Ek cope nie meer nie: Moenie die Here onderskat nie – Jan van der Watt

Om as Christen hoop te verloor of handdoek in te gooi beteken om die deur in God se gesig toe te slaan. 1 Petrus 5:7 (p. 775) sê nie verniet nie: “Neem al die dinge waaroor julle julle           bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.” Die lewe is nie sonder versoekings wat ons wil wysmaak dat ons nie kan cope nie. Petrus verduidelik:

In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg. Moe­nie toelaat dat hy julle geestelike fondamente skud nie … Hy sal vir julle al die krag gee wat julle nodig het … (dele uit      1 Pet. 5:8 en verder, p. 776).

Moenie die Here onderskat nie. Dit klink nou na ’n van­self­sprekende opmerking, maar dit is baie soos ’n troubelofte. Baie mense sê: “Tot die dood ons skei,” maar skei voor die dood. Wat hulle sê en wat hulle doen, is twee verskillende dinge. So sal alle Christene vir jou sê dat die Here kan help, maar laat hulle net in ’n krisis kom, dan is dit ’n ander storie. Dan wag jy tevergeefs – so tussen die woede- en depressie-aanvalle deur – vir daardie persoon om tekens daarvan te toon dat hy darem ook ’n Christen is.

H.G. Wells vertel ’n storie om dit te illustreer. Daar was ’n baie goeie leraar in New York wat met mense gewerk het wat deur die lewe gestamp is. Sy eie lewe was mooi georganiseer. Hy het altyd, nadat die mense hulle krisisse en probleme voor hom uitgestort het, gesê: “Liewe vriend, gaan praat met die Here daaroor. Hy sal kan help.”

Soos die lewe nou maar is, land hy toe ook eendag in ’n krisis. Toe hy nie meer weet wat om te doen nie, stap hy maar by die kerk in en buig sy hoof: “Here … ” begin hy.

Skielik hoor hy ’n stem: “Wat is dit, my seun?” Die volgende dag tel van sy lidmate hom dood in die kerk op. Sy hart het glo gaan staan.

Hiermee wou Wells illustreer dat dinge waaroor ons maklik praat soms maar net praat is. As ons agterkom dat die Here regtig daar is, skok dit ons byna uit ons geloof. Die rede is omdat ons te min van God verwag. Om die waarheid te sê, ons dink nie Hy is regtig daar of stel regtig in ons lewe en kri­sisse belang nie. Daarom is godsdiens vir baie mense meer ’n las as ’n vreugde. Hulle dra swaar aan hulle gewete omdat hul­le dinge sê wat hulle nie bedoel nie.

Om te sê jy moet die Here nie onderskat nie is een ding. Om die Here regtig nie te onderskat nie is ’n ander. Hierdie “ding” sal jy net regkry as jy nie net sê die Here is daar nie, maar dit weet en Hom toelaat om ’n rol in jou lewe te speel.

Gebed verander jou

omdat God dinge verander

Gebed is die hartslagaar van die gelowige wat in die lewe moet en wil cope. As daardie slagaar toetrek of nie meer werk nie, begin die mens geestelik duiselig raak en versmoor.

  • Gebed is die plek waar ek ontdek dat ek nie alleen is nie. God is dáár en in sy genade is Hy ook dáár vir my. Ek hoef nie in die lewe alleen staande te probeer bly nie. Ek het al die rede in die wêreld om die Here te vertrou en dinge van Hom te verwag. Luister wat staan in Psalm 42:1(p. 912): “Soos ’n bokkie in die woestyn wat dors is vir water, so het ek ’n vurige verlange om by U te wees, God! Net soos wat ’n bokkie sonder water doodgaan, gaan ek dood as ek nie by U is nie. Ek wil heeltyd net by U wees.” Soos water ’n bokkie in die woestyn lewendig kan hou, so sal die teenwoordigheid van die Here in jou lewe jou ook lewendig hou.
  • Gebed is ook die plek waar ek perspektief op my eie lewe kry. Daar, op die skoot van God, ontdek ek wat regtig belangrik is en wat nie. As ek in sy oë kyk en my versoek rol oor my lippe, sal ek weet of dit is wat Hy wil hê of nie. Op die manier word my eie wil ook al meer in ooreenstemming met die wil van God gebring. Ek kan tog nie op sy skoot sit en dinge vra wat ek weet Hy nie van hou nie en buitendien nie vir my sal gee nie. As ek dus valse doelwitte najaag, sal ek dit in my ge-sprek met God agterkom. So sal ek geslyp word om die regte dinge na te jaag, en deur dit te doen ook nie deur die gevoel oorweldig word dat ek nie kan cope nie.
  • Maar as ek so op God se skoot sit, weet ek ook dat Hy my nie in die steek sal laat nie. Hy gebruik elke ding wat in my lewe gebeur, of dit goed of sleg is, om sy doel te bereik. “Alles wat met elkeen van ons gebeur wat God liefhet, werk tot ons beswil uit” (Rom. 8:28, p. 497). Dit gee my ook spesiale perspektief op my lewe en help my cope. ’n Krisis is mos ’n snaakse ding. Dit is byna of iemand ’n donker doek oor jou kop gooi. Alles word skielik duister en jy kyk net hier voor jou vas. Al wat jy dink en praat, is net die krisis. Omdat die donker doek van die krisis oor jou kop lê, kan jy nou ook nie juis verder kyk as jou krisis nie. Maar juis op daardie oomblik wanneer jy so in jou eie krisis vasgespin is en gevaar loop om moedeloos te word, maak God die verskil. Van een ding kan jy seker wees: God kyk nie net in jou krisis vas nie. Hy kyk reeds in jou toekoms en sorg dat dit wat nou met jou gebeur ook tot jou eie beswil sal uitwerk. In jou krisis weet jy nog nie waarheen alles gaan lei nie, maar God weet. As jy God dus vertrou, sal jy ook moed hou … en cope.
  • Gebed is ook die plek waar ek my hart kan uitpraat en met God kan worstel. Dit is om dinge wat soos dorings in my hart en gemoed vassteek uit te kry en voor God te lê. Filippense 4:6-8 sê juis dat as iets ons pla, moet ons met God daaroor gaan praat. Ons moet in vertroue daaraan vashou dat Hy die beste weet. Dit sal die las van ons skouers afneem, wat natuurlik sal beteken dat ons makliker sal kan cope. Daarom sê die skrywer van Psalm 56 (p. 929): “As ek begin bang word, Here, besluit ek net daar om op U te vertrou. U sal my help. Ek prys God vir sy belofte dat Hy my sal help. Op Hom vertrou ek sonder om bang te wees … Ek prys God omdat Hy my sal help. Ek loof die Here. Hy hou sy woord.”
  • Wat doen dit aan ’n mens om te weet die Here is daar en jy kan op hom vertrou? Hoor wat Paulus op so ’n vraag antwoord:

Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my: die krag van die Gees wat elke dag by my is …

Ek kry dikwels swaar, maar ek raak nooit mismoedig nie.

Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie.

Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit al-  leen nie.

Soms word ek onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op. Ek bly nooit lê nie (2 Kor. 4:7 en verder, p. 576).




Bybelstudie – Jan van der Watt

Vraag 1: Waarom is bybelstudie belangrik? (Charron)

Kennis van die inhoud van die Bybel is een van die pilare van ons Christelike lewe. Dit was so van die vroegste tyd af – ons sien byvoorbeeld dat die gemeente van 2 Petrus Paulus se briewe (die Bybel – 2 Pet 3:15-17) gelees het en dat die Evangelie van Johannes (ook in die Bybel) deur Johannes se gemeente gelees en in hulle lewens toegepas is (kyk hoe die skrywer van die Briewe gedurig verwys na wat sy gemeente weet, gehoor het of gelees het: 1 Joh 1:5; 2:7, 24; 3:11; 4:21; 5:20 – dit verwys na hulle kennis van die Johannesevangelie). Die rede waarom hulle dit gedoen het en ons ook die Bybel moet lees, is belangrik:

Hoe gaan mens God leer ken of weet wat Hy van jou verwag as jy dit nie in Sy Woord lees nie. Waar gaan jy uitvind hoe redding werk, of wat die toekoms inhou, as ons die antwoorde nie uit Sy Woord kan kry nie. Sonder die Bybel en BybelSTUDIE bly al ons kennis oor godsdiens maar net mensekennis. Die Christelike godsdiens is dus ‘n ‘openbaringsgodsdiens’, met ander woorde, God kom wys vir ons wat ons van Hom en van diens aan Hom moet weet. Ons kan dit nie as mense sommer uitdink nie en as ons sommer ons eie idees as God se idees aan ander verkondig, is dit eintlik laster teen God. Ons mag nooit ons eie idees oor God met God se eie idees oor Homself, soos dit in die Bybel staan, verwar nie.

Om seker te maak dat ons nie op dwaalspore land nie, moet ons dus weet wat in Sy Woord staan. Daarom is Bybelstudie so belangrik.

Vraag 2: Hoe word bybelstudie gedoen help asb (Charron)

As ons praat van bybelstudie doen, dan gaan dit nie oor die lees van die Bybel voor jy gaan slaap nie. Dit gaan oor ’n bietjie meer moeite doen om die boodskap van die Bybel in meer diepte te verstaan. Hier volg ’n paar riglyne (’n Bybel of miskien meer as een Bybelvertaling, ’n notaboekie waarop jy aantekeninge kan maak, asook internet as jy het, is aan te beveel).

  1. Kies ’n volle, samehangende paragraaf (nie net paar verse nie). HULP: Kyk na hoe die gedeeltes in die Bybel opgedeel word. Gewoonlik is die paragraaf tussen twee opskrifte ‘n eenheid. As jy meer as een Bybelvertaling kan gebruik, doen dit. Vergelyk die vertalings en as daar verskille is, moet jy self mooi kyk hoe jy dink die paragraaf lyk.
  2. Lees jou gedeelte deeglik deur. Lees die paragraaf behoorlik deur (met ander woorde, lees elke sin en woord).
  • merk alles wat jy nie verstaan nie (Dit is die dinge waaroor jy meer sal moet uitvind).
  • Skryf neer waaroor jy dink jou gedeelte gaan.
  • Skryf die dinge neer wat jou veral tref.
  1. DIE GEHEIM: Lees die KONTEKS. Kyk nou vlugtig na die gedeeltes wat voor en na jou paragraaf staan. Daar kry jy dikwels waardevolle inligting wat jou kan help om jou gedeelte beter te verstaan. Jy sien miskien dat Jesus net met sy dissipels praat en nie met al die mense nie. Dit beteken dat wat Hy sê net vir gelowiges en nie vir almal bedoel is nie. Of jy sien miskien in Paulus se brief dat Hy van redding in die konteks praat en dan weet jy in watter konteks jy jou paragraaf ook moet lees. Soek dus vir goeie ‘clues’ om jou met die verstaan van jou gedeelte te help.
  2. Die Lekker: Probeer die vloei van die argument verstaan. Elke paragraaf is soos ’n gesprek tussen jou en iemand anders: die gedagtes is nie sommer deurmekaar nie, maar volg (gewoonlik logies) op mekaar. Die uitdaging is nou om te kyk of jy jou paragraaf se gesprek logies kan rekonstrueer, met ander woorde of jy kan kyk hoe een gedagte op die ander volg en waarom. (Hier help dit om die gedagtes, soos hulle op mekaar volg, onder mekaar neer te skryf en dan aan die einde te kyk hoe jy dink dit op mekaar volg). Die doel is om uiteindelik vir iemand anders volledig te kan vertel hoe die gedagtes op mekaar volg en wat die paragraaf dus wil sê. Met verhale soos gelykenisse sal dit makliker gaan as met Paulus se ingewikkelde argumente, maar met altwee moet jy probeer om agter te kom wat word gesê en hoekom.
  3. Die probleem: Daar mag dinge wees wat jy nie verstaan nie – vind dan uit! Omdat die Bybel omtrent 2000 jaar gelede geskryf is, gaan jy dinge kry wat jy nie verstaan nie, miskien soos name (Fariseërs, Sadduseërs, Antichris), of terme (geregtigheid, verdoemenis) of uitdrukkings (idiome – vurig kole op jou hoof ophoop), gewoontes (Jesus spoeg op iemand se oë) en so voorts. Jy sal nie die betekenis van die dinge self kan uitdink nie, met ander woorde, jy sal iewers hiulp moet kry. Daar is ’n paar manier waarop jy hulp kan kry: (i) As jy verklarende Bybels (bv. Eenvolume kommentaar, of Bybel in Praktyk) het, kan dit jou help. [Jy moet hulle egter nie eerste lees voor jou stap (d) nl. die vloei van die argument self gedoen het nie]. (ii) kyk in Bybelkennis op daar nie inligting is nie. (iii) Soek op die internet. Dit is egter gevaarlik omdat soveel persone sommer ongekontroleerde en verkeerde dinge op die internet sit, baie keer om hulle manier van verstaan te bevorder. ’n Mens kan baie maklik op verkeerde paadjies gelei word. Dit is veral waar oor boeke soos Openbaring. Probeer dus seker maak dat jy betroubare webblaaie opsoek. Dit is moeilik om altyd te bepaal of ’n webblad goed is – ’n goeie toets is dat as die webblad dinge sê wat jou ongemaklik laat voel of heeltemal anders praat as dit wat jy in die kerk hoor, moet die rooi ligte aangaan. Nou praat ek nie van ’n klein verskilletjie hier en daar nie.
  4. Pas dit toe: sê vir jouself (of skryf dit neer) wat jy dink die gedeelte vir die oorspronklike lesers wou sê. Vra jouself dan wat dink jy beteken die boodskap van die gedeelte vir jou. Een spesifieke gedeeltetjie of die boodskap as geheel mag vir jou iets spesiaals beteken het. Neem dit met jou saam.

Die goue dop van bybelstudie: Bybelstudie is om met God te gaan praat en Hom toe te laat om met jou te praat. Die Heilige Gees is deel van die gesprek. Jy moet dus biddend (opreg aan die begin en einde bid) met verwagting na God se teenwoordigheid bybelstudie doen

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Is dit ek of is dit die Here of dalk albei? – Jan van der Watt

Tot dusver is baie klem gelê op die feit dat ’n mens eintlik die skep­per van jou eie lewe en die waarmaker van jou eie drome is. Maar waar is die plek van God in jou lewe? Die Russe het ’n baie ou spreuk: “Hoop op God, maar probeer jou bes.” In Spreuke 21:31 (p. 1099) staan: “Ons kan hard werk en elke dag goed beplan, maar sonder die Here is alles tevergeefs.” God leef nie ons lewe namens ons nie, maar ons kan nie ons lewe suksesvol leef sonder Hom nie. God gee vir ons die vry­heid om ons lewe te leef en keuses te maak soos ons wil. Die rede is eenvoudig. Daar is eintlik nie baie sin in liefde wat nie die vryheid van keuse ken nie. God dwing ons nie, maar lei en vergesel ons. Hoewel ek deur my keuses my lewe vorm, wil God graag deel van daardie keuse wees. Hy wil graag in­spraak hê en raad gee in my selfgesprek. So help Hy om my lewe te vorm. ’n Mens kan jou dit so voorstel:

’n Man bly alleen in ’n woonstel. Hy skop maar elke aand sy skoene in die sitkamer uit en los sy baadjie op die bank. So leef hy slordig, maar rustig in sy woonstel. Dan trou hy. Na die witte­brood trek sy vrou in en wat hoor hy toe sy baadjie op die bank en die skoene in die sitkamer bly lê?

“Ou man, ’n baadjie en skoene hoort in die kas. Wil jy dit nie asseblief bêre nie?”

Die man moet nou besluit of hy na sy vrou wil luister of nie. Let mooi op: dit is sy keuse; sy vrou pluk nie die koekroller uit en wiks hom tot in die kas nie. Net so gee God raad en lei ons. Hy weet die beste en dit is goeie raad, maar ons volg dit dikwels nie. Tog forseer Hy ons ook nie. Ons moet kies.

Deur die keuses wat ons maak, sluit ons God dikwels uit ons lewe uit. As dinge dan skeef loop, is ons vinnig om God in te roep om te kom sorg dat dinge weer reggemaak word. Wat ons nie besef nie, is dat God nie werk soos ’n fee of towe­naar nie. Hy sal waarskynlik van jou verwag om self die gemors reg te maak, maar hierdie keer onder sy leiding en met gehoor­same en oop ore. Dit is wat bedoel word as gesê word dat God nie ons lewe vir ons leef nie. Ons is nie marionette nie. Ons is mense. Daarom behandel God ons nie soos marionette nie, maar soos mense.

Die voorreg om mens te wees veronder­stel verantwoor­delikhede; elke situasie stel jou voor ’n keuse, elke keuse voor die vraag na wat jy gaan kies; elke keuse voor die vraag na wie jy gaan luister.

Om dus te sê dat jy die skepper van jou lewensituasie is be­­teken nie om God uit te sluit nie, maar vir die Christen be­­teken dit juis om God in te sluit. Hy word die begeleier en ge­spreks­genoot in jou selfgesprek. Daar waar jy vir jouself vertel hoe die lewe is en wat jy moet doen, moet God by wees en sy opinie moet tel. Maar dit beteken ook dat jy nie die ver­ant­woor­de­likheid om jou lewe te leef op God sal afskuif nie. Jy moet nie in die versoeking val om God te blameer vir die vuil rin­ge op jou kraag as jy nie jou nek gewas het nie.

Die voorreg wat Christene dus het, is om saam met Jesus te kan droom, maar nie net te kan droom nie, maar ook te kan lééf. Luister net wat sê Paulus in Kolossense 3:1-2 en 16 (p. 656, 657, 659):

… (T)oe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees. … Spandeer liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit! Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het …  Julle het ’n nuwe lewe gekry … Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word … En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.

’n Christen se lewe hoef nooit sonder drome te wees nie, want jy kan saam met Jesus droom. Hy gee vir ons die kans om nuut te begin. Hy gee ook vir ons ’n doel in die lewe, naam­lik om ’n verskil in die wêreld te maak soos Hy dit gedoen het. ’n Mens maak nie net ’n verskil as jy iemand belangrik ge­word het of as jy soveel sukses be­haal het dat jy nie al jou geld kan tel nie. Nee, jy maak ’n groot verskil as jy vir iemand anders dié Jesus wys saam met wie jy jou lewe leef. Dit doen jy deur jou glimlag, jou mooi woor­de, jou skoon gedagtes.

Daarom moet ons miskien weer ’n keer na ons drome kyk. Wie wil ons in ons drome groot maak? Myself of die Here? Die Bybel sê dat ons die Here op sy gelukkigste maak as ons droom daar­van om in die manier waarop ons teenoor ander op­tree ’n verskil te maak; ja, so ’n verskil te maak dat hulle  Jesus in jou raak sien en beter leer ken.

Wat is die mooiste droom wat ons kan droom?

Sou dit nie miskien ’n goeie idee wees nie om te begin droom van Jesus wat na jou kyk met ’n mooi glimlag,’n glimlag wat vertel van die mooi wyse waarop jy vir Hom leef. ’n Glimlag omdat daar in jou lewe liefde in plaas van haat is; ’n glimlag in plaas van ’n frons; mooi woorde in plaas van vernietigende kritiek; vergifnis in plaas van wrok; hulp in plaas van vernie­tiging; deursettingsvermoë in plaas van tou opgooi.

Het jy al ooit gedroom dat jy so wil wees? Droom dit en wees dit, want dit is ’n droom wat nie alleen jou lewe van ’n dor woestyn in ’n feëtuin sal verander nie, maar ook ander se lewe sal verfraai. Die droom, sê die Bybel, lê nie buite ons be­reik nie; tog is dit die mooiste droom wat jy kan najaag. Onthou, die beste manier om daglig te spaar is om dit te gebruik, ver­al om jou drome te verwesenlik.

As Christene het ons natuurlik ’n verdere voorsprong. As ons regtig voel ons het misluk en dat ons nie verder kan nie, is Jesus se helpende hand altyd daar. Hoor wat sê Jesus:

“Voel julle moeg vir hierdie lewe?

“Knak julle knieë onder al die probleme en verant­woorde­likhede wat julle moet dra?

“Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie?

“Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe.

“By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek …

“Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. Dit is nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lek­ker die lewe regtig kan wees” (dele uit Matt. 11:28-30, p. 51-52).

Iemand wat by die fontein van lewende water drink, sal nie dors word nie. Iemand wat struikel, sal nie val nie; nie as die Here naby is nie.

Bly positief, selfs te midde van dit wat vir jou na mislukking lyk. Iemand wat positief ingestel is, sal altyd die beste van ’n saak probeer maak, selfs al tref die slegste hom. Die optimis bly altyd ’n liggie sien waar daar miskien nie eers meer ’n kers is nie. Waarom moet die pessimis egter altyd hardloop om dit dood te blaas?




Vergifnis en geregtigheid – Hermie van Zyl

In hierdie aanbieding sal jy leer:

  • Wat die verband is tussen vergifnis en straf;
  • Wat die verband is tussen vergifnis en restitusie (herstel)

Noudat ons in die vorige aanbiedings redelik volledig gehandel het oor die verskillende aspekte van vergifnis, is die laaste kwessie wat ter sprake is die vraag: Is alles afgehandel nadat vergifnis plaasgevind het? Wat van die eis van geregtigheid oor verkeerde dade, waarvan sommige gruwelik en afstootlik kan wees, soos diefstal, roof, verkragting, wreedaardige (plaas)moorde, bedrog (pensioene wat daarmee heen is), om nie meer te noem nie? Selfs al kan mens dit vergewe, beteken dit dat die onreg wat gepleeg is ook daarmee uitgewis en vergeet is? Maak dit vergifnis nie goedkoop nie? Wat van die gevoel dat daar ook reg en geregtigheid moet geskied?

Twee aspekte is hier ter sprake: 1. Vergifnis en straf; en 2. Vergifnis en herstel.

  1. Die verband tussen vergifnis en straf

Daar is twee kante aan God wat nie teenoor mekaar staan nie, maar beide teenwoordig is in vergifnis, en dit is 1. sy genade en barmhartigheid wat maak dat God altyd gereed staan om te vergewe, maak nie saak hoe groot ons sonde is nie, en 2. sy toorn oor die sonde. Sonde grief Hom, en dit moet gestraf word. Altwee hierdie lyne loop deur die Bybel.

Hierdie twee lyne maak dat wanneer God vergewe Hy nie vergeet van die eis van geregtigheid nie. Hy vergewe nie maar sommer nie. Vergifnis is nie gelyk aan “oorsien” nie. Daar is ’n regsbasis vir sy vergifnis. Hoe ernstig God oor sonde is, blyk uit die dood van Christus. God het sy regmatige toorn en oordeel oor die sonde “gewreek” in Christus. Christus het betaal vir alle ongeregtigheid. Daarom dat daar in 2 Korintiërs 5:18-19 staan dat God in Christus Homself met die wêreld versoen het. God vergewe sonde omdat Hy dit klaar gestraf het in Christus. Die oorstelpende waarheid is: Beide sy vergifnis en straf van die sonde geskied uit liefde, barmhartigheid en genade. Ons kan die diepte hiervan nie peil nie; ons kan slegs in verwondering daaroor staan, dit glo en daaruit leef. Dis wanneer die besef my oorweldig wat dit God gekos het om my te vergewe, en hoe dit sy liefdeshart blootlê, dat dit berou en skuldbelydenis oor die grootheid van my sonde by my wek.

Maar, God se vergifnis van my sonde hef nie noodwendig die gevolge van my sonde op nie. Dis hier waar die verhouding tussen vergifnis en straf ter sprake kom. Daar is veral twee plekke in die Bybel waar dit geïllustreer word.

  1. God vergewe Dawid se sonde toe hy Urija, die man van Batseba, op ’n slinkse wyse op die slagveld laat sneuwel het, asook sy owerspel met Batseba. Maar nogtans sterf sy kind by Batseba. Volgens 2 Samuel 12:13-14 sê die profeet Natan vir Dawid, nadat dié berou getoon het oor sy sonde: God het jou sonde vergewe, maar omdat jy die vyand aanleiding gegee het om teen God te laster, sal jou kind sterwe.
  2. God vergewe Dawid nadat hy die volk laat tel het; hierdie telling was klaarblyklik daarop gemik om sy eie eer en aansien ’n hupstoot te gee (2 Samuel 24). Maar die volk ly as gevolg van Dawid se oortreding nadat die Here ’n pes onder die volk gestuur het.

Ja, ’n mens sondig nooit alleen nie. Jou sonde beïnvloed almal rondom jou, dit spoel oor na die groter gemeenskap, veral as jy ’n hoë en verantwoordelike posisie beklee en jou optrede wyer implikasies het as net vir jouself, soos in Dawid se geval. Hy word wel persoonlik vergewe, maar sy sondes het gevolge ingehou vir die volk Israel. Verder het huishoudelike spanning, rugstekery en skande ’n groot impak gehad op Dawid se huishouding (2 Samuel 12:11-12; 16:21-22). Dit is nou eenmaal so dat sonde ’n manier het om nie net die eer van God aan te tas nie, maar ook die sosiale orde te bedreig. Daarom is dit soms nodig dat die reg sy gang gaan, ongeag die feit dat God ’n mens vergewe.

Dieselfde beginsel van straf is ook ter sprake waar ons teen mekaar sondig. Hierdie sondes is soms net van so ’n aard dat dit nie ongestraf kan bly nie, of dat dit lank vat om die skade en die letsels wat dit laat, te herstel, selfs al vergewe ons die onreg wat ons mekaar aandoen. Die moordenaar aan die kruis ontvang vergifnis en hoor dat hy saam met Christus die paradys ingaan, maar hy boet steeds vir sy misdade. Die persoon wat gesteel het, mag deur die benadeelde vergewe word, maar gaan nog steeds deur die reg gestraf word. Die man wat in sy dronkenskap ’n kind doodgery het, mag uiteindelik deur die ouers vergewe word, maar gaan steeds tyd in die tronk deurbring. Die man wat sy vrou mishandel het, mag na rehabilitasie opreg berou hê en deur sy vrou vergewe word, maar dit gaan lank vat voor die verhouding weer herstel is, want ernstige skade is aangerig. Die persoon wat aan lewersirrose ly na ’n leeftyd van drankmisbruik mag na rehabilitasie berou hê en vergifnis ontvang, maar gaan nie skielik ’n gesonde lewer terugontvang nie. En so kan ons die voorbeelde vermenigvuldig.

Daar is dus ’n verskil tussen vergifnis en die ter syde stel van die gevolge van sonde. Sonde hou in baie gevalle ook straf in. Ja, ons mag en moet mekaar vergewe, ter wille van ons eie sieleheil en dié van die ander, sodat daar genesing kan plaasvind, sodat jy kan vry raak van die verlede. Maar, die reg gaan sy gang: Moordenaars, diewe en bedrieërs word steeds gestraf, wat ’n afskaduwing is daarvan dat God nie sonde bloot oorsien nie.

Die rede waarom vergifnis nie noodwendig die gevolge van ons dade uitwis nie, is omdat vergifnis ’n verhoudingsaak is, terwyl die gevolge van ons sonde ’n omstandigheidsaangeleentheid is. Dit beteken: ’n Verhouding – veral die verhouding met God – word deur vergifnis herstel; dis die begin van ’n nuwe pad saam met God en met mekaar. Maar die omstandighede van sekere dade is dikwels van so ’n aard dat dit gepaardgaande gevolge inhou vir onsself, vir ander en vir die breë gemeenskap. En daardie gevolge kan strafregtelike implikasies hê. ’n Mens maai nou eenmaal wat jy saai; as jy op die akker van jou sondige natuur saai, sal jy die gevolge daarvan dra, ongeag of jy daarvoor vergifnis ontvang of nie. Wat ons móét doen, is om op die akker van die Gees te saai, en dan die ryke oes daarvan in te samel (Galasiërs 6:7-8). Natuurlik, dit gaan hier nie oor ’n wettiese uitbalansering van dade en gevolge nie. Ook hier is die genade van God ter sprake. Dit maak dat ons in hierdie lewe baie meer genade ontvang as straf, en uiteindelik ten spyte van wat ons gedoen het die ewige lewe ontvang. Maar dit hef nie die lewenswet van Galasiërs 6:7-8 op waaraan ons almal onderhewig is nie. Ons word geroep om nie op die akker van die ou natuur te saai nie, maar op die akker van die Gees.

Wanneer dit gaan oor die geregtelike implikasies van ons dade, moet ons ook besef dat die wraak en soeke na reg en straf, Gód toekom, nie ons nie (Romeine 12:19). Verder, die owerheidsinstansies is daar om God se reg en straf in die samelewing te verteenwoordig. Die owerheid is immers ’n dienskneg van Gód, volgens Romeine 13. Wanneer daar dus straf uit te deel is, mag ons nie die reg in eie hande neem nie, hoe graag ons ook al wil, veral as daar na ons mening nie reg geskied nie.

Verder moet ons ook deurgaans besef en erken dat ons almal skuldig voor God is, nie net die slegtes nie, maar ook die goeies. Romeine 3:23 sê duidelik: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie”. Wanneer ons dus straf eis, mag dit nie met haat in die hart wees nie, maar met die besef dat onsself broos is en geneig tot alle kwaad.

Wanneer hierdie beginsel gestel word, is dit duidelik die ideaal. Maar ons weet dat die ideaal nie altyd verwesenlik word in die samelewing nie. Wat as die reg tot niet gaan, as die owerheid nie die reg handhaaf nie, as die skuldiges nooit aan die pen ry nie? Selfs dan geld die beginsel steeds: Moenie oorhaastig, en veral nie met haat, jouself in optredes begewe wat meer skade as goed aanrig nie. ’n Lewensingesteldheid van vergifnis probeer altyd ruimte maak vir die goeie in ander om te seëvier. Werk daarom aktief mee om die reg in ere te herstel en die samelewing te mobiliseer tot verantwoordelike optrede. In ’n totalitêre staat is dit moeilik – soos die eerste eeuse kerk moes ervaar – maar in ’n demokratiese bestel moet al die opsies eers uitgeput word voordat tot drastiese stappe oorgegaan word. In hierdie lewe is lyding onder onreg dikwels die gelowige se voorland. Maar ook hier vorm vergifnis die toonaard van die gelowige se lewe, waar die volgende riglyne van waarde kan wees:

  • Gee jouself tyd. Vergifnis is nie goedkoop nie. Niemand verwag van jou om dadelik te vergewe nie. Vergifnis is ’n lewenswyse, ’n langtermynbelegging, dit lewer eers later dividende op.
  • Beoefen rasionele terapie: Kry perspektief op ’n saak. Hoeveel ander het nie al dieselfde dinge deurgemaak nie; jy’s nie uniek in lyding onder onreg nie.
  • Vergifnis is ’n gawe van God, dit kom nie uit onsself op nie. Daarom: bid, worstel met God en die ander.
  • Vermy bitterheid. Stel jouself in ’n posisie waar God met jou kan werk en jou gesindheid verander.
  • Onthou, gevoel volg geloof. Glo dat jy kan vergewe; handel daarvolgens, en laat God mettertyd jou gevoel verander.
  1. Die verband tussen vergifnis en restitusie (herstel)

Die tweede aspek van vergifnis en geregtigheid het te make met restitusie. Hier gaan dit veral oor ons optrede wat ander ernstig benadeel het, wat soms ten hemele skrei. Afgesien van die regmatige straf wat daaruit kan voortvloei (kyk vorige afdeling), het ons ook ’n morele verantwoordelikheid om die skade te probeer herstel. Uiteraard moet jy God en die benadeelde(s) vra om jou te vergewe. Maar dikwels is daar ook restitusie ter sprake. Die Ou Testament het uitgebreide reëls hieroor gehad, kyk byvoorbeeld Eksodus 22:1-15; Levitikus 6:1-5. En so kry ons dit ook in die Nuwe Testament met die gebeure rondom Saggeus, die hooftollenaar van Jerigo. Volgens Lukas 19:8 is hy bereid tot restitusie, om so ver dit in sy vermoë is dinge reg te stel wat hy verbrou het. Hy is bereid om die geld wat hy onregmatig van mense verhaal het, viervoudig terug te betaal.

Hierdie optrede van Saggeus is nie blote “tokenism” nie, dit vloei voort uit sy herstelde posisie voor God. Tollenaars was Jode wat as belastinggaarders vir die Romeine opgetree het. Hulle is daarom deur hulle volksgenote as buitestanders van die verbond beskou, volksverraaiers, nie kinders van Abraham nie. Maar Jesus sê vir Saggeus: Ek moet by jou tuisgaan, want vandag het daar redding vir hierdie huis gekom. Hierdie man is ook ’n kind van Abraham; ja, hy is deel van die verbondsvolk, nie ’n buitestander nie.

So het Jesus Saggeus se status in die Joodse gemeenskap herstel. Daar het redding vir hom gekom, sy sondes is vergewe. En volgens kerklike tradisie het hy later leier van die Christelike gemeenskap in Sesarea geword. Indien dit waar is, het hy, net soos Paulus ná sy bekering, ’n leiersposisie in die vroeë kerk vervul. Want redding is altyd totale herstel, waarvan vergifnis van sonde ’n aspek is.

Vanuit sy herstelde posisie voor God en in die gemeenskap is Saggeus nou bereid om restitusie te doen vir wat hy verbrou het. Die helfte van sy goed gee hy vir die armes, en hy betaal vierdubbeld terug waar hy iets van iemand afgepers het. So is hy presies die teenpool van die ryk jongman wat nie bereid was om iets vir die armes te gee nie (Lukas 18:23). Dis eintlik ironies: Die ryk man was ’n persoon van aansien in die gemeenskap en kenner van die wet, tog is hy nie bereid tot herstel nie. Maar Saggeus – die veragte, die uitgeworpene – gee veel meer (4x) as wat vereis is deur die wet. (Laasgenoemde was die volle bedrag + 20% rente.) Dit is teken van sy egte berou en aanvaarding van God se vergifnis. Hy wil hê al die verhoudings waarin hy staan, moet herstel word.

Ware berou en ontvangs van vergifnis vertaal altyd in die bereidheid tot herstel van verhoudings en van skade wat aangerig is. Daarom sê Jesus ook vir die vrou wat in owerspel betrap is: “Gaan heen, en sondig nie meer nie” (Johannes 8:11). Die “gaan heen” is die kwytskelding en vergifnis van sonde, en die “sondig nie meer nie” is die oproep tot ’n nuwe lewe waarin sy afstand doen van haar ou lewe en die nuwe lewe as herstelde mens aanvaar en uitleef.

So ook in Matteus 5:23-24. Selfs al is jy met jou goedbedoelde godsdienstige pligte besig (besig om ’n offer te bring), en dit val jou daar by dat jou medegelowige iets teen jou het, laat staan jou offer net daar, gaan maak vrede – dit wil sê, gaan herstel die verhouding met jou naaste, gaan maak reg wat moontlik as gevolg van jou onverskillige optrede skeefgeloop het – en bring dan jou offer. Dit onderstreep die belangrikheid daarvan dat ons as vergeefde mense so sensitief sal wees vir skeefgetrekte verhoudings, vir dit wat moontlik weens my optrede of gebrek aan optrede stukkend gegaan het, dat ek my diens aan God sal opskort – eintlik, dat my diens aan God getransformeer word tot diens aan my naaste – en so ontdek dat my diens aan God ook getransformeer word, tot sy reg kom.

Al hierdie voorbeelde laat ons net besef: Genade en vergifnis is nooit goedkoop nie. Dit het die dood van God se Seun gekos om ons sonde te vergewe. Genade is ’n duur geskenk van God. Dis weliswaar gratis, want ons kan nie daarvoor betaal nie, maar dis nie goedkoop nie. Net so ook wanneer ek iemand anders benadeel het. Dit vra iets van ons om die gebroke verhouding te herstel – ’n nuwe lewensstyl van restitusie, sodat reg en geregtigheid kan geskied.

Verder, ook by hierdie punt moet dit gestel word: Die gevolge van sonde lê nie net op persoonlike vlak nie, dit spoel ook oor na sosiale strukture. Neem byvoorbeeld die nagevolge van slawerny. Ons kan vergifnis gee en ontvang vir die onreg wat aan mense gedoen is, maar dit neem leeftye van herstel en restitusie om daardie onreg uit te wis en geregtigheid tot stand te bring. Die VSA sukkel vandag nog om hulle slawe-verlede af te skud.

Ons kan dit ook toepas op Suid-Afrika. Ons sukkel steeds met die nalatenskap van apartheid. Hoe goed die beleid van “afsonderlike ontwikkeling” ook bedoel was, feit is dit het skade aangerig aan verhoudings, dit het mense veronreg, en so-iets word nie summier herstel net omdat ons mekaar vergewe nie, ten spyte van die Waarheids- en Versoeningskommissie se pogings. Vergifnis is weliswaar die regte begin, want dit maak jou vry van die verlede en maak ’n nuwe toekoms moontlik, maar dit moet vertaal word in konkrete dade van geregtigheid.

En ja, ongelukkig is daar weer nuwe vorme van ongeregtigheid wat deur ’n nuwe regeringsbestel veroorsaak word. Omgekeerde apartheid en rassisme, en wraakpolitiek is aan die orde van die dag, asof mense nie geleer het uit die verlede nie. En ook dit gaan sit nie in ons klere nie. Uiteindelik is dit alleen dade van geregtigheid wat die gevoel van verontregting kan verander, selfs al vind daar vergifnis plaas.

Wat wou ons met hierdie lesing bereik? Net dit: Vergifnis is belangrik en noodsaaklik. Dit sê wie ons is: Burgers van die koninkryk van God. Maar vergifnis is nooit ’n simplistiese of goedkoop saak nie. Of dit nou God is wat my vergewe of ons wat mekaar vergewe, daar is altyd geregtigheid ter sprake. Vergifnis is net die begin van ‘n lewenslange herstelproses van dit wat deur sonde verkeerd geloop het. Slegs so kom daar sjalom – totale herstel van verhoudings. Maar dit begin by vergifnis.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl