Die vissermanne se sabat – Francois Malan

Anton vra:

Kan U my a s b help met die volgende :

Hoe het visser manne die sabat dag geheilig aangesien hulle – ( Petrus ) in die aand vis gevang het, en siende dat die sabat dag die vrydag aand 6 uur begin het en die Saterdag 6uur die aand ge eindig het .

Beteken dit dat Petrus die donderdag aand sou vis vang en die vrydag deur die verloop van die dag slaap.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Joodse Sabbat strek van Vrydagaand met sononder tot Saterdagaand met sononder. Gedurende dié tyd mag nie met jou daaglikse werk voortgegaan word nie. Petrus-hulle kon dus Vrydag visvang tot voor sononder en weer van Saterdagaand met sononder voortgaan met visvang. Gewoonlik was die nag die beste tyd vir visvang, maar ander het van vroegoggend begin visvang (vgl. bv. Lukas 5:2,5; Joh 21:3; Markus 1:19 vir deurnag visvang; vir bedags vgl. Markus 1:16; Matteus 4:18).

Die vis wat Donderdagnag of Vrydag deur die oggend gevang is kon Vrydag deur die dag verkoop word. Die vis wat Saterdagnag gevang is kon Sondag verkoop word. Vrydagnag was daar nie vis gevang nie, en Saterdag is nie vis verkoop nie.

Vissers het soggens hulle vis verkoop wat die nag of vroeg oggend gevang is en het daarna gaan slaap.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Profetiese of geestelike drome – Hermie van Zyl

Jaqueline vra:

Ek het ’n vraag: Kry ons as mense profetiese of geestelike drome? Ek het drome wat my baie pla, dis van die min kere dat ek die drome in detail onthou. Ek skryf altyd my drome neer wanneer dit kom by dié tipe drome. Ander, “gewone” drome pla my nie. So, is dié “spesiale” tipe drome geestelik of is ek maar net oorsensitief of mal?

Laat ek ’n voorbeeld gee. Ek het al gedroom dat ek my in ’n plek bevind waar daar net afgebrande geboue en rook is. Dit lyk soos die oordeelsdag. ’n Man in die droom met ’n kopdoek aan, soos in die tyd van die Israeliete, vat my na ’n tafel waar hy met my praat, maar ek kan nie onthou waaroor ons gepraat het nie. Alhoewel, hy het iets genoem van “die boek van die lewe”.

Nog ’n voorbeeld. Ek droom ek klim op ’n wolk wat my opvat na ’n plek waar daar net vrugte en groente is, geen diere of vleis nie. Ek het gepraat met ’n groot man in ’n wit kleed, maar kan nie onthou wat nie. Al wat hy gesê het, is: “Praat met my.” Ek het met hom gepraat, hy het geluister en my weer terug gestuur. Na baie maande klim ek weer op ’n wolk wat my na dieselfde plek toe vat, maar die keer was daar niks. Ek het die droom al drie keer gekry.

Ander kere het ek gedroom ek word aangeval. Dan het ek die Ons Vader-gebed as my wapen gebruik wat die Satan se aanvalle afgeweer het.

Nog ’n droom is waar ek my bevind op ’n plek wat ek vermoed die doderyk is. In die droom vat my ma my soontoe. Sy is oorlede in Feb 2019. Sy het my gevra hoe dit met ons gaan. Ek het haar vertel wat tans gebeur met my sussies-hulle, ensovoorts. Maar soos wat ek met my ma praat, het sy weggeraak en alles het begin donker word, soos ligte wat afgaan. Ek hardloop toe, en daar is ’n swart man wat sweef en my ’n donker gang wys om uit te kom. Maar ek het gesê, nee, en gehardloop vir ’n wit deur, daardeur gegaan en wakker geskrik.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Met profetiese of geestelike drome bedoel die vraagsteller waarskynlik of die soort drome wat sy beskryf het, besondere geestelike betekenis of boodskap vir haar lewe het. Die onuitgesproke gedagte by haar mag selfs wees: Praat God nie dalk met my persoonlik op hierdie manier nie? En indien wel, hoe moet ek hierdie drome dan interpreteer?

Oor hoe ons drome in die algemeen – en veral hierdie besondere soort drome – teologies moet beoordeel, is daar al redelik uitvoerig op die webblad Bybelkennis.co.za geskryf. In hierdie artikels sal ons vraagsteller beslis antwoorde op haar vrae kry. Ek verwys haar dus na die volgende artikels op ons webblad:

  • “Drome”, geskryf deur ondergetekende (Hermie van Zyl)
  • “Visioene en drome … praat God so?”
  • “Die Groot Geloofswoordeboek: Drome”, geskryf deur prof Adrio König.

Sleutel net die betrokke artikel se titel in die soekfasiliteit-blokke in, en kry dan die artikel op die webblad.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Wedergeboorte – Jan van der Watt

Trudi vra:

Is dit nodig om wedergebore te word?

Jy hoef nie (noodwendig) wedergebore te wees nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die woord wedergeboorte het sy oorsprong in Joh 3:3 (5) waar Jesus met Nikodemus oor redding praat. Daar word twee woorde langs mekaar in die Grieks gebruik, naamlik gennaô (om gebore te word) en anôthen (kan twee betekenisse hê, nl. ‘weer’ of ‘van bo’ = van God af). Dit kan dus met weer-gebore of met van bo (=van God) gebore vertaal word.

Soek ons deur die Nuwe Testament kom ons agter dat dit eintlik net Johannes is (in sy evangelie en briewe) wat sê dat mens ‘gebore’ (weer of van bo) moet word. 1 Petrus noem dit ook twee maal in sy eerste brief (1:3, 23) en Paulus net in Titus 3:5 (’n moeilike verwysing om te verstaan).

Waarom is dit net eintlik Johannes wat van geboorte praat (en nie die ander Nuwe-Testamentiese skrywers nie? As daar in die Nuwe Testament oor redding gepraat word, word dit feitlik altyd met beelde (metafore) beskryf, omdat dit so wonderlike gebeurtenis tussen God en mens is. Paulus is lief om beelde uit die alledaagse sosiale lewe te neem, soos om vrygekoop te word (soos ’n ‘slaaf’ van sy meester (die sonde), of om met God versoen te word, wat beteken dat Iemand (Jesus) namens die mens onderhandel om die vrede met God te herstel, of regverdigmaking, met ander woorde dat ’n mens regverdig verklaar word, soos iemand in die hof. Matteus of Markus hou daarvan om te praat van navolging, die kruis soos Jesus dra en hom volg, ens.

Toe Johannes aan sy gemeente moes verduidelik hoe redding werk, het hy (en Petrus) die beeld van ’n familie gekies – God is ons vader en ons is Sy kinders. Hy sorg vir ons (hff. 4 en 6) hy beskerm ons soos ’n goeie vader (Joh 10:28-30), deur die Heilige Gees leer Hy ons, ens. Hy gebruik dus al die dinge wat in ’n gewone familie gebeur en pas dit geestelik op ons as gelowiges toe, om so uit te druk dat as ons aan ons redding dink, ons dit wat geestelik met ons gebeur in terme van die aardse bekende kan verstaan, naamlik ’n familie. Nou hoe het ons in ons aardse families ingekom? Ons is gebore. Net so moet gelowiges (van bo, of weer) gebore word om in die geestelike familie van God te kom. Dit is dus duidelik dat Johannes ’n sekere beeld (die familie) verkies om redding te beskryf, terwyl Paulus liewer hofbeelde (regverdiging) of slawe-beelde (loskoping) gebruik.

Die beelde staan nie teenoor mekaar nie, maar vul mekaar aan. Dit is almal maniere om die wonder van ons redding te beskryf. Paulus sou sê: Julle met regverdig word, of losgekoop word, terwyl Johannes sou sê: julle moet wedergebore word.

Uit die verduideliking is dit dus duidelik dat ‘wedergeboorte’ nie die enigste term is wat in die Nuwe Testament gebruik word om redding te beskryf nie. Dit is ’n belangrike manier om redding te beskryf, want dit herinner ons aan die feit dat ons kinders van ’n wonderlike Vader is. Ons moet egter nie maak of dit die enigste manier is om van redding te praat nie – ons mag nie van Paulus, of Markus en die ander vergeet wat ook op hulle besondere maniere van die redding praat nie. Om ‘n Christen te wees moet jy noodwendig gered wees, en in die Nuwe Testament is daar baie wonderlike maniere om daaroor te praat. 

Wat die artikel oor die split van die NGK betref, dink ek moet ons vir die brief dankie se, maar se dat ons fokus op Bybelse temas en nie kerkpolitiek nie. Daar is egter heelwat artikels in die databank van Bybelkennis wat mens kan help om ‘n verantwoordelike standpunt hieroor in te neem, wat ons is van oortuiging dat die Bybel die vaste fondament van die Kerk van Jesus Christus is. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

 




ASASEL – Hermie van Zyl

JOHAN VRA:

In Levitikus 16 word geskryf dat Aäron oor twee bokke moet loot, een vir die Here en een vir Asasel. Wie is Asasel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Levitikus 16 handel oor die inrigting van die jaarlikse Groot Versoendag (Hebreeus: jom kippur). Die agtergrond hiervan is die reëling van die liturgie in die tabernakel, die sentrale (en vervoerbare) heiligdom van die Israeliete gedurende hulle woestyntog van Egipte na Palestina. Tot vandag toe word die dag gevier deur die Jode. Levitikus 16 speel ook ’n belangrike rol in die Hebreërboek in die Nuwe Testament. Daar pas die skrywer die gebeure rondom die offerkultus toe op die eenmalige en beter offer wat Jesus Christus deur sy kruisdood vir ons sonde gebring het.

Die inrigting van die versoendag hou kortliks in dat die hoëpriester ’n jong bul vir sy eie sondes en dié van al die priesters moet offer (v6, 11), en twee bokke vir die sondes van die volk. Wat die twee bokke betref, is een gemerk “vir die Here” en die ander “vir Asasel” (v 8). Eersgenoemde word geslag en die bloed word in die tabernakel gebruik om versoening te doen vir die volk se sondes (v9, 15). Die een “vir Asasel” word egter die woestyn ingejaag nadat die volk se sondes op hom oorgedra is. Dié bok is veronderstel om letterlik en figuurlik die sondes van die volk weg te dra die woestyn in (v10, 20-22).

Die vraag is nou, wie is Asasel? Geleerdes is nie baie seker oor die betekenis van die naam nie, maar stel drie moontlikhede voor:

Eerstens, dit kan “sondebok” beteken, aangesien die sonde van die volk op hom oorgedra word en hy hulle sonde dan letterlik wegdra die woestyn in, om nooit weer gesien te word nie. Dit is dan simbolies daarvan dat God die sonde van die volk ver weg van hulle verwyder, ’n gedagte wat ook in Psalm 103:12 uitgedruk word (God verwyder ons oortredinge van ons so ver soos die ooste van die weste af is).

Tweedens, dit kan verwys na die plek waarheen die bok gestuur is, iets soos “die afgrond”.

Derdens, Asasel kan die naam van ’n demoon wees wat, so is geglo, in die woestyn gewoon het. (Die woestyn is dikwels as die woonplek van demone gesien, vgl Matt 12:43; Luk 8:29.) Dit is die verklaring wat deur die meeste geleerdes vandag aanvaar en deur vertalings gevolg word. Die jukstaverbinding van die name “die Here” en “Asasel” in v8 sou hierdie moontlikheid kon ondersteun, want dan is beide twee name wat teenoor mekaar gestel word.

Indien laasgenoemde moontlikheid aanvaar word, is dit egter ’n vraag hoe dit sin maak in Levitikus 16. Waarom ’n bok vir ’n woestyndemoon met die naam Asasel oormerk? Twee moontlike verklarings word aangebied: (a) Die bok het as ’n soort afweer- of beskermingsmiddel gedien teen die woestyndemoon sodat dié hulle nie sou leed aandoen nie. Dit is vergelykbaar met wat ons in Eksodus 12:13,23 lees van die bloed van die lam wat aan die deurkosyne van die Israeliete in Egipte gesmeer is sodat die Here nie die eersgeborenes se lewe sou neem nie. Hierdie verklaring sou dan aansluit by ’n baie ou tradisie wat Israel in sy woestyntog raakgeloop het, ’n tradisie rakende demone – of ’n spesifieke demoon – in die woestyn wat gevaar inhou vir mense, en die manier om hulle daarteen te beskerm. Verder, dat hierdie demoon ’n naam gehad het, sou kon beteken dat dit ’n baie ou lokale tradisie was van ’n demoon wat gekoppel was aan ’n spesifieke gebied of plek. Die feit dat die naam Asasel nêrens elders weer voorkom nie, ondersteun die gedagte van ’n ou tradisie rondom ’n spesifiek plek maar wat mettertyd vervaag het, hoewel die naam behoue gebly het. En dit bring ons by die tweede verklaring.

(b) In Levitikus 16 word die bok wat vir Asasel geoormerk is spesifiek in verband gebring met die reinigingsrite van die volk se sonde. Die sonde van die volk word oorgedra op die bok en so simbolies die woestyn ingedra. Maar dis interessant dat die naam Asasel nie voorkom in v20-22 waar die rite van die oordrag van die volk se sonde op die bok beskryf word nie. So amper asof dit ’n latere ontwikkeling en toepassing van die vroeër tradisie rondom die bok as beveiliging teen Asasel was.

Dit kan dus wees dat die verklaring in (a) genoem mettertyd, in die oorlewering van die Levitikusboek, vermeng geraak het met dié van (b), laasgenoemde betekenis wat sentraal staan in Levitikus 16. Maar tog het die naam Asasel behoue gebly. Ons sit dus eintlik met twee tradisies in Levitikus 16, die ouer een waar die naam Asasel voorgekom het, en die later een (maar ook oud) wat meer spesifiek afgestem is op die betekenis van die bok as die een wat die sonde van die volk wegdra, wat eintlik nie meer iets met Asasel te doen gehad het nie. In die verstaan van Levitikus 16 behoort die klem dus op (b) te val en nie soseer op die betekenis van die naam Asasel nie, wat in elk geval onduidelik is.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl