Engele in die Hemel – Francois Malan

Leser vra:

Sien Engele om na babas in die hemel?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ons weet nie wat die ewige lewe in
die hemel alles behels nie, behalwe dat dit veel veel anders sal wees as wat
ons dit vir ons kan voorstel. Paulus sê in 1 Korinthiërs 15:42-44, met die
opstanding van die dooies sal dit soos volg wees:

            Wat gesaai word in
verganklkheid, word opgewek in onsterflikheid;

            wat gesaai word in
oneer, word opgewek in heerlkiheid;

            wat gesaai word in
swakheid, word opgewek met krag.

            Wat gesaai word, is ’n
natuurlke menslike liggaam;

            wat opgewek word, ’n
geestelike liggaam.

Die verse wat volg (1 Korinithiërs
15:44-54) verduidelik dat ons aardse mense die beeld van Adam dra, wat die Here
uit die stof van die aarde gemaak en sy gees daarin geblaas het sodat ons
stoflike liggame lewe totdat die Here die lewe wat Hy aan elkeen van ons gegee
het uit ons stoflike liggaam wegneem met ons dood. 

Maar Jesus Christus het die
lewendmakende Gees geword met sy opstanding uit die dood. En elkeen wat aan Hom
verbind is kry ’n geestelike liggaam wat soos Jesus se opgestane liggaam gaan
wees, wat nie meer aan tyd en ruimte gebonde is nie.

Met ons dood gaan ons gees na Hom
toe in die hemel, tot sy wederkoms wanneer ons stoflike liggame met ons
geestelike liggaam vir ewig verenig word, onverganklik en onsterflik.

’n Babatjie wat sterf se liggaam
word wel begrawe. Maar die gees wat die Here aan die baba van sy/haar konsepsie
af reeds voor geboorte gegee het om te kan lewe, gaan met die dood by die Here
Jesus wees, sê Paulus in Filippense 1:20-23, toe hy in gevangenisskap was en
wag om voor die keiser van Rome verhoor te word:

            Dit is immers my innige
verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie – inteendeel,
dat met alle vrymoedigheid Christus ook nou, soos altyd, deur my liggaam
verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Want vir my is
om te leef Christus, en om te sterf wins, maar as ek liggaamlik bly leef,
beteken dit dat ek nog verder vrugbaar sal werk. Ek weet         werklik nie wat om te kies nie. Ek is in
’n tweestryd gewikkel. Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Chrisus te wees. Dit is immers verreweg die
beste. Aan die ander kant is dit ter wille van julle, gemeente in Filippi en in
ander gemeentes, noodsaakliker dat ek liggaamlik hier bly.

Babatjies se gees word in die hemel
ontvang as volle mense. Eintlik het Jesus gesê ons sal soos
die engele wees
, wat nie versorging nodig het nie, maar sal
volwaardige dienaars van God wees. Lukas 20:36 
‘Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van
God, omdat hulle aan die opstanding van sy Seun deel het.’

Van die engele sê Ps 103:20 hulle
is sterk helde wat die Here se woord uitvoer en
sy bevel gehoorsaam.

Skrywer: Prof Francois Malan




Huwelik tussen neef en niggie – Francois Malan

Leser vra:

My broer en ons niggie het op 50 en 52
sielsgenote geword. My niggie se man is oorlede 2007 en my broer lankal geskei.
Dis nie dat hulle kinders gaan he nie, beide het al klaar kinders gehad. Van
die familie wil graag n wig steek in die mooi verhouding. Wat se antwoorde kan
ek gee vir hulle?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens ons landswet is daar niks
teen ’n huwelik tussen neef en niggie nie. Die lys van verbode huwelike volg
eintlik Levitikus 18:7-20 wat nie ’n huwelik tussen neef en niggie verbied nie.
Geneties kan daar probleme met die kinders uit so’n huwelik kom, maar jou broer
en niggie is al oor die ouderdom van kinders kry.

Wat ’n tweede huwelik betref het
Paulus ’n aanwysing aan ’n weduwee in 1 Korinthiërs 7:39: ‘’n Vrou bly aan haar
man verbind solank as wat hy leef, maar as haar man ontslaap het, staan dit
haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in
verbondenheid aan die Here is.’

Dit beteken dat die twee wat trou moet in die Here Jesus glo as God, wat vir ons sonde gesterf het en uit die dood opgestaan het, sodat ons saam met Hom vir God kan lewe. Want die Here wil hê dat die verhouding tussen man en vrou in die huwelik ’n liefdesverhouding moet wees wat ’n getuienis sal wees van Jesus se liefde vir ons. In Efesiërs 5:30-33 sê Paulus: ‘Ons is immers lede van Christus se liggaam, die kerk. Om hierdie rede sal ’n man sy pa en ma verlaat en hom aan sy vrou verbind – en hulle twee sal een liggaam wees. Hierdie geheimenis (die eenheid tussen man en vrou) is groot; en ek sê dit met verwysing na (die liefdesband tussen) Christus en sy kerk. Maar dit geld ook vir een en almal van julle: Elkeen moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet; en die vrou moet haar man eer.’

Skrywer Prof Francois Malan




Die Heilige Gees – Francois Malan

Katie
vra:

Is wedergeboorte n voorvereiste om die
Heilige Gees te ontvang of is die heilige gees ook in mense wat gelowig groot
geword het maar nie die “oomblik” van wedergeboorte beleef het nie.
As die Heilige Gees in ons is, kan dit gebeur dat hy ons ook kan verlaat?Ook:
is dit die Heilige gees wat met ons praat in drome. Ook: ek kry skieliik n
gedagte en wonder “wat sal gebeur” as ek n sekere ding sien in my
gedagtes. Dan gebeur dit wat ek gesien het. Dit gebeur nie daagliks nie. Dae of
weke kan verbygaan voordat dit gebeur. Is dit die Heiliige Gees wat met my
gepraat het?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Oor jou vraag: Is
wedergeboorte ’n voorvereiste om die Heilige Gees te ontvang…

Die Heilige Gees is God wat in ons
werk om ons te verbind aan Jesus Christus en sy liefdesoffer vir ons sonde en
met sy opstanding uit die dood. Hy skep ons wedergeboorte deur ons tot geloof
in Jesus te lei (Joh 15:26 en 16:8). Efesiërs 2:8 ‘Want uit genade is julle
verlos deur geloof. En dit kom nie uit julleself nie, dit is die gawe van God.’

Wedergeboorte is God se werk in
ons. In Johannes 1:12-13 sê Jesus: aan almal wat in sy Naam glo, het Hy die reg
gegee om kinders van God te word, dié wat uit God gebore is. In Johannes 3:3 sê
Jesus: ‘Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo weer gebore
word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie’ (die oorspronklike Griekse
woorde gennêthêi ánōthen beteken ‘weer gebore
word van bo af’). In Johannes 3:6 ‘wat uit die Gees gebore is, is geestelik.’

Paulus gebruik die Griekse woord palingennesía vir ‘weergeboorte’ in Titus 3:4-7: ‘Maar
toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons
verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar
op grond van sy ontferming – deur die afwassing deur die wedergeboorte en
vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus
Christus, ons Verlosser. So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename
geword van die ewige lewe waarop ons hoop.’  

In 1 Petrus 1:3 en 23 word die
Griekse woord anagennáō ‘weergebore laat word’gebruik:

            1 Petr 1:3-4 ‘Lofwaardig
is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in groot
ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het sodat ons ’n lewende hoop mag hê op
’n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat vir julle in
bewaring gehou word.’ 
            1
Petr 1:23 ‘Julle is immers weer gebore,
nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad – deur die
lewende en blywende woord van God.’ God herskep ons persoonlikheid tot ’n
radikale omkeer om nie meer vir onsself te wil lewe nie, maar vir God. En dit
doen Hy deur die Heilige Gees wat ons oortuig van die woord van God wat ons
hoor of lees, sodat ons in Jesus glo as God wat vir ons sonde gesterf het en
dat ons saam met Hom sal opstaan uit die dood.

2 Jou vraag oor mense wat
gelowig groot geword het maar nie die “oomblik” van wedergeboorte
beleef het nie.

Die Heilige Gees werk in ons om ons
tot geloof in Jesus te lei. Dit is nie in die eerste plek ’n belewenis nie,
maar ’n saak van geloof. As jy glo in Jesus as jou Verlosser kan jy seker wees
dat die Heilige Gees jou daarvan oortuig het. Vir sommige mense is hulle geloof
in Jesus as hulle Verlosser ’n vreugdevolle ontdekking. Ander mense het van
kindsbeen af in Jesus geglo, omdat die Heilige Gees reeds in babatjies van
gelowige ouers kom woon het.

3 Jou vraag: As die Heilige Gees
in ons is, kan dit gebeur dat hy ons ook kan verlaat?

Hebreërs 6:4-6: ‘Dit is immers
onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse  gawe gesmaak, en deel gekry het aan die
Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van
die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te
bring, aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en
openlik tot skande maak.’ Volgehoue verwerping van Jesus as jou Verlosser kan
lei tot verlating deur die Heilige Gees.

4 Jou laaste vraag oor die Heilige Gees wat met jou praat: die Heilige Gees kom woon in ons en lei ons elke oomblik van ons lewe, en nie slegs om toekomstige dinge te sien of te verwag nie. Maar dan verwag Hy dat ons op Hom sal wag om ons te lei en nie ons eie wil te probeer deurvoer as dit teen sy wil is nie, maar dat ons sal kyk hoe Hy vir ons deure toemaak en ander oopmaak. Want God is vír ons, Hy het ons vrygespreek, Christus tree vir ons in by God, en geen swaarkry of ellende kan ons skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie (gaan lees Romeine 8:31-39).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die 144 000 uitverkorenes – Francois Malan

Michele
vra:

Wie is die 144000 wat in die Bybel
genoem word?

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

In Openbaring
7:1-8 word die 144 000 genoem in verband met die verseëling van die gelowiges.
In die taal van Openbaring dra elke mens ‘n teken: óf die seël van God, óf die
merk van die dier (13:16). Die merke is nie letterlike tatoeëermerke nie, maar
simbole wat gesien kan word in die mense se lewenswyses, hulle norme, waardes
en geloof. Die merke op die voorkop wys wat in die mense se koppe aangaan (vgl.
Eseg. 9:4-6).

Die afdruk van
‘n seëlring in klei of was, het eienaarskap aangedui (dokumente is met die
seëlring van bv. die koning gewaarmerk, vgl. 1 Kon 21:8; Ester 3:10,12; 8:8.
Slawe is gemerk met die merktekens van hulle eienaars. Dié mense, wat met die
seël van God verseël is, word beskerm teen die vernietiging van die plae (9:4),
soos die Israeliete se bloed aan die kosyne hulle teen die tiende plaag ,
die  dood van die eersgeborenes, beskerm
het (Eks 12:12-13). Die bloed van die Lam (Openb 7:14) gee aan die gelowiges
hulle identiteit as God se eiendom, sy slawe, en dra die merkteken dat hulle
navolgers van die Lam is.

Vanuit die aardse perspektief  hoor Johannes die getal 144 000 wat
met die seël gemerk is om hulle te beskerm teen die plae op die aarde tydens
die vervolging. Vanuit die hemelse perspektief sien hy ‘n ontelbare
skare voor die troon en die Lam. Die ontelbare skare wat Johannes sien (Openb
7:9), verklaar die getal wat hy gehoor het (7:4-8). Die 144 000 verteenwoordig
al die gelowiges
, almal wat aan God behoort, van die tyd voor en na
Christus se eerste koms na die aarde.

Die simboliese getal 144 000 word saamgestel uit
12x12x10x10x10. Dit verteenwoordig die gelowiges uit die 12 stamme van Israel
(vgl. die 12 stamname van die 12 poorte van die nuwe Jerusalem, Openb  21:12) en die gelowiges in die die kerk,
verteenwoordig deur die 12 apostels van die Lam, wie se name op die fondamente
van die stadsmuur staan (Openb 21:14). Die stamname van Israel en apostelname
verteenwoordig saam al die gelowiges van die Ou Testament se tyd en al die
gelowiges van ná Christus se koms in die nuwe Jerusalem. Die getal 10 wys na
die afgerondheid van die volle getal gelowiges. Drie maal die afgeronde getal
10 wys na God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die simboliek van
10x10x10 x12x12= 1 000×144= 144 000 verteenwoordig God se volle getal
volgelinge van die begin van die skepping tot by die herskepping met Jesus se
wederkoms. In Openb 7:1-8 hoor Johannes van die 144 000 as God se weermag op
aarde wat oorwin oor die sonde. Hulle is die getuies van God se verlossing deur
die Lam en van sy liefde om mense tot bekering te roep. In Openb 7:9-17 sien
Johannes dieselfde volle getal van God se oorwinnaars wat in die hemel triomfeer
(vgl. Luk 15:7,10). God vrywaar nie sy eiendom teen die vervolging en geweld op
aarde nie, maar rus hulle met sy Gees toe om as oorwinnaars te volhard op grond
van die Lam se offer en opstanding.

Johannes hoor van ‘n sensusopname, God se ‘roll call,’ van 12 000 uit elke stam van Israel, wat ingesluit word met die woord  ‘verseëldes’ aan die begin van die lys by die Judastam en aan die einde by die Benjaminstam. Die welluidende herhaling van ‘verseëldes’ beklemtoon dat niemand van God se volk makeer nie. Die twaalf name verteenwoordig God se volle getal volgelinge op aarde met die simboliese merk op hulle voorkoppe, wat na hulle denke en geloof in hulle Eienaar, God, wys. Die nuwe Israel sluit alle gelowiges van die Ou- en Nuwe Testamentiese tyd in onder die name van die stamvaders, soos uit Openb 7:9 gesien word.

Skrywer: Prof Francois Malan