Joodse Seuns

Joodse Seuns – Prof Jan van der Watt

Joodse seuns het op hulle 13e verjaardag volwassenheid betree. Bar Mitzvah (seun van die Wet) was die feesgeleentheid waar die seun as ‘n volwassene tussen die ander volwasse mans verwelkom is. By daardie geleentheid moes hy dele uit die wet voordra en die rabbi het hom dan geseën. Daarna kon hy as volwassene in die gemeenskap en ook in die sinagoge optree, wat onder andere beteken het dat hy dele uit die Hebreeuse Bybel in die dienste kon voorlees. As Jesus egter mense in die tempel leer nog voor hy ‘volwasse’ is, wys dit hoe merkwaardig Hy was (Lukas 2:42-47).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Hardop bid of sag?

Hardop bid of sag? – Jan van der Watt

Die Bybelse getuienis, asook wat ons uit bronne buite die Bybel weet, dui daarop dat daar gewoonlik hardop gebid is. Hulle het gevoel dat as jy met ‘n Persoon praat, doen jy dit hardop.

Tog bid ons vandag sag. Waarom? Daar kan meer as een rede voor wees. Twee dinge het egter invloed gehad. Die een faktor was die uitstorting van die Heilige Gees. God se Gees het in ons kom woon en ken ons hart en gedagtes. Daarom hoef ons nie noodwendig hardop te praat nie. Saggies in jou gedagtes is goed genoeg vir God. Hy kan daar hoor, al kan niemand anders nie.

‘n Ander faktor is waarskynlik die meer “privaat” karakter van gebed in die Nuwe Testament. Gaan na jou binnekamer – God is ook daar. Daar hoor Hy so goed soos in die kerk. Ek kan dus voor die stoof of in die kar of in die kantoor bid, want God is “in ons”. Hy hoor en vir Hom kan ek niks wegsteek nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Moet ek hande ophef as ek bid?

Moet ek hande ophef as ek bid? – Jan van der Watt

Hoekom het mense hulle hande opgehef of hulleself op die bors geslaan as hulle bid? Moet ‘n mens kniel, neerval, staan of lê as jy bid? Moet ‘n mens hard of sag bid, of maak dit nie saak nie?

Hoe het mense destyds oor gebed gedink? Vir hulle was dit ‘n gesprek met ‘n Persoon. Daarom het die normale reëls vir gesprekke gegeld. Jy praat tog nie sag of “in jou gedagtes” met iemand nie. Jy praat hard, sodat hy of sy jou kan hoor. Daarom bid jy hardop.

As jy rou, slaan jy jouself op die bors. So wys jy hoe hartseer jy is. As die tollenaar “op sy bors slaan” en vra dat hy vergewe word, wys hy vir God so hoe hartseer hy oor sy sonde is.

Hande ophef was ‘n teken van verering. So wys jy respek vir iemand. Daarom doen jy dit ook as jy God loof.

As jy destyds by ‘n koning of iemand belangriks kom, het jy gekniel om jou onderdanigheid te wys. Om jou totale oorgawe te illustreer, het jy “op jou aangesig” geval of gebuig. Omdat jy God as die belangrikste van almal ag, doen jy voor Hom wat jy voor belangrike mense sou doen.

Destyds het mense hierdie dinge goed verstaan. Hierdie aksies het gekommunikeer en gepraat. Die vraag is egter of ons dit vandag nog so verstaan? Ons wys mos eer of hartseer op ander maniere. Niemand van ons wat sien iemand slaan homself op die bors, sal aflei dat die persoon hartseer is nie.

Dit beteken nie dat ons nie hande kan of mag oplig, of nie meer hoef te kniel nie. Ons moet egter net seker maak dat ons weet hoekom ons dit doen – dit moet praat… Met ander woorde, dit wat ons doen, is net so deel van ons gebed as die woorde wat ons praat.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Geld by die tempel

Geld by die tempel – Jan van der Watt

Ons hoor van “geldskieters” by die tempel. Jesus het hulle tafels op ‘n keer omgegooi en dit was uiteindelik ‘n belangrike rede waarom Jesus gekruisig is. Wat het hierdie “geldskieters” by die tempel gemaak?

Daar was destyds nie “standaardgeld” wat oral gebruik is nie. Regerings of selfs dorpe het hulle eie “munte” gemaak en gebruik. Die waarde van die munte het in die waarde van die metaal self (silwer, koper of goud) gelê. Die suiwerheid van die metaal van die munte uit die verskillende gebiede was natuurlik nie dieselfde nie. In party gevalle het ‘n munt byvoorbeeld net 50% silwer of goud bevat en die res was onsuiwer metale. Dan was die munt swakker kwaliteit en minder werd, hoewel dit dieselfde geweeg het as suiwerder munte.

Die munte van die stad Tirus was die suiwerste. Hulle silwermunte (silwerstukke) het ‘n hoë persentasie silwer gehad. Daarom is daar verwag dat daardie (hoë kwaliteit) munte vir die Here in die tempel gegee moes word. As jy dus ander munte (van laer kwaliteit) het, moes jy dit eers omruil vir hoër kwaliteit munte (bv. dié van Tirus) – vandaar die “geldskieters” by die tempel.

Onnodig om te sê: munte met beelde op – bv. van keisers of gode – was ook nie vir die Jode aanvaarbaar nie. Dit moes ook geruil word.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt