Boerdery in die Ou Testament (2)

Boerdery in die Ou Testament (2) – Coen Slabber

Saaiboerdery

Kain was ‘n saaiboer (Genesis 4:2). Argeoloë het bevind dat graanboerdery reeds 6800 vC in die Nabye-Ooste beoefen is. Ons lees: Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet (Genesis 26:12). Die Egiptenare was bekend as mense wat die grond kon bewerk. Hulle het uitgebreide landery langs die Nyl-rivier bewerk. Josef het waarskynlik baie by hulle oor saaiboerdery geleer.

Ons weet uit Josua en Kaleb se verslag nadat hulle Kanaän verken het, dat dit ‘n vrugbare land was (Numeri 13:27). Die psalmis besing dan ook die vrugbaarheid van die land: U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan … U laat alles welig groei (Psalm 65:10 – 11).

Daar was ‘n paar interessante reëls oor saaiboerdery:

(1)    Jy mag nie ‘n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom (Deuteronomium 22:9).

(2)    Wanneer jy in jou buurman se koringland ingaan, mag jy are pluk met jou hand, maar jy mag nie ‘n sekel in sy koringland gebruik nie (Deuteronomium 23:24 – 25).

(3)    Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. Julle moet ook nie die wingerde ‘n twee keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge (Levitikus 19:9 – 10).

Ons gaan veral aandag aan drie aspekte gee:

1.       Watter gewasse is gesaai?

2.       Die voorbereiding van die lande.

3.       Oestyd.

 

Watter gewasse is gesaai?

(1)    Vlas. Ons lees dat Ragab die verspieders in Jerigo  weggesteek het tussen die vlasstoppels (Josua 2:6). Vlas is gebruik as vesel vir toue en klere. Die sade is vir diere gevoer.

(2)    Gars. Gideon het ‘n droom gehad waarin ‘n ronde garsbrood die laer ingerol het (Rigters 7:13). Aanvanklik was gars die hoofbestanddeel van brood. Later word dit die kos van die armes. Gars kon op armer grond gesaai word en het minder water as koring nodig gehad.

(3)    Koring.  Toe Dawid vir Absalom gevlug het, het Sobi en Makir vir hom ‘n slaapplek regemaak. In hierdie slaapplek was daar  koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies (2 Samuel 17:28). Koring en gars was deel van die betaling wat Salomo aan koning Hiram moes betaal vir die arbeiders wat hy beskikbaar gestel het om die tempel te bou.

(4)    Boontjies (Esegiël 4:9).

(5)    Lensies (Esegiël 4:9).

(6)    Sorghum (Esegiël 4:9).

(7)    Spelt (Esegiël 4:9). Dit is ‘n soort haweragtige duiskoring (HAT).

(8)    Prei, knoffel, uie, dille, kruisement, komyn en koljander is as smaakmiddels gebruik.

 

Die voorbereiding van die lande.

Die plase was meestal klein en is deur die boer en sy familie bewerk. Daar was natuurlik ook ryk boere wat baie grond besit het en arbeiders moes huur om die werk te doen. Boas en Job is voorbeelde van groot boere. Soms is besproeiing gebruik. In sekere bergagtige dele is terasse teen die heuwels gemaak. [Dit is meestal vir wingerde of olyfboorde gebruik.]

Die lande is voorberei deur eers die bosse en onkruid uit te trek (Josua 17:18). In die herfs, na die eerste reëns, is vore met ‘n houtploeg gemaak. Die ploeg was reeds aan Moses bekend: Jy mag nie ‘n bees en ‘n donkie saam voor ‘n ploeg inspan nie (Deuteronomium 22:10). In Job 1:14 lees ons: Die osse was aan die ploeg en die donkies het langsaan gewei. Die ploeg was ‘n regop J-vormige stuk hout wat deur die boer regop gehou is. Hierdie ploeg het ongeveer 10 – 13 cm diep in die grond gegaan. In die tyd van Saul lees ons dat yster gebruik is vir ploeë: Daarom moes elke Israeliet na die Filistyne toe gaan om sy ploegskaar of skoffelpik of byl of ander gereedskap te laat slyp (1 Samuel 13:20).

Osse is gebruik om die ploeg te trek. Soms is donkies gebruik, maar onder sekere voorwaardes: Jy mag nie ‘n bees en ‘n donkie saam voor ‘n ploeg inspan nie (Deuteronomium 22:10). Die kluite is met ‘n skoffelpik of met die stok wat die drywer gebruik het om die osse mee aan te jaag, stukkend geslaan. Die oppervlak is gelyk gemaak deur ‘n eenvoudige eg te gebruik. Soms is  ‘n doringtak gebruik.

Die saad is met die hand gesaai en daarna liggies met grond bedek. Hiervoor is ‘n eg gebruik. Soms is die saad deur die vee ingetrap.

Kompos is selde gebruik. Die Misjna maak wel melding van houtas, blare en die bloed van diere as ‘n vorm van kompos. In die gelykenis van die onvrugbare vyeboom lees ons dat die tuinier by die eienaar pleit: Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Wat wel die lande beskerm het, was dat dit elke sewe jaar braak moes lê: Ses jaar kan julle die lande saai en die wingerde snoei en die opbrengs oes, maar die sewende jaar moet die hele land ‘n rustyd hê, ‘n sabbatsjaar tot eer van die Here (Levitikus 25:3 – 4).

 

Oestyd

Die oestyd het gewoonlik sewe weke geduur. Verskeie metodes is gebruik: sommige het die hele plant met wortels uitgetrek; ander het die plante met ‘n skoffelpik uitgegrawe; die meeste het die koring met ‘n sekel afgesny. Voor yster algemeen beskikbaar was, was die sekel van hout gemaak met skerp klippunte aan die snykant. Hierdie afgesnyde koring is in gerwe saamgebind en na die dorsvloer gedra. Gars is eerste geoes en koring laaste.

Ons is gewoond aan silo’s vol graan, maar hier praat ons van klein hoeveelhede: Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram (Rut 2:17).

Die dorsvloer is gewoonlik op ‘n hoogte aangelê sodat die wind maklik die kaf kon wegwaai. Dit was ‘n harde gelyk oppervlak. Die gerwe is op die vloer uitgegooi en deur osse wat ‘n houtslee getrek het, uitgetrap. Later lees ons van swaarder instrumente wat gebruik word om die gerwe uit te trap. Jesaja verwys na wawiele (28:27) en ‘n skerp dorsslee, ‘n nuwe met baie tande (41:15). Die uitwanning was ‘n tydsame proses. ‘n Graaf of gaffel is gebruik om die materiaal in die lug te gooi. Omdat die kaf baie lig was, het dit weggewaai terwyl die graan op die dorsvloer agtergebly het. Die kaf is of verbrand of vir voer gebruik.

Die koring is gewoonlik in putte wat goed bedek is gestoor, alhoewel daar reeds in Deuteronomium 28:8 na graanskure verwys word.

Volgende keer gaan ons kyk na vrugteboerdery

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Sondeval

Die Groot Geloofswoordeboek: Sondeval

Sondeval

In die geskiedenis van die teologie is baie gemaak van die son­deval. Dit hou verband met die groot rol wat die eerste paar hoofstukke van Genesis in die algemeen in die teologie en in gewone Christene se denke speel. Veral uit Genesis 3 word vrees­lik baie afgelei oor die sonde. Dit word die “sondeval” ge­noem met die betekenis dat Adam en Eva se sonde nie van verby­gaande aard was nie, maar hulleself en die hele mensdom saam met hulle skuldig gemaak het voor God. (*Erfsonde) Die hele Ou Testament en Nuwe Testament word dan in die lig van hierdie sondeval verstaan.

Hierdie oorheersende rol wat die eerste hoofstukke van Gene­sis en veral Genesis 3 in die teologie speel, is nie in harmonie met die res van die Bybel nie. Veral hoofstuk 3 speel prakties geen rol in die res van die Ou Testament nie. Na Eva word nooit weer in die Ou Testament verwys nie, en behalwe in ‘n geslagsre­gis­ter (1 Kron 1:1) ook nie na Adam nie, selfs nie in Hosea 6:7 nie. Daar is “Adam” ‘n dorp (Jos 3:16).

Israel het hulleself en hulle verhouding met God dus nie in terme van Adam en Eva verstaan nie, maar eerder in terme van Abraham en die uittog. Dit is in skrille kontras met ‘n baie alge­mene neiging om omtrent alles na Genesis 3 terug te voer.

In die Nuwe Testament word wel na hierdie hoofstukke ver­wys, maar hulle kry nie ‘n selfstandige betekenis nie. Na die spe­sifieke inhoud van Genesis 3 word net ‘n paar keer in die Nuwe Testament verwys: na Eva en die slang (2 Kor 11:3; 1 Tim 2:14), moontlik na die slang wat deur Eva se nasate onder die voete vertrap sal word (Rom 16:20), en dan die baie algemene maar uiters belangrike verwysing in Romeine 5.

Die hooftema van Romeine 5 is nie Adam en sy sonde nie, maar Christus en sy geregtigheid. Adam word bygebring om Christus beter te verduidelik. Adam is die stellende trap, Christus die oor­treffende trap. Deur Adam se sonde het alle mense onder die oor­deel van God gekom, maar deur Christus se gehoorsaamheid word alle mense vrygespreek.

Vir die leer van die *erfsonde is Romeine 5 beslissend, maar Adam het nie ‘n selfstandige rol daarin nie. Al het daar nie regtig so ‘n persoon 6 000 jaar gelede geleef nie, kan hy nog altyd die sim­bo­liese betekenis hê dat alle mense onder die oordeel van God staan  en net deur Christus gered kan word.

Skrywer: Prof Adrio König




Die verskillende Afrikaanse Kerke

Die verskillende Afrikaanse Kerke – Kobus Kok

Herman vra:

Hoe verskil die NG,Geref,Hervormde en APK van mekaar? Waarmee verskil die APK van die res?

Antwoord:

Dr Johan van der Merwe antwoord:

Die Nederduitse  Gereformeerde Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika , Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk: Ooreenkomste en verskille.

Al vier hierdie Afrikaanse kerke vind hulle wortels terug in Reformasie van die 16e eeu en staan  daarom bekend as Gereformeerde kerke. Met die koms van Jan Van Riebeeck in 1652, is die eerste kerk van Gereformeerde oorsprong aan die Kaap gevestig. Die eerste gemeente is in 1665 amptelik gestig met die koms van die eerste predikant, ds. Johan van Arkel.  Daar word algemeen aanvaar dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk die kerk is wat deur van Riebeeck hier geplant is alhoewel hierdie standpunt deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika betwis word.  Na die Groot trek van 1834-35 het verdeeldheid egter vinnig op Transvaalse bodem onstaan.  In 1853 is die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika onder leiding van ds. Dirk van der Hoff gestig.  Politieke vrese en ʼn meer liberaal teologiese benadering was die vernaamste redes vir die ontstaan van die kerk. Slegs ʼn paar jaar later is die  Gereformeerde Kerk in Suid Afrika onder leiding van ds. Dirk Postma gestig in 1859.  Weerstand teen die “Evangelische gezangen” was die vernaamste rede vir hierdie wegbreek aksie.  Vir die volgende bykans 130 jaar sou hierdie drie Afrikaanse Gereformeerde Kerke ʼn groot rol in die geskiedenis van Suid Afrika speel.  Al drie die kerke het die apartheidsbeleid van die Nasionale Party Bybels fundeer en was kerke uitsluitlik vir wit Afrikaners, sogenaamde volkskerke.  In 1986 het die Nederduitse Gereformeerde Kerk ʼn nuwe beleidsdokument “Kerk en Samelewing” aanvaar.  Hierdie dokument het die beleid van apartheid veroordeel en kerklidmaatskap oopgestel vir mense van alle rasse.  In reaksie op die verandering van die beleid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het meer as 100 000 lidmate van die kerk weggebreek om in 1987 die Afrikaanse Protestantse Kerk te stig.  Alhoewel daar ook teologiese verskille tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Afrikaanse Protestantse Kerk bestaan, was die hoof rede vir die stigting van die kerk polities van aard.

ʼn Voëlvlug oor die ontstaansgeskiedenis van die 4 kerke toon aan dat daar veel meer ooreenkomste as verskille tussen die verskillende kerke is.

Die volgende ooreenkomste is belangrik:

  • Al vier die kerke gryp terug na dieselfde Gereformeerde wortels en onderskryf die drie Gereformeerde Belydenisskrifte naamlik: die Dordtse Leerreëls, die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis.
  • Al vier die kerke se voertaal is Afrikaans.
  • Al vier die kerke bestaan grotendeels uit wit Afrikaanssprekende lidmate.
  • Al vier die kerke is gegrond op ʼn Sinodaal Presbiteriaanse vorm van kerkregering waar die ampte van leraar, ouderling en diaken onderskei word.

Die volgende verskille kan getipeer word:

  • Op die terrein van die teologie vertoon die Nederduitse Gereformeerde Kerk baie duideliker evangeliese tendense as die ander drie Afrikaanse kerke. Dit is grootliks te wyte aan die invloed van die Skotse predikante en met name Andrew en John Murray wat ʼn sterk piëtistiese invloed op die Nederduitse Gereformeerde Kerk uitgeoefen het. Die groot herlewings wat in 1860 – 1861 in die Kaap plaasgevind het, staan in die teken hiervan. Dit is waarom die sogenaamde “Pinksterbidure” slegs in die Nederduitse Gereformeerde Kerk voorkom.
  • In aansluiting by die teologiese verskille verskil die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika van die ander drie Afrikaanse kerke omdat daar steeds slegs psalms en sogenaamde “skrifberymings” in die kerk gesing word terwyl Gesange saam met die Psalms in die ander kerke gesing word.
  • Politiek het deur die jare ʼn groot rol in al vier die Afrikaanse kerke gespeel. As die grootse van die vier kerke was die Nederduitse Gereformeerde Kerk se wegdraai van die Bybelse ondersteuning van Apartheid in 1986 baie meer dramaties en het dit direk aanleiding gegee tot die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het reeds die Bybelse fundering van Apartheid verwerp en met die gedagte van die kerk as ʼn kerk uitsluitlik vir die Afrikanervolk gebreek. Die Afrikaanse Protestantse Kerk beskou haarself egter steeds as ʼn volkskerk vir slegs blanke Afrikaners.
  • ʼn Laaste beduidende verskil tussen die kerke wentel om die hele saak van die vrou in die amp. In die Nederduitse Gereformeerde Kerk en in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika word vroue tot die amp van predikante, ouderlinge en diakens toegelaat. Die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk laat nie vroue in die amp toe nie.

Alhoewel daar in veel meer detail na die onstaan van die vier kerke gekyk kan word en die verskille fyner genuanseer kan word, vertel bogenoemde kursories die tragiese verhaal van kerklike verdeeldheid en verskeurdheid.  Persoonlike voorkeur en vooroordeel sowel as politieke verskille,  veel meer as teologiese verskille,   het waarskynlik ʼn groot rol gespeel in die onstaan van  vier Afrikaanse  kerke.  Of die verskeurdheid ooit weer herstel sal net die tyd en die omstandighede in Suid Afrika leer.

 

Skrywer: Dr Johan van der Merwe




Boerdery in die Ou Testament (1)

Boerdery in die Ou Testament (1) – Coen Slabber

Die Israeliete was hoofsaaklik boere of ambagsmanne. Feitlik almal was op een of ander wyse by die landbou betrokke. Selfs die beroepsmense, soos pottebakkers, het ‘n stukkie familiegrond en ‘n paar diere gehad. Net die heel rykes het nie die lande bewerk of die vee opgepas nie. As grondeienaars was hulle wel betrokke by die landbou. Daar was veral drie tipes boerdery: veeboerdery, saaiboerdery en vrugteboerdery. Ons gaan na elkeen van hulle kyk. [Daar is artikels oor etes en kosse op die webblad wat by hierdie reeks artikels aansluit.]

Veeboerdery

Skape is ongeveer 10 000 jaar gelede in Sentraal-Asië mak gemaak. In ongeveer 3 500 vC het die mens geleer om wol te spin. Veeboerdery is van die vroegste beroepe vermeld in die Bybel. Abel was ‘n veeboer (Genesis 4:2). Aanvanklik was dit ‘n seminomadiese bestaan, want die boere moes lang afstande met hulle vee trek om goeie weiveld te kry. Die aartsvaders was veeboere. Toe die farao Josef se broers ontmoet, wou hy weet wat hulle nering was. Hulle antwoord: Ons is kleinveeboere, ons en ons voorvaders (Genesis 47:2).

Skaapwagters was dus van die vroegste tye af belangrik. [In die Nuwe Testamentiese tyd was die skaapwagters nie gereken deur die samelewing nie.] Veral in die droë somer moes hulle lang afstande trek om geskikte water vir hulle kuddes te kry. Elke aand is die skape getel en in ‘n kraal gejaag. Die skaapwagter het self voor die opening geslaap. Hy word dus letterlik die “deur” vir die skape. Daarom sou die mense van destyds goed verstaan het wat Jesus bedoel het toe Hy van die goeie herder gepraat het (Johannes 10:1 – 16).

Om skaapwagter te wees, was ‘n gevaarlike werk. Daar was destyds nog leeus en bere in Palestina. Toe Dawid aanbied om teen Goliat te veg, was almal maar huiwerig om sy aanbod te aanvaar – hy was jonk en het geen ervaring van oorlog gehad nie. Hy verdedig homself: As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ‘n leeu of ‘n beer en dra ‘n lam weg uit die kudde, gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan (1 Samuel 17:34 – 36). Amos, die skaapboer uit Tekoa, skryf: So sê die Here: Soos ‘n skaapwagter twee pootjies of ‘n stukkie oor weggryp uit ‘n leeu se bek …

Die kuddes was dikwels gemeng – skape en bokke. Die bokke kon die skaapwagter aanjaag, maar die skape moes hy lei – hy stap voor en hulle volg. Die grond waarop die vee gewei het, was minder produktief as die grond wat vir saaiboerdery gebruik is. Dit was gemeenskaplike grond.

Veeboerdery was baie belangrik:

1.       Wol en bokhaar is gebruik vir klere.

2.       Bokke het melk gegee.

3.       Bokke en skape was ‘n bron van vleis.

4.       Daar is baie van bokke en skape gebruik gemaak as offers in die tempel.

Die skaapwagter en sy skape is ook in die Nuwe Testament belangrik. Jesus is die goeie herder wat sy lewe vir sy skape aflê. Hy vertel die gelykenis van die verlore skaap (Lukas 15:1 – 7). Die skaapwagter was ‘n beeld wat algemeen van God en Jesus gebruik is. Dink aan die bekende Psalm 23: Die Here is my herder. God sê: Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei (Jeremia 3:15). As ontroue herders net vir hulleself en nie vir die kudde sorg nie, tree God teen hulle op: Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug (Esegiël 34:10). God is die herder vir Israel en sorg vir elke aspek van hulle welstand. Petrus skryf dat die ouderlinge die kudde wat God aan hulle toevertrou het goed moet oppas. En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang (1 Petrus 5:4).

In die volgende artikel gaan ons na saaiboerdery in die tyd van die Ou Testament kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber