Die Groot Geloofswoordeboek: Heilig

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilig

Heilig

Hierdie woord word in verskillende betekenisse gebruik. God is heilig, en dit beteken dat Hy anders is as die sondaarmens, dat Hy ander waardes het en anders optree. Dat Hy heilig is, kan beteken dat Hy soos ‘n vuur die sonde verteer (Heb 10:26-31), maar ook dat Hy dit nie oor sy hart kan kry om die volk hulle verdiende loon te gee en hulle te verwerp nie (Hos 11:8-9). Om­dat God heilig is, word ons ook opgeroep om heilig te wees (1 Pet 1:15-16). Hierdie heiligheid beteken ook om anders te wees, volgens ‘n ander waardestelsel as die ongelowiges te leef. (*Beeld van God)

 

Verder kan heilig “afgesonder, opsy gesit” beteken. Die tem­pel was heilig, die altaar en die voorwerpe rondom die altaar was hei­lig. Dit beteken dat dit volkome aan die diens van God gewy was. Sagaria verwys na die groot dag van die Here wat kom. Daar­die dag sal selfs die klokkies aan die perde se tuie “heilig” wees (1953-vertaling), of “gewy wees aan die Here” (1983-vertaling). In hierdie sin is die gemeente en die gelowiges heilig, al is hulle nog nie vry van sonde nie. Die gemeente word in die Briewe “heiliges” genoem (1953-vertaling) of dié wat “vir God afgesonder is” (1983-ver­taling). Dit geld selfs van gemeentes waarin daar aanstootlike sondes voorgekom het (1 Kor 1:2; 5:1 ev). Dit was dus nie bedoel as “sedelik volmaak” nie, maar “vir die Here opsy gesit”.

Maar juis daarom moet gelowiges ook “heilig” lewe, en dan het heilig ‘n sedelike betekenis van “sonder sonde”. (*Heiligmaking, *Perfeksionisme)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heil

Die Groot Geloofswoordeboek: Heil

Heil • Saligheid • Ekologie • Hulpbron-uitputting Omgewingsbesoedeling Oorbevolking

Heil – ‘n omvattende begrip

Die groep woorde wat hier saam behandel word, kan vir baie lesers na strange bedfellows lyk, maar dit sal gaandeweg dui­delik word dat hulle baie goed by mekaar pas.

“Heil” is ‘n woord met ‘n baie ryk betekenis. Dit kan goedskiks weer­gegee word met iets soos: “Dit gaan goed,” maar dan in ‘n om­vattende sin. “Heil” hou verband met “heel”, en “heel” beteken dat iets nie gebreek en stukkend is nie. Dit gaan veral om dit wat God doen. Hy maak heel wat stukkend is. Daar is mense wat graag praat van “sieleheil”. Hulle bedoel dat die Here ‘n sondaar se ver­hou­ding met Hom weer heelmaak, regmaak, dat Hy ‘n mens se son­de vergeef en hom of haar as sy kind aan­neem.

Maar heil sluit baie meer in. God het alles gemaak, en alles is deur ons sonde aangetas. Daarom wil Hy weer alles heelmaak en in sy heil laat deel. Ons sien dit duidelik in Jesus se aardse bediening. Hy vergeef nie net sonde nie, Hy genees mense, Hy gee mense in die woestyn kos en Hy bevry hulle van die mag van die duiwel wat hulle lewe verskeur. (*Wonderwerke)

Die besetene van Gadara is ‘n sprekende voorbeeld. As jy wil lees van ‘n mens wie se lewe aan repe geskeur is deur bose magte, lees Markus 5:3-5. En as Jesus hierdie arme mens van die bose verlos, lees ons presies die teendeel: hy sit met klere aan en by sy volle verstand (5:15). Dit is heil. Dit maak ons hele lewe heel, nie net ons “*siel”, ons verhouding met die Here nie. In Han­de­linge gebruik Petrus dieselfde Griekse woord vir die man wat gesond gemaak is en die verlossing in die Naam van Jesus (4:9, 12). Genesing is deel van die heil wat Jesus bring.

Dit kom nog sterker na vore in die *opstanding. Vir Paulus is die hele evangelie op die spel as Jesus nie opgestaan het en ons nie sal opstaan nie (1 Kor 15). God het ons gemaak soos ons is, en Hy red ons soos ons is. En omdat ons liggaamlike wesens is, is die opstanding ‘n wesenlike deel van die heil, van God se heelmaakproses.

Uiteindelik sien ons dit op die laaste bladsye van die Bybel die dui­delikste. Die Bybel eindig met die nuwe aarde. Selfs die aarde is deur die Bose aangeval en verrinneweer. Daarom gee Jesus mense in die woestyn kos, maak Hy ‘n storm stil, en vervloek Hy ‘n vyeboom wat nie vrugte aanhet nie. Die aarde is gemaak om die mense te onderhou, nie om die mense se lewens te bedreig nie. En uiteindelik sal Hy dan volgens sy belofte die aarde nuut maak sodat daar geen siekte en dood en trane meer sal wees nie. Dan dra die bome elke maand vrugte. Dan het Hy alles nuut/heel gemaak (Op 21:4, 5; 22:2).

Heil is omvattende heelwees soos God dit bedoel het. En Hy wil sy hele skepping heelmaak.

 

‘n Heel natuur

Daarom is die toestand van die natuur van groot belang (Eko­logie). Ons kan nie ongeërg aangaan en op die ou end die om­ge­wing besoedel en die hulpbronne uitput of die aarde oor­bevolk nie. ‘n Beheersde, verantwoordelike gebruik van die na­tuur is ‘n deel van die evangelie. Dit word nie in die Bybel beklemtoon nie (al staan Gen 2:15 wel daar) omdat daar in daardie tye nog nie dié soort probleme was wat ons vandag ervaar nie. Ons het hier ‘n in­teressante voorbeeld daar­van dat ons soms uit gegewens in die Bybel gevolgtrekkings moet maak wat nie só in die Bybel self uit­gespel word nie. By die *kinderdoop en die Sondagviering (*Son­dag) het ons dieselfde situasie.

Ons het wel alreeds in die Bybel spore daarvan dat alles in die natuur nie in orde is nie. Die profesieë oor die Messiaanse ryk beeld ‘n ander natuurprentjie uit as waaraan ons gewoond is, met lui­-perds en bokkies, en slange en kinders wat saam is (Jes 11:6-8).

 

En die hemel?

Dit kan ‘n leser opval dat die woord *”hemel” glad nie gebruik is in hierdie beskrywing van heil nie. Daar is baie Christene wat dadelik aan die hemel dink as dit om heil gaan. Hulle praat dan ook by voorkeur van “saligheid“. Om hemel toe te gaan is vir hul die eintlike inhoud van die heil of saligheid.

In die Ou Testament is daar geen “hemelverwagting” of “he­mel­­verlange” nie. In die Ou Testament beteken heil om in hier­die lewe op hierdie aarde (heel spesifiek in die land Kanaän in die om­ge­wing van Jerusalem en die tempel) in ge­meenskap met die Here te leef en sy seën te beleef in die vorm van voorspoed. Voor­spoed sluit dan goeie oeste in, vrede, ge­sond­heid, vry van vyan­de. (*Voor­spoedsevangelie) Maar in dit al­les is die gemeenskap met die Here die oorheersende faktor.

Daar is geen hemelverlange nie. Daar is selfs uitsprake wat dit uitsluit, soos: “Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee” (Ps 115:16). Waar daar van hemel en aarde in een asem sprake is, oorheers die belangstelling in die aarde heeltemal (Gen 1). Ons kry dit selfs nog in die Nuwe Testament waar ons lees van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, maar al wat werklik in besonderhede bespreek word, is die nuwe aarde/Jerusalem (Op 21-22). Daarom verdwyn die belangstelling in die aarde ook nie in die Nuwe Testament nie.

 

Heil op aarde

Omdat heil lewe-in-gemeenskap-met-die-Here-op-die-aarde is, is daar in die Ou Testament ook geen belangstelling in “die lewe na die dood” (*Dood) nie. Daar was ook geen gedagte van sinvolle lewe na die dood nie. Eers deur die geloof dat daar ‘n opstanding is, wat baie laat in die Ou Testament ontwikkel, word die moontlik­heid geskep dat iemand kan uitsien na die dood (Fil 1:21 ev). En dit word eers ‘n werklikheid deur Jesus se *opstanding omdat Hy die mag van die dood breek.

Omdat hierdie lewe die enigste geleentheid was om die heil as die gemeenskap met die Here te geniet, is die gelowige van die Ou Testament verward as dit sleg gaan met hom of haar. In die Ou Tes­tament seën God juis sy kinders en straf die on­ge­hoorsames. As gelowiges dan ly, was dit onbegryplik en het dit dikwels hulle geloof aangetas. Dink maar aan die geloofstryd van die digter van Psalm 73. Hy skryf selfs dat hy byna sy geloof verloor het (73:2).

 

Heil en aarde kan nooit van mekaar losgemaak word nie. God het die aarde gemaak om hier in gemeenskap met ons te leef, en Hy laat vaar nie die werk van sy hande nie (Ps 138:8). Trouens, die Bybel eindig met die wonderlike perspektief dat die hemel op die nuwe aarde sal neerdaal. Immers, die hemel is God se woonplek, en as Hy dan op die nuwe aarde by ons kom woon, kom die hemel ook na ons toe. Dan sal dit in die volle sin van die woord “hemel op aarde” wees. Dis ‘n wesenlike deel van die evangelie.

Daar is wel in die Nuwe Testament uitsprake wat mense laat dink aan die hemel. Daar is veral Jesus se belofte dat Hy vir sy kinders plek gaan berei en hulle dan sal wegneem om by Hom te wees (Joh 14:3). Hierdie uitspraak laat egter genoeg ruimte vir die perspek­tief in Openbaring 21-22 dat die nuwe Jerusalem uit die hemel op die nuwe aarde neerdaal en God en die Lam (21:22) dan by ons kom woon. Nadat sy kinders in die lug opgeneem is by die wederkoms (Joh 14:3; 1 Tess 4:17), sal ons as die inwoners van die nuwe stad saam met Hom op die nuwe aarde neerdaal. Onthou, die nuwe Jerusalem is die stad én die bruid in die stad (Op 21:2).

 

Heil – ‘n heel lewe

Vir ons persoonlike lewe het die betekenis van heil as ‘n heel lewe besondere betekenis. Ons is sondaars met stukkende lewens wat deur sonde verskeur is. En uit genade kom die Here ons deur die Gees weer heelmaak. Die begrip *wedergeboorte het byna dieself­de betekenis: die Here laat ons weer/nog ‘n keer/oor gebore word om­dat ons eerste geboorte nie genoeg was nie.

In heil gaan dit om die volheid van die lewe in gemeenskap met God en met ander mense, veral ander kinders van God. Dat ons heelgemaak word, het die implikasie dat ons gemaak word wat ons eintlik bedoel is om te wees. Dit beteken dat ons ten volle mens ge­maak word, nie engele of bonatuurlike wesens nie. God het ons as mense gemaak, en Hy herstel ons na sy oorspronklike bedoeling.

 

Maar mense het ‘n geweldige roeping. Ons is gemaak as die *beeld van God. Dit beteken dat God ons weer in staat stel om sy doel met ons te bereik: om Hom te verteenwoordig of teen­woordig te maak. Daar is vir mense geen hoër roeping as om mense te wees nie: beelde van God.

Dit bring ‘n baie bekende uitdrukking onder verdenking: “Ek is ook maar net ‘n mens.” Ons gebruik dit gewoonlik om onsself te verontskuldig as ons, dikwels die hoeveelste keer, iets verkeerd ge­doen het. Maar as God bedoel het mense moet sy beeld wees, sou dit nader aan die waarheid wees om te sê: “Ekskuus, ek is nog nie heeltemal ‘n mens nie.” God het ons nie bedoel om te misluk nie, maar om te slaag. En deur die krag van die Gees kan ons. (*Per­feksionisme)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Halleluja

Die Groot Geloofswoordeboek: Halleluja

Dit is, net soos *amen, ‘n Hebreeuse woord wat nie vertaal is nie, maar net in ons letters oorgeskryf is. Dit kom van twee woorde af. Die “hallelu” is ‘n werkwoord wat ‘n oproep is om te loof/prys/ver­heerlik, en die “ja” is ‘n verkorte vorm van Jahwe, die *Naam van God wat gewoonlik met *”Here” vertaal is. Halleluja beteken dus iets soos: “Laat ons die Here prys/loof.”

 

Skrywer: Prof Adrio König




Tyd en horlosies

Tyd en horlosies – Jan van der Watt

Tyd het jy nie op horlosies gesien nie.

As ons kyk hoe horlosies die moderne lewe beheers, besef ons hoe ʼn belangrike rol tyd regtig in ons lewe speel. In die antieke tyd was tyd ook belangrik, maar die mense het anders oor tyd gedink as ons.

Omdat hulle nie kalenders of almanakke gehad het nie, het hulle tyd aan die son en maan gemeet of aan groot gebeure. Daarom hoor  n mens “in die soveelste regeringsjaar van keiser Augustus,’ want dit was ʼn punt in die geskiedenis wat almal onthou het. Daarom is dit nie snaaks dat ons nie presiese aanduidings het van wanneer Jesus gebore is of wanneer sy openbare bediening begin het nie. Gewone mense het nie so tyd gehou nie. Paulus laat weet die Romeine dat hy hulle wil kom sien, maar noem nie ʼn dag of datum nie (Romeine 15:24).Gewone mense het nie met kalenders gewerk nie.

Afsprake het ook anders gewerk, As jy nie ʼn horlosie het nie, kan jy mos nie iemand sê iemand moet seweuur die aand iewers wees nie. Jy moet hom vir vanaand uitnooi en dan verwag dat hy enige tyd deur die loop van die aand sal opdaag. Die koning het byvoorbeeld in Matteus 22 mense uitgenooi vir n spesifieke dag. Toe sy kos gereed is, het hy sy slawe uitgestuur om vir die mense te sê dat nou tyd is, hulle kan maar kom (sien Lukas 14:17)

Die antieke mense was ook nie veel oor die toekoms gepla nie. Hulle was mense wat in die hede geleef het. Die hier en nou het getel. Matteus 6:43 sê juis dat die gelowige hom nie oor môre moet bekommer nie. Hy moet eerder vir vandag leef.

As daar egter iets in die hede verkeerd loop of jy soek antwoorde op vrae, het jy die antwoorde in die verlede gaan soek. Daar in die geskiedenis kon jy die voetspore van God sien. Daar  kon jy sien wat Hy in sekere situasies doen en wat jy kan verwag. Jy kyk dus terug in die verlede en leer uit die geskiedenis die lesse wat jou help om in die hede antwoorde te vind. God verander mos nie, Hy bly altyd dieselfde en daarom sal Hy vandag optree soos Hy in die verlede ook  opgetree het. Daarom het die skrywers van die Nuwe Testament ook soveel moeite gedoen om te wys dat Jesus met die profesieë van die verlede ooreenstem. God se voetspore deur die geskiedenis het op Jesus uitgeloop.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt