Ek cope nie meer nie: Hoekom voel ons bang en gestres? – Jan van der Watt

Ons almal sukkel partymaal maar

In die ou lewe kry jy nie altyd wat jy verwag nie. Die lewe bly ’n spel waarin jy nie altyd wen nie. Ons almal land maar partymaal plat op ons rug op die krytvloer en ons almal kry dan die gevoel dat ’n mens nie jou situasie regtig baasraak as jy so op jou rug lê nie. Daardie beklemming dat jy nie cope nie, pak jou dan beet.

Die gevoel van mislukking wat ’n mens soms beetpak, die vrees vir wat gaan gebeur en die onsekerheid oor dinge, is soos kanker wat jou krag stukkie vir stukkie wegvreet. Op ’n punt raak dit te veel en dan is daar moeilikheid. Dan voel dit of alles gelyk op jou afkom. Jy kry die gevoel dat jy nie meer kan nie. Ons almal loop een of ander tyd onder die gevoel deur. Daarom mag ’n mens die gevaar nie onderskat nie.

Dinge is deurmekaar, maar hoekom?

Alles het verander

Die sosioloë sê as 20% van die dinge in ’n samelewing verander, begin daardie samelewing se waardes uitmekaar val. Die onsig­bare bande wat maak dat mense lekker en in vrede in groepe kan saambly, begin verdwyn. Mense raak dan onseker en weet nie meer wat van hulle verwag word nie.

Wat sleg is, is dat daar dan nie meer duidelike, oorkoepe­lende, algemeen aanvaarde waardes is wat mense rigting gee en help om hulle besluite te neem nie. Mense is soos die man wat gevra het dat hy asseblief nie ’n horlosie vir Kersfees moet kry nie, want hy hét een. Met die één is hy ten minste seker hoe laat dit is. Maar as hy nog ’n horlosie gaan kry, gaan hy nooit seker wees nie. Dit gaan hom net deurmekaarkrap. So is ons as mense ook. Ons kan net met sekerheid en oortuiging funk­sioneer as ons seker weet wat van ons verwag word. Ons het reëls en waardes nodig om behoorlik te funksioneer. Neem dié reëls weg of verander hulle te vinnig, dan is daar probleme. Dan begin mense onseker en bang voel: hulle cope natuurlik nie meer so goed nie, want hulle weet nie hoe nie. Die reëls wat vir hulle gesê het hoe, is weg.

Veral in Suid-Afrika het dit die afgelope paar jaar ’n groter­wordende probleem geword. As ’n mens mooi dink, het daar meer as 20% van die dinge in Suid-Afrika verander; dit is nader aan 80%. Dit het ’n geweldige las op ons mense en samelewing geplaas. Ons het gesien hoe vinnig die politiek, ons finansies, ons werksituasie en die geleenthede vir ons kinders verander het. Dinge het inderdaad so vinnig verander dat ons nie mooi kon byhou nie. Dikwels het ons nie genoeg tyd om regtig nuwe waardes in die plek te sit van dit wat weggeval het nie. ’n Mens kry die gevoel die wêreld hardloop onder jou uit. Jy weet nie meer wat om van ander te verwag of wat hulle van jou verwag nie. En dit is ’n ideale teelaarde vir die opbou van die gevoel dat jy nie cope nie. Mense weet nie meer hoe nie, en dan sê hulle net: “Ek gee nie meer om nie. Ek het probeer aanpas, maar elke keer nes ek dink ek het aangepas, is alles al weer anders. Nou is ek klaar probeer; alles en almal kan gaan vlieg.” Dan begin elkeen doen en dink wat hy wil en mense gee nie meer regtig vir mekaar om nie. Byvoorbeeld, in die ou dae was dit belangrik vir ’n firma om trots te wees op hulle naam en werk. Hulle sou jare aan ’n goeie naam werk, want dit was belangrik. Vandag kry ’n mens te dikwels net die teenoorgestelde. As die mense jou geld in hulle sak het, gee hulle nie meer om nie, of hulle nou goed gewerk het of sleg. Daardie ou waardes van werkstrots en integriteit is weg.

Daar is nog ander voorbeelde. Dink maar aan Sondae. In die ou dae het almal geweet wat gebeur op Sondae. Deesdae is niemand meer seker wat is reg of verkeerd nie. Eers is ’n mens uit die kerk geskors omdat jy gedans het; nou kan jy die dansvloer aan die brand skoffel sonder dat die leraar ’n oog knip. In die ou dae het mense gedink dat apartheid Bybels is; deesdae blyk die teenoorgestelde waar te wees. Wat moet ’n mens dan glo? G’n wonder mense begin onseker voel nie.

Ek word stuurman van my eie skip

Al die onsekerhede en veranderings maak jou natuurlik al meer verantwoordelik om self jou eie lewe te “skep”: jy moet leer om self te cope en moet self besluit wat vir jou belangrik is en wat nie. Jy moet nou self sê wat jy glo en wat jy wil doen om so self betekenis aan jou lewe te gee. En as ’n mens jou varkies nie hier bymekaar hou nie, loop dinge verkeerd. So word ’n mens in ’n sekere sin die skepper van jou eie lewe en geluk. Dit gaan nie meer oor wat ander mense wil hê jy moet doen nie, maar om wat jý glo jy moet doen.

Dit is juis hier waar ons vrese en onsekerhede ons kan baasraak. Ons kan angstig raak omdat ons voel ons het nie meer behoorlike beheer oor ons kinders, ons huwelik, ons finansies, ons werk en so aan nie. Die gevoel van konstantheid en stabiliteit is net nie meer daar nie. Die gevolg is dat ons oneffektief en hulpeloos begin voel – nie dat ons dit noodwendig is nie, maar ons begin so voel. Emosies begin in ons lewe oor­loop en ons baklei of huil of voel baie vinniger depressief as vroeër. Dit kan maak dat jy vergeet om regtig met genot te leef omdat die vrese en angs se donker skadu oor jou val en so jou lewe vir jouself donker laat lyk.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Groot Doop – Francois Malan

‘n Leser vra:

My verloofde is groot gedoop, ek as baba in n NGK. Mag ons in n NGK trou?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Julle mag in die NG Kerk trou. Die huwelik is, wat die staat betref  ’n wettige kontrak tussen twee mense, en die predikante van die NG kerk word deur die regering aangestel om huwelike wettig te bevestig. Die kerk het ook sy eie formulier vir die huwelik wat by so ’n geleentheid ook aan die paartjie voorgehou word, wat die Bybelse deel van die huwelik verduidelik, want die kerk beskou die huwelik as ’n verbintenis deur die Here van die man en die vrou.

Genesis 1:27 sê reeds by die Skepping: God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Jesus het Genesis 1:27 en Genesis 2:24 aangehaal in Mattheus 19:4-6 en gesê: Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af ‘man en vrou gemaak het nie? Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een vlees wees’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom sê Jesus: wat God saamgevoeg het, moet ’n mens nie skei nie.

In 1 Korinthiërs 7 antwoord Paulus die gemeente se vrae oor die huwelik. Gaan lees 7:1-8 oor die eenheid tussen man en vrou in die huwelik.

In Efesiërs 5:21-33 bespreek Paulus die huwelik as ’n verhouding waarin man en vrou aan mekaar onderdanig moet wees uit ontsag vir Christus. 

Die doop is die Here se teken en seël wat bevestig dat jy aan Hom behoort.

Groot mense wat tot bekering kom word gedoop omdat hulle in die Here Jesus glo as die Seun van God wat vir hulle sondes gesterf het en van hulle kinders van God maak wie se sondes vergewe is en wie se verhouding met God reggemaak is deur Jesus se sterwe aan die kruis.

Vir babas van gelowige ouers is die doop dieselfde teken en seël van God, op grond van God se verbond met die gelowiges dat Hy hulle God sal wees en ook die God van hulle nageslag. Vir Abraham het die Here gesê sy kinders en hulle nageslag moet hulle seuntjies op die agste dag besny as die teken dat hulle aan die Here behoort (Genesis 17:7-13). Jesus het die genadeverbond van God gemaak met almal wat in Hom glo en hulle kinders. Daarvan is die doop van seuns en dogters die uiterlike teken en seël dat die Here ons aangeneem het as sy kinders en dat ons moet lewe volgens sy woord. Jesus het gesê: ‘..moet die kinders nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle (Matt 19:14; Markus 10:13-16; Lukas 18:15-17). Met die uitstorting van die Heilige Gees het Petrus gesê: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, almal wat die Here God na Hom toe roep (Handelinge 2:38-40).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Ek cope nie meer nie – Jan van der Watt

Ons gaan ‘n hele reeks artikels oor hierdie boek publiseer van Prof Jan.

Hierdie is die Inleiding.

Die een ou het eenmaal vir ’n ander een gevra: “Wat doen jy vir ’n lewe? Jy lewe tog, nie waar nie?”

Voel jy ook partymaal so oor die ou lewe? Jy is nou een-maal hier en om “hier” te wees is nie altyd so maklik nie. Die lewe druk en skaaf en soms voel dit vir jou of jy tussen die meule van die lewe fyngedruk gaan word. Boonop is die lewe nog onregverdig ook. Jy probeer, spook, beplan, werk, maar die dinge wil maar net nie loop soos jy beplan nie. Die lewe voel vir jou soos ’n stort: een verkeerde draai en jy is in die warm water. En dan wonder jy of jy regtig nog kans sien om te lewe, want partymaal voel dit soos een lang oorlewingstryd. Soms gaan dit beter, maar die “beter” duur nie lank genoeg nie. Net as jy dink jy het jou kop mooi opgelig, sloeg jy weer in die stof; jy cope net nie meer so lekker nie.

Maar die lewe is eintlik baie lekker. As jy kan, moet jy dit nie mis nie. Die lewe is amper soos ’n sprokie van die held wat met ’n draak moet veg. Daar kom verskriklike oomblikke wanneer dit lyk of die draak die held gaan opvreet, maar as die held die regte dinge doen, het die draak nie regtig ’n kans nie. Op die ou einde weet ons die held gaan wen. Daardie held in die avontuur van jou lewe is jyself. Jy kan wen en die lewe kan vir jou ’n avontuur wees soos vir die held in die sprokie. Glo dit maar!

Jy moet net een ding onthou: jyself skryf daardie sprokie van jou lewe. Jy is die een wat die besluite neem oor wat in jou lewe gaan gebeur. In dié boek wil ek gesels oor een van die grootste drake wat jy gaan teëkom. Ons almal loop maar in die draak vas en hy kan die lewe vir ons moeilik maak. Maar as ons ons wapens reg kies en nie sit en wag dat die draak ons opvreet terwyl ons onsself sit en jammer kry nie, sal ons wen. Die draak het egter nie net een naam nie, want hy het baie koppe. Met die volgende paar voorbeelde gaan ons probeer beskryf wat die draak aan jou kan doen.

Sarie is ’n goeie ma en die mense by die werk sê sy doen goed. Tog skrik sy in die nag wakker met ’n beklemming om haar hart. Sê nou net iets gebeur met klein Sarie terwyl sy by die werk is? Wat nou as mnr. Potgieter (haar baas) nie hou van wat sy doen nie? Wat as … ? en dan lê sy die hele nag wakker en bekommer haar oor een ding na die ander.

Kobus was nie altyd so nie, maar deesdae is hy sommer befoeterd as mense kom kuier. Eintlik is dit nog erger. As hy by die winkel instap en mense sien wat hy ken, dan loop hy sommer langs die ander gangetjie op. Hy gesels ook nie meer so lekker soos altyd nie. By die werk is sy konsentrasie net so kort soos sy humeur. Dit is of iets hom gedurig jaag. Dit is regtig nie die ou Kobus wat mens ken nie.

Anita is weer ’n regte werkesel, maar dit lyk of sy by die klagtekantoor van die lewe kamp opgeslaan het. As sy uit die menslike ras kon bedank, sou sy dit gedoen het; so klink dit as jy na haar geklaery luister. Sy kla egter dat sy net nie weet waar om die bedanking in te dien nie. Sy kla oor alles en niks is goed nie. Haar arme familie moet bontstaan, want Anita is nie sommer met enigiets tevrede nie.

Arme Piet is weer die teenoorgestelde: hy sê gedurig vir almal dat hy niks regkry nie. Hy het ’n regte “arme-ek-kry-my-jammer”-houding. Die lewe behandel hom stief, sal hy dadelik vir jou vertel. Hy kry niks reg nie en wil nie eers probeer nie. “Ag, dit help nie; ek kan nie,” is sy slagspreuk.

Al die mense veg met dieselfde draak: hulle cope nie regtig nie. Die lewe is vir hulle nie so lekker nie. Hulle voel nie hulle haal uit die lewe uit wat hulle moet nie. En dit laat hulle sleg voel. Om die waarheid te sê, dit maak hulle bang en laat hulle stres. Daarom praat die dokters dikwels van hierdie verskynsel as angs.2 Dit is soos om op ’n donker pad met jou kar te gaan staan en nie te weet wat om te doen nie. Jou broek begin bewe, jou hande begin sweet, jou hart begin vinniger klop. Dit voel vir jou of ’n groot, donker hand jou vasdruk … jy’s bang, vrekbang. En dit gebeur nie net op ’n donker pad met jou nie. Dit gebeur ook met jou in die lewe. Jou huwelik, jou werk, jou vriende, jyself of die lewe in die algemeen kan soos daardie donker hand wees wat jou vasdruk. Jy voel jy is nie meer in beheer nie en dan word jy bang. Dinge is besig om stadig maar seker uit jou hande uit te glip.

Maar daar is maniere om weer ’n greep op die lewe te kry; om weer beheer oor te neem oor jou lewe of dele van jou lewe wat besig is om vir jou weg te hardloop. Hierdie boek wil jou daarmee help met so ’n bietjie advies. Nou is advies nie soos geld nie. Advies deel baie mense vrylik uit, maar min mense vat dit. Ons gaan ook advies vrylik gee, maar tog hoop dat dit vir jou soveel sin sal maak dat jy dit sal vat.

Ons gaan nie vir jou maklike antwoorde of kitsoplossings probeer gee nie. Ons gaan in hierdie boek vir jou vertel wat daar met jou liggaam gebeur as die ou draak jou aanval en hoe jy die draak moet regsien. Ons gaan op ’n sielkundige en gods-dienstige manier vir jou probeer lei in die geveg. Dit help nie om net met een wapen te probeer veg as die Here eintlik vir jou baie wapens gegee het nie. Maar ’n mens moet ook weet hoe jou wapens werk en waarom dit so werk. Daarom gaan ons probeer om vir jou te verduidelik wáárom sekere dinge met jou gebeur, maar ons gaan net so hard probeer om vir jou te verduidelik wáárom die raad wat ons vir jou gaan gee, behoort te werk.

Kom ons gaan soek die draak van stres en die gevoel dat jy nie cope nie, en sien hom reg.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

1 Omdat die Engelse woord “cope” – algemeen in die volksmond vir “ek kan nie meer die mas opkom nie” – nie ’n geskikte Afrikaanse vertaal- ekwivalent het nie, en omdat dit in hierdie manuskrip die kern van die bespreking vorm, word dit sonder aanhalingstekens en niekursief in die teks geïntegreer.

2 As in die eerste 5 hoofstukke van angs gepraat word, verwys ons nie na die mediese verskynsel soos beskryf word in hoofstuk 6 nie, behalwe waar anders aangedui. Angs in hierdie hoofstukke verwys na ‘n intense stres wat vir ‘n mens onhanteerbaar begin word, en jy “toegedruk” voel. Stres verwys na die gewone spanning en druk waaronder ‘n mens leef.

 




SONDAGSPORT – Jan van der Watt

Johan vra:

Is deelname verkeerd. Deur daarna op tv te kyk is dit so goed as deelname. As jy die oggend of aanddiens bywoon en tussenin aan sport deelneem op n eerder by uitsondering as n reel basis?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Nie alle kerke sien deelname aan Sondagsport op dieselfde manier nie. Kerke wat meer protestants is, is geneig om Sondagsport sterker te veroordeel as wat die Rooms-Katolieke doen. Vir Christene gaan dit meer oor die Sondag as die sabbat (wat vir die Jode op Saterdag val). Vir baie Christene het die Sondag egter soos die sabbat vir die Jode geword (die vierde gebod) waarop mens dus nie mag werk nie, maar moes rus. (Hoe die verskuiwing plaasgevind het en of Christene spesifiek die sabbat moet hou, gaan nie hier bespreek word nie).

Die hou van die sabbat as rusdag was vir die Jode in die tyd van Jesus baie belangrik omdat dit een van die basiese maniere was waarop jy Jode van nie-Jode kon onderskei. Dit was vir hulle ’n identiteitmerker wat gesê het: ons is Jode en is gehoorsaam aan die gebooie. As jy dus iemand gesien het wat nie die sabbat hou nie, is hy of sy nie as ’n goeie wetgehoorsame Jood gesien nie. Wat jy mag doen of nie doen op ’n sabbat nie was met baie reëls gerugleer en die basiese vereiste was dat jy nie op die dag mag werk nie, wat beteken het dat jy niks moes doen wat iets skep of verander nie. Dit was dus ’n baie wettiese benadering.

In die Evangelies lyk dit of Jesus nie heeltemal met die wettiese benadering saamgestem het nie. Hy het sy dissipels toegelaat om are uit te vryf (Mark 2:23-28 – met ander woorde die koring korrels uit die koringaar te vryf sodat hulle brood kon bak). Dit was werk, en nogtans het Jesus dit toegelaat. Net so maak Jesus ’n hele paar mense op die sabbat gesond wat die Jode baie kwaad gemaak het (vgl. bv. Joh 5:7-13, 18; 9:14, 24).

Wat was die rede? Jesus gebruik in Mark 2:23-28 die voorbeeld van koning Dawid wat honger was en toe van die wette gebreek het omdat die lewe belangriker as die wet was. Dit is wat dit beteken as Jesus sê dat die sabbat vir die mens gemaak is en nie die mens vir die sabbat nie. Die reëls is nie belangriker as die nood en behoeftes van mense nie. Daarom is Jesus is die Here van die sabbat – Hy is balengriker as die sabbat, soos ’n heer belangriker is as die onderdaan. Mens moet dus die wil van die Jesus doen, wat na die wêreld gekom het om lewe in oorvloed te bring. Dit is presies wat in Matteus staan as hy oor die uitvryf van die are op die sabbat skryf (Matt 12:1-8). Hy sit ’n ekstra rede by – God soek nie offerhandes (dit is wat die wet vereis) nie, maar barmhartigheid (12:7). Die Griekse woord vir barmhartigheid verwys na empatie en meegevoel (die resultate van liefde) wat gemik is om iets goeds met die ander persoon te laat gebeur – met ander woorde, om goed en gaaf te wees teenoor iemand wat dit nodig het.  

Wat Jesus dus hier doen is om die identiteitsmerker van die kind van God te verander van die wettiese hou van die sabbat na die navolging van die Heer vaan daardie sabbat wat liefde, goedheid en meegevoel het met mense. Om te doen wat Jesus gedoen het, om Hom te volg is nou die manier waarop God se kinders in die wêreld uitgeken word (Joh 13:34-35). En Jesus het mense op die sabbat gesonde gemaak, met ander woorde, Jesus het vir die LEWE gekies eerder as vir die wet van die sabbat wat jou verhoed om die keuse te maak.

Gelowiges wat dus meer die wettiese deel beklemtoon sal klem daarop lê dat mens soos die Jode niks regtig op ’n sabbat mag doen nie, dus dat mens moet rus. Dit beteken dat mens kerk toe moet gaan en weinig anders mag doen. Gelowiges wat egter meer klem lê op Jesus se voorbeeld om lewe te skep op die sabbat sal vryer daarmee omgaan en meer klem op die lewe en die positiewe omgang met ander lê. ’n Groot deel van die Christendom het dus geen probleem met sport of die sabbat (of Sondag) nie, juis omdat dit positiewe lewe beteken. Jesus het gewys dat ‘rus’ nie vir hom stilsit beteken het nie, maar dat Hy bereid was om mense te help en geleenthede vir lewe vir ander te skep, veral as hulle in nood is.

Skrywer: Prof Jan van der Watt