jesus dat sy slaaf verlam is en baie pyn verduur. Hierdie was waarskynlik ‘n centurio – ‘n hoofman oor honderd. Dit is baie onwaarskynlik dat daar Romeinse soldate in Galilea, waar hierdie gebeurtenis plaasgevind het, gestasioneer was. Hierdie offisier was waarskunlik ‘n nie-Joodse huursoldaat en offisier in die leër van Herodes Antipas.

Jesus word gevange geneem (Johannes 18): Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde … Hierdie was waarskynlik soldate van die Romeinse afdeling in Jerusalem. In vers 12 lees ons: Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem. Dit maak dit duidelik dat hier ook Romeinse soldate betrokke was. Dit was waarskynlik nie ‘n volle afdeling – 100 soldate – nie.

Jesus voor die hoëpriester (Matteus 26 en 27): Ons lees dat Petrus by die wagte in die binnehof van die hoëpriester se woning gesit het (26:58). Johannes sê dat een van hierdie wagte wat daarby gestaan het vir Jesus geklap het: Antwoord jy die hoëpriester so? (18:22). Markus vertel dat die wagte Hom geklap het toe hulle Hom wegvat – na die vonnis uitgespreek is (14:65). Hierdie soldate het Jesus opgepas voor Hy aan Pontius Pilatus oorhandig is.

Jesus voor Pilatus (Matteus 27): Pilatus gee Jesus oor om gekruisig te word. Nou lees ons: Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ‘n pers mantel om. Hulle vleg ‘n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ‘n stok in sy regterhand … Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Hierdie is die afdeling wat saam met Pilatus van Sesarea gereis het. Hierdie soldate was meestal Siriërs – mense wat die Jode gehaat het.

Jerus voor Herodes Antipas (Lukas 23): Herodes was in Jerusalem vir die Paasfees. Daarom stuur Pilatus vir Jesus na Herodes. Herodes se soldate het Hom toe met veragting behandel. Hulle was waarskynlik Jode.

Die kruisiging (Lukas 23): Omdat slegs Rome die doodstraf kon voltrek, was dit Romeinse soldate wat betrokke was by Jesus se kruisiging.

Die graf (Matteus 27): Die priesterhoofde en die Fariseërs oortuig Pilatus dat Jesus se graf vir drie dae veilig bewaak moet word. Hulle het die graf verseël en die wag daar laat bly. Met Jesus se opstanding lees ons: Van skrik vir hom (die engel van die Here) het die wagte gebewe en soos dooies geword. Omdat hulle toegelaat het dat Jesus uit die graf “ontsnap” het, was die wagte se lewens in gevaar. Die piester- en familiehoofde het geld bymekaar gemaak en vir die wagte gegee op voorwaarde dat hulle vertel dat Jesus se dissipels sy lyk gesteel het. En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.

Ons kry ook verwysings na soldate in Handelinge en Paulus gebruik soldate as beelde in van sy briewe.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




DIE VLEUELS VAN GEBED (20)

DIE VLEUELS VAN GEBED (20) – Jan van der Watt

God verhoor nog gebede!

Hoe verhoor God gebede? Dit is seker die moeilikste vraag om te beantwoord as ‘n mens oor gebed begin praat. Die groot gevaar is dat mense tou opgooi met gebed as hulle gebede nie dadelik na hulle goeddunke beantwoord word nie. Daarom is dit belangrik om te vra: Verhoor God gebede. Indien wel, Hoe?

God verhoor gebede

Oor ‘n paar dinge hoef ‘n mens nie eers te argumenteer nie:

* God verhoor gebede. Dit het Dawid self bevestig in een van sy psalms:

Ek roep U aan,

want U sal my antwoord,

my God!

(Ps 17:6)

Ons kan dus met verwagting na God gaan. Hy sál ons antwoord, nie noodwendig altyd direk of dadelik nie, maar Hy sál antwoord (vgl. Jer 33:2-3; Mat 7:7-11; Luk 11:9-13). Hoe Hy ons sal antwoord en of ons altyd sy antwoord dadelik sal herken, is natuurlik ‘n ander vraag.

* God is nie ‘n lekkergoedmasjien wat maar net meganies gebede beantwoord nie. Dit gaan om ‘n verhouding tussen die bidder en die lewende God wat ‘n dinamiese werklikheid is. God het ‘n plan met die gelowige se lewe wat nie altyd vir die gelowige duidelik is nie. Soms neem God die mens op ‘n pad wat vir hom of haar nie duidelik is nie. God weet egter waarheen die pad lei. Daarvoor moet ons Hom maar net vertrou. Die antwoord op gebed werk nie bloot meganies nie.

* God verhoor gebede wat volgens sy wil is. Dink net: sou dit reg van God gewees het om gebede te verhoor wat nie volgens sy wil is nie? Sou Hy Homself dan nie geboikot en so ontrou aan Homself gewees het nie? Natuurlik. Nee, God verhoor gebede volgens sy wil. Die gelowige moet dus aanvaar dat alles vir hom of haar uiteindelik ten goede sal meewerk. Dit is immers wat God vir die gelowige wil hê en wat Hy beloof.


Here, ek wil graag weet wat U wil!

God antwoord gebede volgens sy wil. Hierdie antwoord is nie altyd wat ons vra nie. Boonop kan dit soms ‘n tydjie neem voordat dit vir ons lyk of God ons antwoord. Hoe weet ek as ek ‘n belangrike besluit moet neem, dat dit wat ek gaan doen God se wil is?

Omdat God nie soos ‘n robot meganies op ons gebede antwoord nie en ook met ‘n spesifieke plan vir ons lewens werk, kan daar nie ‘n resep gegee word nie.

Neem nou maar vir Paulus self. In 2 Kor 12:7-9 vertel hy dat hy ‘n groot probleem gehad het wat hom baie gepla het. Dit was die doring in die vlees. Hy het die Here gebid om die doring weg te neem, want volgens hom was dit soos die ‘boodskapper van satan wat hom met vuiste slaan’. Daaruit kan ons aflei dat Paulus gevoel het hy sy werk vir die Here soveel beter sou kon doen as hierdie struikelblok uit die weg geruim is. Dit lyk tog duidelik na ‘n gebed ‘volgens die wil van die Here’.

Paulus het gebid, maar ‘niks’ gehoor nie. Toe bid hy weer, maar weer is alles stil! ‘n Derde maal bid hy en wag… maar die hemelse faksmasjiene is stil en die telefone lui nie. Dit moes sekerlik vir Paulus snaaks gewees het.

Toe luister hy weer ‘n keer mooi. Wat ‘n ontdekking maak hy toe nie! God het hom al lankal geantwoord. God het die eerste maal al vir hom gesê: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is’ (2 Kor 12:9). Paulus moes uit die antwoord iets oor homself en God leer. Hy wat Paulus is, het begin hoogmoedig word (2 Kor 12:7). Hy het begin dink dat hy die groot onmisbare apostel is. Hierdie doring in die vlees het sy spoed ‘n bietjie gebreek. As hy net daarvan ontslae kan raak, sal ‘sendingveld’ nie weet wat hulle getref het nie!

Maar God wou vir Paulus iets anders sê. Hy praat juis met hom deur die doring. Dit laat Paulus besef waar sy krag vandaan kom. Dit is die Here wat die ‘sendingveld’ sal tref, nie Paulus nie. Paulus is maar net God se instrument. Dit was Paulus se antwoord op sy gebed. As Paulus ‘n bietjie terugstaan en God se krag die geleentheid gee om te werk, DAN geskied God se wil!

As ‘n mens mooi na hierdie gebeurtenis kyk, kan ‘n mens duidelik sien dat God se wil tog uiteindelik geseëvier het. Paulus kon maar ‘n stukkie van God se plan sien. Hy het daarom gedink God moet op ‘n sekere manier optree. God kyk egter wyer; Hy sien meer raak. Daarom het Hy anders geantwoord as wat Paulus verwag het. Na wat vir hom na ‘n ‘nee’ gelyk het, was juis God se ‘ja’. So het Paulus die grense van gebed al biddend leer ken. God het hom stelselmatig gelei tot ‘n antwoord, maar ook tot insig in die antwoord wat God vir Hom gegee het.

Uit hierdie gebeure met Paulus kan ons ‘n paar dinge leer oor die manier waarop God gebede verhoor.

* Dikwels verander jou situasie nie, al mag jy vurig daarvoor bid. Die Here verander jou liewer. Deur jou so te slyp, vorm Hy jou om hierdie en baie ander situasies soveel beter te hanteer. Hy maak jou meer bruikbaar in sy koninkryk. God kan dus soms op verrassende maniere antwoord waar jy dit soms nie verwag nie.

* Dit veronderstel ‘n tweede saak, naamlik ‘n gewilligheid om die leiding van God te aanvaar; nie soos jy dit noodwendig wil hê nie, maar soos God dit gee. Jy moet dit regtig bedoel as jy sê: ‘Laat U wil (in my) geskied’. Dit beteken om in oorgawe God se leiding en antwoorde op gebed te aanvaar. Die gevoel wat ons soms kry dat God nie gebede beantwoord nie, het dikwels meer daarmee te doen dat ons nie God se leiding onvoorwaardelik wil aanvaar nie, as wat dit daarmee te doen het dat God ‘nie antwoord nie’. My gesindheid moet reg wees. Ek moet soekend en tastend op God se wil in gebed wag.

Maar waarom moet ons dit onvoorwaardelik aanvaar? Omdat dit GOD se wil is! Juis daarom moet ek bereid wees dat my ernstigste probleme in die genade van God tot rus kom. Ek moet sy liefde toelaat om my vrese te omvou. Ek moet my wil in sy wil ‘begrawe’, sodat Hy sy doel volledig in my kan bereik. In vertroue moet ek kan sê: ‘Ek weet my saak is in die Here se hande en dit is vir my genoeg!’ Met so ‘n gesindheid van aanvaarding sal jy soveel makliker God se antwoorde kan hoor, omdat jy bereid is om te luister.

Die bedding waarin die saad van verhoorde gebede groei is dus ‘n ‘gelowige wag’ op die Here. Daaruit put ‘n mens krag! Soos Jesaja sê:

Die wat op die Here wag kry nuwe krag.

Hulle vlieg met arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en word nie afgemat nie.

(Jes 40:31) 

* Die ‘grense’ van gebed is God self en daarom is die maniere waarop ons gebed beantwoord kan word, onbeperk. Vir die mens verskaf dit miskien moeilikheid omdat hy nie God in duidelike blokkies kan indeel nie. Maar dit skep die ruimte vir die almag van God om sy volle loop te neem. Gebed het immers nie krag omdat dit gebed is nie, maar omdat God dáár is. Gebed gee ons toegang tot sy krag!

* Wie dit besef sal ook besef dat die verhoring van gebed nie ‘n reg is nie, maar ‘n voorreg.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Seder (4)

Die Seder (4) – Coen Slabber

By elke sitplek word ’n kussing geplaas sodat tydens die ete die deelnemers sigbaar kan leun. Dit is ’n antieke teken van vryheid – slawe is gedwing om regop by maaltye te sit, terwyl die eienaar kon leun.

Die orde van die Seder

Paasfees val op die 15de Nisan. Die maan het reeds vir 15 dae gegroei. Daarom moet die Seder geleidelik groei deur 15 stappe.

  1. Kadeshdie seën oor en die drink van die eerste beker wyn. Die seën word deur die leier uitgespreek.
  2. UrechatzDie hande word gewas. Dit is ’n simboliese rituele reiniging. ’n Beker water word na die leier gebring wat die water oor sy hande uitgooi. In ander tradisies was al die deelnemers hulle hande – of aan tafel of by ’n wasbak.
  3. Karpas aptytwekker. Die groen groente word in die soutwater gedoop en geëet. Dit prikkel die kinders se nuuskierigheid.
  4. Yachatz daar is ’n hopie van drie matzah op die tafel. Op hierdie stadium word die middelste matzah in twee gebreek. Die grootste deel word weggesteek en sal later gebruik word. Die kleiner deel word weer op sy plek tussen die ander twee teruggeplaas.
  5. Magid die verhaal van die Paasfees: die oorgang van slawerny na vryheid. Nou word die vier vrae gevra – gewoonlik deur die jongste kind. Hoekom verskil hierdie nag van alle ander nagte?
    1. Alle ander aande eet ons gesuurde en ongesuurde brood. Waarom eet ons nou net ongesuurde brood?
    2. Alle ander aande eet ons ’n verskeidenheid van kruie. Waarom eet ons vanaand net bitter kruie?
    3. Alle ander aande doop ons nie ons kos nie. Hoekom doop ons dit vanaand twee maal?
    4. Alle ander aande sit ons regop as ons eet. Hoekom lê ons vanaand skuins aan tafel?

Hierdie vrae vorm natuurlik die raamwerk vir die verhaal van Paasfees. Deuteronomium 26:5 – 8 word dan gelees en verduidelik. Die tien plae word opgenoem. Na die lees van elke plaag verwyder elke deelnemer ’n druppel wyn met sy vingerpunt uit die beker. Die wysgere sê dat alhoewel hierdie aand ’n aand van bevryding is, kan jy nie volkome bly wees nie, want van God se skepsels het gely. ’n Vol beker wyn is ’n teken van volkome blydskap – daarom word van die wyn uitgehaal. Die drie belangrikste simbole – die offer, die ongesuurde brood en die bitter kruie – word verduidelik. Lofgesange word gesing, insluitend die gewilde Dayena (Dit sou voldoende gewees het) wat verklaar dat al het God net een van die baie dade vir die Jode gedoen, sou hulle Hom steeds gedank en geloof het. Die tweede beker wyn word nou gedrink

  1. Rohtzahdie hande word weer gewas en die seën uitgespreek.
  2. Motzee hierdie is die eerste van twee formele seënuitsprake. Die seën bevat die woorde Hy wat voorbring – motzi in Hebreeus.
  3. Matzahdie tweede seëning word uitgespreek. Die eerste matzah word geëet.
  4. Maror die seën word uitgespreek voordat die bitter kruie geëet word.
  5. Koreich die bitter kruie word tussen twee stukkies matzah geplaas – soos ’n toebroodjie – en dan geëet. Die onderste matzah word hiervoor gebruik.
  6. Schulchan Orech – die feesmaal word geëet. Daar word gewoonlik met die eier begin.
  7. Tzafun – die afikoman wat vroeër weggesteek is, word nou geëet. Elkeen ontvang ’n olyfgrootte deel van ’n matzah om te eet. Daarna mag geen verdere kos geëet word nie.
  8. Bareich – die tradisionele seën na maaltye. Dit word gedoen uit dankbaarheid aan God vir die kos wat geëet is en vir al sy seëninge. Die derde beker wyn word nou gedrink. Die voordeur van die huis word nou oopgemaak en Elia word simbolies ingenooi om aan die Seder deel te neem. Volgens tradisie sal Elia die koms van die Messias aankondig – ’n tyd van vrede en volmaaktheid.
  9. Hallel – lofgesange. Die hele Hallel word opgesê. Psalm 113 – 114 word voor die maaltyd opgesê; Psalms 113 – 118 word opgesê na die seën oor die maaltyd uitgespreek is. Dit word gevolg deur Psalm 136. Hierna word die vierde beker wyn gedrink nadat die toepaslike seën uitgespreek is. 
  10. Nirtzah – die hoop word uitgespreek dat die gebede en rituele vir God aanvaarbaar was. L’shanah haba’ah b’Yerushalayim! – Volgende jaar in Jerusalem 

Verdere liedere kan gesing word. Bespreking oor die tora kan volg. Ons weet nie of Jesus en sy dissipels hierdie volgorde gebruik het nie. Ons lees, byvoorbeeld, niks van die lamsvleis in die beskrywings van hierdie laaste paasmaaltyd nie. Hierdie gee vir ons egter ’n goeie oorsig van ’n tradisionele paasmaaltyd. 

 

Skrywer: Dr Coen Slabber