Vir wie moet ek stem – Vraag

Vir wie moet ek stem? – Vraag

Kobus Rudolph vra die volgende vraag:

Na aanleiding van ‘n braaivleisgesprek – Wat kan ons as radiostasie aan ons luisteraars voorhou? Hoe besluit ons – as kinders van die Here – vir wie ons moet stem tydens die nasionale verkiesing? Is daar ‘n korrekte Bybelse antwoord?

Antwoord:

Die Bybel skryf natuurlik nie voor watter party ʼn mens moet ondersteun nie. Tog het die Bybel iets oor ons stemgedrag te sê. Dit hang natuurlik met ons burgerskap van ʼn land saam.

a) Die eerste saak wat ons moet uitklaar om die vraag te beantwoord, is: wat is die pligte van die staat of regering. Daar is ʼn paar belangrike gedeeltes wat ons hier na moet kyk:

  •          In Romeine 13:1-7 lees ons dat God die regering ingestel het om sy mense goed te regeer. Dit is ʼn ryk gedeelte maar dit is vir eers genoeg om te weet dat dit God se wil is dat daar mense is (ʼn regering) wat moet sorg dat die staatsburgers veilig kan leef en dat alles so georganiseer word dat die manier waarop mense saam leef in ʼn land vir almal goed en veilig is. Die staat moet dus na sy mense kyk, selfs ook as hulle swaarkry of nie werk het nie. Die swaardmag van die staat beteken dat die staat die reg het om mense te straf wat die goeie orde van die land in die wiele ry of teëwerk. Om dit anders te stel, die staat het die verantwoordelikheid om toe te sien dat as ek die oggend by my huis uitstap, my neus nie afgeskiet word nie, dat daar darem ʼn moontlikheid vir werk is en dat ek darem mark toe kan gaan om kos te koop.
  •          Die gedagte word op ʼn ander manier in 1 Petrus 2:13-17 teruggevind. Hier moet ons onthou dat Petrus se gemeente vervolg is – die samelewing en die staat het dit dus nie vir hulle maklik gemaak nie. Nogtans vra Petrus sy gemeente om die regeerders te respekteer. Waarom? Om dieselfde rede as by Romeine. As die staat omver gewerp word, wie gaan dan toesien dat die orde en veiligheid gehandhaaf word? Die implikasie is dus dat as ʼn mens die regering wil verander moet dit ordelik plaasvind sodat die basiese vereistes vir ʼn goeie, veilige en behoorlike samelewing gehandhaaf word. Daarom vra hy ook dat die gemeente te midde van die vervolging bly goed doen.
  •          As ons na Openbaring 13:1-10 gaan, word die regering van die dag met die dier uit die see verbind. Hulle vervolg die kerk en maak die gemeentelede selfs dood. Weereens word daar nie gesê dat die gelowiges met wapens die staat omver moet gooi nie, maar in Openbaring 10-11 word die profetiese boodskap as die wapen van die gelowiges beskryf. Gelowiges moet nie stilbly nie, maar moet deelneem – nie met wapens nie, maar met die boodskap van God. Die boodskap soek natuurlik reg en geregtigheid, vrede en voorspoed.

As ons dus na die drie dele kyk, het al drie dieselfde boodskap – neem deel en moenie afbreek nie, want as die staat weg is, wie gaan dan vir behoorlike omstandighede om in te leef, sorg? Moet egter nie stilbly nie, maar verkondig die boodskap van God in die proses duidelik. Laat die boodskap seëvier.

b) Met die breë buitelyne het ons al ʼn ent gevorder – ons moet deelneem sodat die orde en goeie dinge kan seëvier in die omstandighede waarin ons leef. Dit beteken dat ons moet stem, want dit is ons klein manier waarop ons aan die totstandkoming van die regering kan deelneem.

c) Die gevaar bestaan egter altyd dat ons ʼn bepaalde politieke agenda met die God se woord kan verwar. Dit mag natuurlik nooit gebeur nie. God se woord laat sigself nie in ʼn enkele politieke beleid vasvang nie. Daarom kan daar Christene wees wat vir verskillende partye stem.

d) Wat motiveer Christene om vir verskillende partye te stem? Wel, ʼn mens moet na die beleid (en geskiedenis) van ʼn politieke party kyk en dan jou eie evaluasie maak. Jy moet opweeg of die party die goeie vir die landsburgers nastreef, of die party die vrede in die land handhaaf, of die party vir die mense van die land sorg in terme van werk en kos, ens. Jy moet kyk of die party staan vir dit wat goed is in die lig van jou Christenskap. Daarom kan jy ook vra hoe die party teenoor jou geloof en godsdiens staan. Christene kan in hulle evaluasies verskil en daarom ook vir verskillende partye stem. In alle geval, geen party is volmaak nie en daar is positiewe en negatiewe kante aan alle partye. Dit moet opgeweeg word en dan moet jy jou keuse maak. Ten minste moet ʼn mens dan net eerlik teenoor jou gewete wees. 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt 

 




God se wil vir ons lewe (Wet van God)

God se wil vir ons lewe (Wet van God)

By die Berg Sinaï het God met die Israeliete ʼn ooreenkoms (verbond) gemaak.

Hy het vir hulle gesê Hy sal vir hulle ʼn God wees maar dan moet hulle vir Hom ʼn volk wees. Soos met elke ooreenkoms is daar bepalings wat nagekom moet word. Daarom het God vir die Israeliete Tien Opdragte (Gebooie) gegee wat hulle getrou moes nakom (Eksodus 20). Wat in die Tien Gebooie (ook bekend as die Wet) gestaan het, was God se wil vir sy volk. Die gebooie is algemeen, soos eer jou vader en moeder, wat eintlik respek vir alle mense ouer as jy insluit, of dat jy net een God mag dien.

Toe Jesus die Tien Gebooie moes saamvat het Hy dit in terme van liefde gedoen. Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het en jy moet jou naaste net so liefhê soos jouself (Matteus 22:37-40). Dit gaan dus nie oor die reëls nie, maar oor die gesindheid. Jy wil die dinge doen wat die Here gelukkig maak, omdat jy Hom liefhet.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Heilige Gees neem beheer van jou lewe (Vervul met die Gees)

Die Heilige Gees neem beheer van jou lewe (Vervul met die Gees)

God het sy Heilige Gees vir elke gelowige gegee. Daarom word gelowiges die tempels van God genoem – omdat die Heilige Gees in hulle bly (1 Korintiërs 3:16).

In Handelinge lees ons hoe die Gees op mense gekom het en hulle vervul het (Handelinge 2:4). Die vervulling beteken dat hulle nou mense is in wie die Gees woon en werk. Hulle is vol van sy Gees. Daar word op baie maniere gepraat oor wat gebeur as die Gees in jou kom woon. In sommige gevalle ervaar mense die wonderlikste dinge (veral aanvanklik in Handelinge), in ander gevalle gee die Gees hulle gawes en in ander gevalle kry hulle wysheid om reg op te tree. Die Gees gee hulle dus die krag om op verskillende vlakke die Here reg te dien.

In Galasiërs 5:16-26 (sien ook Romeine 8) sê Paulus dat ons ons hele lewe deur die Gees moet laat beheer. Ons moet die stuurwiel van ons lewe in sy hande sit, want Hy is in ons. As ons dit doen, sal ons die vrug van die Gees, naamlik, liefde, vriendelikheid, goedheid en sulke dinge, in ons lewens begin sien. Hy sal ons dus lei om reg op te tree. So maak die Gees ons lewens “vol” van sy invloed.

In 1 Korintiërs 12 (sien ook Romeine 12) bespreek Paulus al die wonderlike geskenke wat God deur sy Gees vir ons gee. Wat ons as gelowiges geestelik nodig het, daarvoor sorg die Gees. Weereens maak Hy gelowiges se lewens “vol” van sy teenwoordigheid.

In Johannes 14-16 word die Gees gelowiges se Spesiale Helper genoem. Hy sal gelowiges versorg, hulle lei op die pad wat hulle moet loop en hulle goeie volgelinge van Jesus maak. So wil die Gees elke hoekie en draaitjie van ʼn gelowige se lewe vul.

Vervulling is dus baie meer as net ʼn emosionele ervaring. Dit is God se Gees wat aktief in jou werk om beheer in jou lewe uit te oefen.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Kom, loop die verkeerde pad. Dit lyk so lekker? (Versoekings)

Kom, loop die verkeerde pad. Dit lyk so lekker? (Versoekings)

Versoekings is dinge waarvoor Christene versigtig moet wees.

Die duiwel spesialiseer daarin. As ons ons lewe kan voorstel as ʼn pad waarop ons loop, is versoekings die afdraaipaadjies. Dit is die paadjies wat die duiwel wil hê ons moet loop sodat ons nie meer agter God aanloop nie. Uiteindelik verdwaal ons so dat ons nie meer weet watter pad God s’n is en watter een nie. Ons noem dit ʼn versoeking omdat die duiwel die pad gewoonlik vir ons lekker laat lyk. Jy is nuuskierig en jou oë draai in daardie rigting, want dit lyk vir jou lekker om dit te doen. Gewoonlik is die eerste stukkie van die pad lekker, maar dit bly nie vir lank so nie. Dit pad word vinnig al slegter en slegter.

Die enigste ding wat ʼn mens met ʼn versoeking kan doen, is om nie toe te gee nie. Jy weet mos wat die regte pad is. Hou koers daarop. Staan sterk. Dit gaan uiteindelik vir jou baie meer werd wees as om op al die afdraaipaadjies te loop. Ignoreer versoekings, dan verdwyn dit soos mis voor die son.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy