Bonhoeffer (21)

“There are those who hate Christianity and call their hatred an all-embracing love for all religions.”  – G. K. Chesterton

 

Bonhoeffer (21)  

Bonhoeffer gee weer twee verse om ons te help:

  • Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig en nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry
  • Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard inloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere

Dink ons ooit aan ons geloofsgemeenskap? As daar konflik of spanning in die gemeenskap is, moet ons bid dat die eenheid wat Christus gegee het, bewaar sal word, en dat die konflik opgelos sal word. As daar eenheid in jou geloofsgemeenskap is, moet jy God dank daarvoor.

 

Here, ek het die geloofsgemeenskap nodig. Help my om daar vir ander te wees net soos ander daar vir my moet wees. Amen.

 




Hoe praat ek met my bure?

 “When I understand that everything happening to me is to make me more Christlike, it resolves a great deal of anxiety.” — AW Tozer

 

Hoe praat ek met my bure?

Baie mense het ‘n stereotipe van Christene – hulle veroordeel altyd, hulle lag min … Hierdie siening is oordrewe, maar baie Christene is maar snaaks as hulle oor hulle geloof praat – veral as dit buite die kerk is. Hoe kry ons ‘n gesprek met nie-Christene aan die gang?

 

  • Kry ‘n pad wat na Jesus toe lei. Tydens die gesprek dink aan waar Jesus in julle gesprek kan inkom. Kyk vir ‘n brug waar jy Jesus in die gesprek kan inbring.
  • Wees normaal. Ons is so geneig om ons Jesus hoed op te sit en nou praat jy nie meer as ‘n vriend nie. Dinge raak ongemaklik. Dit is nie nodig om jou stemtoon en jou houding te verander as jy oor Jesus praat nie.
  • Wees innemend. Jy kan vriende wen as jy vriendelik en goed is.
  • Staan karikature en stereotipes van Christene teen. Baie mense het ‘n spesifieke stereotipe van Christene in hulle gedagtes – al het hulle geen persoonlike Christenvriende nie. Praat met hulle, dien hulle en bewys liefde aan hulle.
  • Wees gasheer vir die buurt. As jy intrek nooi almal vir ‘n ete. Dit is dikwels die fondament vir toekomstige gesprekke oor Jesus Christus.
  • Wees eerlik oor jou stryd en mislukkings. Almal van ons sukkel en misluk. Baie nie-Christene wil nie met Christene praat nie as gevolg van die tekortkominge in hulle lewe – hulle voel skuldig.
  • Optrede kommunikeer. Dien jou bure; dien jou buurt. Soek geleenthede om te dien. Jou bure hou jou dop.

Hierdie is ‘n paar moontlikhede om daardie belangrike gesprek oor Jesus Christus aan die gang te kry.

 




Die Sondaar se gebed

We need never shout across the spaces to an absent God. He is nearer than our own soul, closer than our most secret thoughts. —A.W. Tozer

 

Die Sondaar se gebed

David Platt het die kat in die hoenderhok gegooi toe hy sekere negatiewe opmerkings oor die doeltreffendheid van die ‘Sondaar se Gebed’ gemaak het.

Hierdie gebed het die volgende elemente:

  • Ek erken ek is ‘n sondaar;
  • Ek het Christus nodig;
  • Ek vertrou in Christus; en
  • Ek beloof om Hom te gehoorsaam.

Hierdie gebed is die standaard vir duisende evangeliste, predikers en ouers.

 

Nou het Scot McKnight hom by David Platt aangesluit. Wat is hulle beswaar teen hierdie gebed?

  • Die hart van die reaksie op die evangelie in die NT is berou, geloof en die doop (wat belydenis insluit). Ons kan berou en geloof in hierdie gebed inlees, maar die doop en belydenis gaan verder as hierdie gebed.
  • Die gebed word vir baie mense kwasi-magies. Baie mense glo dit is voldoende en doeltreffend: as jy hierdie gebed gebid het, het jy genoeg gedoen. Jy het niks meer nodig nie en verlossing het plaasgevind. Die gebed vervang vir baie mense Jesus self. In plaas daarvan om verlossing in Jesus te soek en te weet dat Hy alleen verlossing moontlik maak, verplaas sommige hulle geloof na wat hulle self gedoen het om die verlossing te begin. Hulle fokus nie op Jesus Christus nie.
  • Die gebed word gedryf deur ‘n denksisteem wat glo dat verlossing ‘n eenmalige besluit is. Verlossing is ‘n ware, lewensveranderende ondervinding. Die gebed lei nie mense in daardie rigting nie. Jesus het mense opgeroep om dissipels te word … nie om besluite te neem nie.

 

Die probleem is dat die sondaar se gebed dikwels ‘n oppervlakkige optrede is wat ver tekortskiet van wat die evangelie van ons verwag.

 

Hierdie laat ‘n mens dink. Hierdie gebed word baie algemeen in baie kerke aanvaar. Miskien is dit goed om weer daaroor te dink.




Bonhoeffer (20)

“There are some desires that are not desirable.” – G. K. Chesterton
.

Bonhoeffer (20)  

 

 

Die mate waartoe God die gawe van sigbare gemeenskap gee, varieer. Christene wat verspreid van mekaar lewe, word vertroos deur ‘n kort besoek van ‘n ander Christen, ‘n gesamentlike gebed en ‘n ander Christen se seën. Hulle word inderdaad versterk deur briewe van ander Christene. Paulus het die groete in sy briewe altyd met sy eie hand geskryf – ‘n teken van hierdie geloofsgemeenskap. Ander het die gawe van eredienste elke Sondag; ander het die voorreg om ‘n Christelike lewe te lei in die gemeenskap van hulle families.

 

Bonhoeffer gee weer twee verse om ons te help:

  • Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in Masedonië (1 Tessalonisense 4:9  – 10)
  • Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde (Psalm 100:2 – 3).

 

Die geloofsgemeenskap is vir alle gelowiges ‘n seën. Dit is die plek waar jy veilig voel, waar jy jou geloof kan uitspreek, wat jou lei en indien nodig reghelp.

 

Here, stel my in staat om ‘n krag in my geloofsgemeenskap te wees. Maak my getrou in my geestelike verhoudings. Amen.