God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

Niemand van ons is perfek nie. Ons het almal ons foute en maak God soms maar ongelukkig. Maar die Here ken ons darem ook en weet ons maak foute. Dit is daarom dat Hy ʼn gesondheidsplan vir ons uitgewerk het.

Ons moet weet dat as ons God se kinders is, ons nie ophou om sy kinders te wees as ons foute maak nie. Ons bly sy kinders, al is ons soms maar net sy stout kinders. God wil egter nie hê dat ons stout moet bly nie. Nee, Hy wil hê dat ons verhouding met Hom sterk en mooi moet wees. Daarom vra Hy dat as ons iets verkeerd doen, ons dit nie moet los nie. Dan word dit soos ʼn bakterie wat in ʼn vrug is. As jy dit los maak dit vinnig die hele vrug vrot. Nee, jy moet so gou as moontlik van daai fout voor die Here ontslae kom raak. Jy moet dit met Hom kom uitpraat. Hy wag vir jou om dit te doen. Op die manier kan jy geestelik gesond bly, want as die “sonde bakterieë” nie kans kry om in jou te groei nie, sal jy ook nie geestelik siek word nie. Bely dus ʼn sonde so gou as moontlik. Dit sal jou gesond hou.

 

Maar wat beteken dit om sonde te bely? Dit behels drie dinge (lees ook 1 Johannes 1:8-10):

  • Jy moet erken dat jy ʼn fout gemaak het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek. Jy bely nie maar net so in die algemeen nie. Jy wys die “sonde-bakterie” in jou lewe uit, want dit is spesifiek daarvan dat jy ontslae moet raak. As dit oneerlikheid is, dan wys jy dit uit; as dit humeurigheid is, of skinder, of vloek of wat ook al, jy wys dit uit en erken dat jy daar gefouteer het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek.
  • Die tweede ding is dat jy in jou hart en verstand daarvan ontslae moet raak. Dit is baie keer die moeilikste, want jy moet vir die ding wat jy verkeerd doen totsiens sê, vir altyd. Jy moet vir die Here sê jy wil dit nooit weer doen nie en vir Hom vra om jou daarmee te help. Jy moet dus finaal daarvan afskeid neem.
  • Die derde ding is om net weer vir die Here te sê dat jy Hom en Hom alleen graag wil dien. Jy soek nie iemand anders om te dien nie, nie eers jouself nie. Daarom wil jy aan Hom gehoorsaam wees. Wy jouself so aan die Here toe en vra Hom om elke dag, nee, elke tree saam met jou te wees. En as die sonde jou weer bekruip, hou Jesus se hand styf vas en daai sonde sal nie ʼn kans hê nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Waarom leef ek? (die sin van die lewe)

Waarom leef ek? (die sin van die lewe)

Waarom leef ons? Vir wat? Prediker sê dat al die dinge waarmee ons onsself so besig hou, ja, die soek na eer, geld, plesier en wat nog alles, maar net ʼn gejaag na wind is.

As jy dink jy het dit gevang en jy maak jou hand oop, is daar niks in nie. Die dinge is alles verganklik. Dit hou nie. Jy dink dat as jy hoofseun kan word of miskien baie geld kan hê, gaan jy gelukkig wees, maar dit is ʼn gejaag na wind. As jy die een ding het, wil jy alweer die ander ook hê. Geluk lê nie in aardse dinge nie, want dit is te veranderlik en te verganklik. Boonop is die lewe ook nie regverdig nie. Al is jy die beste Christen, dinge gaan tog maar verkeerd loop. Daar is ʼn tyd vir alles, vir die goeie en die slegte (Prediker 3). Jesus het self nogal oor die sin van die lewe gepraat toe Hy gevra het: wat help dit jou dat jy alles in die lewe bereik, maar as jy in die hemel kom, het jy niks nie? (Matteus 16:24-26).

Jy moet liewer vir jou rykdom bymekaar maak in die hemel by God, want dit is permanent. Dit vergaan nie. Dit is moeilik om jou kop so te verander dat jy soos die Bybel dink. Dit beteken dat dit waaroor almal om jou so mal is, soos geld, modes, “in wees” en so aan, vir jou nie so belangrik moet wees nie, want dit hou nie. Dit is nie permanent nie. Nee, jy moet soos God leer dink. Jy moet die dinge wat vir God belangrik is probeer doen. Om goed te doen vir ander, om ʼn verskil rondom jou te maak deur lief te hê, deur ander te help… moet vir jou belangrik word. Dit is dinge wat nou niks sigbare voordeel vir jou bring nie, maar wat jou bankrekening in die hemel laat oorloop. En daardie bankrekening sal nooit tot niet gaan nie.

Die Bybelse boodskap moedig jou aan om die sin van jou lewe nie in tydelike dinge wat net ʼn rukkie hou, te soek nie. Nee, soek dinge wat regtig iets werd is en vir altyd gaan hou. Die dinge is God se dinge. Soek eers sy Koninkryk; ja, vind Hom eers in jou lewe… dan sal jy uitvind wat jou lewe regtig die moeite werd kan maak.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God kom wys vir ons wie Hy is en wat ons moet glo (Openbaring)

God kom wys vir ons wie Hy is en wat ons moet glo (Openbaring)

Niemand het God nog ooit gesien nie. Die Bybel sê n’ mens sal sowaar dood neerslaan as jy God sommer so sal sien. God is net te groot en heilig.

Nou sê die Bybel dat mense soos Abraham en Moses God wel vlugtig gesien het, Moses net so skuins van agter af. Ten spyte hiervan sê die Bybel niemand het God gesien nie … en dis reg. Niemand het God nog so gesien dat hy of sy God regtig kon leer ken soos Hy is nie. Niemand was nog ooit so naby aan God dat die persoon vir ons kan vertel wat God dink of voel nie.

Nee, so het niemand God nog gesien nie … behalwe Jesus, sy Seun. Hy was by God van die begin af (Johannes 1:18). Hy het God gesien, regtig gesien, soos Hy is. Jesus weet wat God dink, wat Hy van ons wil hê, hoe Hy oor ons voel.

As ons dus wil weet hoe God is, moet ons na Jesus gaan kyk en na Hom gaan luister. Ons kan God nie sommer uitdink of sommer uit ons eie gaan sê hoe Hy is nie. Ons moet by Jesus gaan hoor. Hy sal die gordyn vir ons kan wegtrek en vir ons kan vertel.  Dit noem ons openbaring.

Ons het dus n’ openbaringsgodsdiens. Ons skryf nie voor hoe God is nie, maar gaan eerder luister… by Jesus. En waar hoor ons Jesus praat? In die Bybel natuurlik. Lees daarom jou Bybel. Dan sal jy sommer baie meer van God sien.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons sal uiteindelik voor die Regter van die heelal moet gaan staan (Oordeel)

Ons sal uiteindelik voor die Regter van die heelal moet gaan staan (Oordeel)

As die Here weer gaan kom, gaan daar eers ʼn finale “hofsaak” wees met God as die Regter. By die finale oordeel of hofsaak gaan God as Regter, aandui wie vir ewig by Hom mag wees en wie nie, ja, wie gered is en wie nie (Openbaring 21:11-15; Matteus 25:31-46).

Die mense wat nie aan God behoort nie en wat in hierdie wêreld geleef het asof Hy nie bestaan nie, sal geoordeel word. Dit beteken dat God vir ewig sy rug op hulle sal draai. Hulle sal in hulle eie boosheid vasloop en vergaan. Die mense wat aan God behoort, sal hoor dat hulle vry is om vir ewig saam met God te leef. In die hofsaak het hulle iets wat sterk in hulle guns tel. Hulle het ʼn Advokaat, Jesus, wat namens hulle by die Regter intree (Romeine 8:31-39). As jy Jesus dus ken en vir Hom lief is, sal Hy jou ook nie vergeet by die laaste oordeel nie. Geen Christen hoef dus bang te wees vir die finale oordeel nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy