Jesus se geslagsregisters

Jesus se geslagsregisters – Francois Malan

Barnie vra:

In Matteus en Lukas verskyn `n geslagsregister van Jesus, maar hulle verskil. Wat is die rede daarvoor?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus skryf aan Griekssprekende Joodse Christene, en verwys telkens na die Ou Testament om te bewys dat Jesus die beloofde Messias van die Jode is. Aan sy Joods-Christelike lesers stel hy Jesus Christus aan die begin van sy Evangelie voor as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham (1:1).

Matteus se geslagslys begin by Abraham (1:2), die vader van die gelowiges, wat deur die Jode as hulle voorvader beskou word (3:9), en eindig by Jesus (1:16), wat sy volk van hulle sondes sal verlos (1:21).

Matteus sê dat Jesus die Christus genoem word (1:16). Dit is die Griekse woord vir die Hebreeuse ‘Messias’ wat die Jode verwag, in Afrikaans ‘Gesalfde’ – gesalf as koning, wat ook priester en profeet is, soos Dawid. Later kom Matteus daarop terug, dat Jesus uit die geslag van Dawid kom (Mat.22:44).

Hy is ook Immanuel, God by ons (1:23; vgl. Jes.7:14) vir wie Dawid in Ps 110:1 sê ‘Die HERE (God die Vader) het vir my (Dawid se) Here (Jesus die Seun van God) gesê: sit aan my regterhand…’(Mat.22:43-45). Vergelyk ook Petrus se belydenis in Mat.16:16 ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’

Matteus verdeel die tyd tussen Abraham en Christus in drie maal 14 geslagte: van Abraham na Dawid, van Dawid na die Babiloniese ballingskap, van die Babiloniese ballingskap tot by Christus (al word nie volstrek 14 geslagte genoem in die derde groep nie). Matteus stel Jesus voor as die vervulling van God se beloftes aan Abraham (Gen.12:1-3) en aan Dawid (2 Sam.7:4-17). Die Babiloniese ballingskap is die laagtepunt in die geskiedenis van Israel, soos Abraham die beginpunt en Dawid die hoogtepunt is. Agter die hele geskiedenis van Israel staan God wat alles uitwerk volgens sy plan, ten spyte van laagtepunte en hoogtepunte.

In Matteus se lys word 5 vroue genoem, wat nie Lukas se lys voorkom nie. Al vyf vroue het ‘n vraagteken agter hulle: Tamar wie se tweeling deur haar skoonvader verwek is (Gen.28), Ragab was ‘n prostituut (Josua 2:1), Rut was ‘n heidense Moabiet (Rut 2:2), Dawid pleeg owerspel met die vrou van Uria en laat Uria venmoor (2 Sam.11), en Josef wou sy verlowing met Maria stilweg verbreek toe sy swanger word (Mat.1:9). Matteus stel Jesus voor uit ‘n geslag waarin prostitute, heidene, owerspelers, en moordenaars voorkom – Hy kom hulle van hulle sonde verlos (Mat.27:42).

Matteus wil met die geslagslys bekend maak wie Jesus is en wat hy kom doen as vervuller van God se beloftes aan Israel (Mat.10:5-7). Maar na sy opstanding stuur hy sy dissipels uit na al die nasies (Mat.28:19) en verseker Hy hulle dat Hy by hulle is al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (daarmee sluit Hy alle gelowiges deur die eeue is).


Lukas rig sy twee werke, die Evangelie en Handelinge, aan Teofilus (Lk.1:1; Hand.1:1) met ‘n Griekse gemeente in gedagte. Sy geslagslys kom eers in hoofstuk 3, na die geboorte-verhale van Jesus se voorloper, Johannes die Doper, en van Jesus, en van hulle geskiedenisse tot by Jesus se doop. Jesus laat Johannes Hom doop, waardeur Hy Homself met die sondige mensdom vereenselwig. Nadat Jesus gedoop is, het Hy staan en bid, die hemel het oopgegaan, die Heilige Gees het in sigbare gestalte op Hom neergedaal (vgl. Hand.10:38), en ‘n stem uit die hemel het gesê: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My’ (3:21-22).

Tussen die doop en Jesus se eerste werk (waarna 3:23 verwys), nl. die versoekings van 4:1-13, voeg Lukas die stamboom van Jesus in om te wys dat Hy ten volle ware mens is, wat Hom met die sondaars vereenselwig in die doop en in die versoekings.

Anders as Matteus wat met Jesus eindig, begin Lukas met Jesus en noem 77 geslagte tot by Adam (teenoor Matteus se 3×14 geslagte). Vir sy Griekse gemeentes wys Lukas dat Jesus die seun van Adam is, die tweede Adam, soos Lukas in sy tweede boek aantoon, in Handelinge 17:26-31 (vgl. ook Rom.5:12-21; 1 Kor.15:45-49). Deur die al te menslike geslagte is Jesus aan die mens met sy swakhede en sonde verbind, nie net aan Israel nie, maar aan die ganse mensheid, en sy sending is eintlik gerig op die hele mensdom. God se doel met die skepping was ‘n noue kindskapsverhouding met die mens wat deur Jesus afgebeeld word, en wat Hy deel met almal wat sy dissipels word, soos Lukas uitwerk in Handelinge (vgl. bv. hoofstuk 10; 15; 17:30,31).

Maar Adam word geteken as die seun van God in Luk.3:38, om die mens Jesus ook as die Seun van God bekend te stel, soos die stem uit die hemel met sy doop gesê het, en soos Hy bewys het deur al die versoekings te weerstaan.

Matteus en Lukas maak gebruik van geslagslyste in Kronieke 1:28-34; 2:3-15 van Abraham tot Dawid. Lukas gebruik ook 1 Kronieke 1:1-27 van Adam tot Abraham, en Matteus 1 Kronieke 3:10-15 tot die ballingskap met die koninklike linie wat deur Salomo voortgesit word ná Dawid (vgl. ook Gen.5:3-32; 11:10-26; Rut 4:18-22).

Lukas volg ‘n lyn van Eli na Dawid oor Natan, wat Lukas as ‘n seun of nakomeling van Dawid noem, ‘n lys van gewone mense wat nie as konings regeer het soos in Matteus se lys nie (Sommige verklaarders meen Eli was die oupa van Maria, en dat Lukas die geslagslys van Maria aangee van Dawid af, wat onwaarskynlik is. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983 se invoeging van ‘Josef was die seun van Eli’ in 3:23 staan nie in die oorspronklike nie. Die oorspronklike sê net: ‘Hy was die seun, soos hulle gemeen het, Josef van Eli’ – nie eers ‘van Josef’ nie).

 

Skrywer: Prof Francois Malan





Watter faktore dra by tot ons verstaan van God?

Watter faktore dra by tot ons verstaan van God? – Francois Malan

Jaco vra:

Wil net weet water faktore dra by tot ons verstaan van God?

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

In Efesiërs 3:14-21 bid Paulus dat die gelowiges in staat sal wees om iets van die liefde van God te begryp, ‘n liefde wat ons verstand te bowe gaan. In dié verse word verwys na ‘n hele aantal ‘faktore’ wat bydra tot ons verstaan van God, die God van wie 1 Johannes 4:7-9 sê ‘…elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God, en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.’


In Efesiërs 3 word ‘n aantal ‘faktore’ genoem in die proses om God te ‘verstaan’:


1.   Dit is iets wat ons van God die Vader in nederige gebed vra (Ef.3:14). In Ef.2:18 het hy reeds gesê: deur Christus Jesus se kruisdood ‘het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees, vrye toegang tot die Vader.

God die Vader het elke familie en familie-groep gemaak, ons bestaan en ons rol in die lewe is van Hom afhanklik (3:15). Hy sorg vir ons, en ons staan onder sy beheer as die Vader van elke familie (3:9 noem Hom reeds die Skepper van alle dinge).


2.   Die inhoud van die gebed is eerstens dat God ons innerlik sal versterk deur sy Gees (3:16). In 1:17 is reeds gesê dat God deur sy Gees aan ons wysheid gee en Hom so aan ons openbaar dat ons Hom werklik kan ken. Ons ‘innerlike mens’ is die setel van ons bewussyn, 3:17 noem dit ons hart, ons morele wese, waarmee ons verstaan en keuses maak. Ons verstaan iets van God deur sy openbaring van Homself aan ons deur sy Gees, wat in ons kom woon, om ons dag vir dag te vernuwe (2 Kor.4:16). God kan alles wat ons nodig het voorsien uit die onuitputlike rykdom van sy heerlikheid.

Die innerlike versterking beteken dat Christus self permanent in ons woon om in liefde te heers oor alles wat ons is en doen (3:17a). Sy inwoning is deur geloof, en geloof is ook ‘n gawe van God (2:8). Soos wat ons Hom vertrou, so maak Hy ons hart sy woning. Die Gees is besig om ons al meer te verander om soos Christus te wees in ons denke en optrede (vgl. 2 Kor.3:18).


3.   Die gevolg van ons versterking, deur die Gees deur Christus in ons te laat woon, is dat ons in die liefde sal wortelskiet – dat alles wat ons is en doen deur Christus se liefde gevoed word, soos ‘n plant deur sy wortels gevoed word om te groei; en dat ons op die liefde gegrond sal wees, as die fondament van ons lewe en lewensuitkyk, soos ‘n gebou stewig op sy fondamente staan (17b).

1 Joh.4:7-21 sê: slégs as ons in liefde teenoor mekaar lewe, kan ons God ken, want die liefde kom van God, elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde – dit het Hy geopenbaar deur sy Seun na die wêreld te stuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.


4.   Die tweede versoek in Paulus se voorbidding is dat God aan ons die krag sal gee om te begryp hoe onmeetlik Christus se allesomvattende liefde is (3:18). Dit is ‘n gebed dat God aan al die gelowiges egte insig sal gee in die liefde van Christus.

Die begrip van die liefde van Christus impliseer ‘n persoonlike kennis daarvan, om die afmetings wat die liefde van Christus aanneem persoonlik te ervaar en uit te leef. Die ‘verstaan van God’ is nie iets wat ons met ons verstand kan begryp soos boekkennis wat ons kan gebruik of nie gebruik nie. Die ‘verstaan van God’ gebeur in ‘n persoonlike verhouding met God as ons Vader aan wie ons ons lewe toevertrou, en vir wie ons uit liefde gehoorsaam in alles wat ons doen, soos Jesus sy Vader op aarde gehoorsaam het.


5.   Maar ons kan nooit die volle omvang en diepte van Christus se onmeetlike liefde verstaan nie (3:19a).

Dit is God wat ons vol maak met die volheid van God. Sy doel is dat ons die volheid van God sal beleef (3:19b). In 4:13-16 spel Paulus dit uit: dat ons almal uiteindelik sal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en ons kennis van God, dat ons, as sy kerk, soos ‘n volwasse mens sal wees, so volwasse en volmaak soos Christus, wat in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus ons hoof toe, waar elke gelowige sy funksie in die liggaam van Christus vervul.


6.   In dit alles gaan dit nie om ons eer nie, maar om die eer van God, wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink; Hy werk in ons deur sy Gees. Maar ons kan Hom nie uit ons eie prys nie. Christus is die middelaar van God se werk in ons. Hy is ook die middelaar van ons reaksie om die Vader te prys (3:20-21).

Die ‘faktore’ (liewers die beweging) waardeur ons God ‘verstaan’ (in Romeine 11:33-36 besing Paulus God se wysheid in sy handelinge met die wêreld om die mens te verlos, en sy kennis van ons en van wat gebeur; sy oordele is ondeurgrondelik – dit is moeilik om sy optrede te verstaan maar ons weet dit is reg soos Job 5:9 en 9:10 sê, en sy weë is onnaspeurlik – hoe Hy werk om sy doel te bereik) eintlik kan ons God nie verstaan nie, maar Hom wel in sy liefde ken.

Maar die beweging om Hom te ken begin by Hom. Hy openbaar Homself aan ons, Hy maak Homself kenbaar. Dit het Hy gedoen deur Christus te stuur om ons deur sy kruisdood en opstanding van ons sonde te verlos, sodat ons die Skepper ons Vader kan noem. Die Heilige Gees het in ons kom woon om ons aan Christus te verbind om saam met die Seun van God te lewe vir ons Vader. En die hele beweging is een van liefde, want die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees is liefde. In daardie liefdesverhouding kry ons deel deurdat die Heilige Gees ons daarin opneem om die genade van Jesus Christus ons Here te ken, en die liefde van God ons Vader, deur die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor.13:13). Die Heilige Gees gebruik veral die woord van God om ons te leer, deur die Bybel te bestudeer, daaroor in gebed na te dink en toe te pas, ook deur die prediking, mense, boeke, gebeure, ens. Slegs so kry ons iets verstaan van God, Hom ook in sy skepping as Skepper herken, en Hom as die Herskepper van mens en skepping begin ken, sodat ons Hom kan loof en eer met ons denke, woorde, lied en optrede.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloof aan die bestaan van een God

Geloof aan die bestaan van een God – Francois Malan

Vraag: 

Leoni vra: 

Ek vra asb hulp met die antwoord van een vraag en dalk kan u my verwys waar ek sulke antwoorde kan opspoor Ek het al die netwerk deursoek maar kry niks. Die vraag is: Geloof aan die bestaan van een God, wat Skepper en Bestuurder van die heelal is.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 Korintiërs 8:4-6 sê Paulus: ‘ons weet…en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie is wat “Here” genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.’

Een God die Vader (soos Jesus sý Vader aan ons bekend gemaak het; deur geloof in Christus kry ons deel aan Jesus se kindskap en word so self kinders van God) is die bron en bestemming van alle dinge, ons wat in Christus glo as ons verlosser, is daarby ingesluit. Om Hom te dien en te gehoorsaam is die sin en doel van ons lewe.

Vergelyk ook Efesiërs 4:4,5,6 ‘…en net één Gees (wat die een liggaam van Christus, sy kerk, met hoop op die ewige lewe vervul)… Daar is net één Here (aan wie ons verbind is deur in Hom te glo en in Hom gedoop te wees)…één God en Vader van alles/almal: Hy wat oor almal is (wat oor sy hele skepping waak, hulle versorg en daaroor heers), deur alles en almal werk (as sy instrumente deur wie Hy in die wêreld werk om alles in die skepping in Christus te verenig; Ef.1:10), en in alles en almal is (deur sy Gees gee Hy lewe aan elke ding en mens; vgl. Ps.104:29-30; Hand.17:28).’ Van dié eenheid is die kerk die voorloper-instansie (vgl. 1 Kor.15:28).

Een Here (in die Ou Testament word God die Here genoem. In die Nuwe Testament word die titel Here veral vir sy Seun gebruik om Hom aan te dui as die een wat oor die skepping en die kerk regeer, vgl. Efesiërs 1:22-23), Jesus Christus, die goddelike middelaar deur wie God alles geskep het en deur wie Hy ons verlos tot ‘n nuwe lewe, ewig met God (vgl. ook 1 Tim 2:5 se een God en een Middelaar).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




DIE VLEUELS VAN GEBED (5)

DIE VLEUELS VAN GEBED (5) – Jan van der Watt

KOM ONS WORD STIL. 

Kom ons word stil…

Die uitdrukking wat ons soms gebruik om te sê ons wil bid, is treffend: ‘Kom ons word stil’. As ons mooi daaroor nadink is dit eintlik so ‘n bietjie snaaks. Gebed is mos juis ‘n gesprek met God. In ’n gesprek wil ’n mens mos nie stilbly nie. Hoe rym dit?

Met hierdie woorde sê jy iets oor wat met jou gebeur as jy op jou knieë gaan. Om te bid vra van jou om jouself gereed te maak, voor te berei vir ‘n ontmoeting met God. En daarom moet jy die ratte van jou besige lewe eers so ‘n bietjie rem. Die besige lewe met sy stress het nogal die geneigtheid om die bril van jou lewe toe te wasem. Die gejaag van oomblik tot oomblik, plek tot plek om die of daai afspraak te hou maak dat jy later net jou eie belange raaksien. Al waaraan jy dink is die volgende ding wat jy moet doen. So kan jy ook nie regtig ‘n gesprek voer nie.

 

Dink maar net hoe frusterend is ‘n gesprek met iemand wat by die kamer ingewaai kom met die houding dat hy baie haastig is. Dit lyk heeltyd as hy met jou praat of hy eintlik iets anders wil doen. Hy wil ook nie regtig gesels nie. Hy spring so van een kort opmerking na die volgende. Elke nou en dan kyk hy op sy horlosie. In ‘n sekere sin beledig hy jou, gee hy jou die idee dat ander dinge belangriker is as jy. ‘n Mens voel sommer om vir so ‘n persoon te sê dat hy liewer maar die gesprek moet los as hy dit nie ordentlik wil doen nie. En met gebed is dit nie anders nie.

Om regtig te bid beteken om stil te gaan staan en die wasem van die besige lewe van jou lewensbril af te vee. Dan sal jy God duideliker kan sien. Maar jy sal ook jouself duideliker sien! Hierdie voorreg moet jy jouself gun! Bederf jouself ! Moenie op jou knieë gaan soos ‘n atleet wat eintlik net wag vir die oomblik wat hy moet opspring en verder hardloop nie. Laat gebed liewer die plek wees waarheen jy hardloop om in die arms van die Here regtig te gaan ‘stil word’.


Gee jouself ’n kans.

Ons lees in die Bybel dat die Here Jesus Homself die kans gegun het om ‘stil’ te word. Hy het na ‘n geskikte plek gegaan en daar alleen met sy Vader gepraat (Mat. 14:23). Daaruit kan ons nogal goeie lesse leer vir ons daaglikse ‘stiltetyd’ met God. Gee jouself daardie kans om in ‘stilte’ met God te gesels. (Dit gaan nie hier om skietgebede of kort gesprekke wat jy soms met God voer nie).

Gebed vra van ons om TYD te maak. As jy nou regtig die laaste bietjie vreugde uit jou gebedslewe wil tap, maak dan asof gebed soos ‘n vinnige stop in die kuipe vir ‘n renjaer is. As jy jouself nie tyd gun vir die gesprek met God nie, sal jy gou agterkom dat jy nie veel vir God te sê gehad het nie… en dat Hy ook nie veel vir jou kon sê nie.

Gebed vra ook dat jy jou PLEK reg kies. Jesus het na ‘n stil plek gegaan. Dit help nie om jou wit gordyne met oliehande te probeer was nie. Kry vir jou daarom ‘n plek wat by die stilte van gebed pas en daar nie allerlei dinge is wat jou aandag aftrek nie. Dit is natuurlik nie te sê dat ‘n mens nie ‘n skietgebed of ‘n ander kort gebed in die geroesemoes van die alledaagse lewe kan bid nie. Hier gaan dit om jou daaglikse ‘stiltetyd’ met God.

Gebed vra ook die regte GESINDHEID. Jy moet wíl bid. Jy moet jouself wíl oopstel vir die gesprek met God. Dit klink snaaks om so te sê, maar daar is ‘n gevaarlike vyand wat soos ‘n wurm die hele binneste van jou gebedslewe kan wegvreet sodat net die skil nog oorbly: en dit is VORMGEBED. Vormgebed vreet juis aan ons gesindheid. As ons nie elke keer onsself instel op die ontmoeting met God nie, word ons gebede later net gewoonte. Ons wíl dan nie meer bid nie, maar ons voel ons móét. Dan gaan dit nie meer om die gesprek nie, maar om die gewoonte. Die skil is dan nog daar, maar die hart is uit.


Stel jouself in.

Om eers ‘n rukkie ‘stil te word’ voor jy met God begin gesels is belangrik. Dit is jou geleentheid van voorbereiding en beplanning vir jou gesprek met God. Dit is jou tydjie wat jy voor die gebed neem om jouself ‘in te stel’. Dan hoef jy nie te praat nie; jy hoef nie met allehande dinge besig te wees nie. Jy kan maar net ‘stil’ word. Jy kan jou oë toemaak sodat dit net jy, jy alleen is.

Dit is nogal iets waarmee ons in ons gejaagde lewe swaarkry: ons kan nie tot stilstand kom nie. Vir ons is tyd geld; daar moet dinge gedoen word, daar is programme op TV wat gekyk moet word, daar is goed wat in die huis gedoen moet word, daar is… daar is… en so is daar altyd maar nog net meer en meer om te doen. Selde gun jy vir jouself die tyd om net JY en JOUSELF te wees.

Kom ons probeer iets:

SIT SOWAT DRIE MINUTE DOODSTIL. MAAK JOU Oë TOE EN PROBEER NET ‘ONTSPAN’. MOENIE AAN IETS SPESIFIEKS DINK NIE, MAAR AS JOU GEDAGTES AAN DIE LOOP GAAN, LAAT DIT ‘LOOP’ WAAR EN SOOS DIT WIL.


Beskryf nou wat jy ervaar het en wat gebeur het:

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

Verskillende dinge kan natuurlik met ‘n mens gebeur as jy so stil sit. Dit kan wees dat na ‘n besige dag jou gedagtes net nie tot ruste kom nie. Hulle spring en maal rond. Dit mag ook wees dat jou gedagtes by een ding vassteek en soos ‘n berg voor jou kom lê. Of jy kan so moeg wees dat jy sommer net aan niks dink nie. Jy voel net hoe die slaap soos ‘n swart kombers oor jou getrek word.

Maar wat hier gebeur moet nie onderskat word nie. As jou gedagtes so maal en spring moet jy weet dit is JOU gedagtes daardie. Dit is die dinge wat vir jou belangrik is. As ‘n mens ‘n bietjie ontspan het dit dikwels die gevolg dat jy so ‘n bietjie helderder dink. (Daar is seker van ons wat al met ‘n wiskunde som of ander probleem geworstel het en net as ons in die bed klim om te slap, is dit byna asof ‘n helder oomblik ons tref: daar net voor ons deur die donker deur van die slaap stap, kry ons die oplossing). Hierdie dinge wat so by jou opkom moet jy neerskryf, want dit is dinge wat jy met God kan en moet bespreek. Dit is veral belangrik as jou gedagtes net by een saak vassteek. Dit beteken dat daardie saak vir jou op daardie oomblik baie belangrik is. Daaroor moet jy praat!

Om so stil te word, berei jou nie alleen voor vir jou gesprek met jou Vader nie, maar rig jou al op die sake waaroor jy eintlik met God moet praat. (Soos ons verder gaan met die bespreking van die verskillende elemente van gebed sal daar dikwels stilgestaan word by die belangrikheid en nuttigheid van hierdie ‘stille nadenke’).


Om ‘stil te word’ is die voorportaal van gebed.

‘n Kasteel het gewoonlik ‘n voorportaal waar ‘n mens ontvang word. Daar kan jy jou jas uittrek, jou hare kam en gereed maak vir die ontmoeting met die koning in die kasteel. Daar wag jy op die koning. Om ‘stil te word’, of kom ons sê: ‘Om jouself eers weer so ‘n bietjie te vind’, is die voorportaal van gebed. Daar kyk jy vir jouself in die spieël. Daar word jy bewus daarvan dat jy nou in die ‘kasteel’ van God se teenwoordigheid instap. Daar kom gedagtes by jou op wat jy graag met die koning sal wil bespreek. Daar kan jy op die Here ‘wag’.


Moenie sommer in gebed injaag nie. Gun jouself die tyd om ‘stil’ te word en op die Here te wag.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt