Fauna en flora in die Bybel (1)

Fauna en flora in die Bybel (1) – Jan van der Watt

Die Bybelverhale speel hoofsaaklik in die lande rondom die Middellandse See af, asook gedeeltelik in die huidige Irak en Iran. Dit is interessant om te sien hoe hulle die natuur beleef het en aan watter plante hulle gewoond was. Ons gaan in die volgende klompie kere ʼn  bietjie by die fauna en flora van die Bybelse tyd stilstaan.

Plante en blomme

Dit is nie altyd so maklik om te weet hoe om die woorde wat vir blomme of plante in die Bybel gebruik word, te vertaal nie. Die plante verskil en soms weet ons nie altyd presies wat met die woorde bedoel word nie. Daarom is dit ook interessant om verskillende vertalings te vergelyk. Jy sal agterkom dat die name van die plante in die algemeen in die verskillende vertalings heelwat verskil.

Hier volg ʼn lys van sommige van die blomme wat in die Bybel genoem word met hier en daar ʼn beskrywing van hoe die blom moontlik kon lyk.

Aalwyn: Dit het waarskynlik baie soos ons aalwyne gelyk met die vuurpyl rooi blomme Daar is parfuum van hierdie plant gemaak. Ons lees dat Nikodemus mirre en aalwyn gemeng het om Jesus se liggaam mee te salf (Johannes 19:39). Dis ook gebruik om lyke te reinig (Psalm 45:9; Spreuke 7:17).

Affodil: Dit is nie die verfynde affodille wat ons ken nie, maar ʼn tipe wilde bolplant wat waarskynlik baie soos ons affodille gelyk het (Jesaja 35:1; Hooglied 2:1). (In die 1933/1953-vertaling en in die meeste Engelse vertalings is dit met roos vertaal.)

Balsem: Immergroen struik met wit bloeisels en vrugte soos appels. Die gom van die bas is vir medisinale doeleindes gebruik (Genesis 37:25; Numeri 11:7; Jeremia 8:22).

Biesies: Plante wat aan die oewers van riviere gegroei het (Eksodus 2:3).

Dilsaadjies: Is gebruik om kos te geur.

Dissel (In die Afrikaanse vertaling soms net bossies.) ʼn Hoë onkruid met geel blomme (Genesis 3:18; Hosea 10:8; Matteus 7:16; Hebreërs 6:8).

Dorings en distels Daar was byna 120 verskillende variëteite dorings en distels in Palestina. Sommige het tot 1,80 meter hoog gegroei en het pragtige blomme gedra. Hulle is doringstruike met haakdorings (Rigters 8:7, 16).

Ons gaan volgende keer verder.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (10)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (10) – Jan van der Watt

Die familie moes aan die lewe bly

Byna 80% van die mense van destyds was dagloners wat maar elke dag vir  ʼn werkie gaan soek het. Ons lees byvoorbeeld hoe die eienaar van ʼn stuk grond mense op straat gaan huur het om vir hom te werk  (Matteus 20 ). Die meeste het as landbouers op plase vir ʼn karige loon gewerk; ʼn mens het gewoonlik ʼn denarius vir ʼn dag se werk gekry. Dit beteken egter ook dat die meeste mense ( tot selfs 70% van die bevolking ) onder die broodlyn geleef het. Die mag was dus in die hande van ʼn klein groepie rykes. Snaaks genoeg was soldate nogal ryk omdat hulle goeie  salarisse gekry het. Wat egter gehelp het, was dat die mense in groepe gebly het. Hulle het hul geld saamgesit om so aan die lewe te bly.  ʼn Mens kan in die lig van die armoede ook verstaan waarom tollenaars (belastinggaarders) so ongewild was. ʼn Mens het sekerlik nie daarvan gehou om jou swaar verdiende broodgeld vir ʼn tollenaar te gee nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes 3

Nog ʼn belangrike waarde vir die Mediterreense mens was eer. Eer was iets wat jy in die oë van ander gehad het; dit is wat hulle van jou gedink het. Dit was veral jou eie groep se opinie van jou wat baie getel het. As die Fariseërs dus vir Jesus probeer vasvra en Hy wys hulle tereg, styg sy aansien in die oë van die mense; só styg sy eer dus. As die mense vir Jesus “hosanna” toejuig as Hy Jerusalem inry, is dit ʼn teken van erkenning van sy eer. Wanneer hulle egter skreeu: “Kruisig Hom,” is dit om Hom te onteer. ʼn Mens was dus destyds wat jy in die oë van ander was. Dit het egter ook afgehang van wie die “ander” is. As die koning baie van jou dink, was jou eer hoog, al het die gewone mense nie baie van jou gedink nie. Dit is dan ook die argument wat ons baie in die Bybel kry: mense dink nie baie van gelowiges nie en vervolg hulle, maar in die oë van God is die gelowiges Koningskinders. Hulle eer is dus hoog omdat hulle in die oë van God belangrik is, maak nie saak van die res nie.

Dit is dus te verstane dat groepe hulle eer hoog probeer hou het deur hulle goeie naam te beskerm. As een van die groeplede die naam van die groep skade aangedoen het, moes hy tereggewys word. As ʼn mens nie volgens die waardes van die groep geleef het nie, het die groep jou gewaarsku om terug te kom en weer soos ʼn egte lid van die groep te leef. Dit was ʼn liefdesaksie om die afgedwaalde persoon weer in pas met die groep te kry (Matteus 18:15-20). As ʼn persoon hom glad nie meer aan die waardes van die groep gesteur het nie, is hy uiteindelik deur die groep verstoot (Johannes 9:28-34; 1 Johannes 2:18-19).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (8)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (8) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes

ʼn Groep wat verdeeld is, kan nie standhou nie (Markus 3:24). Daarom is twis, onmin en onvrede binne ʼn groep ʼn baie groter probleem in die Bybel as wat dit vir ons moderne mense is (Jakobus 4; 1 Korintiërs 1:10-17). Daarom was daar baie meganismes om vrede te maak. Jy moes jou fout aan die groep gaan bely en hulle om verskoning vra. Jy moes ook onderneem om nie weer dieselfde dinge te doen wat die groep skade aangedoen het nie. Johannes sê dat ons ook ons sondes voor God moet bely sodat ons verhouding met Hom weer sterk en suiwer kan wees (1 Johannes 1:9). Paulus praat van versoening wat in ernstige gevalle toegepas is. Daar was dan ʼn tussenganger om die kwaaivriendskap reg te maak. Die tussenganger moes dan reël dat die skade wat die een aan die ander gedoen het, ook reggestel word. As alles gereël is, was die twee weer vriende. Paulus sê dat Jesus die tussenganger tussen God en mens is. Hy betaal ook al die skade wat die mens aan God gedoen het en sorg so dat ons weer God se vriende kan wees (Kolossense 1:22-23; 2 Korintiërs 5:17).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt