God se manlikheid

God se manlikheid – Francois Malan

Saartjie vra:

My man is in twyfel oor God se geslag. Hoewel daar in die Bybel duidelik staan God die Vader beweer hy dat daar tog mense is wat dit betwyfel. Wat sê u?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God bestaan buite die grense van ons verstaan, en ons kan nie ons beperkte idees en belewenisse van vaderskap en manlikheid op God toepas nie.

In Jesaja 55:8-9 sê die Here: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Paulus sê in Romeine 11:34-36: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy veplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Jesus sê in Johannes 4:24: God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.

In die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees is daar nie sprake van manlikheid of seksuele voortbringing nie. Dit is ‘n ewige verhouding wat van ewigheid af bestaan.

In sy woord openbaar God Hom aan ons as die ewige Vader van ons Here (‘regeerder’) Jesus (‘verlosser’) Christus (‘gesalfde’ koning, priester, profeet), en die Heilige Gees wat saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is, wat ewig by ons kom bly om geloof in ons te skep in die ware God, Vader Seun en Gees, en die nuwe skepping wat Christus kom bewerk het in ons lewens uit te werk.

Vanuit die liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees (vgl. 1 Johannes 4:8,16 ‘God is liefde’) sien ons dat ons aardse vaderskap ‘n baie swak beeld van God se vaderskap is, wat ons vaderskap onder kritiek stel en aan ons vaderskap nuwe betekenis en waarde wil gee. God se Vaderskap en liefde vir sy wêreld wat Hy geskep het, het sy geliefde Seun aan ‘n kruis laat sterwe vir ons sonde, sodat ons die ewige lewe kan hê saam met sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het (Johannes 3:16). Dit gee Hy aan dié wat in sy Seun glo deur die werking van sy Heilige Gees.

Vir die gemeente in Korinte sê Paulus in 1 Kor.8:5-6: teenoor die heidene se baie sogenaamde ‘gode’ en ‘here’ is daar vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die gewelf in Genesis 1

Die gewelf in Genesis 1 – Francois Malan

Alicia vra:

In Genesis 1 praat die Bybel van dat God die waters bo die gewelf geskei het van die waters onder die gewelf. Die gewelf is dan mos die hemelruim, die sonnestelsel, met die sterre, planete, son maan ens, met ander woorde die wêreld rondom die aarde self. So, die waters onder die gewelf is dus die see, riviere, damme wolke? Waar is die waters bo die wereld (gewelf) dan? Ek het in verskeie vertalings daardie selfde stuk oor en oor gelees, en in almal praat hul van die waters bo en die waters onder. Verskillende vertalings gebruik ‘n ander woord vir die gewelf, maar daar is in elke veraling, water bo en water onder!

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord in Genesis 1:6-8 vir gewelf of uitspansel is rakiya, afgelei van die werkwoord raka wat ‘uitsprei’ beteken (vandaar ‘uitspansel’) en ook gebruik word van ‘uitklop’ soos ‘n (koper) plaat wat in ‘n halwe bol uitgeklop word (vandaar ‘gewelf’ soos in koepel). Vgl. Ps 19:2; 136:5; 150:1 Job 37:18; Jes.42:5).

Die gewelf maak skeiding tussen die twee groot watermassas: dié daarbo, waar die reën vandaan kom (Genesis 7:11-12; 2 Konings 7:2), en die waters onder die gewelf, wat nie slegs na die see verwys nie, maar ook die water wat in fonteine onder die aarde uitborrel (Gen.49:25).

Die oud-oosterse wêreldbeeld van die skrywers van Genesis het nog nie onmeetlike sonnestelsels op die oog gehad soos ons vandag nie, maar het gedink aan ‘n plat aarde met fondamente en pilare (Job 9:6; 38:4) en die gewelf bo-oor gespan. Die sterre is aan die gewelf gehang, met ‘n son en maan wat teen die gewelf beweeg in hul baan soos teen ’n tent (Ps.19:5-7). Soos die water onder die grond uitborrel uit die oersee, so het die reën uitgeborrel uit die skatkamers van wind, reën en sneeu agter die gewelf, wanneer die vensters van die gewelf oopgemaak word (Maleagi 3:10; Spreuke 8:27,28). Dit is eers later wat ons wêreldbeeld ontwikkel het in ‘n rondebol aarde wat om die son beweeg in een van die menigte sonnestelsels wat ons met die teleskope kan sien, en wolke wat deur die wind oor die see se verdamping gevorm word en laat reën.

Die doel van Genesis is nie om ‘n wetenskaplike beskrywing van die skepping te gee nie, maar as ‘n getuienis oor die krag en wysheid van God en die wonder van sy skepping, om God se genade en krag, wat die skepping onderhou, te verkondig.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




DIE VLEUELS VAN GEBED (8)

DIE VLEUELS VAN GEBED (8) – Jan van der Watt

‘n Rooilig: ek loof die Here so hard dat ek net my eie stem hoor!

Lofprysing maak ‘n belangrike deel uit van baie kerke se erdedienste en ander byeenkomste. Dit is natuurlik wonderlik en prysenswaardig. Tog moet ‘n mens versigtig wees dat die lofprysing se fokus nie verskuif na die verkeerde plek nie. Enige plek behalwe die totale fokus of God is die verkeerde plek.

Musiek help met die lofsang, mooi liedjies help ook. ‘n Vrolike opgewonde atmosfeer het nog nooit kwaad gedoen nie. Die rooiligte moet egter flikker as die lofprysing maar net word soos ‘n ‘sing song’ op ‘n kermis. Ek geniet die liedjies en die atmosfeer. Dit laat my lekker voel, ja ek voel selfs naby die Here! Om die waarheid te sê, dit was so lekker dat ek van die Here vergeet het. Of miskien het ek nie heeltemal van Hom vergeet nie, maar ook nou nie heeltemal op Hom gekonsentreer nie. Die sang was so lekker… As dit van lofprysing waar word, verloor lofprysing sy wesentlike doel.

 

Lofprysing met sang is wonderlik… as dit totaal op God fokus! Lofprysing sonder sang is ook wonderlik… as dit ook totaal op God fokus!

Kom ons raak so ‘n bietjie prakties.

 



* Dink aan een (of meer) ding(e) wat jou baie ongelukkig maak; iets wat vir jou sleg is en wat jy graag anders sou wou gehad het. Loof God nou daarvoor dat Hy dit met jou laat gebeur het of toegelaat het dat dit gebeur het. (Vra Hom sommer ook waarom Hy dit gedoen het en wat Hy daarmee vir jou wil leer).

* Maak hier ‘n lysie van die dinge waaroor jy vir die Here dankbaarbaar is:

…………………………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………

Loof God nou vir elkeen van hierdie dinge. Erken sy betrokkenheid in jou lewe!

 



Dit het nou duidelik geword dat ook hierdie stap nie sommer maar net kan ‘gebeur’ nie. Dit help nie om maar net op jou knieë neer te sak en weg te trek moet allerhande ‘lofbetuiginge’ nie. ‘Lofprysing’ is daardie spesiale geleentheid in jou gebed waar jy baie spesiaal vir God erken vir sy betrokkenheid in jou lewe. ‘n Paar algemene opmerkings op hierdie punt in jou gebed is alles behalwe goed genoeg. Dit is nie hoe God dit wil hê nie. Hoe kan jy God behoorlik loof as jy nie jouself eers rustig afvra hoe God in jou lewe – goed en sleg – betrokke was nie. Dan kan jy mos sinvol met jou lofgebed aangaan.

Geliefde, moenie jou gebed verwater deur jou lof aan die Here af te skeep nie. Leer Hom loof in alles!

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE VLEUELS VAN GEBED (7)

DIE VLEUELS VAN GEBED (7) – Jan van der Watt

Here, U wil ek loof.

Aanbidding dwing jou in verwonderdering op jou knieë voor God. Daar erken jy God vir Wie Hy is. Maar dit is maar die eerste treë in groot avontuur van gebed.

Die saad van aanbidding ontkiem in die blom van lofprysing. Dit is twee sye van dieselfde munt.

‘n Mens sou kon sê dat aanbidding veral fokus op Wie God is en dat lofprysing klem lê op wat God vir ons gedoen het en nog doen. Die onderskeid is natuurlik nie waterdig nie. As jy besef Wie God is, sal jy ook noodwendig aan alles dink wat Hy vir jou doen en natuurlik omgekeerd.

 

‘Goeie woorde uit die diepte van die hart…’

Kom ons loof en prys die Here! Maar wat beteken dit?

Die Griekse woord wat veral vir ‘lof’ gebruik word, kan so omskryf word: ‘om goeie woorde te praat’. Maar lof is nog veel meer. Dit is om goeie woorde te wil praat, te moet praat. Om die Here dus te loof en te prys beteken om in ‘n rykdom van goeie woorde met en van Hom te praat. Dit is egter nie woorde wat op die punt van die tong ontstaan nie. Dit is woorde wat uit die diepte van die hart vloei.

Kom ons luister na iemand wat die Here loof…

Ek wil U lof verkondig, my God en Koning,

ek wil U naam altyd loof.

Die Here help almal op wat geval het,

Hy ondersteun die wat bedruk is.

Die Here is regverdig in al sy handelinge,

getrou in alles wat Hy doen.

Die Here is naby almal wat Hom aanroep.

Laat al wat leef sy heilige naam vir altyd prys!

(Dele uit Ps. 145)


Die brandpunt…

Waarom is lof dan nou juis so belangrik? Wat maak dit aan God?

In die tyd van die Bybel was die samelewing in baie duidelike ‘klasse’ ingedeel. Die meeste mense was maar arm en het min mag gehad. Hulle het tot die onderste vlakke van die samelewing behoort. Hierdie mense is dikwels onderdruk en uitgebuit deur die rykeres. Daarom was hulle afhanklik van belangriker persone in die samelewing om hulle te help. Dit was dus destyds gebruiklik om by die groep of familie van so ‘n belangrike persoon aan te sluit. Jy moes lojaal wees teenoor hom, terwyl hy jou weer beskerm en gehelp het. Nou was dit ook gebruiklik om aan hierdie weldoener jou dank en afhanklikheid te ‘bewys’. Dit het jy gedoen deur die persoon se belangrikheid en status te erken. Daar kom lof en prys vandaan. As jy dus in die teenwoordigheid van die persoon is, het jy baie ‘goeie woorde’ vir en oor hom. Veral as daar ander by is, vertel jy hardop wat hierdie ‘heer’ van jou alles doen en kan doen. Hoe meer jy kan sê, hoe ‘belangriker’ word jou ‘heer’ natuurlik in die oë van die omstaanders en hoe groter word sy status en eer! Jou lof is dus daarop gemik om met jou woorde die grootheid van jou weldoener so goed moontlik voor te stel. Jou weldoener word die brandpunt waarop jy jou woorde laat saamtrek.

So moet Bybelse lof ook verstaan word. Die brandpunt van lof is die Drieënige God en Hy alleen. Lof wil die grootheid van God beskryf. Dit wil aan elke omstaander vertel hoe belangrik God is. Tegelyk wil dit ook vertel hoe gelukkig jy self is om so ‘n God te hê. Deur te vertel wat Hy aan en vir jou doen, word die eer van God net groter en groter. Daarom kan lof nie van die punt van die tong af kom nie. Dit moet uit die hart kom, want

* lof vertel van daardie intieme ontmoetings tussen jou en God;

* dit vertel van die oomblikke toe jy verslae was en jy juis toe sy vertroostende teenwoordigheid ervaar het;

* dit vertel van die oomblikke toe jy besig was om te sink maar juis toe God se verlossende hand kon voel;

* dit vertel van die oomblikke van benoudheid, van alleenheid, van vreugde, van vertwyfeling… en God was dáár!

* dit vertel van Golgota…

Lof is dus baie meer as net ‘n gevoel. Dit ontluik uit die diepgewortelde bewustheid van God wat intens in jou lewe betrokke is. Dit is die oortuiging dat God LEWE omdat jy dit in jou lewe kan sien en ervaar. Daarom is lof iets wat uit jou vloei soos ‘n fontein wat onkeerbaar opbruis. Jy kan dit nie keer nie, omdat dit wil vertel van God wat jou lewe vasgryp. En juis daarom wil jy loof, wil jy hierdie God grootmaak, wil jy hierdie God eer en prys. God word die brandpunt waarop jy jou woorde van eer en lof uitstort.

Lof is dus aan die dade van die een wat lof ontvang vas soos ‘n skoen aan sy sool. Jy kan maklik sê iemand is sterk. Maar as daardie persoon regtig ‘sterk dinge’ doen, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Dan kan jy praat van ondervinding. As hierdie sterk persoon dan nog vir jou sê dat hy hierdie of daardie magtige daad ook gaan doen, kan jy hom maar glo. Hy kán mos! Groot dade is dus die sool wat die ‘skoen’ van lof oral saamdra waar dit gaan.

Met lof is dit net so. Natuurlik kan ons God loof vir Wie Hy is. Maar dit is as ons na sy dade vir ons kyk dat die stroom van lof onkeerbaar begin vloei. Daarom verbaas dit nie dat ‘lof’ in die Bybel gewoonlik met die groot dade van God saamgaan nie. God gee ons rede om Hom te loof. Hy maak dit vir ons maklik om Hom te loof, want Hy doen soveel vir ons.

Dit beteken natuurlik dat lof nie regtig ‘lof’ kan wees los van jou eie lewe, jou ervaring, jou pad saam met die Here nie! Lof wil juis eer bring vir wat Hy in jou lewe gedoen het en nog doen! Daarom vra ‘lof’ diep nadenke van jou oor jou verhouding met Hom.

Om dit prakties te stel: As jy regtig die vreugde van lof in jou gebedslewe wil ervaar moet jy vooraf eers vra waaroor jy God wil loof. Wat het Hy vir jou gedoen sodat jy die ‘lysie’ van sy groot dade wat eer aan Hom bring kan aanvul. Hy het sy Seun vir jou gegee, jou gered; maar nou is Hy ook elke dag by jou… besig met jou.. goed vir jou. Daarvoor kan jy Hom eer en loof.


Here, hoe kan ek by ‘n oop graf lofsange sing?!

MAAR, wat daarvan as dit nie met my goed gaan nie? Moet ek die Here dan nog loof; nee, KAN ek Hom nog loof? Hoe kan ek by ‘n oop graf lofsange sing? Hoe kan ek daar by die grens van die lewe waar ek voel of ek gaan afstort, lofsing asof niks besig is om te gebeur nie?

Hierdie vrae sou geldig gewees het, as die Here nie daar was nie. Omdat Hy daar is, kan die slae van die lewe ons nooit verwoestend van koers slaan nie. Te midde van jou pyn en smart kan en moet jy nog jou hart in vertroue voor God uitstort. Nooit mag die trane jou oë so vul dat jy die Here nie meer kan raaksien nie (Heb. 13:15). In jou nood moet jy jou na die toekoms uitstrek waar die trane in vreugde sal verander; dit het God mos beloof. Daarvoor kan jy Hom grootmaak en loof. Want waar hierdie hoop en lof uitbly, sterf gebed. Om God te loof, bind jou aan God se toekoms vir jou. Daaruit kan jy leef, soos Habakuk (3:17-19):

Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

NOGTANS SAL EK IN DIE HERE JUBEL,

SAL EK JUIG IN GOD, MY REDDER.

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop. 

Dink maar op praktiese vlak wat ‘lof’ in nood en swaarkry aan jou doen. Veronderstel iets baie slegs het met jou gebeur. Dit voel vir jou of hierdie ding alles in jou stukkend maak, ook jou geloof. As jy dan jou fokus in lof weer instel op die Brandpunt, wat sien jy? As jy daar in sak in as vir God kan sê dat jy dankbaar is vir wat Hy al vir jou gedoen het, of wat Hy nog vir jou gaan doen, sal jy skielik agterkom dat die wêreld nie so donker is nie! Jy sal agterkom dat God se nabyheid en beloftes alles in waarde oortref. Ook in hierdie swaarkry kan jy jou kop op die skouer van God laat rus in aanvaarding van wat met jou gebeur.

Maar dit kan ook meer doen. Deur God ook vir die slegte te loof kan jou help om na sy plan vir jou lewe te vra. Niks gebeur mos sommer maar toevallig nie. God is altyd daar. Miskien wil die Here jou iets leer, miskien wil Hy jou ‘n weg wys. Daarvoor kan ons die Here mos altyd loof. En die belangrikste: elke woord van lof in nood is ‘n belydenis, ‘n getuienis van jou vertroue in God. Dan verstaan ‘n mens ook wat die Here bedoel het toe Hy vir Jeremia (32:27) gesê het: ‘Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir my onmoontlik?’

Loof die Here ook in jou nood en dan sal jy uitvind waarom jy werklik die Here in jou nood kan loof! 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt