ʼn Plek van skande? (Kruis)

ʼn Plek van skande? (Kruis)

Die vreeslikste manier om destyds dood te gaan, was om gekruisig te word. Net party soorte misdadigers is so tereggestel, soos verraaiers, of staatsvyande.

Die proses was baie wreed Dit was nie om noodwendig die persoon te straf nie, maar om ander af te skrik om nie dieselfde te doen nie. Daarom is daar dikwels ʼn nota aan die kruis vasgesit om te verduidelik waarom die persoon daar hang. Daar kon jy gaan lees wat jy nie moes doen nie. Anders hang jy netnou dalk ook daar. In Jesus se geval het daar gestaan “Koning van die Jode”. Hulle het natuurlik ook die persoon so ver as moontlik probeer verneder en het daarom al sy klere uitgetrek en met hom gespot. Ons weet hoe het hulle met Jesus tekere gegaan.

Kruise kon verskillende vorms aanneem. Dit kon soos ʼn maalteken lyk, soos ʼn T, kon net ʼn regop paal wees of soos die kruis lyk wat ons ken. Die persone is met toue aan die kruis vasgebind of kon met spykers vasgeslaan gewees het. Die mense is dan gewoonlik van uitputting, versmoring of so iets dood. Dit kon tot dae geduur het voordat ʼn persoon uiteindelik dood is.

Jesus is ook gekruisig. Die merkwaardige is egter dat hierdie skandelike gebeure die hoofteken van die Christendom geword het. Ons dra selfs vandag kruisies om ons nekke. Die rede is omdat Jesus juis deur hierdie skande en lyding heen vir ons redding gebring het. Meer nog, Hy is so brutaal dood, maar het nie dood gebly nie. Hy het uit die dood opgestaan. Die kruis word dus vir gelowiges die teken van Jesus se oorwinning oor die sonde en die dood. Dit het ʼn teken van hoop en oorwinning geword in plaas van ʼn skande. Terloops, dit is ook een van die sekerste bewyse dat die Christendom nie ʼn godsdiens is wat sommer deur mense uitgedink is nie. Wie sou, as jy ʼn godsdiens wou begin, die skandelikste ding waaraan jy kon dink as basis vir die nuwe godsdiens gebruik het? Nee, juis omdat die kruisgebeure regtig gebeur het, het die Christene die skandelike gebeure as die kern van hulle godsdiens aanvaar.

Die kruisgebeure het ook die voorbeeld geword vir hoe Christene moes optree. Christus het die hele manier waarop ons mag verstaan op sy kop kom draai. Christelike oorwinning en mag lê in opoffering en nederigheid. Ons moet dus ook bereid wees om vir ander te help al kos dit ons wat en al beteken dit lyding. Christelike mag bestaan in nederigheid en opoffering.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy

 




God se mense en waar hulle bymekaar kom (die Kerk)

God se mense en waar hulle bymekaar kom (die Kerk)

Die woord “kerk” word gebruik vir die mense van God asook vir die geboue waar hulle bymekaar kom.

Die woord gaan terug op ʼn Griekse woord wat “vergadering” of “byeenkoms” beteken. Daar waar mense dus vergader, of dit net twee of drie is, om God te dien, is die kerk. Aanvanklik het Christene sommer in huise bymekaar gekom, maar deur die eeue het die kerke al hoe groter geword. Soos die kerkgeboue groter geword het, het die kerklike strukture ook groter geword. Die “kerk” het ʼn magtige instansie geword, veral in Europa. Deesdae is dit nie meer so in Europa nie. Die kerk groei nou die sterkste in dele soos Suid-Amerika, Afrika en Asië.

Tog is en bly die hart van die kerk mense wat bymekaar kom om God te dien. Hulle organiseer hulleself dikwels op ʼn ordelike manier met leiers soos ouderlinge en diakens. Die kerk as instansie verwag dan ook dat almal wat aan die kerk behoort by die kerk betrokke sal wees. Jongmense moet leer wat God wil hê hulle moet weet, lidmate moet mekaar en ander help en hulle moet sorg dat hulle goeie boodskap by ander uitkom. Die lidmate moet soos ʼn groot familie wees, daarom noem hulle mekaar ook “broers” en “susters”. ʼn Ander naam vir die kerk is die liggaam van Jesus (1 Korintiërs 12). Met ander woorde, daar waar Jesus is, is die kerk ook. Dit beteken dat die kerk die plek in die wêreld is waar Jesus teenwoordig is. Tog is dit ook so dat nie almal wat aan die kerk behoort noodwendig Christene is nie. Daar mag mense daar sit wat nie die Here van die kerk ken nie. Die kerk moet dus gedurig seker maak dat hulle regtig die Here se liggaam op aarde is en bly.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God in ons en ons in Hom (Inwoning van God)

God in ons en ons in Hom (Inwoning van God)

Daar word op plekke in die Bybel gesê dat God in ons is en ons in God (1 Johannes 4:7-21).

Dit beteken nie dat mense gode word of dat God die hemel los en in mense kom bly nie. Nee, die beskrywing wil vertel hoe naby God aan die mens kom en omgekeerd. Dit is dus nie soos een persoon wat in ʼn ander klim nie. Dit is eerder die invloed van God wat die mens so vol maak dat die mens soos God begin liefhê, soos God begin optree, ja, God se boodskap van waarheid versprei deur Jesus te bely. As die mens dus so optree en praat soos God wil hê, sê Johannes, is God in daardie mens en daardie mens in God. Dit is byna soos om te sê: Die pa is in sy kind as die kind soos die pa praat en optree. Dit beteken nie die pa is fisies in die kind nie, maar sy karakter en optrede kan ʼn mens in die kind sien. Die Here wil hê ons moet so naby Hom leef en sy wil moet so deel van ons lewens wees dat sy karakter uitkom in alles wat ons doen.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God is koning en gelowiges is koningskinders (Koninkryk van God)

God is koning en gelowiges is koningskinders (Koninkryk van God)

God was Israel se Koning. Toe kom die ballingskap en die Jode word as slawe Babel toe gevat. Wat het nou van hulle Koning geword? As ʼn volk in ʼn oorlog verloor, beteken dit mos dat hulle koning ook verslaan is. Nie God nie. Voor die volk in ballingskap weggeneem is, het God sy rug op hulle gedraai, want hulle wou nie meer na Hom luister nie. Dit is juis omdat hulle Koning nie meer daar was om hulle te help nie, dat die volk in ballingskap weggevoer is.

Die Koning van Israel is nie intussen dood nie. Hy leef en sal weer sy volk as Koning kom haal. Dit is wat Jesus, die Messias (ʼn Hebreeuse woord), kom doen het. “Messias” beteken God se gesalfde Koning. Jesus se hooftema van sy preke was byvoorbeeld: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (4:17). Dit beteken God as Koning is weer daar by sy mense en Hy sal sy mense van nou af weer regeer.

Die beeld van ʼn koninkryk met ʼn Koning is die belangrikste beeld van die kerk in die eerste drie Evangelies. As Jesus dus wonders doen, wys Hy God, die Koning, se krag is weer aan die werk. Die Koning is weer daar om sy mense terug te verwelkom en te regeer. As Jesus duiwels uitdryf, wys Jesus dat Hy sterker is as die Vors van hierdie wêreld. God sal vir sy mense sorg en hulle moet Hom as Koning dien

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy