DIE VLEUELS VAN GEBED (10)

DIE VLEUELS VAN GEBED (10) – Jan van der Watt

Here, laat U koninkryk kom…

Die eerste reëls van die ‘Ons Vader’ begin so:

Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel.

(Mat 6:9-10)

In hierdie eerste sinne van die ‘Ons Vader’ word die eerste fases van gebed treffend geïllustreer.

* Ons Vader wat in die hemel is… Juis hier word die geweldige kontras tussen die grootheid van God, maar tog sy nabyheid aan ons uitgedruk. Hy is in die hemel, dáár is sy troon. Maar tog is Hy ons Vader, die Een wat in ‘n intieme verhouding met ons staan! In jou gebed reik jy tot in die hemel. In jou eie kleinheid en onsekerheid ontdek jy daar ‘n liefdevolle Vader.

* Laat u Naam geheilig word… Wie God is en wat Hy doen mag nie geheim bly in die wêreld nie. Wie dit immers hoor sal nie anders kan as om oorweldig te word deur die heiligheid en grootheid van God nie. Maar hoe en deur wie word God geheilig in die wêreld? Hoe sal die wêreld bewus word van die groot heiligheid van God? Jy is die een wat deur jou dankbare optrede en toegewyde gedrag God ‘bekend maak’ in die wêreld. Sy Naam word deur jou optrede geheilig. Jy is intens betrokke by sy saak.

* Laat u koninkryk kom… God se koninkryk kom in die wêreld waar mense se oë oopgaan om Hom as die grote Koning van die heelal te erken. (Die Here het mos altyd sy koninkryk gehad. Dit hoef in daardie sin nie te kom nie. In die Nuwe Testament beteken die koninkryk wat kom eintlik dat die feit van die heerskappy van God tot die sinne en verstand van mense deurdring). Wie is dit nou wat hierdie koninkryk moet laat kom? God gebruik jou, sy kind. In jou optrede word sy grootheid en heerskappy tog vir ander mense duidelik! Om dus te bid: ‘Laat u koninkryk kom’ impliseer dat jy vra dat God jou so sal vorm dat mense Hom in jou optrede sal raaksien. Dit vra natuurlik van jou die uiterste vorm van toewyding. Jy sê eintlik vir God dat sy saak vir jou so groot erns is, dat jy jou heeltemal tot beskikking daarvan wil stel. Waar God betrokke wil wees, daar wil jy ook wees. Wat God wil doen, dit wil jy ook doen.

Om te bid: ‘Laat u koninkryk kom’ beteken om jou met alles wat jy het in God se hand te plaas – vir Hom om te gebruik soos Hy wil…

* Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel… Hierdie gebed bou voort op die gebed vir die koms van die koninkryk. God se wil geskied tog in mense. Die gebed dat God se wil dus moet geskied is ‘n gebed dat dit in jou moet geskied. Soos Hy wil, so sal jy… Waar God jou in sy tapeserie wil inweef, daar sal jy op jou helderste probeer skitter. Op die wyse geskied God se wil op aarde… met mense wat hulleself onvoorwaardelik in sy hand lê…

Met hierdie gebede gee jy erkenning aan die feit dat God se saak jou saak is en dat God van sy kant af besluit het om jou saak deel van sy saak te maak.


Op ons knieë

Hierdie eerste fases van gebed is werklik ‘n Godservaring in die volle sin van die woord. Dit is hier waar jy moet besef Wie God regtig is! Maar hier moet jy ook besef wie jy nou eintlik is. Dit is ook hier waar jy iets uit dankbaarheid daaraan moet doen.

Kom ons doen dit…

 



Kom ons dank Hom!

* Maak ‘n lysie van dinge wat jy dink die Here aan jou gegee het. (Dit kan jou lewe wees, jou verlossing, jou familie, jou werk, jou gesondheid… of waaraan jy ook al kan dink). ………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………….

Dank Hom nou daarvoor. Met ander woorde, gee aan Hom die eer daarvoor, MAAR sê ook vir Hom dat jy dit graag aan Hom sal wil teruggee deur die manier waarop jy jou lewe aan Hom gaan toewy. (‘n Praktiese wenk is om by elke saak waarvoor jy God wil dank eers vir jouself die volgende vraag te stel: ‘Wat sou ek sonder hierdie ding gewees of gedoen het?’ Byvoorbeeld: dank God vir jou verlossing. Probeer jouself indink wie en wat jy sonder ‘verlossing’ sou wees. Gee met hierdie gevoel en besef spesiale dank aan God).



Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die jongman wat weghardloop

Die jongman wat weghardloop – Jan van der Watt

Oom Koos vra:

Markus 14.51 verwys na ‘n sekere jongman wat by Jesus was toe Hy gevange geneem is en kaal gevlug het vir die soldate. Wat weet ons van hierdie “jongman” en waarom word daar so min oor hierdie insident gepraat ? Waarom is die verwysing na die “jongman” so belangrik dat dit in Markus opgeteken word ?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die jongman was waarskynlik Johannes, aangesien hy die jongste van die groep was. Die feit dat hy naak weggevlug het, moet teen die agtergrond van hulle kleredrag verstaan word. Hulle het ‘n bokleed gehad wat soos ‘n lap om hulle gevou is. Die kleed het hulle gebruik vir ‘n kombers as hulle geslaap het; ook vir ‘n sambreel teen reën en son in die woestyn. Die kleed het waarskynlik agtergebly toe die jongman weggehardloop het. Hy het moontlik toe nog sy linne onderkleed aangehad. Die punt is dat hy vinnig gevlug het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Calvinisme

Calvinisme – Jan van der Watt

Helene vra: 

Kan u asb kortliks verduidelik wat Calvinisme is. Iemand het onlangs gesê hy is ‘n volgeling van Calvinisme. Ek weet dit is Johannes Calvyn, maar is dit nie weer die agternaloop van ‘n persoon nie? Soos Martin Luther en al diegene weet ek hul het dinge volgens die Skrif probeer verander en duideliker maak.Dit verwar my as iemand sê hy hang ‘n persoon aan. Ons moet tog Christus, God aanhang en nie ‘n persoon nie. Wat van Sola Scriptura? Dis mos waaroor dit gaan. Dit wat God in Sy Woord sê.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jou argumente is heeltemal reg. Ons moet God en God alleen dien. Dit sê die Calvinisme ook. Hulle sê ook veral Sola Scriptura. Ek hoop die volgende verduideliking help ‘n bietjie (al is dit net baie kursories, want ‘n mens kan ‘n hele boek hieroor skryf).

In die sestiende eeu (dws. die vyftienhonderds) het Luther en die edelmanne veral in die noordelke deel van Europa probeer om dinge wat hulle geglo het verkeerd is in die Katolieke kerk reg te stel. Hulle wou nie regtig met die kerk skeur nie. Die omstandighede het egter gemaak dat hulle uiteindelik van die Katolieke Kerk moes skei. Sekere van die Katolieke dinge het nog in die Lutherse Kerk agtergebly, hoewel daar baie nuwe dinge was wat hulle ingevoer het, bv. ‘n ander benadering tot die doop en nagmaal en die Woordbediening.

Calvyn was jonger as Luther en was nie so direk deel van die skeuring met die Katolieke kerk nie. Toe hy op die toneel verskyn het, was die koeël eintlik al deur die kerk. Wat die gelowiges toe nodig gehad het, was boeke wat hulle vertel het wat die nuwe Protestantse kerke glo. Calvyn was een van die sentrale persone wat toe begin het om die leer van die kerk sistematies op te skryf. Hy het eers regte studeer en was dus mooi sistematies in sy benadering. Hy het begin deur te beklemtoon dat God almalgtig en heilig is. Niks en niemand is groter as Hy nie. Toe het hy beklemtoon dat die mens sondig is. Daar is niks goeds in die mens nie. Die mens kan homself dus nie red nie. Deur die uitverkiesing van God word die persoon ‘n kind van God. Dit het Jesus se bloed en redding moontlik kom maak. Uit dankbaarheid vir die redding moet die kinders van God dus baie gehoorsaam wees aan God se wil, ook soos dit in sy wet staan.

So het Calvyn sistematies in sy groot werk, Die Institusie van Calvyn, die leer van die Bybel sistematies beskryf. Die interpretasie van Calvyn is deur baie mense, veral in Holland en dele van Engeland aanvaar. Daarom praat ons van Gereformeerde Kerke en noem die mense hulleself Calviniste. Dit beteken nie hulle aanbid Calvyn of so iets nie, maar hulle aanvaar net die uiteensetting van die leer soos hy dit in sy werke aanvanklik verduidelik het. Die Katolieke sien sekere dinge egter ‘n bietjie anders, terwyl die Lutherane dit ook weer anders sien. John Wesley het ook sekere dinge anders gesien en so het die Wesleyane (Metodiste) begin.

‘n Calvinis is dus nie iemand wat Calvyn vereer nie, maar wat sy uiteensetting van die evangelie as korrek aanvaar.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE VLEUELS VAN GEBED (9)

DIE VLEUELS VAN GEBED (9) – Jan van der Watt

Dankie Here!

‘Dankie sê’ is om jou skuld te betaal.

In die tyd van die Bybel was ‘dankie sê’ iets anders as vandag. Vandag is dankie ‘n woord wat baie gebruik word. Dink maar hoe ons ons kinders met moeite leer om vir alles ‘dankie’ te sê. Dit is juis die probleem. Ons woord ‘dankie’ het sy krag verloor; dit het ‘leeg’ geword. Daarom sê mense baie keer: ‘Ek weet nie hoe om vir jou dankie te sê nie’, of ‘Ek het nie woorde om jou te bedank nie’. Om net ‘dankie’ te sê klink so hol of leeg.

In die Bybelse tyd was dit anders. Dankbaarheid was nie eintlik iets waaroor jy gepraat het nie, maar wat jy veral gedoen het! Die ou samelewing het interessant gewerk. As iemand iets vir jou gedoen het, het hy of sy eintlik verwag dat jy iets soortgelyks sal terugdoen. Dán sou jy ‘dankbaarheid’ bewys. Jy ‘skuld’ hom of haar dus dit wat aan jou gedoen is. Dit mag vir ons snaaks klink dat dankbaarheid so saam met ‘skuld’ loop, maar so was dit nou maar eenmaal. Dankbaarheid beteken inderdaad om in jou optrede te erken dat iemand iets vir jou gedoen het, maar dit is ook ‘n erkenning van jou verpligting om presies dit vir die persoon terug te doen. Julle belange en sake loop dus inmekaar. Julle is voortaan by mekaar se sake betrokke.

 

Die mense in die ou tyd het dus eintlik nooit vir mekaar ‘dankie’ gesê nie. Hulle het ‘dankie’ gedoen! Dit is byna soos in ‘n rugbywedstryd. Jy sê nie gedurig ‘dankie’ as iemand die bal vir jou gooi nie. Jou maat weet mos dat as jy die kans kry, jy die bal weer vir hom sal gooi. Jy moet iets ‘doen’. Dit sien ons dan ook duidelik in die Bybel. Met enkele uitsonderings na, lees ons nie in die Nuwe Testament dat mense vir mekaar ‘dankie sê’ nie.

Daar is egter ‘n groot uitsondering! Teenoor jou meerdere, die een wat vir jou sorg, moes jy nie alleen met jou optrede nie, maar ook met jou WOORDE ‘dankie’ sê. Dit hang nou saam met die eer en aansien wat jy so vir die belangrike persoon gee. Deur ook vir hom woordeliks te bedank beteken dat almal kan hoor wat hy gedoen het. Dit verhoog sy eer en aansien.

Daarom is die Bybel vol verwysings na ‘dank’ wat aan God gebring moet word (bv. Rom 1:8; Kol. 1:12, 3:17, 4:2; 1 Thes. 5:18). Hy is immers die Een wat vir ons alles gee en vir ons sorg. Sy aansien moet deur ons dankbaarheid verhoog word. ‘Lof’ en ‘dank’ kom dus in die Bybel baie naby aan mekaar. Dink maar aan die bekende verhaal van die tien melaatses wat genees is (Luk 17:11-19). Net die een het teruggekom om Jesus te kom bedank (Luk 17:16). Luk 17:15 en 18 vertel egter dat sy dank met die prys en eer van God versmelt het. Dank vind uitdrukking in lof.


Dankie doen!

Dit bring ons dan by gebed. Gebed is die plek waar ons soos die melaatse man in dankbaarheid voor God moet neerval. Maar ons moet besef wat dit beteken. Dit beteken ‘n gevoel van dankbaarheid teenoor God nie, maar ook ‘n erkenning van ons verpligtinge en verantwoordelikhede teenoor God. Ons kan nie net ‘dankie’ nie, ons moet ook ‘dankie’ doen! En hierdie doen impliseer dat ons dit wat God vir ons doen en gee weer aan Hom sal teruggee… En dit vra baie. Bybelse dankbaarheid is inderdaad nie goedkoop nie!

 



Dink net ‘n bietjie…

* Wie het vir jou die lewe gegee?

Wat behoort dus aan Hom en moet jy eintlik aan Hom teruggee?

# Natuurlik jou lewe! Jou lewe behoort aan Hom en daarom moet jy jou lewe vir Hom leef.

* Wie het vir jou alles gegee wat jy besit?

Wat behoort dus aan God teruggegee te word?

# Natuurlik dit wat jy besit! God het jou as rentmeester aangestel oor jou eiendom. Hy gun dit vir jou, maar om tot sy eer te gebruik.

* Wie het aan jou jou lewenslus en gesondheid gegee?

Wat is dus eintlik God s’n om te gebruik?

# Natuurlik jou lewenslus en gesondheid. God wil hê dat jy die lewe geniet, maar so dat Hy daarop trots kan wees.


 

Op die wyse word dank ‘n lewenstyl. Omdat God by elke faset van ons lewens betrokke is, moet ons altyd dankbaar wees (1 Thes 5:18) vir alles (Ef 5:20). Die wyse waarop jy praat, mense hanteer, optree, elke ding wat jy doen moet van dankbaarheid spreek… dankbaarheid teenoor God wat dit vir jou moontlik gemaak het.

En op jou knieë in gebed gee jy aan God dankbare erkenning daarvoor.

Dankbaarheid in die gelowige se lewe word dus in die woorde van lof aan God geskryf, en met die dade van erkentlikheid onderstreep.


Sê ‘ja’ vir God vir alles wat jy het omdat Hy lankal vir jou ‘ja’ gesê het.

Dankbaarheid volgens die Bybel is dus een groot stuk toewyding aan God. Dit is om vir God te sê jy is Syne! Jy is Syne met alles wat jy het, omdat alles wat jy het buitendien syne is! Hy het dit immers vir jou gegee. In dankbaarheid wil jy dit nou VIR HOM gebruik.

Prakties op jou knieë beteken dit dat jy oor elke faset van jou lewe nadink; dat jy jou lewe uit verskillende hoeke bekyk. En dan, so met jou lewe ‘voor jou’, weeg jy elke faset op aan die eis: ‘Is hierdie faset van my lewe ‘n ondubbelsinnge “ja” aan God?’ As die antwoord miskien nie so positief is nie, verwag God dat jy dit ‘n ondubbelsinnige ‘ja’ sal maak.

Dit is waar toewyding in gebed inkom. Waar jy op jou knieë in die troonsaal van God staan, kan jy maar net prewel: ‘Here, ek is U s’n’. Uit hierdie oomblikke van toewyding aan God moet die begeerte groei om elke swart kol in jou lewe uit te wis, elke verkeerde begeerte te vermorsel.

Hoe kan dit anders? As jy werklik voor die troon van die lewende God staan, kan jy nie anders as om neer te val en Hom te loof en te dank nie. En dank beteken om jou geheel aan Hom toe te wy. Verder deur jou gebed sal jy sekerlik weer oorweldig word deur die begeerte om God vir ander dinge te dank, byvoorbeeld as jy van Hom dinge gevra het en jy besef Hy het dit aan jou gegee. Maar toewyding pas hier aan die begin van jou gebed omdat dit nie van lof en dankbaarheid geskei kan word nie. Daarbenewens berei dit die bidder ook voor vir ‘n volgende belangrike faset van gebed, naamlik sondebelydenis.

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt