Mense en Redding: Sonde (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Sondebelydenis is die manier waarop God vir sy kind die kans gee om sy fout reg te maak en so die verhouding reg te stel. Dit is God se manier om sy kind die kans te gee om nuut te begin. Dit word die duidelikste in 1 Joh 1:9 gesê: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Die teks is duidelik: as ons ‘n fout gemaak het wat die verhouding met God geskaad het (sonde gedoen het), moet ons dit bely. Die woord bely hou die volgende in:

  1. dit is om jou fout te erken, met ander woorde, om presies te weet wat jy verkeerd gedoen het.
  2. dit is om voor God te erken dat jy die fout gemaak het en dat jy dit nie weer wil of sal doen nie. Jy neem ‘afskeid’ van die tipe gedrag.
  • dit is om jouself opnuut as goeie kind aan God toe te wy, met ander woorde, om vir God te sê dat jy sy kind en sy kind alleen is.

Op die manier word die verhouding van jou kant herstel. Die res is in God se hande. Jesus sal die skade voor God herstel en die skuld deur sy bloed betaal, soos 1 Joh 1:7 dit stel: en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. Dit het God deur Jesus beloof en dit sal Hy doen, want Hy is trou en regverdig om dit te doen. Hy sal ons van alle ongeregtigheid reinig, wat beteken dat ons saak nou reg voor God is.

So herstel God verhoudinge met sy mense en sorg dat sy familie gesond kan voortgaan. Sondebelydenis is dus nie ‘n straf nie, maar ‘n voorreg. Dit is nie God wat jou wil straf nie, maar God wat medisyne op jou wonde wil sit sodat dit gesond kan word.

Die gedeelte in 1 Joh stop egter nie daar nie. In 1 Joh 2:1-2 word ‘n stappie verder gegaan. Ons mag nie sondig nie, maar as dit gebeur, Christus is ons voorspraak (Parakleet) by die Vader: My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak (Spesiale Helper) by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. Hy is ’n versoening vir ons sondes… Dit is ‘n sterk beeld wat gedeeltelik met regspraak of hofsake te doen het. As iemand destyds in ‘n familie ‘n fout gemaak het, moes daar besluit word wat met die sondebok gemaak moes word. Die pa of leier moes besluit, maar gewoonlik het hy dit eers met een of meer van die senior mans in die familie bespreek (byna soos ‘n koning met sy raadslede). In 1 Joh 2:1-2 word die beeld juis gebruik – Jesus word beskryf as die Een wat so saam met die Vader oor die sondaars beraadslaag. Almal weet aan wie se kant Jesus is. Daarom word Hy as die Spesiale Helper (Voorspraak) beskryf. In die gesprek met die Vader sal Hy dus altyd by die Vader vir die vergifnis van die gelowiges pleit, juis omdat hy sy bloed vir hulle gegee het (1 Joh 1:8-10). Daarmee wil Johannes beklemtoon dat God van sy kant af altyd gelowiges se sonde sal vergewe – daarvoor sal Jesus ook sorg. Maar dan moet hulle dit bely.

In die volgende artikel gaan ons na bekering kyk.




Mense en Redding: Sonde (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Sondevergifnis en sonde wat nie vergewe word nie

Daar moet verder aandag gegee word aan die rol wat sonde, as dit waarvan mense gered moet word, speel. Daar is verskeie sake wat ‘n rol speel in die Nuwe Testament as dit by sonde kom: wat is sondevergifnis, vergewe God net een maal, wat is die sonde tot die dood of die sonde teen die Heilige Gees? Van hierdie vrae gaan nou aandag ontvang.

Uit woorde soos geloof, redding, versoening het ons gesien dat die Nuwe Testament in terme van verhoudings dink as dit gaan oor God en die mense. Redding beteken dat God sy verhouding met sy mense herstel. Ons word as’t ware gehersosialiseer. Ons is nou sy kinders, sy volk, soos lote in Jesus as die wynstok ingebed.

Ons is inderdaad die familie van God. Die Vader van hierdie familie verwag dat gelowiges as sy kinders sal optree. ‘n Kind tree soos sy Vader op, sê Johannes (Joh 8). Wat gebeur nou as ‘n kind ‘stout’ is en nie doen wat God, sy Vader, vra nie, met ander woorde, sondig? Dit versteur natuurlik die verhouding. Dit is soos ‘n slegte plekke op ‘n appel. Dit kan uiteindelik die hele appel sleg maak. God is nie tevrede met sulke gebroke verhoudings nie. God gooi egter ook nie sy kind sommer so uit die familie nie. As ‘n mens ‘n fout maak, beteken dit nie dat God sy rug op jou draai nie. Juis nie. Nee, God wil hê dat die verhouding reggestel moet word, dat alles weer normaal en goed tussen Hom en jou moet gaan; en dit is waaroor sondebelydenis gaan.

In die volgende artikel kyk ons na nog ‘n aspek van sonde: sondebelydenis.




Mense en Redding: Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Jakobus argumenteer soortgelyk oor geloof (Jak 2:14-26). Geloof sonder werke is dood, met ander woorde, as iemand sê hy of sy glo, maar nie so leef nie, bestaan daardie geloof per definisie nie. Jakobus skryf nie veel oor die oomblik dat ‘n persoon gered word nie, want dit gaan eerder vir hom oor die lewe van ‘n gelowige volgens die wysheid van God (Jak 4:13-18).

Die beeld van die gelowiges wat kinders van God is, staan sentraal in die briewe van Petrus. Hy gebruik ook die beeld van die geboorte van die gelowige wat dan deel van die familie van God uitmaak (1 Pet 1:23): Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.  Hy verbind die nuwe lewe direk aan die opstanding van Jesus (1 Pet 1:3): In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Die opstanding van Jesus het bewys dat daar ‘n lewe na die dood is en dat mense ook tot die ewige lewe opgewek kan word. Daarop hoop gelowiges (1 Pet 1:4-5; 3:21-22). Net soos Jesus sal hulle ook die ewige lewe kan kry: En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Pet 1:5).

Die lyding, dood en opstanding van Jesus speel ook ‘n belangrike rol in Petrus. In 1 Pet 3:18 word Jesus se lyding ter wille van ons skuld en sonde, sy dood en opstanding saam beskryf as heilsgebeure: Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. In 1 Pet 2:24 stel Petrus dit nog meer onomwonde: Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Hier argumenteer Petrus dat ons vir ons sonde moes sterf. Jesus het egter vir die gelowige se sondes gesterf deur die gelowige se sonde in sy liggaam aan die kruis te dra, met ander woorde, daar is klaar vir die sonde van die gelowige gesterf. Die gedagte van plaasvervanging word hier gebruik, naamlik, die een sterf vir en in die plek van die ander. Dit was gebruiklik in die antieke tyd. Dat een persoon, naamlik Jesus, vir almal sterf, was ook gebruiklik in die antieke tyd, omdat hulle groepsmense was. Die leier van ‘n groep kon dus die hele groep verteenwoordig. Dit is byna soos ‘n kaptein van ‘n span. Hy verteenwoordig die hele span as daar geloot word oor wie eerste gaan gaan kolf of so iets, en hou die beker namens die hele span hoog as daar gewen word. Wat van hom geld, geld van die span ook.

Petrus gebruik ook die beeld van loskoping (waar iemand betaal om ‘n slaaf vry te maak) om te verduidelik wat met gelowiges gebeur as hulle gered word: Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Pet 1:18-19). Hier herken ons weer motiewe wat ons by ander skrywers ook raakgeloop het, naamlik offertaal (lam en bloed) en natuurlik loskoping. Die bloed en offer van Jesus is die ‘betaling’ wat gegee word om mense vry te maak vir ‘n sinvolle bestaan saam met God.

Die brief van Petrus was gerig aan mense wat sosiaal swaar gekry het omdat hulle Christene was. Hulle is vervolg en eenkant toe geskuif vanweë hulle geloof. Daarom is die brief ook geskryf – die brief is bedoel om hulle moed te gee en hulle goed te laat voel omdat hulle Christene is, al gaan dit sleg met hulle. Dit doen Petrus deur vir hulle te wys op wat met hulle gebeur het. Hy vergelyk hulle met die volk van God en verduidelik dat hulle al die seëninge van die verbondsvolk het, juis omdat hulle gered is (1 Pet 2:9-10): Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Hulle moet volhard, omdat God hulle nou sy verbondsvolk gemaak het. Hulle status het van geen volk na God se volk verander.

Om die rol van die doop in die reddingsproses te beskryf, verduidelik Petrus aan die hand van ‘n vergelyking met Noag (1 Pet 3:18-22): Dit (= die Noaggebeure) dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus (vers 21). Die doop is ‘n oorgangsrite waartydens die persoon van een bestaan/status na ‘n ander oorgaan. Op grond van die opstanding van Jesus word mense gered en die sigbare en rituele bevestiging daarvan is deur die doop. Die wat gedoop is, is dus ‘afgeskei’ van die wat nie gedoop is nie.

Ook Petrus gebruik dus verskeie beelde om fasette van die redding mee te beskryf. Dit gaan egter oor die verandering wat in ‘n persoon se lewe plaasvind sodat hy of sy nou kind van God in God se volk kan wees. Dit lei ‘n nuwe en opwindende lewe in wat op die ewige lewe met God gaan uitloop.

Hoewel daar groot verskeidenheid bestaan in die maniere waarop die verskillende skrywers oor redding skryf, is daar tog ook duidelike ooreenkomste. Al die skrywers lê klem op die probleem van die bose en sonde wat die mens van God weghou en wat oorkom moet word. Dit gebeur deur geloof in Jesus. Deur Jesus se optrede herstel God die verhouding tussen Hom en gelowige mense. Hy gee aan hulle nuwe identiteit. Nou kan hulle saam met God leef. Hulle is gered.

In die volgende artikel begin ons na verskeie aspekte van sonde kyk.




Mense en Redding: Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Jesus dien nie net as offer vir die sonde nie, maar as Hoëpriester is Hy ook die ‘advokaat’ by God wat vir gelowiges intree: Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn (Heb 9:24): Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Deur sy intrede en werk (offer) het Hy dit nou moontlik gemaak vir mense om gered te word, met ander woorde, om ook voor God te mag verskyn: Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Sonde en onreinheid hoef gelowiges nie meer van die teenwoordigheid van God af weg te hou nie, want Jesus het die vrye toegang tot God vir die gelowiges moontlik gemaak. Dit gaan dus hier ook weer oor hersosialisering van mense wat ver van God was na mense wat in die teenwoordigheid van God mag kom en bly.

 Die Hebreërskrywer maak ook ‘n interessante vergelyking in Hebreërs 9:15-22. Met die redding het daar ‘n nuwe ooreenkoms tussen die gelowiges en God ontstaan, die nuwe verbond. Dit word verduidelik aan die hand van ‘n testament. Vir ‘n testament om in effek te gaan moet iemand sterf – dit is tog waarvoor ‘n testament daar is, om te reël wat gebeur nadat iemand dood is. Jesus se dood het die testament van God, wat gaan oor die nuwe ooreenkoms wat Hy met gelowiges maak, in werking gestel. In die gedeelte in Hebreërs word daar ook van bloed, gepraat, want dit was ‘n manier waarop ooreenkomste in die antieke tyd ‘onderteken’ en bevestig is. Jesus is dus ook die een wat dit moontlik maak vir verlore mense om in ‘n nuwe ooreenkoms met God te tree.

‘n Baie belangrike element, nie alleen van redding nie, maar ook van die voortgaande lewe van die gelowige is geloof: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Heb 1:1). Geloof bestaan uit twee komponente volgens die Hebreërskrywer, naamlik die vertroue op God wat nie gesien kan word nie en wat deur sy beloftes en boodskap hoop vir gelowiges gee. Juis op grond van die vertroue kan die gelowige  lewe, met ander woorde tot eer van God leef. En nou, die verband tussen die twee – mense wat sê dat hulle glo maar nie so leef nie, kan nie sê hulle glo nie. Geloof maak jou oë oop vir God en die oomblik wat Hy realiteit in jou lewe word, word jou dade per definisie daardeur beïnvloed. Dan leef jy soos iemand wat in die teenwoordigheid van God staan.

In die volgende artikel gaan ons na Jakobus en Petrus se beskrywing van redding kyk.