Verskil met Regering – Jan van der Watt

Leser vra

Ons weet dat die regering ook deur God daargestel word – wat moet ons maak as ons nie met sekere aspekte van die regering se beleid saamstem nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is baie gegewens op Bybelkennis.co.za oor die rol van die staat in die lig van die Bybel. Die gegewens hoef nie alles herhaal te word nie. Die vraag is egter of alles wat ‘n regering doen eenvoudig aanvaar moet word.

Die antwoord is: dit hang af. In die Bybelse tyd was daar verskillende vorme van regering. Die Romeine het ‘n keiserlike stelsel gehad of ten minste ‘n senaat wat regeer het. Dit was in baie opsigte autokraties – as jy nie wou luister nie, moes jy voel of boet… met jou lewe. In stede wat onder meer Griekse invloed was, het die volk ook medeseggenskap gehad, as gevolg van hulle meer demokratiese tradisie. Die leier kon beslis, maar ons lees baie in die Bybel dat mense in die teaters of op die markplein saamgekom het en hulle wil baie duidelik gemaak het. Daar was dus ‘inspraak’ in die regering.

Die Bybel verwag nêrens dat gelowiges wapens teen hul eie regering moet opneem nie. Die pad wat die Bybel kies is die van vrede en vermyding van geweld. (Dit is nie altyd deur kerke gerespekteer nie en daar is deur die loop van die eeue baie voorbeelde van die kerk wat wapens opgeneem het. Of dit reg was is ‘n ander tema. Die Bybel sien dit nie as ‘n uitweg nie – selfs in Openbaring 13, waar die Romeinse staat as ‘n vreeslike dier voorgestel word wat die gelowiges doodmaak, word die gelowiges nie aangemoedig om wapens op te neem nie. Straf moet aan God oorgelaat word.

Maar wat moet die kerk dan doen. Wel, die Nuwe Testament sê gelowiges veg met die swaard van die Woord, met die getuienis vir die waarheid waarvoor hulle staan. Gelowiges hoef en moet dus nie stilbly oor die verkeerde nie, maar met die waardigheid wat by ‘n gelowige pas voortdurend vir die waarheid getuig.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Aftrede – Francois Malan

Dalene vra:

Watter Bybelse riglyne kan gebruik word in die voorbereiding van huwelikspare op ‘n hoopvolle aftrede?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesaja 46:3 sê die HERE: ‘Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die HERE, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en red.’

In Psalm 31 sê Dawid: Ek vertrou net op U, HERE! Ek sê: ‘U is my God, my tye is in U hand.’

In Psalm 32:7-8,10 sê Dawid: U bied vir my beskerming; U vrywaar my van nood; met jubelkrete van bevryding omring U my. Ek wil jou insig gee, ek wil jou die die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog oor jou hou.…wie op die HERE vertrou – troue liefde omring hulle.

In Ps 139: 2-6 sê Dawid: U ken my sit en my opstaan; van ver af verstaan U wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. Ja, daar is nog nie eers ’n woord op my tong nie, of U HERE, ken dit volledig. Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is ’n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie.

Toe Jesus gekom het, het Hy ons nog nader getrek. In Johannes 14:15-17 belowe Hy dat sy Vader die Heilige Gees sal stuur om in ons te kom woon as ons Hom liefhet en sy opdragte gehoorsaam. En 14:23 ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’

Daarby is die ewige lewe die uitsig van die huwelikspaar wat in Jesus glo. Jesus sê in Johannes 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’

Dit is belangrik om vooraf te besluit waarmee hulle hulleself gaan besig hou. As hulle in ’n nuwe omgewing intrek is dit belangrik om die nuwe bure en gemeenskap te leer ken en na ander uit te reik. Die kerklike gemeente is gewoonlik die beste plek om te begin. Maar ’n eie taak vir elkeen is nodig. God is ’n God wat werk en as beeldraers van God moet ons ook werk (vgl. Jesus se woord in Johannes 5:17 ‘My Vader is tot nou toe steeds aan die werk, en Ek is ook aan die werk.’) Aftrede beteken nie ophou werk nie, maar verandering van werk en werkstye wat makliker werk en werkstye beteken, met meer tyd vir ontspanning en reise., kuiers, ens.

Ons moet steeds vir die Here beskikbaar wees om deur ons ander mense te help en te bedien. In Mattheus  25:35-40 sê Jesus dat Hy by die oordeelsdag vir sy kinders sal sê: ‘Kom julle geseëndes van my Vader en beërf die koninkryk, want Ek was honger en julle het My te ete gegee; Ek was ’n vreemdeling en julle het My as ’n gas verwelkom; Ek was nakend en julle het My geklee; Ek was siek en julle het my versorg; Ek was in die tronk en julle het My besoek.’  En as hulle hulle verwonder oor wanneer hulle dit gedoen het, sal Hy sê: ‘Wat julle ook al aan een van hierdie geringste van my broers gedoen het, het julle aan My gedoen.’ So moet ons leer om Jesus in ons medemens en sy of haar  behoeftes raak te sien. Die HERE se oordeel word nie gevel oor hoeveel keer ons in die kerk was nie. Maar dat ons die Here se opdragte wat ons in die Bybel en in die kerk kry, gaan uitvoer.  

Skrywer:  Prof Francois Malan




Selfmoord – Francois Malan

Johan vra:

Kan n persoon wat selfmoord pleeg in die hemel kom?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die vraag is of die persoon glo in die Here Jesus as die Seun van God wat uit liefde vir hom vir sy sonde aan die kruis gesterf het. Of het hy nog nooit in Jesus geglo en hom aan Jesus verbind nie? Jesus is die weg na die Vader in die hemel. Niemand kom na die Vader behalwe deur Jesus nie (Johannes 14:6).

Oor die redes wat ’n persoon tot selfmoord lei, sal God self oordeel.

Enige moord, ook selfmoord, is nie die wil van God vir die mens wat Hy geskape het om vir Hom te lewe nie. Die wet van die Here is duidelik daaroor, bv. in die tien gebooie in Eksodus 20:13 ‘Jy mag nie moord pleeg nie;’ soos ook in Deuteronomium 5:17.

Die mens is nie die eienaar van sy lewe wat hy van God ontvang het nie, maar die rentmeester van die lewe wat God aan hom toevertrou het en waaroor die mens aan God moet rekenskap gee. Die lewe behoort nie aan ons om God se gawe van die lewe aan elkeen van ons, self te beëindig nie. God bepaal die getal van die mens se jare (Job 14:5). Selfmoord staan teenoor liefde wat ons vir God behoort te hê, om ons lewe aan Hom te wy om sy beeld en sy verteenwoordiger in die wêreld te wees (Genesis 1:27; 9:6). Met Jesus se koms na die wêreld het God ons bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê (Rom 8:29). Daarom het Jesus aan die mense wat in Hom glo, die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:12). Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God (Romeine 8:14)

Die mens se verantwoordelikheid voor God vir sy eie lewe kan negatief beïnvloed word deur byvoorbeeld ernstige sielkundige versteurings, depressie, angs, vrees vir moeilikhede, lyding, marteling. Dié dinge kan die selfmoordenaar se verantwoordelikheidsin vir sy lewe teenoor God versteur. Daaroor sal God self oordeel.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Verskillende kerke – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek wil hoor of daar dalk ‘n kort saaklike studieresultaat is oor die magdom verskillende kerke in ons land.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

As dit net gaan oor kort saaklike inligting behoort die volgende webblaaie waardevolle inligting te verskaf oor die verskillende kerke in Suid-Afrika:

Afrikaans: https://af.wikipedia.org/wiki/Kerke_in_Suid-Afrika

Engels: https://en.wikipedia.org/wiki/Category:Christian_denominations_in_South_Africa

By bogenoemde twee webblaaie kan mens net verder klik op elke kerk om nog meer inligting te bekom.

Die volgende webblad gee ook inligting oor die verskillende godsdienste in Suid-Afrika — getalle, persentasies, ens:

https://en.wikipedia.org/wiki/Religion_in_South_Africa

Dan het prof Johan van der Merwe op ons webblad, http://www.bybelkennis.co.za, ’n artikel oor die ooreenkomste en verskille tussen die NG Kerk, Geref Kerk, Ned Hervormde Kerk en Afrikaanse Protestantse Kerk. Titel van die artikel: “Die verskillende Afrikaanse Kerke”.

Prof Adrio König het op dieselfde webblad ’n stuk oor die charismatiese kerke in Suid-Afrikas: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-pinksterkerkecharismatiese-kerke/

Daar is op die Bybelkennis-webblad ook artikels oor ander kerke, soos die Rooms-Katolieke Kerk, die Ou Apostel-Kerk, ensovoorts. Tik net die woord “kerke” by die soekfunksie in, en volg dan die bladsye.

Ek vertrou bostaande inligting sal help.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl