Wie presies is die Kumraangemeenskap?

Wie presies is die Kumraangemeenskap? – Jan van der Watt

Ons lees wel nie van die Kumraangemeenskap in die Bybel nie, maar die ontdekking in 1947 van hulle biblioteek naby die ou ruïnes van hulle dorpie langs die Dooie see, het hulle meer as bekend gemaak. (Die dorpie lê 400 meter onder seespieël). Hulle was ‘n gemeenskap van godsdienstige Jode wat in die tyd van Jesus wes van die Dooie See gebly het om so ver as moontlik weg te kom van die slegte invloede van die stad Jerusalem af. Hulle het hulle sowat 100 jaar voor Jesus se geboorte daar begin vestig. Hulle word dikwels met die Esseners (ook ʼn konserwatiewe Joodse godsdienstige groep) verbind. Omdat Johannes die Doper in daardie area opgetree het en ook net sekere kos (sprinkane en heuning) geëet het, verbind geleerdes hom dikwels met hierdie groep, maar dit is nie seker nie.

Die belangrike van die Kumraangemeenskap is dat uit die baie dokumente wat in hulle biblioteek bewaar is, ons sommer baie oor die Jode wat in Jesus se tyd geleef het, kan leer. Dit het ‘n hele wêreld oor die Jode vir ons oopgemaak. (Die biblioteek het 2000 jaar onontdek in die grotte in die berge rondom die Kumrangemeenskap se dorpie gelê. Die grotte was so hoog en onbereikbaar dat niemand die moeite gedoen het om dit te probeer bereik nie. Dit was egter toe ‘n herdertjie ‘n klip in een van die grotte gegooi en potte hoor breek het, dat hulle ondersoek gaan instel het. Dit het tot die ontdekking van hierdie wonderlike ou biblioteek gelei.).

Die dorpie self is sedert die vyftigerjare goed opgegrawe. Daar was verskeie rituele baddens, kamers waar die gemeenskap saamgekom het, waar hulle dokumente gedupliseer het, plekke waar hulle potte gemaak het om hulle dokumente in te stoor, en so meer. Omdat hulle in die woestyn gewoon het, was daar ook diep wateropgaartenks in die rots uitgekap. Daar is heelwat kanale wat hulle in staat gestel het om met die bietjie reën wat geval het, sommer baie water op te gaar. Hulle het natuurlik baie water nodig gehad om elke dag ritueel te bad. ‘n Interessantheid is dat daar geen slaapkamers in die ruïnes gevind is nie. Dit beteken dat die mense nie in die geboue self geslaap het nie. Daar is egter tekens gevind dat hulle in die grotte in die omgewing geslaap het. ʼn Ander alternatief is dat hulle ook in tente rondom hierdie geboue by Kumraan gebly het. Daar is ‘n begrafplaas met sowat 1000 grafte gekry. Behalwe vir enkele vroue en een kind is die grafte almal van mans. Die vroue was moontlik met die lede getroud voor hulle by die gemeenskap aangesluit het en kon dus ook daar gewoon het.

In 68 nC is die dorpie deur die Romeine vernietig en dit is nooit weer opgebou nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11) – Jan van der Watt

Mense buite die groep het jou nie veel aangestaan nie

Omdat jou belange so nou verweef is met die groep se belange, het jy mense buite jou groep met wantroue bejeën. Jy was geen verantwoordelikheid of lojaliteit aan hulle verskuldig nie. Die Gallio-episode (Handelinge 18:14-17) illustreer dit mooi: Gallio het die probleme as binne-Joodse gevegte gesien en besluit dit gaan hom as Romeinse heerser nie aan nie. Hy sê dus dat hulle hulle eie probleme moet uitsorteer (sien ook Johannes 18:31; 19:6,12).

Gasvryheid is tog van almal verwag

Gasvryheid was belangrik in die antieke tyd en was nie net vir vriende bedoel nie. Daar was nie hotelle nie en die losieshuise was baie swak. ʼn Mens kon dit ook nie altyd waag om alleen in die veld te slaap nie. Dit was gevaarlik vanweë die wilde diere en selfs rowers. Jy het ook nie altyd kos op so ʼn lang reis gehad nie. In groot stede is sulke mense toegelaat om in die stadspoort te slaap; die poort het ʼn groot saal gehad met deure na buite en na die stad se kant toe. Hier kon die mense veilig slaap, maar hulle kon ook nie die stad binneval nie. Die gasvryheidsvereiste is dus nagekom sonder om die stad in gevaar te stel.

As jy egter by ʼn privaat gesin om gasvryheid gaan aanklop het, kon hulle jou dit gewoonlik nie weier nie. Vir die tyd wat jy by die gesin deurgebring het, was jy as lid van die gesin gesien. Dit was natuurlik gerieflik vir sendelinge wat ver gereis het. Hulle kon maklik by mede-Christene tuisgaan (Handelinge 14:28; 16:15, 40; 17:7).

Net in Lukas 10:34 lees ons van ʼn losieshuis in die Bybel. In Markus 14:14 en Lukas 22:11 verwys die Griekse woorde na kamers.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Vloekwoorde

Vloekwoorde – Adrio König

Paul vra:

Ek wil weet: wat klassifiseer ‘n woord as ‘n vloekwoord? Hoe weet ons watter woorde is vloekwoorde, en ook waar daaroor gepraat word in die Bybel vir verwysing.

Antwoord:

Prof. Adrio König antwoord:

Oor vloek in die algemeen, soos vloek, vervloek, kan jy baie interessante stof kry deur net ‘n konkordansie te raadpleeg.

Oor vloekwoorde self kry ek min in die Bybel. Simeï vloek vir Dawid nie met wat ons vloekwoorde noem nie, maar eerder met skelwoorde soos moordenaar en skurk (2 Samuel 16). Kyk NJB se vertaling!

Daar is nie ‘n bepaalde groep woorde wat vloekwoorde is nie. Dis die gesindheid waarmee ‘n woord uitgespreek word, wat dit vloek maak. Dis ‘n gesindheid van weersin, aggressie, vernedering. Die woorde kaffer of blerrie kan as ‘n vloekwoord gebruik word, of as ‘n gewone woord. “Kaffer” kan vernederend gebruik word, selfs vir ‘n witmens, of kan rustig in ‘n lesing gebruik word om aan te dui hoe die witmense in die 17e eeu na swart mense verwys het.

Wat vloek verkeerd maak, is dus nie die spesifieke woord nie, maar eerder die gesindheid waarmee die woord uitgespreek word. Daarom kan enige woord as ‘n vloekwoord gebruik word. ‘n Mens kan “knapsakkerwels” aggressief en vernederend gebruik.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Sephoris – ’n raaisel

Sephoris – ‘n raaisel – Jan van der Watt

Een van die groot raaisels rondom Jesus en sy familie is dat daar nêrens in die Nuwe Testament na die stad Sephoris verwys word nie.

Sephoris is ‘n groot stad naby aan Nasaret – dit word nou opgegrawe. Dat die stad prominent en ryk in die tyd van Jesus was, is nou meer as seker. Dit was ook waarskynlik die plek in die omgewing van Nasaret waar die meeste bouwerk en geld was. Nou weet ons ook dat Jesus en Josef timmermans (bouers) van beroep was. Nasaret was maar klein (so tussen 1000 en 2000 mense) wat beteken het dat daar nie so baie werk, veral bouwerk, was nie. Nou is die vraag: alle logika dui daarop dat Jesus en sy pa waarskynlik ook in Sephoris sou moes gaan werk… maar ons hoor niks daarvan nie. Daar is nog ‘n groter vraag: Sephoris was op die “voorstoep” van Nasaret. Dit was die grootstad van die omgewing. Ons lees dat Jesus baie rondgegaan het (Kana, Sesarea, Tirus, Sidon, ens), maar ons lees nêrens dat Jesus Sephoris besoek het, oor die mense gepraat het, of oor hulle bekommerd was nie.

‘n Mens wonder waarom?

Skrywer: Prof Jan van der Watt