Ek verstaan dit nie: Ek is in goeie geselskap

“It is not what you say that matters but the manner in which you say it; there lies the secret of the ages.”William Carlos Williams

 

Ek verstaan dit nie:  Ek is in goeie geselskap

Bekende figure in die Bybel het ook vrae gevra:

  • Moses: Moses verstaan nie altyd wat God se bedoeling met die Israeliete is nie.
  • Naomi: Naomi verloor haar man en twee seuns. Sy sê dat die Here verantwoordelik vir al haar teenspoed is. 20Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara , want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.”
  • Job: Die hele boek is feitlik ‘n vraag aan God na Job se verliese en lyding.
  • Psalms: Die hele boek is vol angstige vrae: Hoekom? Hoe lank nog?

Geloof wil verstaan; geloof bou op my verstaan; maar my geloof is nie afhanklik van my verstaan van alles nie.

 

Psalm 73 is ‘n goeie les vir ons:

  • Die psalm begin deur die geloof van Israel te bevestig: God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is.
  • Dan spreek hy sy kommer uit oor die “onreëlmatighede wat hy om hom raaksien: dit gaan goed met die goddeloses; dat hy die kwaad vermy, help niks nie.
  • In vs 15 – 17 doen hy twee dinge:
    • In vs 15 waarsku hy homself: As ek so aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort.
    • In vs 16 – 17 gaan aanbid hy in die heiligdom van God. Daar verander sy perspektief – hy sien dinge in die lig van God se wil toe hy besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.
  • Hierdie perspektief verander nie die huidige werklikhede nie, maar dit skep by hom ‘n toekomsverwagting.
  • Hy is vertroos: Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Hy gaan egter nie terug en skrap daardie eerste 14 verse nie, want hy wil hê dat ons beide sy stryd om te verstaan en sy herstelde geloof moet verstaan.

 

Daar is ‘n perk vir gelowiges – hulle kan nie net aanmekaar kla en protesteer nie.  Jesaja sê (45:9 – 13 – Die Boodskap):

9Daar wag probleme vir iemand wat staan en stry met die een wat hom gemaak het. Hy is soos ’n kleipot wat van klei gemaak is. Die klei kan mos nie vir die pottebakker sê nie: “Wat is jy besig om te doen? Weet jy dan nie wat om met jou hande te maak nie?”

10Daar wag teëspoed vir iemand wat sy pa verwyt omdat hy hom gemaak het. Daar wag moeilikheid vir iemand wat vir sy ma vra hoekom sy hom in die wêreld gebring het.

11Die Here, die hoë God wat vir Israel ’n volk gemaak het, sê vir hulle: Wil julle My nou voor stok kry oor my kinders? Wil julle vir My kom beduie wat Ek moet doen? 12Dit is Ek wat die aarde gemaak het. Ek het die mense wat op die aarde woon, gemaak. Ek het met my hande die hemelruim daar bo oopgespan. Alles wat daarin is, luister wat Ek hulle beveel. 13Ek het Kores na vore laat kom om geregtigheid te bring. Ek maak alles wat hy doen voorspoedig. Hy sal my stad Jerusalem herbou. Hy sal uit sy eie almal wat weggevoer is, laat teruggaan. Hy sal dit doen sonder dat hy daarvoor betaal word of omkoopgeld daarvoor kry. Dit is wat die Here sê wat oor alles regeer.

 

Volgende keer kyk ons na die bose en lyding




Lyding: Ek verstaan dit nie

“The worst thing that can happen to the Church, is what is happening to the Church now in the West, namely that the Church is deliberately conforming to the world … The Lion of Judah has become tame … The imitation of Christ has changed into the imitation of popular culture. The modern world politicizes everything and imposes the political categories of Right and Left on everything…. And the Church is following the tune of this pied piper.” – Peter Kreeft

 

Lyding: Ek verstaan dit nie

God laat toe dat sommige mense ly terwyl ander lyding gespaar word. Hoekom gebeur dit? Iemand wat hieroor nagedink het, was die Prediker:

 

16So het ek my daarop toegelê om agter te kom wat wysheid is en om te begryp waarmee mense hulle op die aarde besig hou sonder dat hulle dag of nag tot rus kom. 17Toe het ek al die werk van God begryp; die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie (8:16 – 17).

Mense wat sê dat hulle die diep probleme van die lewe verstaan, dat hulle al die antwoorde het, mislei hulleself. Daar is sekere dinge wat ons as mense net nie verstaan nie. Die Prediker is eerlik en realisties – hy erken dat hy nie verstaan nie.

 

Dat ek nie verstaan nie, gee aanleiding tot verskillende innerlike reaksies by die mens:

  1. (a)Ek word kwaad of ontsteld. Al die aaklige en onverklaarbare dinge wat gebeur ontstel my en maak my kwaad.Hoe moet ek op die lyding wat op ongekende skaal in die wêreld plaasvind, reageer?
  2. (b)Ek is moreel verward. Van die dinge wat in die Bybel beskryf word, verwar my. Al die geweld en oorloë. Hoekom moes die Kanaäniete uitgewis word toe Israel die land in besit geneem het? Geweld. Wreedheid.
  3. (c)Ek kan net my kop skud en sê: Dit verstaan ek nie. Hoekom sê en doen God dinge waaroor daar vandag so baie misverstande is? Hoekom fantaseer ons so oor die wegraping? Hoekom is ons so behep met tydtafels vir die eindtyd?
  4. (d)Ek is dankbaar. Ek verstaan nie ten diepste hoe die kruis aan my behoeftes voldoen het nie, maar ek is dankbaar vir die kruis.
  5. (e)Ek is vol hoop. In beide die Ou en Nuwe Testamente sien ek met afwagting uit na God se nuwe skepping – al kan ek dit nie in besonderhede verduidelik nie.

 

Soos ek stoei met die Bybel word dit duidelik dat daar sekere antwoorde is wat verkeerd of misleidend of onvoldoende is. Sommige antwoorde op hierdie moeilike probleme help nie veel nie. Wat ons moet probeer doen, is om seker te wees van daardie dinge wat ons kan (of behoort te) weet (God het dit vir ons duidelik in die Bybel gemaak). Hiervoor moet ek nederig dankbaar wees. Ek moet ook eerlik wees oor die dinge wat ek nie verstaan nie – sonder dat dit my geloof in die dinge wat ek weet, bedreig.

 

Volgende keer gaan ons na bekende mense in die Bybel kyk wat ook vrae gevra het.

 




Ek loop mank

 When people talk, listen completely. Most people never listen.” — Ernest Hemingway  

 

Ek loop mank

Jakob was altyd besig om planne te maak. Hy was ‘n opportunis. Hy manipuleer sy broer vir sy eersgeboortereg; hy jok vir sy vader; en so kan ons voortgaan. Maar een nag vrees hy vir sy lewe.

 

 

Hy was op pad terug om sy broer te ontmoet. In sy kamp by die Jabbokrivier bly hy alleen ager.  ‘n Man het tot dagbreek met hom gestoei. Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie uit gespring het … Jakob het mank gebly aan sy heup (Genesis 32). Jakob besef: Ek het God van aangesig tot aangesig gesien.  Nou besef Jakob dat God sy God was.

 

Jakob kon nou met vertroue loop al was hy mank. Lei ons nie beter as ons gewond/mank is as wanneer ons op ons eie krag voortstorm. Soos Jakob mag ons dink dat ons teen ‘n mens baklei, maar dan is dit God.




Hoekom is jy dankbaar?

 

“I know the price of success: dedication, hard work, and an unremitting devotion to the things you want to see happen.”  –Frank Lloyd Wright

Hoekom is jy dankbaar?

When you arise in the morning, think of what a precious privilege it is to be alive – to breathe, to think, to enjoy, to love. –Marcus Aurelius

Hoekom is sommige mense dankbaar en vrygewig en ander skynbaar ondankbaar en suinig? Kyk na die aanhaling. Dankbare mense besef dat die lewe nie iets is wat hulle verdien nie.

Elke nuwe dag word ontvang, nie as ‘n skuld wat afbetaal word nie, maar as ‘n onverdiende gawe van God. Dankbare mense staan verbaas oor al die seëninge wat hulle elke dag ontvang, want hulle weet dat dit onverdiend is. Dankbare mense fokus op wat hulle ontvang het en nie op dit wat hulle nie het nie.

 

Dankbare mense is vrygewig, want hulle weet dat wat hulle het, het hulle nie verdien nie – hulle besit ook nie dit wat hulle gekry het nie. Omdat hulle geseën is wil dankbare mense ander seën.

 

Seën jy ander?