Krap jouself met potskerwe

Krap jouself met potskerwe – Jan van der Watt

Ons lees dat Job homself op die ashoop met “potskerwe” krap. Dit was altyd vir my moeilik om te verstaan.

Eers net iets oor potskerwe. Kleipotte en borde, ens. was natuurlik die normale gebruiksartikels. Daar is langs sekere dorpe ashope opgegrawe met hope en hope potskerwe. Wanneer mense skynbaar gevoel het die potte is onrein, of nie meer bruikbaar nie, is dit op ‘n hoop gegooi. Potskerwe was dus volop.

Die gekrappery is iets anders. Mense het normaalweg nie gebad nie, hoewel hulle dit wel gedoen het as daar water was. Rituele baddens was ook bekend. Die manier waarop mense hulle skoongemaak het, is om hulle lywe met byvoorbeeld as te vryf. Op dié manier is van vuilgoed ontslae geraak. As hulle olie (bv. olyfolie) gehad het, het hulle dit met die as gemeng. Dan het hulle ook ‘n soort “messie” gehad wat krom gebuig was. Hierdie messie is dan gebruik om die vuil olie of as af te krap. As jy nie ‘n messie gehad het nie, was ‘n potskerf ook seker goed genoeg. So het Job homself probeer skoon hou.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Nero doen darem iets goeds!

Nero doen darem iets goeds! – Jan van der Watt

Ons ken Nero as die keiser wat Christene kwaai vervolg het. Toe Rome per geleentheid afgebrand het (waarskynlik was hy self verantwoordelik vir die brand) het hy die Christene beskuldig.

Tog het Nero iets gedoen wat baie goed was! Die meeste van ons baat daarby. Hy was natuurlik ‘n kranige digter en het ook graag musiek gemaak en (hopeloos) gesing. Daarvoor moes hy goed kon sien. Nou weet ons almal dat hier teen die laat veertigs baie van ons se oë verswak. Dan kan jy nie meer lekker lees of skryf nie. Dit het Nero ook gepla. Toe hy eendag ‘n Egiptiese glas optel en deur die bodem van die glas kyk, kom hy skielik agter dat hy baie beter deur die glas kon sien as daarsonder!

Die “uitvinding” het die wêreld verander. Dankie Nero, vir brille

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Moonbags

Moonbags – Jan van der Watt

“Moonbags” is nie ‘n moderne uitvindsel nie. Destyds het mans ‘n onderkleed gedra, wat soos ‘n rok was. As “gordel” (of belt) is gewoonlik ‘n breë lapband gedra. Die “rok” is dan om die middellyf met die “gordel” vasgebind. Die gordel het egter ander funksies gehad as net om die rok netjies om die middellyf te hou.

Dit was soos “outydse moonbags”. In die lapband om die lyf is baie dinge weggesteek (bv. jou geldsakkie of beursie, ‘n mes, ens. – die goed wat ons vandag in ons sakkie dra). Verder is daar ook dinge aan die lapband vasgemaak, soos jou “sakkie met padkos” in. Gordels was dus ‘n handige en onontbeerlike deel van die antieke klerekas gewees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

 




‘n Tipiese outydse ‘inkopiesentrum’

‘n Tipiese outydse ‘inkopiesentrum’ – Jan van der Watt

Destydse dorpe en stede het ook sentrale besigheidsdistrikte gehad – dit was bekend as die markplein of agora. Opgrawings van stede soos Ostea, Efese, Filippi, Korinte het gewys hoe die markpleine die kern van die stede uitgemaak het. Die markpleine was gewoonlik mooigemaak met tempels, fonteine, standbeelde en sulke dinge. Deel van die markplein was gewoonlik rye winkeltjies – klein kamertjies wat op stoepe oopgemaak het. Die mense het dan in die kamertjies gewerk en hulle ware op die stoepe aan die buitekant van die winkeltjies uitgestal. Die stoepe het gewoonlik mooi pilare gehad wat in rye al langs die stoep af gestaan het. Daar kom die naam ‘pilaargang’ vandaan. Die markplein was ook die plek waar die mense van die dorp saamgekom het en die kinders gespeel het. Die ‘hof’ van die dorp het ook dikwels aan die markplein gegrens (soos die opgrawings in Filippi wys – dit is waar Paulus verhoor is). Soms is persone ook sommer op die markplein verhoor. In Jerusalem het die plein rondom die tempel die ruimte vir hierdie soort bedrywighede gebied.

Skrywer: Prof Jan van der Watt