Die Groot Geloofswoordeboek: Dood en Lewe na die dood

Die Groot Geloofswoordeboek: Dood en Lewe na die dood

Dood

Die woord “dood” word in die Bybel in minstens vyf bete­kenisse gebruik:

•             dood as ‘n toestand wanneer die biologiese lewe opgehou het

•             dood as ‘n bose mag

•             dood as die geestelike toestand van iemand wat nie die Here ken nie

•             dood as deel van die oorwinning van ‘n gelowige oor die sonde (dood vir die sonde)

•             dood as die ewige verderf

 

Die eerste twee betekenisse kry ons alreeds in die Ou Tes­ta­ment.

Eerstens dood as die beëindiging van die gewone biologiese lewe. In die Ou Testament is hierdie dood egter nooit ‘n on­skuldige saak nie. Inteendeel, dit was juis vir die gelowiges ‘n skrikwekkende bedreiging. Juis omdat iemand die Here liefhet, sien hy of sy nie kans om te sterf nie (Jes 38:1-22). Dit beteken dat die tweede betekenis van dood, dood as ‘n bose mag, van die begin af deel van die biologiese dood was. Om dood te gaan was die beëindiging van gemeenskap met die Here in ‘n totaal hooplose en uitsiglose toestand, weggeruk uit die teenwoordigheid en die mag van die Here, en uitgelewer aan die mag van die dood (Job 10:20-22; Ps 88:4-13). Hierdie uitsiglose bestaan onder die mag van die dood kon nie regtig “lewe na die dood” genoem word nie omdat ware lewe net in gemeenskap met God bestaan het.

Die dood het van die begin af hierdie bedreigende karakter. Volgens Genesis 2:17 het die dood as straf op die sonde gekom juis in die sin dat dit soos die sonde die mens uit God se gemeenskap sal vervreem. Die Ou Testament weet dus nie van ‘n biologies “on­skuldige” dood nie. Die dood is ‘n straf en ‘n bedreiging.

In hierdie lig is dit volkome duidelik waarom die evangelie in die Nuwe Testament as opstandingsevangelie begin. (*Opstan­ding) Die dissipels heg aanvanklik geen heilswaarde aan die *kruis nie. Dit is ‘n skanddaad, selfs ‘n moord. Hulle is getuies van Jesus se op­standing (Hand 3:15; 4:10; 5:30, 32). Selfs die ver­gifnis van sonde wat hulle verkondig, word aanvanklik nie aan sy kruis verbind nie (Hand 3:19; 5:31). Eers Paulus doen dit baie later, die eerste keer in Galasiërs 1:4. Die opstanding is die evangelie wat hulle aanvanklik verkondig omdat die dood die groot probleem in die Ou Testament was. En nou is die mag van die dood gebreek, al is die dood (as mag) nog nie vernietig nie. Paulus noem die dood “die laaste vyand wat vernietig word” by die wederkoms van Christus (1 Kor 15:26). Maar nou weet hulle dat hulle selfs deur die dood heen in gemeenskap met God sal bly.

Die derde en vierde betekenisse van dood is baie interessant. Ongelowiges én gelowiges is “dood”, ongelowiges vir God, en ge­lowiges vir die sonde.

Die derde betekenis: Ongelowiges is dood vir God (Ef 2:1 ev). Dit beteken dat hulle God nie kan dien nie. ‘n Mens kan die begrip *we­der­geboorte hiermee in verband bring: hulle moet van God nuwe lewe ontvang om in staat te wees om Hom te dien. ‘n Mens moet dit nie so verstaan dat ‘n mens jou nie kan bekeer voor jy weergebore is nie, en ook nie dat ‘n mens eers tot *bekering moet kom voor jy weergebore word nie. Beide is misverstande. (*Heilsweg)

Die vierde betekenis: Gelowiges is dood vir die sonde. Ons kry dit veral by Paulus. Ons is deur die *doop en die *geloof aan Christus verbind sodat ons deel in alles wat met Hom gebeur het: sy lyding, kruisiging, dood, opstanding. Omdat Hy vir die sonde gesterf het, deel ons in sy dood vir die sonde, net soos ons nou deel in sy lewe vir God omdat Hy van God ‘n nuwe lewe ontvang het (Rom 6:3-10). Paulus se uiteensetting eindig kort en saaklik: “Julle moet dus al­tyd onthou dat ook júlle (nie net Jesus nie) vir die sonde dood is, maar vir God lewe omdat julle een is met Christus Jesus” (Rom 6:11). Om só dood te wees vir die sonde beteken nie dat die gelowiges vanselfsprekend geen sonde kan doen nie. Maar dit beteken wel dat hulle weerstand teen die sonde kan bied en nie langer in diens aan die sonde hoef te leef nie (Rom 6:12 ev).

Die vyfde betekenis waarin dood gebruik word, is die verderf. Daar is die algemene waarheid dat die loon wat die sonde gee, die dood is (Rom 6:21-23), en dan die spesifieke verwysing na “die tweede dood” (Op 20:6) wat op die verderf slaan (Op 21:13). In hierdie geval sou die eerste dood dan óf die dood-in-sonde wees, óf die dood as die einde van die biologiese lewe.

 

Lewe na die dood

Omdat die dood in die Ou Testament die beëindiging was van die gemeenskap met God, kon daar nog nie sinvol oor lewe na die dood gepraat word nie. Gelowiges kon nie dink aan werklike lewe buite gemeenskap met God nie. Dit was juis die oorsaak vir hulle vrees vir die dood: hulle verloor hierdie gemeenskap. Al was daar dan ‘n soort skimbestaan na die dood was dit hoegenaamd nie die woord “lewe” werd nie. Hulle was onder die mag van die dood afgesny van God.

Baie mense meen dat hierdie probleem “oorwin” word deurdat daar ‘n *onsterflike siel is. By die dood is dit net die *liggaam wat doodgaan. Die *siel is onsterflik en gaan dadelik na God toe.

Daar is egter nie regtig so ‘n gedagte in die Nuwe Testament nie. Net God is onsterflik (1 Tim 6:16). Die gedagte dat ‘n mens ‘n on­sterflike siel het, kom van Plato af wat nie die skrikwekkende werklikheid van die dood wou aanvaar nie.

Die Bybel het ‘n ander antwoord. Ons het reeds gewys op die feit dat die evangelie aanvanklik die opstandingsevangelie was. Dít is die Christene se hoop en troos. Jesus het uit die dood op­gestaan en só die dood oorwin. Deur die *doop gee Hy ons deel aan sy opstandingslewe sodat ons nou reeds deel het aan ‘n lewe wat deur die dood heengegaan het en oorwinnend anderkant uitgekom het. Selfs as ons nou sterwe, het ons nog steeds deel aan hierdie lewe en bly ons in Jesus se gemeenskap.

“Die lewe na die dood” is ons aandeel aan Jesus se op­stan­dings­lewe, nie ons eie kwaliteit dat ons in onsself iets het wat sterker is as die dood en ongeskonde deur die dood heengaan nie. As dit waar was, het die gelowiges in die Ou Testament in ‘n waan verkeer en heeltemal onnodig die dood gevrees. Nie ons eie onsterflikheid nie, maar Jesus se oorwinning oor die dood is ons hoop en ons troos.

 

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König




God in ons midde

God in ons midde – Jan van der Watt

Andre vra:

God is mos altyd by ons. Wat is dan die betekenis van die gedeelte in die Bybel wat sê as 2 of 3 in My Naam bymekaar kom, is Ek in hulle midde.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Here is altyd by ons, dit is waar. Om die waarheid te sê, as jy sy kind is, is Hy in jou deur sy Gees. Die gedeelte in Matteus 18 waar daar staan dat waar twee of drie bymekaar is, is Hy daar, ontken nie dat die Here altyd by ons is nie. Dit wil klem lê op iets anders. In Matteus 18 gaan dit oor reëlings in die gemeente. ‘n Gemeente bestaan natuurlik uit ‘n groep mense – maar hoe groot moet ‘n gemeente wees? Waar twee of drie bymekaar is, daar is die Here.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Die Bergpredikasie

Die Bergpredikasie – Jan van der Watt

Estelle vra:

Kan u my asb help? Verduidelik een van die bergpredikasies in die konteks van Jesus se bediening soos aan die dissipels oorgedra, en is dit nog in vandag se wêreld relevant?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Enkele opmerkings oor die Bergpredikasie

 

Die Bergpredikasie (Mat 5-7) is die naam wat gegee word aan Jesus se preek op die berg (die tradisionele plek wat mense vir jou vandag in Israel wys is op die noordelike oewers van die See van Galilea, maar niemand weet presies nie). As ‘n mens egter na die inhoud van Mat 5-7 kyk en dit met Lukas se parallelle vergelyk, word dit duidelik dat Matteus waarskynlik ‘n klomp van Jesus se preke bymekaar gesit het, byna soos ‘n preek bundel, om vir sy lesers ‘n goeie idee te gee hoe Jesus gepreek het. (Kyk na die parallelle gedeeltes in Lukas – hulle is in Lukas versprei – d.w.s. dit is nie een preek nie, en dit word ook nie van ‘n berg af gelewer nie, maar Jesus is met van die preke  in ‘n vlakte – vgl Luk 6:20-23; 14:35-35; 16:18; 6:27-28, 32-36; 11:2-4; 12:33-36; 16:13; 12:22-34; 6:37-38, 41-42; 11:9-13; 13:24; 6:43-44; 13:25-27; 6:47-49. Lukas se verse is genoem in die volgorde waarin dit in Matteus voorkom. Kyk hoe dit versprei is in Lukas).

Om die Bergpredikasie te verstaan, moet ‘n mens eers Matt 4:23 met 9:35 vergelyk. Die twee verse is byna dieselfde en sê dat Jesus a) gepreek het en b) wonders gedoen het, veral genesings. As jy nou na Matt 5-7 kyk, sien jy dat dit Jesus se preke is terwyl Matt 8-9 ‘n reeks wonders bevat (10 in totaal waarvan die meeste genesings is). Dit is dus duidelik dat Matteus wou illustreer hoe Jesus se openbare bediening verloop het deur vir ons ‘n klomp van sy preke saam te sit en ook ‘n klomp van sy wonders. So kry die leser ‘n idee hoe Jesus se openbare bediening was.

‘n Ander interessantheid van die Bergpredikasie is dat Matteus Jesus hier in die plek van Moses voorstel. Moses het ook van ‘n berg af die wet van God aangekondig. Jesus doen dit nou van hierdie berg af, maar wys wat God regtig met sy wet bedoel het. Kyk hoe Matteus 5 oor die wet gaan, maar hoe daar elke keer gesê word: julle sê so, maar Ek sê vir julle so…. Jesus gee dus die wet ‘n nuwe inhoud – Hy beweeg weg van die ‘wettiese interpretasie’van reëls hou, na die waardering van die mens. Jy moet nie iemand beledig nie, sê Jesus, want dit is so goed soos moord. Hoekom? Omdat die mens meer is as net ‘n liggaam. ‘n Mens het ook ‘n binneste, ‘n naam, ‘n persoonlikheid, gevoelens, en as jy dit seermaak, tas jy sy mensheid aan en oortree so God se wet van moord. Jy neem as’t ware ‘n geestelike mes en steek die persoon dood. Net so met die egskeidingswette. Die vroue het nie daardie tyd veel regte gehad nie en die man kon haar baie maklik met ‘n skeibrief wegstuur. Jesus keur dit sterk af, want die vrou is meer as wat die Joodse wet veronderstel. Sy is iemand met regte wat so hanteer moet word. So brei Jesus die betekenis van die wet uit om meer klem op die waarde van die mens te lê.

Is die Bergpredikasie nog vandag van toepassing? Natuurlik. Daar was oor die jare mense wat dit wou afwater, maar as ‘n mens na die opdragte van Paulus gaan kyk verskil dit nie veel van wat die Here hier van sy kinders verwag nie. Ons moet mekaar werklik liefhê.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Vas

Vas – Jan van der Watt

Vas, met ander woorde, om vanweë geestelike  of godsdienstige redes bewustelik te besluit om nie te eet vir ‘n beplaalde periode nie, word vandag nog wyd in die Christendom beoefen, byvoorbeeld in die Rooms Katolieke, Ortodokse en sekere van die Protestantse kerke. Dit word selfs deur sommige as verpligtend gesien. Tog is daar ook ‘n groot groep Christene wat nie meer vas nie, veral op grond van Jesus se woorde dat terwyl die bruidegom daar is, hoef daar nie gevas te word nie (Matteus 9:14-15; Markus 2:18-20). Jesus is nou by sy kerk en deur die Gees in mense. Daarom hoef mense nie meer te vas en so God se aangesig te soek nie. God het by, nee, in hulle gekom. ‘n Verder rede wat soms aangevoer word, is dat vas maklik misbruik kan word (Jesaja 58 of Matteus 6; Lukas 18:12) deurdat die persoon wat vas dink hy doen iets vir God wat dan deur God beloon moet word, met ander woorde, hy of sy bou ‘n soort geestelike kapitaal by God op wat hom of haar dan op die ou einde beter af laat by God as ander mense. Dit is ook nie die doel van vas nie. Daarbenewens lees ons ook nie veel in die briewe van Paulus of in Johannes oor vas  nie. Dit kan beteken dat dit nie meer so belangrik was in die kerk self nie.

Maar laat ons nou eers vra: wat is die funksie van vas? Dit is ‘n manier om jouself bewustelik vir God oop te stel en jouself geleentheid te gee om oor jou verhouding met God na te dink. Jy spandeer bewustelik ekstra tyd met God om oor jou sonde na te dink, jou afhanklikheid van God te ervaar en jouself net weer kans te gee om rustig en nederig op God se skoot te kan sit. Daarom is vas nie net kos los nie, maar behels aktiewe geestelike verdieping, onder andere deur gebed, nadenke, of die soek van rigting in jou lewe saam met God. Daarom kan daar gevas word wanneer jy ook al voel jy wil die Here spesiaal ‘opsoek’ of jy het Hom nou spesiaal nodig (vgl. Levitikus 16:29,31; 23:27,29,32; 1 Samuel 7:6; 2 Samuel 12:16; 1 Konings 21:27; Nehemia 9:1-3; Psalm 35:13; Lukas 2:37; 18:12). Die kos wat gelos word, gee jou meer tyd maar herinner jou ook aan dit waarmee jy besig is. Jesus het byvoorbeeld self 40 dae in die woestyn gevas ter voorbereiding van sy openbare bediening (Matteus  4:2). So het ook die kerk in Antiogië gevas en gebid (Handelinge 13:3).

Jesus het nie aan sy kerk die vaste opdrag gegee om te vas  nie. Hy het selfs gesê dat hulle nie hoef te vas nie. Hy was selfs negatief oor vas as dit gaan om misbruik ter wille van eie geestelike gewin of hoogmoed (sien Matteus 6). Tog het Jesus nie vas verbied nie. Uit dele soos Handelinge 13:3 is dit duidelik dat die gelowiges steeds voortgegaan het om te vas, maar om die regte redes, soos hierbo beskryf. Daarteen het die Bybel niks nie. As ‘n gelowige dus voel dat hy of sy spesiale tyd saam met die Here wil spandeer en bewustelik nie kos wil inneem nie om sodoende ekstra tyd met die Here te kan spandeer of herinner kan word deur die opoffering van die kos aan die geestelike pad wat hy of sy besig is om saam met die Here te loop, kan daar geen fout mee gevind word nie, nie as die eerlik en opreg gedoen word nie. Dit is jou keuse, maar dit is ook nie ‘n keuse wat jy op ander moet afdwing nie. Vas gaan oor die verdieping van jou verhouding met God en nie oor jouself en jou eie eer nie (Matteus 6:16-17).

Outeur: Prof Jan van der Watt