Verbond

Verbond

Die twee dele van die Bybel is bekend as die Ou en die Nuwe Testament. Testament is eintlik ʼn ander woord vir ooreenkoms of verbond.

Verbond is die woord wat gebruik word as God ʼn ooreenkoms met mense maak. As Hy byvoorbeeld na die vloed vir Noag beloof dat Hy nooit weer die wêreld met water sal vernietig nie, dan is dit ʼn ooreenkoms of verbond. As Hy vir Abraham ʼn groot nageslag en ʼn land van sy eie beloof as Abraham Hom getrou dien, is dit ʼn verbond. Net so maak Hy ʼn verbond met die volk Israel by die berg Sinaï dat Hy vir hulle ʼn God sal wees as hulle vir Hom ʼn volk sal wees. Hy sal vir hulle sorg as hulle sal leef soos sy volk. Dan gee die Here vir die volk die Tien Gebooie as riglyn hoe hulle as sy volk moet leef (Eksodus 20). Daarom noem mense partymaal die Tien Gebooie die “Verbondswet”, want dit is deel van die ooreenkoms tussen God en sy mense.

Een ding moet ʼn mens hier nie miskyk nie. So ʼn ooreenkoms het nie net van een kant af gekom nie. God sou doen wat Hy beloof het, maar sy mense moes ook doen wat hulle beloof het. As deel van hierdie ooreenkoms moes hulle volgens God se wil leef. Indien nie, is hulle bereid om die straf daarvoor te dra. Die beskrywing van die tipe straf wat toegepas gaan word as iemand die ooreenkoms breek, is deel van die ooreenkoms: wie dit nie nakom nie, moet voel. Daarom is dit so ernstig as hulle nie na God luister nie. Ongehoorsaamheid beteken hulle breek hulle ooreenkoms en verhouding met God. Dan verdien hulle elke stukkie ongelukkigheid of straf wat van God se kant af kom.

Jesus het ook so ooreenkoms met ons kom sluit. As ons in Hom glo, sal ons God se kinders wees, ja, God sal vir ons ʼn Pa wees en ons sal sy kinders wees. En daarom moet ons soos sy kinders leef. Daar is egter een verskil tussen die verbond van Jesus en die verbonde van die Ou Testament. Jesus help ons as ons nie heeltemal soos soet kinders leef nie. Sy genade maak ons sondes toe. As daar straf uit te deel is, verdra Hy dit in ons plek. Uit liefde vir Hom en ons hemelse Vader moet ons egter elke dag so leef dat Jesus nie te veel vir ons hoef te skerm nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ek bly sonder kos en sulke dinge, maar nie om te dieet nie, maar om te vas

Ek bly sonder kos en sulke dinge, maar nie om te dieet nie, maar om te vas

Die Bybel praat van ʼn gebruik om ter wille van jou godsdiens nie kos te eet vir ʼn ruk nie – dit word vas genoem (Matteus 6:16-18). In plaas daarvan om te eet, fokus jy op God. Sodra jy honger word, of etenstyd aanbreek, sê jy vir jouself nee vir die kos en dink dan liewer aan die Here en praat met Hom. Op die manier word die vastyd ʼn spesiale tyd vir jou en God. In die tyd kom jy sommer baie nader aan hom.

Die probleem in die Bybel was dat sommige mense wel gevas het, maar om verkeerde redes. Hulle wou hê mense moes sien hoe godsdienstig hulle is. Hulle het nie gevas sodat hulle nader aan die Here kon kom nie, maar sodat mense meer van hulle kon dink. Daarom was die Here nie baie gelukkig daaroor nie.

Ons vas nie eintlik meer vandag nie, want Jesus het gesê dat as die Here elke dag so naby jou is, ja, in jou is, moet jy geen oomblik van Hom vergeet nie. Hy moet soos jou beste vriend wees. Dan hoef jy nie spesiale tye af te sonder om Hom te soek nie. Nee, jy moet elke dag saam met Hom feesvier en jou lewe geniet.

Dit beteken nou nie dat dit verkeerd sou wees as jy tog vir ʼn rukkie “vas” om net weer op jou verhouding met die Here te konsentreer nie. Jy kan iets wat jy graag doen of eet vir ʼn ruk los, net om jou daaraan te herinner dat jy gereeld met Jesus moet praat en moet doen wat Hy vra. Maar dan moet jy dit met die regte gesindheid en doel doen: om nader en nader aan jou Here te kom.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Vals profete

Vals profete

Mense kan jou soms so deurmekaar praat oor die godsdiens dat jy nie weet wie om te glo en wie nie. Dit was in die Bybelse tyd al so en dit is baie gevaarlik, want ʼn mens kan maklik op die verkeerde pad beland.

Die Bybel is ons anker as dit by waarheid kom. As iemand vir jou iets vertel wat met die Bybel bots, moet jy maar katvoet loop. In 1 Johannes 4:1-3 sê Johannes dat selfs as iemand beweer die Heilige Gees self het vir hom die boodskap gegee – en die boodskap verskil van die boodskap van Jesus – moet jy hom nie glo nie. Immers, die Gees sal mos nie ʼn boodskap gee wat Jesus ondermyn nie. As iemand so ʼn boodskap, wat met Jesus s’n bots, aan jou wil afsmeer, is dit die sekerste teken van ʼn dwaalleraar. Paulus sê dit nog sterker: hy sê dat selfs as ʼn engel deur die venster vlieg en voor jou kom staan en sê jy moet iets anders as die goeie boodskap van Jesus glo, moet jy vir hom sê hy kan maar gaan vlieg (Galasiërs 1:8). Jesus se boodskap staan vir jou vas.

Partykeer kom mense na jou toe en sê “Die Here (of die Gees) het dit of dat vir my oor jou gesê”. Baie keer is dit sommer ʼn seermaak boodskap. Moenie dit sommer net so glo nie. Die Here sal mos nie by ander oor jou “skinder” sonder om vir jou self ook daarvan te sê nie. Nee, as Hy oor jou iets wil sê, sal hy dit vir jou ook sê. Hy sal dit vir jou op ʼn manier bevestig. Oppas vir mense wat jou met godsdiens probeer manipuleer.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Here kies vir jou (Uitverkiesing)

Die Here kies vir jou (Uitverkiesing)

Kies die Here party mense en party mense nie? Sommige mense sê ons moet die uitverkiesing so verstaan. As die Here jou kies, sal jy gered word. As Hy jou nie kies nie, sal jy nie gered word nie. Ander sê weer ʼn mens moet jou bekeer, anders gaan jy nie gered word nie. Wat moet ons glo?

Kom ons kyk of ʼn storie ons kan help. Sê nou die skoolhoof besluit dat hy so baie van die kinders in die skool hou, dat hy volgende Vrydagoggend voor skool vir elkeen ʼn roomys gaan gee. Hy kondig dit af, reël dat die roomys daar is en deel dit ook uit. Vrydagoggend kom en die kinders kry hulle roomys. ʼn Paar het gedink dis ʼn grap of het hulle nie daaraan gestuur nie. Toe hulle later met skoolopening daar aankom, is alles verby. Wie moet hulle blameer dat hulle niks gekry het nie? Wel, net hulleself. As ons mooi na die storie kyk, het die skoolhoof alles gedoen en gereël. Hy het letterlik alles gedoen. Al wat die kinders moes doen, is net om die roomys te kom haal.

So werk God met ons ook. Hy het net mooi alles vir ons redding gereël. Hy het uit liefde besluit om ons te red, het Jesus gestuur om alles reg te maak vir die redding, het predikante gestuur om ons te vertel van die redding en so aan. Met al hierdie dinge het ons as mense net mooi niks te doen nie. God reël dit. In die sin kan ons sê dat alles van God af kom. Sonder Hom sou daar niks gewees het nie. Maar as ons nie die redding aan die voet van die kruis by Jesus kom kry nie, het ons ook maar niks (net soos die kinders wat nie die roomys kom haal het nie). Dan kan ons ook nie vir God blameer nie. Ons kan net onsself blameer. Ons weet mos waar om die redding te kry: by Jesus deur in Hom te glo. As ons ons nie daaraan steur nie, moet ons nie verwag dat God dit in ons kele gaan afdruk nie.

In Efesiërs 1 lees ons dan ook dat God almal gekies het wat aan Jesus behoort. Hy het Jesus gekies en saam met Hom almal wat aan Hom glo. As jy dus aan Hom glo, kan jy maar weet God het jou gekies.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy