Die Groot Geloofswoordeboek: Gawes en vrug van die Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Gawes en vrug van die Gees

Verbygaande gawes?

Dit gaan hier oor die gawes waarvan ons veral in 1 Korintiërs 12 lees, en die vrug van die Gees (Gal 5:22-23). Daar was vir baie lank in die historiese kerke groot teologiese ver­skille of die Gees­tesga­wes in die geheel nog voorkom. Veral onder sommige Gereformeerdes was daar ‘n sterk saak uitge­maak vir die sogenaamde “Streepteolo­gie”, die oortuiging dat die gawes net vir ‘n tyd lank bedoel was en daarna verdwyn het. Daar is veral na 1 Korintiërs 13:10 verwys: “Maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.”

In die voorafgaande vers stel Paulus die gawes as tydelik teenoor die liefde wat ewig is. Profesie en kennis het net beperkte waarde. Dit sal vergaan “wanneer die volledige kom”. Hierdie uitspraak bied natuurlik ‘n ideale geleentheid om die gawes as verbygaande en minderwaardig teenoor die vrug (liefde) te stel. Die vraag wanneer die gawes dan sou ophou, wanneer “die volledige” kom, is verskillend beantwoord, maar die bekendste is seker dat die “volledige” die volledige Bybel is, dus die tyd toe die kanon vasgestel is, wat so ongeveer in die vierde eeu was. (*Kanon) Daar is dan ook allerlei getuienisse aangebied wat sou bevestig dat die gawes juis in daardie tyd opgehou het, en daarom het sekere denominasies die gawes waarop veral die *Pinkster- en Charismatiese Kerke hulle beroep, sterk onder ver­denking gestel.

Dit is egter een groot misverstand. “Die volledige” wat kom, is die nuwe tydperk wat met die wederkoms van Jesus aanbreek. Dit sal die tyd van die volmaaktheid wees. Dan sal ons nie meer in ‘n dowwe spieël kyk nie, “maar alles sien soos dit werklik is”, dan sal ons nie meer net gedeeltelik ken nie, maar “ten volle”, soos God ons ten volle ken. Daar is nêrens enige sprake daarvan dat hierdie ga­wes sou ophou wanneer die kanon vasgestel is nie. En daar is nêrens in die Bybel enige aanduiding dat ons nie tot by die wederkoms die gawes sal nodig hê nie. Die waarde wat die gawes het, om die ge­meente op te bou, bly nodig solank die gemeente opgebou moet word. En dit is tot by Christus se koms.

 

Vrug én gawes

Daar was egter ook ‘n ander misverstand, naamlik dat ons ‘n keuse het: óf die gawes, óf die vrug. En juis omdat dit duidelik die ga­wes is, veral die tale, wat die spanning in die gemeente van Ko­rinte veroorsaak het, kies denominasies dan liewer die vrug: die liefde, vriendelikheid, getrouheid, ensovoorts. Maar ook dit is ‘n misverstand. Die gawes en die vrug vorm saam die wyse waarop die gemeente moet funksioneer.

Die gawes van die Gees is die gawes wat die Gees aan lidmate gee om mekaar te bedien. Die vrug van die Gees is die atmosfeer wat die Gees in die gemeente skep sodat die gawes goed en reg sal werk. As lidmate mekaar sal liefhê en nederig teenoor mekaar sal wees (die vrug), sal een se gawe hom of haar nie hoogmoedig maak of die ander jaloers nie.

 

Verskille tussen gawes en vrug

Daar is interessante verskille tussen die gawes en die vrug. Elke lidmaat kry een gawe om al die ander daarmee te bedien, maar elke lidmaat kry al die “dele” van die vrug, dus die volle vrug of lewensingesteldheid wat hom of haar in staat stel om die ander met sy of haar gawe te bedien. ‘n Mens kan nie die vrug in klein deeltjies opdeel (die een kry liefde, die ander vriendelikheid, die ander geduld) nie. Daarom is daar ook nie sprake van vrugte nie, maar vrug (enkelvoud). Dis ‘n pakket, miskien soos ‘n tros druiwe wat baie korrels het, maar een tros is. Die vrug van die Gees het ook nie ‘n direkte verband met ‘n mens se natuurlike aanleg nie, want almal kry dieselfde pakket. Elke gelowige kry dieselfde vrug in sy totaliteit: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goed­-hartig­heid, getrouheid, nederigheid, self­beheersing” (Gal 5:22-23; 1 Kor 13). Die vrug is die manier waarop, of die infrastruktuur waar­mee, gelowiges in staat is om mekaar te bedien met die gawe wat die Gees hulle gee. Daarteenoor kry elke lidmaat een gawe waarmee hy of sy dan die res van die gemeente moet bedien (1 Kor 12; Rom 12; Ef 4; 1 Pet 4).

 

Die interafhanklikheid van gawes en vrug

‘n Paar sake word hierdeur duidelik. Allereers kan ons nie kies tussen die vrug of die gawes nie. Beide is noodsaaklik om­dat die een van die ander afhanklik is. Jy kan nie ander met jou gawe bedien as jy nie vol liefde, vriendelik, geduldig, ne­de­rig, ensovoorts is nie. Dis mos presies die probleem wat daar in Ko­rin­te was. Hulle het wonderlike gawes gehad, maar hulle was jaloers op mekaar en die een het gedink hy of sy is be­lang­riker as die ander. Liefdeloosheid, hoogmoed en selfsug was hulle lewens­ingesteldheid, in plaas van liefde, nederigheid en goed­har­tigheid.

Aan die ander kant kan die vrug ook nie sy werk doen sonder die gawes nie. ‘n Gemeente kan nie goed werk sonder die gawes nie. Om vriendelik en vol liefde en nederig teenoor mekaar te wees skep ‘n wonderlike atmosfeer en beteken baie vir elke lid, maar dit vervul nie al die behoeftes van die lidmate en die ge­meente as geheel nie. Ons het wysheid nodig om moeilike besluite te kan neem; liefde help nie baie daarvoor nie. Ons het genesing nodig as ons siek is; vriendelikheid help nie. Ons het die onderskeiding van geeste nodig as ons moet besluit of mense eg is of nie, en profesie as ons wil weet in watter rigting die gemeente moet ontwikkel, en leiding om dan in daardie rigting te gaan.

Net soos in die geval van die vrug hou natuurlike aanleg nie altyd verband met die gawes nie. Die Gees gee die gawes soos Hy wil, Hy versterk nie net my natuurlike aanleg nie.  ‘n Ander verskil is dat die vrug meer permanent is terwyl die gawes meer gebonde is aan die situasie. Dis alreeds opvallend dat die gawes baie verskil in die paar lyste in die Nuwe Testa­ment. Daar is maar min ooreenkoms tussen die lang lyste van Ro­mei­­ne 12 en 1 Korintiërs 12. Waarom? Paulus skryf in 1 Korintiërs dat die Gees die gawes uitdeel soos Hy wil sodat dit vir almal tot voordeel kan wees (1 Kor 12:7, 11). Dit gaan dus afhang van die bepaalde gemeente en die lidmate se behoeftes watter gawes die Gees sal gee.

Daar is dus nie ‘n geslote lys gawes soos daar presies tien gebooie is nie. Die Gees deel uit soos Hy weet die behoeftes in ‘n bepaalde gemeente is. Dit beteken verder dat daar in nuwe situasies nuwe gawes nodig kan wees en dat sekere gawes in ‘n bepaalde situasie nie nodig is nie.

 

Is sekere gawes belangriker as ander?

Dit bring ons ook voor die vraag of sekere gawes belangri­ker is as ander. Die probleem in Korinte was juis dat sekere gemeentelede wat tale as gawe ontvang het, gedink het hulle gawe is belangriker as die ander s’n. Dit spreek teen die gedagte dat sekere gawes belangri­ker is as ander. Trouens, Paulus be­klemtoon juis dat dié ledemate van die liggaam wat die swakste lyk, juis noodsaaklik is (12:22). Dit lyk wel of hy later profesie belangriker ag as tale, maar dit is ‘n misverstand. Dis juis tale wat in Korinte die probleme veroorsaak het. En nou skryf Paulus dat in daardie situasie profesie belangriker is as tale. Dit is nie ‘n beginsel nie. Daarom kan hy ook skryf dat as die tale uitgelê word, dit net so belangrik soos profesie is (14:5), en kan hy net daarná profesie, openbaring, kennis en lering almal op dieselfde vlak plaas (14:6).

Maar as die gawes dan gelyke waarde het, en dit slegs die be­hoefte in die gemeente is wat sommige soms nodiger maak as ander, waarom dan die opdrag in 12:31: “Lê julle toe op die beste genadegawes”? Dit impliseer tog duidelik dat sommige be­langriker is as ander. Dit is ‘n vraag of dit ‘n goeie vertaling is van hierdie teks. Die Griekse werkwoord kan óf ‘n bevel óf ‘n stelling wees. Dus óf: “Lê julle toe op die beste genadegawes” (‘n bevel), óf: “Julle lê julle toe op die beste genadegawes” (‘n stelling). Pas die tweede vertaling nie die verband beter nie? Waarom?

Allereers omdat Paulus nie sommige gawes bo ander stel nie, maar juis almal gelyk stel. Waarom sal hy juis aan die einde van die hoofstuk waarin hy daartéén skryf dat sommige die gawe van tale belangriker ag as ander, eindig met die opdrag om die beste gawes te soek?

Maar verder omdat dit beter aansluit by die volgende verse. Na die hoofstuk waarin hy geskryf het teen die hoogmoed oor tale, wys hy die beste weg aan om die gawes te hanteer (13:1 ev): met die gesindheid van die vrug van die Gees: liefde, vriendelik­heid, nederigheid, ensovoorts.  Hierdie vertaling sou dan beteken dat Paulus verklaar dat die Korintiërs die “beste gawes” najaag, maar daarteenoor dan stel dat daar ‘n beter manier is: om die vrug van die Gees te soek (liefde) sodat die gawes op die regte manier in die gemeente kan funksioneer.

 

Gawes én vrug kom van die Gees

Die heel belangrikste saak in verband met die vrug én die gawes is die feit dat dit die vrug van die Gees en die gawes van die Gees is. Dit is nie ek wat al vriendeliker en al geduldiger moet probeer word nie. Dis nie my vrug, die vrug van my inspanning nie, dis die Gees se vrug in my lewe. Ek vra dit in die geloof, Hy gee dit, en ek doen dit dan deur sy krag. Net so die gawes. Dis sy gawes wat Hy gee aan wie Hy wil. Daarom soek en vra ek ook nie ‘n spesifieke gawe nie. Ek soek die Gees in sy volheid, en Hy bepaal watter rol ek in die gemeente moet speel. (*In Christus)

Die gawes werk op sy beste in ‘n kleiner groep: die huiskerk of kleingroep of selgemeente. Dáár kan elke gelowige al die ander bedien met sy of haar gawe. In ‘n byeenkoms van honderde men­­se werk gawes natuurlik ook, maar in ‘n baie beperkte sin. Net ‘n paar mense kan optree in ‘n byeenkoms van honderde mense.

‘n Mens moet onthou dat die “gemeentes” aan wie Paulus skryf, uit een of meer huisgemeentes (*Selgemeente) bestaan het. ‘n Huis­gemeente was so om en by vyftien mense. Wanneer so ‘n ge­meen­­te meer as twintig geword het, moes die eerste “afstigting” plaas­vind. Daar was nie vertrekke in hul huise waarin meer as so twin­tig mense kon vergader nie. Dit verklaar dadelik die feit dat daar omtrent vyftien gawes genoem word. Elke lid kry ‘n gawe om al die ander mee te bedien. Die klein getal help ‘n mens ook om te ver­staan hoe dit gewerk het. Ons weet ‘n paar honderd mense kan me­kaar nie individueel met hul gawes bedien nie. Dit sal óf in chaos ver­ander, óf ure lank duur. En daar is nie soveel verskillende gawes nie. Maar om­trent vyftien mense kan me­kaar wonderlik bedien. Dit is ook eint­lik hoe gemeenskap op ‘n persoonlike vlak beoefen kan word. Hon­derde mense kan nie persoonlike gemeenskap met me­kaar beoefen nie. Maar vyftien mense kan regtig hul lewens met me­kaar deel. (*Kleingroepnagmaal)

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Fundamentalisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Fundamentalisme

Die Fundamentalisme gaan van die standpunt uit dat die Bybel die Woord van God is en daarom onfeilbaar moet wees. God is immers onfeilbaar; daarom moet sy Woord dit ook wees. As daar een en­ke­le fout in die Bybel is, word alles onseker; dan kan enige ander deel ook foute in hê en dan is ons van niks meer seker nie; dan kan ons selfs vir God nie meer vertrou nie.

Volgens hierdie standpunt is die teendeel egter waar. Hulle ver­wys na die uitsprake dat die Bybel deur God geïnspireer is (2 Tim 3:16; 2 Pet 1:20-21), en daarom moet alles onfeilbaar wees. (Onder *Inspirasie by Bybel is hierdie tekste breedvoerig be­handel.) Hierdie rigting stel hom dan ten doel om alles wat in die Bybel na verskille of foute lyk, te verduidelik en weg te verklaar.

Vir sommige verskille vind hulle wel verklarings. Volgens Mat­teus genees Jesus ‘n blinde as Hy uit Jerigo uitgaan, maar vol­gens Lukas as Hy naby Jerigo kom. Verklaring: daar is ‘n ou stad en ‘n nuwe stad. As jy uit die oue uitgaan, is jy naby die nuwe.

Verder maak hulle ook baie van die oorskryf van die Bybelse geskrifte. Vir eeue lank was daar geen drukpers nie en is die do­ku­mente oorgeskryf om dit vir ander beskikbaar te stel. Daar­deur kon baie van die verskille/foute ingesluip het wat nooit in die oor­spronklike was nie (in die sogenaamde autografa).

‘n Derde uitweg is om te aanvaar dat ons eenvoudig nie oor die nodige kennis beskik om te verduidelik hoedat ‘n skynbare verskil/fout nie werklik een is nie. In beginsel is dit natuurlik moontlik, minstens wat sommige probleme betref.

Hierdie verklarings lei egter weer tot ander probleme. Kom ons kyk na die tweede een, die foute wat deur die oorskryf van die dokumente gekom het. Hierdie oorspronklike geskrifte is natuurlik almal verlore. Ons het vandag nie meer een enkele geskrif wat oorspronklik deur ‘n Bybelskrywer geskryf is nie. Al wat ons het, is afskrifte, of liewer afskrifte van afskrifte van afskrifte … As die gemeente van Korinte, by wyse van spreke, die brief wou hê wat Paulus aan die Romeine geskryf het, moes hulle iemand stuur wat dit daar in Rome gaan afskryf, of as daar dalk al ‘n bietjie nader ‘n afskrif was – sê in Efese – moes hulle ‘n afskrif van daardie afskrif laat maak. Die oorskryffoute in die Efesekopie sou dus voortgesit word in die nuwe afskrif.

Maar as ons geen oorspronklike geskrifte het nie, het ons ook geen geskrifte wat onfeilbaar is nie. Wat is dan die waarde van hulle hele argument dat die Bybel onfeilbaar is?

Die volgende probleem is dat die apostels nie net hierdie oor­spronklike geskrifte as die Woord van God beskou het nie, maar ook die (onnoukeurige!) *Septuagint, die Griekse vertaling van die oorspronklike Ou-Testamentiese geskrifte. Hulle het dit in die Nu­we Testament aangehaal as die Woord van God. Daarom het ‘n be­langrike kerkvader soos Augustinus geglo dat die Septuagint net soseer geïnspireer is as die *Masoretiese teks, die oorspronklike He­breeuse Ou Testament.

Die apostels se voorkeur aan die Septuagint beteken dat selfs die omvang van die *kanon nie so seker is as wat die mees­te Christene graag glo nie. Die Septuagint was eintlik die vroeë Christene se “By­bel”, maar dit het ‘n hele aantal boeke bevat wat nie meer van­dag in ons Bybel ingesluit is nie. Was hierdie boeke toe on­feilbaar, maar nie meer vandag nie? Was die apostels verkeerd om hier­die boeke as die Woord van God te gebruik? Hulle het duide­lik ‘n rui­mer ka­nonbeskouing gehad as ons. In die Nuwe Testa­ment (Jud v 9, 14) word selfs meer as een keer uit geskrifte aangehaal wat nie eens in die (ruimer!) Septuagint opgeneem was nie, en dit word aangebied as die Woord van God. Die basiese oortuiging van die Fundamentalisme dat ten min­ste die oorspronklike geskrifte woord vir woord deur God in­gegee was en daarom absoluut onfeilbaar is, staar dus ‘n hele paar ernstige pro­bleme in die gesig.

Daar is trouens selfs nog een: Hoeveel mense lees ook maar net die afskrifte van die afskrifte wat ons wel vandag het? Hulle is in Hebreeus en Grieks. Meer as 99% mense lees in elk geval *vertalings van die Bybel, en dié het natuurlik weer hulle eie probleme.

Die Fundamentalisme is dus ‘n moeilike posisie wat in die praktyk baie probleme veroorsaak. Fundamentaliste het groot probleme omdat hulle die Bybel deurgaans letterlik wil opneem. Daar is geen uitdruklike bevel in die Nuwe Testament om nie meer die Sabbat (Saterdag) te hou soos in die Ou Testament voorgeskryf nie. Dit is die oorsprong van ‘n hele groot kerk, die Sewendedagadventiste. Daar is sprake van die hoofbedekking van die vrou wat vrouens laat voel hulle moet hoede dra kerk toe. Daar is sterk uitsprake oor die vrou wat nie mans mag leer nie, vandaar die eeue lange probleem met vroue-predikante. Daar is altyd probleme oor die kinderdoop omdat daar geen direkte bevel of voorbeeld in hierdie verband in die Nuwe Testament is nie.

Tog bevorder hierdie standpunt eerbied vir die Bybel by die mense wat dit aanvaar, en dit is wel belangrik.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Feminisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Feminisme

  • Evangeliese Feminisme Kritiese Feminisme Radikale Feminisme

Vir eeue lank – trouens, so ver as die menslike geheue teruggaan – is dit ‘n algemene verskynsel dat vrouens nie gelyk aan mans be­­han­del word nie, en in baie gevalle fisiek en emosioneel on­derdruk is. In hoofsaak het vrouens dit in die verlede gelate aan­vaar. Maar gedurende die laaste paar dekades het daar ‘n beweging ont­wikkel wat dit bevraagteken: die Feminisme. Onder feminis­te tel nie net vrouens nie, maar ook mans wat die onderdrukking van vrouens beveg.

Ons kan die mensdom in hierdie opsig in drie groepe ver­deel:

1.            dié wat nog steeds die posisie van vrouens gelate of onna­denkend aanvaar

2.            dié wat dit met oortuiging verdedig en hulle op die tradisie en/op die Bybel beroep

3.            dié wat dit verwerp

Die eerste groep is waarskynlik die grootste groep. Dis gewoon­lik so dat die meerderheid mense nie geneig is om te veel vrae te vra nie. Hulle lewe maar net van dag tot dag, en sommi­ge maak maar die beste daarvan wat hulle kan. Daar sal baie vrouens wees wat nie te sleg af is nie, ‘n paar wat dit selfs baie goed getref het, en hulle sal nie juis aandag gee aan die manier waarop vrouens in die algemeen behandel word nie.

Die tweede groep is dié wat dit verdedig dat vrouens anders as mans behandel moet word. Sommige sal inderdaad selfs nog die diskriminasie en onderdrukking van vrouens goedkeur, maar die meeste sal dit verwerp, maar tog die beginsel verdedig dat vrouens anders is as mans en daarom anders behandel moet word. Hulle sal lyste kenmerke opstel wat mans en vrouens van mekaar onder­skei. Mans is sterk, hulle reageer vinnig en neem maklik inisiatief, hulle kan leiding gee. Vrouens is die “swakkere vat”, hulle is sag, ge­duldig, bereid om te dien, onseker en het ‘n behoefte aan leiding. Hulle maak ‘n sterk saak daarvoor uit dat vrouens ‘n ander roeping in die samelewing het as mans. Daar word graag gesê dat vrouens tuis­te­skeppers is en veral die geweldige taak het om die volgende ge­slag groot te maak.

Hierdie oortuiging kan hom sterk op die Bybel beroep. Die By­bel het ‘n lang geskiedenis van vrouens wat “tweede” kom en inderdaad anders as mans behandel word. Veral konserwatiewe Evangelicals en Katolieke beroep hulle dus sterk op die Bybel, nie vir diskriminasie teen vrouens nie, maar vir ‘n unieke on­der­danige rol van vrouens. Mans is geskape om leiding te gee en vrouens om leiding te ontvang. Mans is geskape om broodwinners te wees en vrouens om tuiste te skep en kinders op te voed. Mans is gemaak en aangestel om die inisiatief te neem en die vrouens om te volg. Daarom is die man die hoof, en die vrou moet aan hom onderdanig wees. Dit word ‘n *skeppingsordening genoem.

Die derde groep word feministe genoem. Hulle is sterk in reak­sie teen die verlede toe daar erg teen vrouens gediskrimineer is, en hulle is oortuig dat dit verkeerd is en dat vrouens tot hulle reg moet kom. Deel van hulle oortuiging is dat die “skep­pingsverskille” wat daar tussen mans en vrouens sou wees as sodanig diskriminasie teen vrouens is. Hulle ontken die ver­skillende rolle wat aan die twee geslagte toegewys word, en eis dat vrouens net soos mans behandel moet word, met dieselfde regte en geleenthede. Daar is eintlik net ‘n paar biologiese verskille tussen mans en vrouens: mans kan nie geboorte gee nie, en mans is gewoonlik groter, sterker en hariger as vrouens.

Onder Christene het Feminisme verskillende vorme aange­neem. ‘n Mens sou minstens drie kon onderskei: Evangeliese Feminisme, Kritiese Feminisme en Radikale Feminisme.

 

• Evangeliese Feminisme

Evangeliese feministe is oortuig dat daar nie net een lyn in die Bybel, dié van eensydige vroue-onderdanigheid, is nie, maar ook ‘n ander lyn, dié van vroue-gelykheid, en dat hierdie lyn deel van die boodskap van die Bybel is. Hulle gee toe dat vrouens in die Ou Testament sleg behandel is, omtrent geen regte gehad het nie en volkome van hul mans afhanklik was. (*Onderdanigheid van die vrou) Maar hulle is oortuig dat die situasie in die Nuwe Testament verander het, dat Jesus sterk vir vrouens opgekom het en hulle heeltemal anders behandel het as in die Ou Testament.

Hulle beroep hulle baie sterk op Galasiërs 3:28: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal één.” Hulle wys daarop dat “man of vrou” in die Grieks eintlik lees: “manlik en vroulik” en ‘n aanhaling uit die skeppingsgeskiedenis is (Gen 1:27), wat impliseer dat die sek­sue­le onderskeid wat deel van die skepping is, nie ‘n verskil in die gemeente behoort te maak nie. Verder wys hulle daarop dat die beroemde deel oor die hoofskap van die man en die on­derdanigheid van die vrou ingelei word deur ‘n algemene reël van onderdanigheid waaraan vrou én man gehoorsaam moet wees: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Ef 5:21). Mans moet dus ook aan vrouens onderdanig wees. Die res van die deel verduidelik dan net hoe vrouens se onderdanigheid moet lyk (nie slaafs soos die Griekse samelewing geëis het nie, maar bevrydend “soos aan die Here” – v 22), en hoe mans se liefde moet lyk. (*Onderdanigheid van die vrou)

 

  • Kritiese Feminisme

Kritiese feministe is heelwat negatiewer oor hierdie positiewe lyn wat die evangeliese feministe beklemtoon. Hulle meen dat selfs Jesus nie regtig anders teenoor vrouens opgetree het as die algemeen aanvaarde norme van sy tyd nie. Hulle meen dat ‘n mens eenvoudig die Bybel op hierdie punt moet kritiseer: daar is nie regtig in die Bybel ‘n positiewe kyk op vrouens nie. Ons moet die moed hê om self die saak van vrouens op te neem met ons gesonde verstand. Daar is volgens hulle in elk geval ook ander sake wat nie in die Bybel behandel word nie, en waaroor ons maar self besluite moet neem. Hulle meen slawerny is een so ‘n saak omdat daar nie regtig duidelike sterk uitsprake teen slawerny in die Bybel is nie.

 

  • Radikale Feminisme

Radikale feministe gaan heelwat verder. Hulle is oortuig dat die Bybel deur en deur ‘n manlike, patriargale en androsentriese boek is wat ongeneeslik “siek” oor vrouens is en eenvoudig ver­werp moet word. Baie van hulle los dan ook die kerk en selfs die Christelike godsdiens as sodanig. Een van hulle groot besware is dat God in die Bybel manlik voorgestel word. (*Manlikheid van God) Nie net God die Vader nie, maar sy openbaring in Jesus die “Seun“, en ook die Heilige Gees is manlik. Dit sou beteken dat Hy vreemd teenoor vrouens staan. Sommige aanvaar dan vroulike gode wat die vrou se wese sou verstaan. Daar is byvoorbeeld sommige wat aan­vaar dat daar ‘n god Geia is. Dit is die Grieks vir “aarde”. Uit ons kinderdae onthou sommige van ons nog hoe daar by die skool van “moederaarde” gepraat is.

Dis interessant dat daar enersyds gepleit word vir die ge­lyk­heid van man en vrou en dat daar geen wesensonderskeid tus­sen die geslagte sou wees nie, maar dan weer beklemtoon word dat die vrou haar eie wese het wat so anders is dat dit nie deur ‘n manlike God verstaan sou kon word nie. Dit is oor die algemeen ook nie duide­lik waarom ‘n God wat vrouens gemaak het, hulle nie sou kon verstaan nie bloot omdat Hy manlik sou wees. Die vraag of God regtig manlik is, kom elders ter sprake. (*Manlikheid van God)

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (4)

Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (4) – Kobus Kok

Eer en skaamte as die primêre waardes van die antieke tyd

Nou die dag ry ek in Sandton rond. Oral om my sien ek duur luukse motors en advertensies langs die pad wat die belangrike ekonomiese waardes van ons tyd weerspieël. Elke tweede advertensie op die televisie gaan oor beter klere wat jy kan dra, beter parfuum wat jou meer aanloklik gaan maak en ʼn beter motor wat die koppe sal laat draai en jou ouers sal trots maak. In ons tyd en era is die waardes van die ekonomie en alles wat daarmee saamhang soos produksie, konsumpsie, geld en besittings die primêre dryfveer van die meeste mense. Ek onthou hoe ek eendag vir ʼn tiener gevra het wat hy eendag wil studeer. Die tiener het luidkeels verklaar dat hy enige iets sal swot wat hom eendag ryk sal maak. Geld en rykdom is die motivering vir baie mense se gedrag, dit waaraan hulle die meeste energie spandeer. Een van ons vriende het ʼn besigheid en hy is vandag skatryk. Hy het in sy kantoor by die werk ʼn volledig toegeruste badkamer, bed en inloopkas laat bou omdat hy so baie by sy besigheid slaap en nie eens tyd kry om by sy gesin uit te kom nie. Vir baie mense in ons tyd is die ekonomiese waardes die allesoorheersende dryfkrag wat hulle optrede bepaal. Raai wat? Dit was nie altyd so nie. Veral nie in die antieke tyd waarin die Bybel geskryf is nie. Mense het daardie tyd primêr gewerk om hulle oorgeërfde status en eer te behou. Baie besittings het jou nie by implikasie ʼn eervolle persoon gemaak nie. Inteendeel, daar is in die tyd van die Bybel geglo aan die beginsel van beperkte middele (limited good). Die mense wat buitengewoon meer as ander mense besit het, is met agterdog bejeën, aangesien die antieke mense van mening was dat die persoon of groep hulle rykdom bekom ten koste van ander groepe.

In die tyd van Jesus was eer en skaamte die primêre waardes. Eer het ten nouste saamgehang met ʼn persoon se toegeskryfde sosiale waarde as mens en die publieke erkenning daarvan deur ander mense. Teenoor die waarde van eer, het die waarde van skaamte gestaan, wat te make gehad het met ʼn persoon se sensitiwiteit vir hulle openbare reputasie, met ander woorde vir hulle eer. Daarom is die meeste sosiaal-wetenskaplike geleerdes dit eens dat eer en die nastrewing van eer die antieke mens se belangrikste dryfveer in die lewe was. Die groep waaraan die antieke mens behoort het, het ʼn reuse rol gespeel in die eer van ʼn persoon. Die groep se erkenning van die eer van ʼn individu het tot gevolg gehad dat ʼn individu sy groep eerste gestel het en konstant gepoog het om sy goeie naam in stand te hou. Juis om hierdie rede was dit belangrik dat indien jy deel van ʼn groep was, jy deeglik bewus moes wees wat die norme en die reëls van die betrokke groep was, aangesien dislojaliteit aan die groep skaamte oor jou sou bring. Indien dit wel gebeur het dat ʼn individu die groep se reëls oortree het, het dit skaamte oor die groep en die leier van die groep gebring. Swak optrede deur groeplede het dus ʼn negatiewe prentjie van die groep en sy leier(s) geskets. Om hierdie oneer wat oor die groep gekom het reg te stel moes die groep die individu wat die onreg gepleeg het, straf. In sommige gevalle het die straf uitsluiting of uitbanning uit die groep behels. Persone wat deur die groep uitgestoot is het noodwendig ʼn negatiewe sosiale etiket gekry, soos dat hulle ʼn sondaar, gek of dwaas was. In terme van die groep se hantering van mense met etikette was die reël eenvoudig: Sluit hulle uit. Dit het meer as dikwels ʼn sosiale doodsvonnis beteken.

Teen hierdie agtergrond maak baie Bybelse tekste totaal nuwe sin. In die evangelie volgens Johannes 5:19 en verder lees ons die volgende teks (Ou Afrikaanse Vertaling):

Joh 5:19  Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.

Joh 5:20  Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees.

Joh 5:21  Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.

Joh 5:22  Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,

Joh 5:23  sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

Joh 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Joh 5:25  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.

Joh 5:26  Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.

 

Volgens Johannes 5 doen Jesus niks wat hy nie by sy Vader gesien het nie. Jesus “dupliseer” dus die werke van sy Vader. Vir die antieke mense het dit goed sin gemaak en alles van Jesus se eer gesê, aangesien ʼn eervolle seun die voorbeeld van sy vader sou volg. Johannes sê dat Jesus die voorbeeld van sy Vader volg en daarom kan Hy as die ware eervolle Seun van God beskou word. In die Jode se denke het niemand meer eer as God die Vader nie. God is vir die Jode Heilig. Indien Jesus sy eie optrede so verbind aan God en sy karakter, sê Jesus tussen die lyne dat hy ware eer het wat van die mees belangrikste persoon af kom, naamlik God. Jesus gaan dan verder in Johannes 5:23 en vereis dat Hy geëer word. Indien mense eer aan Hom bewys, bewys hulle eer aan sy Vader. Die wat die groep van Jesus verwerp, verwerp dus vir God. Hulle verloor dus hulle eer en word in geestelike skaamte gedompel. Hulle word by implikasie geoordeel, aangesien hulle self hulle rug op God gedraai het. Die wat Jesus as God se Seun eer, ontvang egter die geskenk van lewe.

 

Outeur: Dr Kobus Kok