Fauna en flora in die Bybel (5)

Fauna en flora in die Bybel (5) – Jan van der Watt

Papirusplant: Dit is veral gebruik om papier van te maak. Die stingel van die plant is driehoekig en kon tot drie meter lank wees. Die plant se stingel is in lengtes gesny. Die lengtes is mooi langs mekaar gepak met ʼn tweede laag dwars bo-oor. As die stingels droog is, kan ʼn mens daarop skryf. Omdat die plant se vesel so sterk is, is dit ook vir allerhande ander dinge gebruik, soos om sandale van te vleg. Selfs skepe is van die papirusplant gemaak.

Prei: ʼn Populêre groente in Palestina wat soos ʼn ui is, ook vir medisinale gebruike (Numeri 11:5).

Riet: ʼn Hoë plant met pers blomme wat as meetstok gebruik is en vir die maak van penne vir skryfdoeleindes (Esegiël 40:3; Jesaja 18:2).

Riet: (In Afrikaans met riet vertaal.) ʼn Plant met blomme wat gebruik is om byvoorbeeld mandjies en stoelsitplekke te maak (Job 8:11; Jesaja 35:7).

Rooi garing: Dis ʼn groot immergroen struik. In die lote broei insekte waarvan ʼn rooi kleurstof gemaak word. Daar word swart kleurstof gemaak van die bas (Levitikus 14:51).

Roos: (In die 1983-vertaling met affodil vertaal.) Dis ʼn tulpagtige blom met helder rooi blomme (Jesaja 35:1; Hooglied 2:1).

Veldlelies was pragtige plante met pers blomme (Matteus 6:28; sien lelie)

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Fauna en flora in die Bybel (4)

Fauna en flora in die Bybel (4) – Jan van der Watt

Liefdesappels: ʼn Blaaragtige plant (Genesis 30:14-16).

Nardus: ʼn Klein plant met ʼn harige stam waarvan kosbare welriekende reukolie gekry word. Kom van Indië af (Hooglied 1:12; 4:14; Markus 14:3-6).

Mirre: Die gelerige gom of sap van hierdie doringagtige bos is gebruik. Die struike het hoofsaaklik in Etiopië, Arabië en Somalië gegroei en was daarom ʼn skaars invoerproduk in Palestina. Daarom het die manne uit die Ooste dit as geskenk vir Jesus gebring (Matteus 2:11).  Dit is as parfuum, speserye, geursel vir olie en medisyne gebruik.

Mosterdsaadjie: Ons hoor hiervan in Matteus 13:31-32 as Jesus praat oor hoe klein die saadjie is. Hy verwys waarskynlik na ʼn swartmosterdsaad waarvan die boom gewoonlik net meer as ʼn meter hoog geword het. Die saad is vir geursel in kos gebruik en daar is ook olie van gemaak.

Onkruid/dorings: (Ongespesifiseer in die Afrikaanse Vertaling.) Dit is een van die mees vernietigende onkruide van Palestina. Die saad bevat ʼn giftige fungus wat duiseligheid, naarheid en ook die dood kan veroorsaak (Job 31:40; Matteus 13:24-30; 36-43).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Fauna en flora in die Bybel (3)

Fauna en flora in die Bybel (3) – Jan van der Watt

Kaneel kom van die bas van die kaneelboom af. Dikwels is dit tot ‘n olie gedistilleer en dan vir geursel in kos gebruik (Spreuke 7:17; Esegiël 27:19).

Knoffel is gebruik om kos te geur (Numeri 11:15).

Koljander: Blare soos pietersielie, wit of pienk blomme, ronde, grys saad met waardevolle olie vir geurmiddel of parfuum (Eksodus 16:31; Numeri 11:7).

Koring is soos ons koring en is gebruik om meel en brood van te maak (Genesis 41:1-7).

Kruisement: ‘n Plant met klein blare vir medisinale gebruik, om kos te geur en vir parfuum (Matteus 23:23; Lukas 11:42).

Komyn: Klein delikate plant vir medisinale gebruik en om kos te geur (Jesaja 28:27).

Lelies: Wat bekend staan as lelies in die Bybel was moontlik ‘n tipe wilde blou hiasint (sien veldlelie).

Lensies het peule, baie soos ertjies gehad. Die lensies is geoes en dan gekook of gemaal en so geëet. Ook gebruik vir brood (Genesis 25:34; 2 Samuel 17:28; 23:11; Esegiël 4:9).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Fauna en flora in die Bybel (2)

Fauna en flora in die Bybel (2) – Jan van der Watt

Ons gaan voort met plante en blomme.

Gal was moontlik ‘n plant verwant aan die opium papawer (Matteus 27:34).

Gars: Stem waarskynlik ooreen met ons gars (Rut 1:22; 2 Konings 7:1, 16, 18; Johannes 6:1-13.

Gifwortel/bitterals: ‘n Plant met ‘n sterk, bitter smaak wat as simbool van bitterheid, hartseer, rou en ramp gebruik word (Deuteronomium 29:18; Jeremia 23:15; Openbaring 8:10-11).

Granaat: ‘n Wilde plant met donkergroen blink blare en helder wasagtige blomme met vrugte omtrent so groot soos ‘n lemoen, gebruik vir medisyne en kos (Eksodus 28:31-34).

Graan: Dit was ‘n integrale deel van die diëet van mens en dier. Gars, koring en sorghum was die bekendste soorte graan. Gars het eerste ryp geword in die vroeë somer en was die stapelvoedsel van die arm mense. Dit was van swakker gehalte as koring (Ester 4:9).

Gras: Psalm 23:2; 103:15.

Henna: ‘n Struik wat wit gegeurde blomme het en wat gebruik word om hare of vingernaels rooi of geel te kleur (Hooglied 1:14; 4:13).

Hisop

  1. Ou Testament-hisop. Van die kruisement familie met klein blare en bossies goue blomme. Gebruik om bloed mee te sprinkel, om melaatses te reinig en vir reinigingsgebruike (Eksodus 12:22; Levitikus 14:4).
  2. Nuwe Testament-hisop. ‘n Hoë geel-groen plant met sterk stamme en lintagtige blare (Johannes 19:29).

Kalmoes: ‘n Plant wat aan die rietfamilie behoort. Olie met ‘n skerp reuk is van die wortels geneem (Hooglied 4:14; Esegiël 27:19).

Ons gaan volgende keer verder.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt