Mense en Redding: Paulus (5) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Eers moet ons kyk hoe die mense in die Bybelse tyd oor God gedink het. God was gesien as die Skeppergod wat lewe gee. Hy was en is die God van lewe. Waar daar dus dood voorkom, of selfs siekte as voorloper of gedeeltelike uitdrukking van die dood, is daar geredeneer dat dit nie van God kon wees nie. Byvoorbeeld, as iemand blind of lam word is daar in die ou tyd geredeneer dat die dood daardie deel van die mens in besit geneem het. As Jesus dus iemand genees, plaas Hy weer die lewe in daardie deel van die persoon terug. Dat die dood dus die teken is van die sonde wat teen God se lewe is, sien ons byvoorbeeld uit die opmerking van Paulus in Rom 5:12: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. So gesien vorm die dood dus ‘n mag wat mense van die lewe en so van God kan isoleer. Hoe kan die mens dan uit hierdie houvas van die dood kom as hy of sy eers dood is? Daar speel die opstanding ‘n rol. Jesus het gewys dat God sterk genoeg is om mense uit hierdie houvas van die dood weer lewe te gee. Dit het Hy met Jesus bewys – daar kan ons sien hoe sterk God is (1 Kor 6:14; lees ook 2 Kor 4:14; Ef 2:1-6): God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek. Die dood het dus nie meer ‘n kans nie: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:54-55).

Maar Paulus konsentreer nie net op die dood nie. In die tyd van Paulus was die Joodse samelewing nog direk beïnvleod deur die gebeure by die tempel (wat eers na Paulus se dood vernietig is). Daar is natuurlik offers (bloed) gebring om byvoorbeeld sondes te vergewe. Geen wonder dat Paulus ook daarna verwys as dit by die dood van Jesus kom nie (Ef 1:7) Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God.

Opvallend is dat Paulus feitlik deurgaans beelde (metafore) gebruik om te verduidelik wat gebeur as mens gered word. Hy neem die beelde uit verskeie areas van die gewone lewe en pas dit dan toe op wat met redding gebeur. Dit maak die reddingsgebeure meer verstaanbaar, want ‘n mens het dan iets om redding mee te vergelyk.

Een van Paulus se bekendste beelde neem hy uit die juridiese wêreld, met ander woorde van mense wat skuldig is en voor die hof moet verskyn. Kyk hoe gebruik Paulus die wetsituasie in Rom 8:33-35: Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? God word beskryf as die regter van en oor die mensheid. Die mense het egter almal sonde gedoen en is dus skuldig. Hulle het nie veel kans voor die regsbank van God nie. In die hofsaal gebeur daar egter ‘n eienaardige ding. Die aanklaer (wat tradisioneel met die duiwel vergelyk word) is nie daar om die ‘uitverkorenes’, naamlik die gelowiges aan te kla nie. As die ‘uitverkorene’ verskyn, staan net Jesus daar wat vir die uitverkorene pleit, in vandag se taal, Jesus is die enigste advokaat in die hof. Natuurlik moet skuld betaal en oortredinge gestraf word. Die Regter kan en mag nie onregverdig wees nie. Dit is waar opmerkings soos Rom 8:32 inkom: Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Deur sy dood bewerk Jesus versoening vir ons sondes, met ander woord, in vandag se taal, hy betaal die vonnis. Deur en op grond van Jesus se heilswerk is ons almal reeds vrygespreek en staan ons aan God se kant as geregverdigte mense: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? (Rom 8:31). Op grond van die genadige optrede van God deur Jesus kan die gelowiges vry uit die hofsaal uitstap en dit is seker (Rom 8:38-39): Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Die gelowige leef dus ‘n nuwe lewe uit genade, op grond van die liefde van Christus wat ons deur sy dood met God versoen het. Die nuwe status van mense wat voor God geregverdig is, sal met die finale oordeel bevestig word.

Die woord geregtigheid of iemand is geregverdig, het dus twee kante. Die een is die juridiese kant wat vertel hoe ‘n persoon vrygespreek word en dus regverdig uit die hof stap. Die ander kant is die etiese kant, wat vertel van die leefstyl van die persoon, met ander woorde, dat die persoon reg optree. Sy gedrag is regverdig. Natuurlik verwag God dat as Hy die gelowige regverdig verklaar die gelowige regverdig sal optree.

In die volgende artikel gaan ons na verdere beelde wat Paulus gebruik, kyk.




Mense en Redding: Paulus (4) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die kruis en opstanding van Jesus vorm die sentrale fokus van wat Jesus gedoen het om mense te red. Daarom sê Paulus: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:2). In die konteks van 1 Korintiërs 1-2 verduidelik Paulus dat nie die Jode of die Grieke die evangelie wou glo nie, omdat dit net nie vir hulle sin maak dat ‘n verlosser aan die kruis moet sterf nie. Dit strook nie met menslike wysheid en verwagtings nie. Paulus verduidelik dat die kruis die wysheid van God en nie van mense is nie (1 Kor 1:18): Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Die rede sien ons natuurlik in 1 Korintiërs 15 waar die opstanding van Jesus bespreek word. Omdat Jesus deur die krag van God opgestaan het, het ons ook die hoop op die opstanding en ewige verheerlikte lewe.

Dat Paulus en die ander skrywers van die Nuwe Testament geweier het om die kruisgebeure en dood van Jesus te ontken, maar dit liewer die sentrum van hulle verkondiging gemaak het, spreek boekdele vir die feit dat Jesus werklik gekruisig is. Kyk hoe sterk stel Paulus dit (Gal 6:14) Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Dit is ondenkbaar dat mense dit sou versin of uitdink. Nee, hulle het die feit aanvaar en dit op verskillende maniere teologies verwerk. Lukas, byvoorbeeld, vertel van die dood van Jesus in sy Evangelie, maar verbind dit nie eintlik sterk aan die reddingsproses nie; Johannes lê meer klem op die openbaringsfunksie van die kruis, terwyl Hebreërs die kruis in verskillende Joodse beelde verduidelik. Vir Paulus staan die kruis, waarvan die opstanding deel is, sentraal.

Een van die opvallendste maniere waarop Paulus die kruis en opstanding gebruik is om die proses van sterf en opstaan op die gelowiges toe te pas. Die gedagte is dat as iemand sterf en begrawe word, daardie bestaan beeïndig is. Dit is klaar en weg. As mens dan opstaan is dit ‘n nuwe mens met nuwe lewe. Om op te staan gebeur egter nie outomaties nie, maar deur die krag van God. Paulus verduidelik met behulp van die gebeure wat met gelowiges gebeur. Hulle sterf en word begrawe, met ander woorde, die ‘ou mens’ is dood en weg. In en saam met Christus staan hulle egter weer op in ‘n nuwe lewe saam met God. Wat van die ou lewe geld, geld nou nie meer nie; die gelowige moet nou nuut lewe, volgens sy of haar nuwe identiteit. Paulus verbind dit veral met die doop van gelowiges. Kyk hoe ontwikkel Paulus die gedagte in Romeine 6:4-11: Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie…Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe… Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. (lees ook Kol 2:9-15; 2:20-3:4).

Paulus gebruik veral die idee dat ons ‘in Christus’ is; dit is nie so maklik om die begip presies te verduidelik nie, maar dit hang saam met die intieme relasie tussen Jesus en die gelowige wat tot stand kom waardeur wat van Jesus waar is, van die gelowige ook waar word. In die antieke tyd was die mense groepsmense wat beteken het dat hulle hul identiteit van die groep gekry het. Individualisme was dus tot die minimum beperk. Wat van jou groep geld, geld ook van jou. Daarom kan Paulus sê dat wat van Jesus geld, ook geld van die mense wat in hom glo.

Die kruis lei dus tot die opstanding waardeur die nuwe lewe saam met God moontlik word. In 1 Korintiërs 15 word die opstanding van Jesus in detail bespreek. As Hy nie opgestaan het nie, sou daar ook vir gelowiges geen vooruitsig gewees het vir opstanding nie. Jesus het die werklikheid van die lewe na die dood geïllustreer deur self op te staan. Deur die krag van God is Hy opgewek en ons kan op daardie selfde krag staatmaak (Ef 1:19-22). Die punt sal verder aandag ontvang by die bespreking oor die toekomsverwagtings van gelowiges. Tog moet ons ‘n oomblik stilstaan by die belang van die dood as mag waaruit die mens gered moet word. Daarin speel die opstanding ‘n belangrike rol.  Daarna kyk ons volgende keer.




Mense en Redding: Paulus (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Geloof vir Paulus hang saam met bekering tot God deur sy boodskap soos dit in Jesus gestalte gekry het, te aanvaar. Dit blyk uit waarskynlik die oudste sendingpreek in die Nuwe Testament: Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos (1 Thes 1:9-10). Dit gaan dus om gelowige assosiasie met God en sy reddingsplan in Jesus.

Daar is egter ‘n vraag: vir die Jode het die Wet sentraal gestaan in die proses van redding en natuurlik om gered oftewel binne die verbond te bly. Paulus argumenteer, soos ons hierbo gesien het, dat redding en ‘n voortgaande verhouding met God en Jesus deur geloof en nie deur die Wet kom nie, soos hy self in Rom 3:20-22 sê: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo en tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Gal 2:16 – lees die hele argument in Gal 2:16-5:1). As God self die verbondswet ingestel het hoe is dit moontlik dat Paulus nou kan beweer dat mense sonder die wet met God in ‘n verhouding kan staan? Paulus beargumenteer dit saam volledig in sy brief aan die Galasiërs. Hy herhaal sy argument in Romeine 4. Die argument kom daarop neer dat Abraham deur geloof as vriend van God gereken is – dus in ‘n verhouding met God gestaan het – lank voor Moses en die wet daar was. Redding deur geloof sonder die Wet is dus moontlik, dit het Abraham gewys. Net soos Abraham het Christen gelowiges dus ook nie nodig om deur die wet ‘gered’ te word nie. So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. (Gal 3:6-7).

Paulus het ook ‘n baie spesiale argument oor hoe geloof tot stand kom: Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? … Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.  (Rom 10:14-15, 17; sien ook Rom 10:8-10). Vir Paulus is die verkondiging van die Evangelie deel van die proses van redding en dit was inderdaad God se bedoeling (1 Kor 1:21): Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Redding is nie moontlik as daar nie mense is wat die boodskap verkondig nie, maar dan nie enige boodskap nie – dit gaan om die verkonding van die evangelie van Jesus: Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom (1 Kor 15:1-2). Redding is dus ingebed in missionale ywer (Kol 2:5-8; 2 Tim 1:8-9).

Aangesien verlossing ‘in Christus’ aangebied word (Kol 2:5-15; 2 Tim 2:10; 3:15), laat ons nou op Jesus as Redder fokus. Die term ‘redder’ word deur Paulus uitsluitlik vir God (bv. 1 Tim 1:1; 2:3-4; Tit 1:3, 2:10, 3:4) en Jesus (bv. Fil 3:20; 2 Tim 1:10; Tit 1:4, 2:13, 3:6) gebruik. God se redding word deur Jesus as Redder beskikbaar gestel (Rom 3:21-25, 8:1-4; 1 Kor 1:30-31; 2 Kor 5:19; Gal 4:4-5; Kol 1:13-14; 1 Tim 1:15, 2:5-6) en loop uit op nuut geskepte mense (2 Kor 5:17-19). Hulle kan nou uit genade in vrede met God en Jesus leef: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God (Rom 5:1-2).

Volgende keer kyk ons na die kruis in Paulus se beskrywing van redding.




Mense en Redding: Paulus (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Juis vanweë die negatiewe situasie van die mens staan die mens skuldig voor God (3:19): Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Die mens kan sigself nie red nie (Tit 3:5; Ef 2:8). Afgesien van hulle eie sondige natuur (Rom 8:3, 5, 8), is hulle ook in die mag van bose (Kol 2:8, 20), van die wettiese godsdienstige reëls en die wet (Gal 4:3, 12-13) en die dood (wat deur Paulus gepersonifieer word – 1 Kor 15:26).  Hulle het dus inderdaad die redding van God nodig.

Hier speel die begrip genade ‘n hoofrol (Tit 2:11). Genade is om iemand iets te gee wat hy of sy nie verdien nie en om dit te gee sonder om regtig iets terug te verwag. Dit is iets wat God vir mense gee omdat Hy graag wil, soos Paulus aan die Efesiërs skryf: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (Ef 2:8). God bly die inisiatiefnemer en bron van die genade, hoewel dit deur ander bemiddel word ( 2 Thes 2:13). Die proses van redding en genade grens vir Paulus aan ‘n misterie, juis omdat God so ondeurgrondelik, groot en verhewe is (Rom 11:33-37). In byna poëtiese taal beskryf Paulus dit: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

Die genade wat God aan mense gee, word onder andere en veral deur Jesus bemiddel. Paulus beskryf dit deur Jesus met Adam te vergelyk (Rom 5:14-15, 17): Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Adam het deurdat hy aan God ongehoorsaam was, die hele menslike geslag in die sonde gedompel. Daarom staan hulle onder die oordeel. Jesus kom deur genade en bied die gawe van redding en vryspraak van die sonde aan baie. Almal wat dus in Jesus glo kry die vryspraak wat Hy in genade aan mense bied en op die manier is God se genade daar vir almal ongeag status, rykdom, rang, geslag of wat ook al. Daar is nie grense of beperkinge nie (1 Tim 2:4). Hulle verdien dit nie, maar kry dit. Dit is die essensie van redding volgens Paulus.

Hierdie goddelike genade vra natuurlik ook vir gepaste reaksie van die kant van die mens. Wie met die genade van God te doen kry, bly nie dieselfde nie. Die goddelike genade vra veral gelowige reaksie van die mens. Soos Rom 3:22 sê: die geregtigheid (is) naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie en ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet (Rom 3:28; sien 3:21-31). Geloof in wie Jesus is en wat Hy gedoen het, vorm die manier waarop die mens deel kry aan die redding: Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe (Rom 1:16-17).