Die Groot Geloofswoordeboek: Masoretiese teks

Die Groot Geloofswoordeboek: Masoretiese teks

Die Masoretiese teks is die Hebreeuse Ou Testament, die Jode se “Heilige Skrif” of Bybel waarvan hulle teen ongeveer 200 vC ‘n Griekse vertaling gemaak het, die *Septuagint. Vir eeue lank was die Jode se Bybel net in medeklinkers geskryf sodat hulle dit baie goed moes ken om dit te lees en te verstaan. Dit is nie seker of daar net een teks van hulle Bybel was, en of daar verskillende tekste was nie. Die Septuagint verskil soms so drasties van die uitgawe van die Masoretiese teks wat ons ken, dat dit makliker is om te aanvaar dat daar verskillende weergawes was.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Maria

Die Groot Geloofswoordeboek: Maria

Maria was ‘n baie algemene naam in Bybeltye. In die Ou Testa­ment kry ons die Hebreeuse vorm Mirjam as die suster van Moses en Aäron (Eks 15:20). In die Nuwe Testament is daar sprake van sewe verskillende Marias:

•             Maria die moeder van Jakobus (Matt 27:56).

•             Die “ander” Maria (Matt 27:61).

•             Maria die vrou van Klopas (Joh 19:25).

•             Maria die suster van Marta (Joh 11:1).

•             Maria Magdalena (Matt 27:56).

•             Maria die moeder van Markus (Hand 12:12).

•             Maria aan wie Paulus groete stuur (Rom 16:6).

•             En natuurlik die belangrikste een: Maria, Jesus se moeder.

 

Die Katolieke Kerk het ‘n baie groter waardering vir Maria, die moeder van Jesus, as die Protestante. Hulle het selfs besondere leer­stukke oor haar geformuleer, soos haar onbevlekte ontvange­nis (dat sy nie aan die *erfsonde deel het nie), haar voortdurende maagdelikheid (dat sy ook nooit na Jesus se geboorte met Jo­sef ge­meenskap gehad het nie), haar sondeloosheid, en haar per­soon­like hemelvaart. Katolieke motiveer haar hemelvaart soms met die gedagte dat Maria ons dan as’t ware vooraf al in die hemel ver­teenwoordig. Maar Protestante is oortuig dat Jesus dit reeds doen en dat ons nie nog ‘n verteenwoordiger nodig het nie. Hulle is ook bang dat Maria uiteindelik vir Jesus kan verdring.

Baie Katolieke bid ook tot haar om by Jesus vir hulle in te tree. Die gedagte is skynbaar dat dit nederiger is om tot haar te bid as sommer direk tot Jesus, en ook dat sy besondere toegang tot Jesus sal hê omdat sy sy moeder is. Protestante sê dikwels dat die Katolieke haar aanbid, maar ‘n mens moet versigtig wees met so ‘n stelling. Dat hulle besondere aandag aan haar gee, dat daar sekere individue is wat haar aanbid en miskien selfs ver­goddelik, is sekerlik waar. Maar dit is nie die amptelike leer van die *Katolieke Kerk nie.

Daar word ‘n paar besondere dinge deur die engel vir haar gesê, maar dit is nie die belangrikste nie. Dit wat die Katolieke aangegryp het, is haar reaksie op die engel se aankondiging dat sy van die Heilige Gees ‘n kind gaan ontvang. Sy sê: “Ek is tot be­skikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Luk 1:38). Dit het vir hulle die model geword van hoe ons as men­se moet reageer op die roepstem en opdragte van die Here.

Verder is daar die aangrypende feit dat sy die moeder van ons Verlosser is. Omdat ons Jesus se Goddelikheid bely, praat die Ka­tolieke graag van haar as die moeder van God. En in ‘n af­ge­leide sin is dit ook waar. Maar die meeste Protestante voel tog ‘n bepaalde huiwering daaroor.

In die Evangelies speel Maria nie regtig ‘n belangrike rol nie. Sy neem ook nie besondere inisiatief nie. Maar ‘n mens moet nie te veel daaruit aflei nie. Die Evangelies is nie biografieë nie, maar heilsboodskappe. Baie interessante ge­gewens is nie daarin opge­neem nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Maranata

Die Groot Geloofswoordeboek: Maranata

Maranata is ‘n Aramese woord wat in sommige vertalings in 1 Ko­­­rin­tiërs 16:22 voorkom. In die 1983-vertaling is dit vertaal met: “Kom, Here,” maar dit kan ook beteken: “Die Here het gekom.”

Dis ‘n woord wat waarskynlik by die nagmaal gebruik is as ‘n op­roep aan die Here om tydens die nagmaalsviering teenwoor­dig te wees (in die betekenis van: “Kom, Here”) of as ‘n versekering dat die Here in die nagmaal by hulle is (in die betekenis van: “Die Here het gekom”). As oproep kon dit die dubbele betekenis gehad het van ‘n versugting dat die Here in die nagmaal by hulle moet wees én dat Hy weer moet kom soos Hy beloof het (die *Wederkoms van Christus, Op 22:20).

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Manlikheid van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Manlikheid van God

Manlikheid van God

Die vraag of God manlik is, is deur die feministiese teologie (*Fe­minisme) op die tafel gesit. Hierdie vraag is gebore uit die hart van vrouens wat vra hoe dit is dat almal wat in die Bybel belangrik is, mans is: konings, profete, priesters, Bybelskrywers, Jesus, die dissipels. Ons hoor net van die aartsvaders, van Abraham, Isak en Jakob, en nooit van enige aartsmoeders nie. En God self word manlik voorgestel.

Die kerk het die Bybel hierin gevolg: net mans kan priesters wees in die Katolieke Kerk, net mans kon eeue lank predikante wees in die meeste ander kerke. Wat sê dit vir die selfbeeld van vrouens? Moet hulle net deur die genade van mans leef? As God manlik is, ken Hy die gevoelens van vrouens? Kan Hy hulle verstaan? Daar is selfs radikale feministe wat die Christelike geloof afgesweer het omdat hulle oortuig is dat dit ongeneeslik mansgesentreerd is (an­drosentries, patriargaal). Die Katolieke Kerk hou inderdaad nog vas aan sy leer dat net mans priesters mag word omdat ‘n priester God moet verteenwoordig en God manlik sou wees.

‘n Mens moet versigtig wees met die gedagte dat God manlik is. Dis inderdaad waar dat God in die Bybel oorwegend manlik voor­gestel word, maar nie uitsluitlik nie. Daar word inderdaad meestal in manlike terme na God verwys (Vader, Koning, Hy), en Jesus wat Hom openbaar, is ‘n man. Ook na die Gees word in manlike terme verwys.

Maar daar word ook in vroulike terme na God verwys. Een van die mooiste beelde vir God is dat Hy vir ons sorg soos ‘n vrou vir haar kinders. Die verwysing in Deuteronomium 32:18 is merkwaar­dig, veral in die 1953-vertaling. In een enkele vers word God met ‘n vader én ‘n moeder vergelyk: die vader wat die kind verwek, en die moeder wat aan die kind geboorte gee. Die 1983-vertaling gee die Hebreeus ongelukkig nie volledig weer nie.

Verder word God vergelyk met ‘n ma wat nooit haar baba sal vergeet nie (Jes 49:15), en met ‘n ma wat haar kind veilig laat voel (Ps 131:2; Jes 66:13). Die sorg van die Here vir Israel tydens die woestyntog weerspieël die rol van die vrou wat aan die gesin kos en water voorsien. Hierdie sorg word spesifiek uitgedruk as Moses teenoor die Here kla: “Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring?” (Num 11:12). Die impli­kasie is duidelik dat die Here dit gedoen het; dus nogeens ‘n vroulike beeld. Elders lees ons dat die Here sê: “Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra” (Hos 11:3) – ook beelde van ‘n vrou.

Jesus self word met die wysheid vereenselwig wat ‘n vroulike figuur is (Spr 8:1). ‘n Uitspraak wat volgens Lukas 11:49 deur die wysheid gemaak is, word in Matteus 23:34 aan Jesus toegeskryf. En elders (11:19) verwys Matteus na Jesus met die woorde: “Maar die wysheid is geregverdig deur haar werke,” ‘n sin wat ongelukkig glad nie herkenbaar is in die 1983-vertaling nie. Dit gebeur ook in Lukas 7:35 wat net so vreemd vertaal is. Jesus word dus met die vroulike wysheid gelykgestel.

Daar is ‘n laaste saak wat in hierdie verband belangrik is. Daar is ‘n taamlik algemene oortuiging dat mans en vrouens ver­skil­lende eienskappe het. Daar sou so iets wees soos ‘n algemeen manlike natuur, en ‘n algemeen vroulike natuur, al sal almal na­tuur­lik erken dat daar kleiner uitsonderings is. Mans sou dan ver­standsmense wees: vinnig, kreatief, vol inisiatief, hulle wil leiding neem, is in­gestel op mag en is mededingend, hul­le het teg­nologiese aanleg en ana­litiese denke. Vrouens sou ge­voels­mense wees: spontaan en kom­mu­nikatief, vol liefde, ver­draag­samer, hulle kan makliker ver­geef en vergeet.

Kom ons aanvaar vir die oomblik dat dit waar is. Watter van hierdie eienskappe sou ons die maklikste in God herken? Baie mense sal dadelik dink aan die manlike eienskappe van mag, inisiatief, leiding, kreatiwiteit, konfrontasie (Jesus teenoor die Fariseërs en bose magte). En daar kan min diskussie hieroor wees.

Maar wat van liefde, verdraagsaamheid, kommunikasie, ver­gifnis? Is dit nie net so belangrik, of dalk belangriker eienskappe van God nie? Is God nie manlik én vroulik as ons in hierdie ter­me aan Hom dink nie? Is sy een “kant” nie net so belangrik as sy ander “kant” nie? En is die een nie volkome afhanklik van die ander nie? Sê nou God het net mag en inisiatief gehad, en nie liefde en ver­draagsaamheid nie? Dit sou ‘n verskrikking gewees het.

Miskien is dit die beste om te aanvaar dat God wel “manlike” en “vroulike” eienskappe het, maar nie manlik of vroulik is nie, maar eenvoudig nie geslagtelik nie (beyond gender). Daar word trouens ook nie in die Bybel enige seksualiteit aan Hom toegeskryf nie, selfs al word sy verhouding met ons dikwels in terme van die huweliksverhouding uitgedruk.

In die Bybel word om ‘n paar redes oorwegend in manlike terme na God verwys. Eerstens is taal nou eenmaal so dat ‘n mens net in óf manlike óf vroulike terme na ‘n mens kan verwys, en nie in beide of in onsydige terme nie. God is nie ‘n “dit” nie. Omdat Israel in ‘n androsentriese (mansgesentreerde) same­le­wing geleef het, was dit vanselfsprekend dat hulle na God as manlik sou verwys. En verder kan ‘n mens ook aanvaar dat hulle inderdaad aan God as ‘n man gedink het. Maar dis nie deel van die boodskap van die Bybel nie. Geen faset van sy werk of ons heil word aan sy manlikheid verbind nie. Dit is eenvoudig deel van die kultuur van die tyd, net soos die ondergeskikte rol van die vrou. (*Onderdanigheid van die vrou, *Woord as titel vir Jesus)

 

Skrywer: Prof Adrio König