Die narsisme van geïsoleerde godsdiens

 

Everyone says forgiveness is a lovely idea, until they have something to forgive –  C. S. Lewis

 

Die narsisme van geïsoleerde godsdiens

[Narsisme = sieklike liefde vir die self – HAT]

Vandag is alles selfgesentreerd. Daarom is selfgesentreerde godsdiens ook nie verbasend nie. Mense in plaas van God is nou die middelpunt van die heelal. Daarom hoor ons slagspreuke soos: “Ek is geestelik, maar nie godsdienstig nie”; “Ek woon nie eredienste by nie – ek is geestelik as ek my afsonder.”

 

Ben Witherington sê dat die Christelike lewe begin met persoonlike geloof wat dan uitgeleef word in gemeenskap met ander gelowiges. Geloof is iets wat niemand anders vir jou kan doen nie. Dit moet jou eie geloof wees anders is dit nie geloof nie. Jy kan nie geloof met volmag hê nie; jy kan nie aan geloof in absentia deelneem nie. Die geloof is jou eie, maar dit maak jou onmiddellik deel van ‘n familie.

 

Augustinus vertel die storie van Victorinus, professor in retoriek in Rome. Hy het baie simpatie met die Christendom gehad; hy het die Bybel en Christelike boeke gelees. Hy sê vir Simplicianus: ‘Jy weet, ek is alreeds ‘n Christen.” Simplicianus antwoord: “Ek sal dit nie glo en jou nie as ‘n Christen erken, voordat ek jou nie in die kerk van Christus sien nie.” Victorinus antwoord: “Maak mure Christene?” Uiteindelik het die professor deel van die kerk van Rome geword.

 

‘n Man sê vir John Wesley: “Sir, you wish to serve God and go to heaven? Remember that you cannot serve Him alone. You therefore must find companions or make them. The Bible knows nothing of solitary religion.” Dit was die begin van die Metodiste Kerk.

 

Die Bybel weet niks van hierdie afgesonderde godsdiens nie. Paulus sê: Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop (1 Korintiërs 12:13). Dus: Ons kan nie ‘n Christen in isolasie wees nie. Toe ek verlos is, word ek onlosmaaklik deel van die liggaam van Christus. Daarom moet ek my toewy aan volle deelname aan hierdie liggaam.

 

 




Maak slapende Christene wakker

 

God’s promises are like the stars; the darker the night the brighter they shine – David Nicholas
Maak slapende Christene wakker

Tim Keller sê daar is drie vrae wat vals Christene nie kan antwoord nie. Hulle gaan oor dié hoekstene van ‘n verhouding in Jesus Christus wat groei.

 

  1. Bewyse van God se teenwoordigheid in jou lewe
  • Hoe werklik was God hierdie week in jou hart?
  • Hoe duidelik is jou versekering en sekerheid van God se vergifnis en Vaderlike liefde in jou lewe tans?
  • Verheug jy jou werklik in God? Voel jy sy teenwoordigheid in jou lewe? Voel jy waarlik sy liefde in jou lewe?

 

  1. Bewyse dat die Skrif jou verander
  • Vind jy die Skrif lewend en aktief?
  • Vind jy sekere Bybelse beloftes kosbaar en bemoedigend? Watter beloftes?
  • Ondervind jy dat God jou roep of uitdaag vir iets in die wêreld?

 

  1. Bewyse van toenemende waardering vir God se genade
  • Ondervind jy God se genade meer as in die verlede?
  • Is jy bewus van ‘n groeiende gevoel van boosheid in jou hart en in reaksie daarop, ‘n groeiende afhanklikheid en verstaan van die kosbaarheid van God se genade?

 

Almal van ons moet gereeld tot stilstand kom en introspeksie doen. Dit is baie maklik dat my geloof ‘n gewoonte word. Daarom is hierdie vrae (of ander) van groot belang om gereeld te vra en eerlik te antwoord.

 




Jy is die man

 

Christians have won an insufferable reputation for always dispensing answers, even when no one has a question –  Os Guinness

 

Jy is die man

Ons kan baie leer uit Natan se konfrontasie met Dawid. Ons weet van Dawid se owerspel met Batseba en sy moord van haar man, Urija.

 

Wanneer was dit? In die lente, die tyd waarin konings gewoonlik optrek om oorlog te maak (2 Samuel 11). Maar Dawid bly in sy paleis. Hy stap op die dak van sy paleis rond en sien ‘n vrou wat bad – Batseba. Hy slaap by haar en sy word swanger. Daarna verseker hy dat haar man, Urija, in die oorlog sneuwel. Dawid laat haal haar en sy word sy vrou. Dawid rasionaliseer sy optrede – al die verskonings was in plek. Al probleem is die karakter van Dawid se God. Dawid se hantering van Urija het Hy raakgesien.

 

Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Hoe konfronteer Natan vir Dawid? As Natan hom openlik gekonfronteer het en hom in die skande gesteek het, mag hy maklik dieselfde lot as Urija ervaar het. Hy besluit om eerder ‘n storie te vertel. Hy konfronteer Dawid moreel – sy enigste hoop op sukses. Hy gaan na die koning – die regter en wetgewer van die volk. Hy lê ‘n geval voor hom – iets wat nie suspisie sou wek nie. Ons as lesers vandag ken die doel van die storie en die uitkoms daarvan. Dawid besef nie dat die saak wat Natan voor hom lê fiksie is nie. Daarom dat hy hom bloedig vererg het: So seker as die Here leef, ‘n man wat dit oor sy hart kry om so iets te doen, moet doodgemaak word.

 

Dan Natan se reaksie: Jy is die man!  Ons weet wat die gevolg was. Dawid antwwoord: Ek het gesondig teen die Here. Sy diepe berou sien ons duidelik in Psalm 51. Dawid word herstel. Soos God se oordeel deur Natan vir Dawid konfronteer, word al die lae misleiding en verskonings weggevee – onmiddellik. Dawid staan nou voor die spieël van die waarheid self.

 

Hier het ons ‘n baie goeie voorbeeld van kreatiewe oorreding – en dit was suksesvol! Dawid se  hart en denke was geslote en moes eers oopgemaak word. Natan besluit dat die manier om dit te doen, is deur ‘n storie. ‘n Eenvoudige reguit benadering sou dalk ‘n ander reaksie by Dawid uitgelok het. Een van die basiese beginsels is dat ‘n spreker altyd in ag moet neem waar sy gehoor is. Anders gaan ons nie tot hulle deurdring nie. Ons is so geneig om formules of vrae wat vooraf bepaal word, te gebruik so asof  almal op dieselfde plek is.

 

 

 




Afleidings

Plainly, hypocricy is a massive challenge  for the Christian faith and for all of us as Christians – Os Guinness

Afleidings

Being unable to cure death, wretchedness and misery, men have decided, in order to be happy, not to think about such things (Pascal).

Daar is baie dinge wat ons aandag wegtrek van die dinge in die lewe wat werklik ons aandag nodig het. Afleiding is die algemeenste oorsaak vir wat Sokrates die “lewe wat nie ondersoek is nie,” genoem het.

 

Sê die Bybel iets oor afleidings? Beslis.

 

  1. Afleidings is nutteloos voor God en sy waarheid

In die Skrif kry ons baie tipes afleidings: leuens, ‘n gemaklike lewenstyl, vals profesieë, afgode, ens.

Julle sê: “Ons het ‘n ooreenkoms met die dood, ons het ‘n verstandhouding met die doderyk; wanneer die vloed aangestroom kom, sal hy ons nie tref nie. Ons het die leuen ons skuilplek gemaak, ons kruip veilig weg agter die valsheid (Jesaja 18:15).

Jesaja het dit hier teen diegene wat dink hulle kan ‘n muur van leuens bou en daaragter teen die werklikheid skuil. Amos het dit teen die afleiding van die lewenstyl van die rykes.

Ellende wag vir dié wat so rustig in Sion woon, dié wat so veilig voel op Samariaberg, die vername mense van die voorste nasie op wie die koningshuis van Israel hom verlaat! (Amos 6:1)

Dié afleiding is natuurlik vals profesie en vals godsdiens.

So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle verwek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie (Jeremia 23:16)

Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbarings wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei (Klaagliedere 2:14).

As God kom om te oordeel sal vals godsdienste of ‘n vals vertroue op afgode ons nie bewaar nie.

 

  1. Afleidings mag bevredigend in die korttermyn wees, maar in die langtermyn is dit ‘n ramp

Ons kry hierdie tema herhaaldelik in Jesaja. Hy sê dat afleidings goed werk … en skielik werk hulle nie meer nie.

Niemand stel sy saak eerlik nie; geen uitspraak is betroubaar nie. Almal vertrou op leë woord, wat hulle sê, is nie waar nie, hulle is swanger van kwaad, hulle bring onreg voort (Jesaja 59:4).

Esegiël gee ‘n baie grafiese voorbeeld van die nutteloosheid van afleidings:

Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: “Dit sal goed gaan” toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk ‘n muur bou, het die profete dit netjies afgewit … Die muur gaan val en die mense sal vir julle vra: ‘Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?’ “Daarom,” so sê die Here my God, “laat Ek stormwinde losbreek in my gramskap, laat Ek stortreëns in my toorn, haelstene in my gramskap kom om alles te vernietig. Ek breek die muur af wat julle so netjies afgewit het. … Dan sal julle besef dat Ek die Here is (Esegiël 13:10 – 14).

 

Ons leef vandag in die wêreld van afleidings: rykdom, vermaak en tegnologie is enkele voorbeelde. Ons fokus nie meer ons aandag op enigiets vir ‘n lang tydperk nie. Geen wonder die laaste ding waaraan ons dink is dinge soos die betekenis van die lewe, die dood en ons prioriteite nie. Afleidings is vandag vir baie mense ‘n doelbewuste keuse, want hulle glo dat dit hulle teen die onwelkome, maar logiese, uitkoms van dit wat hulle glo, sal beskerm.