Bybelvertaling (4)

Bybelvertaling (4) – Jan van der Watt

Hoe doen ʼn mens Bybelvertaling?

Vertaling beteken om dit wat in een taal staan in ʼn ander taal om te skakel.

Daar is natuurlik verskillende maniere waarop ʼn mens dit kan doen. Dit kan as ʼn lang lyn of kontinuum voorgestel word met twee uiterstes: aan die een kant is daar die “letterlike vertaling” en aan die ander kant die “vrye vertaling”.

ü  Letterlike vertaling beteken dat ʼn mens eenvoudig die woorde uit die een (oorspronklike) taal met woorde uit die ander taal vervang. Die taal struktuur van die oorspronklike taal word net so behou, behalwe waar dit geen sin maak nie. Dan kan klein aanpassings gemaak word. Die 1933/1953-vertaling is hoofsaaklik so gedoen.

ü  Met vrye vertaling word daar heeltemal op die boodskap gekonsentreer. Soms word dit ook ʼn parafrase genoem. Daar word gevra wat die oorspronklike skrywer aan sy mense wou sê. As dit vasgestel is, word daar gevra hoe ʼn mens dieselfde boodskap vandag kan oordra, met vandag se taal en uitdrukkings. As daar uitdrukkings in die oorspronklike taal gebruik word wat nie vir die moderne lesers bekend is nie, kan selfs ʼn verduidelikende sin bygesit word. Dit gaan immers daaroor dat die hedendaagse leser dieselfde boodskap as die oorspronklike lesers moet hoor. Dit gaan nie oor die taal nie, maar oor die boodskap. Die taal moet jou net help om die boodskap uit te druk  Die Boodskap en Die Nuwe Testament vir kinders is byvoorbeeld sulke vertalings.

Vertalers kan tussen hierdie twee pole beweeg. Die 1983-vertaling is op sommige plekke nader aan Die Boodskap en op sommige plekke nader aan die 1933-vertaling. DIE Lewende Bybel neig meer na Die Boodskap se kant toe.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bybelvertaling (3)

Bybelvertaling (3) – Jan van der Watt

Afrikaans spog met ʼn paar vertalings van die Bybel uit Grieks

In Afrikaans het ons ʼn paar volledige vertalings van die Bybel uit die oorspronklike tale.

Die eerste vertaling is die 1933- vertaling. Dié vertaling is sterk deur die Statevertaling van Nederland beïnvloed. Dit is baie letterlik vertaal.

In 1983 verskyn die Nuwe Afrikaanse Vertaling. In  dié vertaling is daar ʼn kombinasie van letterlike en vrye vertalingstegnieke gebruik. Die Good News Bible verskyn net voor die 1953-vertaling en spore van invloed uit die Good News is hier sigbaar.

In 2002 verskyn Die Boodskap. Die gedagte is geïnspireer deur die Engelse The Message, maar  Die Boodskap het verder niks in gemeen met die vertaling van The Message nie. Die Boodskap is op ʼn vrye manier uit die oorspronklike Grieks en Hebreeus vertaal. Hier kan ook die bybel@kinders.co.za  genoem word. Dit het ook in 2002 verskyn en is ʼn vertaling wat spesifiek met die oog op kinders gedoen is. Die vertaaltegniek van hierdie vertaling stem baie ooreen met die tegniek wat in Die Boodskap gebruik is.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bybelvertaling (2)

Bybelvertaling (2) – Jan van der Watt

Luther verander alles

Die groot verandering het egter met Luther en die Reformasie gekom. Luther het egter gevoel dit is baie belangrik dat elke mens die Bybel in sy eie taal kan lees. Daarom het hy die Bybel vinnig in Saksiese Hofduits vertaal. Sò invloedryk sou die vertaling wees dat die Duits wat vandag in Duitsland gepraat word, die Duits is waarin Luther die Bybel vertaal het.

Die verhaal het hom oor die hele wêreld herhaal. Soos sendelinge in vreemde lande ingedring het, wou hulle die Bybel vir daardie mense vertaal. Hulle het gevoel as die mense die Bybel kon lees, hulle direk aan die evangelie blootgestel word. Daarom was Bybelvertaling baie keer een van die eerste dinge wat nuwe sendelinge in ʼn vreemde land gedoen het.

In baie lande het die inwoners tot op daardie stadium nog nooit geskryf nie en het hulle dus nie ʼn alfabet of skrif gehad nie. Die Bybelvertalers het dan ʼn alfabet vir die tale gemaak sodat hulle die Bybel kon vertaal. In Afrika was dit algemeen. Selfs in Rusland het twee priesters die Russiese alfabet gevorm sodat hulle die Bybel kon vertaal.

Die Bybel het dus nie net die goeie boodskap van God vir mense gebring nie, maar in baie gevalle ook mense leer lees en aan “groter wêrelde” bekendgestel.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Joodse feeste en die Sabbat

Joodse feeste en die Sabbat – Adrio König

Bernice vra:

Viering van Joodse feeste en Sabbat- is dit totaal opgehef in die Nuwe Testament of behoort ons dit te hou/vier?

Antwoord:

Prof Adrio König antwoord:

Dis nie so ‘n maklike vraag nie! Daar is nie veel direkte uitsprake oor die Sabbat en die ander feeste in die Nuwe Testament nie. Kolossense 2:16 en Romeine 14:5,6 lyk egter tog duidelik. [Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie – Kolossense 2:16; Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ʼn ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ʼn bepaalde dag op ʼn besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God – Romeine 14:5 – 6).] Hier word dit egter nie verbied nie, maar gerelativeer. Dis nie noodsaaklik nie. In die begin het sekere gemeentes, veral in Sirië, nog baie lank die Sabbat saam met die Sondag gevier, die een as rusdag en die tweede as feesdag.

Outeur: Prof Adrio König