Die Handelinge van die Apostels: Petrus se boodskap (Hand 2:14-42) – Francois Malan

Die boodskap begin met ’n inleiding in
2:14-16 wat aansluit by 2:12-13 se reaksies van die mense; gevolg deur 2:17-21
met ’n reeks aanhalings uit Joël; die Israeliete word aangespreek in
2:22-24,’n Ou Testamentiese aanhaling volg in 2:25-28, ’n direkte beroep word
gedoen op die ‘broers’ in 2:29-31a, ’n aanhaling in 2:31b, ’n direkte boodskap
aan die menigte in 2:32-34a, ’n aanhaling in 2:34b-35, en die hele huis van
Israel word aangespreek in 2:36. Al vier die laaste oproepe tot die gehoor
handel oor Jesus se dood en opstanding. 

Inleiding (Hand
2:14-16)

2:14 Petrus as woordvoerder van die
twaalf (apostels), het sy stem verhef (met ’n luide stem gepraat) en hulle (die
skare) toegespreek (apoftheggomai dieselfde besondere woord wat in vers
4 gebruik is vir die hoë kwaliteit en duidelik geartikuleerde woorde wat die
Heilige Gee
s aan hulle gegee het; vgl. ook Hand 26:25). Petrus en die elf
ander apostels tree hier na vore. Petrus staan op om te praat om die
belangrikheid van sy boodskap te beklemtoon. Gewoonlik het ’n rabbi gesit en sy
studente geleer.

‘Manne Jode (Mede-Jode) en almal wat
in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister sorgvuldig na my woorde (rêmata
veral die inhoud van die woorde). Die herhaling ‘weet’ en ‘luister
beklemtoon die belangrikheid van wat hy gaan sê.

Handelinge het twee sendingpreke
van Petrus voor Jode (hier en Hand 3:12-26) en een voor nie-Jode (10:34-43).
Van Paulus is daar een voor Jode (13:16-41) en twee voor nie-Jode (14:15-18 en
17:22-31).

2:15 Hierdie mense (wat in die
verskillende tale van die verskillende hoorders begin praat het) is nie
dronk
soos julle dink nie (hupolambanō soos julle veronderstel,
sonder bewyse of sekerheid). Deur te spot het hulle die ongewone getuienis van
die gelowiges oor ‘die groot dade van God’ betwyfel en as belaglik afgemaak.

Petrus se argument is dat dit nog nie
nege uur in die môre is nie (letterlik ‘ nog nie die derde uur’ na sonop nie).
Tussen nege en tien soggens was die tyd van die môre-offer in Israel, en die
oggendete het daarna gekom.

2:16 Nee, dit is nie die werk van wyn
nie! Dit is die werk van die Gees God. Dit is nie ’n teken van menslike
swakheid en bejammerenswaardigheid nie, maar van God se mag en barmhartigheid.
Want God het dit reeds 500 jaar tevore (ná die Babiloniese ballingskap en die
heropbou van die tempel) deur sy profeet Joël aangekondig. Joël 2:28-32 word
volgens die Griekse vertaling hier aangehaal. Die hele preek van Petrus word ’n
uitleg van die Skrif, veral ook ’n lang aanhaling uit die Psalms van vers 25
af. Joël verwys na die uitstorting van die Heilige Gees veral in die eindtyd
(die derde fase van Jesus se werk). Die beloofde eindtyd het met die
uitstorting van die Heilige Gees aangebreek. Daar word na drie dinge verwys:
God se uitstorting van sy Gees op alle mense; wondertekens in die lug en
op aarde; die koms van die groot stralende dag van die Here. 

Joëlprofesieë wat heenwys na Jesus (Hand 2:17-21)

2:17-18 ‘En dit sal in die laaste dae
gebeur sê God “Ek stort van (apo dui die bron aan) my Gees op
alle mense
(sodat) julle seuns en julle dogters sal profeteer (profêteuō
om onder die invloed van die inspirasie van God te praat). Julle jongmense
sal visioene sien (bedags), en julle ou mense sal drome droom (snags – as
openbarings van God). En ook oor die diensknegte en oor die diensmaagde sal Ek
in daardie dae my Gees uitstort’ (die 1983-vertaling maak van diensknegte en
diensmaagde ‘selfs dié wat nie in aansien is nie”). Nie net op die besondere
profete van Israel in die Ou Testament nie, maarop alle mense word die
Gees uitgestort en almal word profete wat God se woord verkondig.

‘In die laaste dae (en tais
eschatês hêmeras
)’ – dit is waar die woord eskatologie vandaan kom, die
leer van die laaste dinge. Dit is die aanbreek van die derde tyd, van Jesus
se voortsetting van sy werk op aarde
deur die werking van sy Gees in sy
gemeente (Joël 2:1 begin reeds met die dag van die Here wat kom wanneer dié
dinge sal gebeur; (die eerste tyd verwys na die Ou Testament as heenwysing na
Jesus se koms; die tweede na Jesus se tyd op aarde; die derde na Jesus se
voortsetting van sy werk op aarde).

In plaas van Joël se Hebreeuse teks
‘ook oor die diensknegte en diensmaagde’ het die Griekse vertaling ‘my’
ingevoeg, wat Petrus hier aanhaal: ‘Ja, inderdaad (ge) oor my
diensknegte en my diensmaagde sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en
hulle sal profeteer.’ Daarmee word ‘julle seuns, dogters, jongmense en ou
mense’ saamgevat as ‘my diensknegte en my diensmaagde,’ sê God.
Hy neem ons ook aan as sy kinders (vgl. Rom 8:14-17). Deur God se Gees
ontstaan die skepping van die nuwe mensheid, soos die Here met die skepping sy
lewensasem in die mens geblaas het (Gen 2:7). 
Uitstort’ wys op die oorvloed daarvan (Jes 32:15; 44:3). 

Met sy invoeging van ‘my’ word die
betekenis van die sin verander. Dit is nie meer slawe teenoor die vrye seuns en
dogters nie, maar almal, jonk en oud, is God se diensknegte en sy diensmaagde,
die nuwe volk van God wat die draers is van die gawes van die Gees in die
eindtyd. (Die rabbi’s verwag dat met die eindtyd alle Israeliete profete sal
word). Maar hier het God sy ou volk Israel reeds met sy nuwe volk vervang.
Húlle is nou die volk van die Here met al die voorregte en regte daarvan (vgl.
Gal 3:26-29). Dat hulle nou profeteer bewys hulle verbondenheid aan die Here om
die
woord van die Here te verkondig. Dit is wat die mense gesien het
met die wonder van die verskillende tale waarin die groot dade van God se
verlossing bekend gemaak is, en waarmee sommige Jode spot.  

2:19-20 In twee paralelle sinne word
in Joël 2:30-31 verwys na die wondertekens in die lug en op die grond wat die
dag van die Here voorafgaan. Die tekens op die aarde: bloed, vuur, rookwolke
hang saam met oorlog se bloedvergieting en brandstigting met rookwolke wat uit
dorpe en stede opstyg. Die tekens in die lug: die son wat verduister en die
maan wat ’n bloedrooi kleur kry soos die bloed van die oorlog op aarde. Die
voorspelling oor die dag van die Here kom ook voor in Maleagi 4:3; Amos 8:9:
dat die son verduister en daar op dié dag duisternis op aarde is; Jesaja 13:10
verwys na die son, maan en sterre wat op die dag verduister; Jes 34:4 sê:
hemelliggame smelt weg. Petrus haal die voorspelde tekens op die Pinksterdag
aan, as bevestiging van die betekenis van die geweldige rukwind en tonge
soos van vuur
.

Joël 2:31 praat van ’n groot en vreeslike
(nōra’) dag. Die Griekse vertaling het groot en wonderlik (epifanê
wonderlik, glorieryk (vir die Hebreeuse ra’a ‘vreeslike’), sodat dit
opvallend en vanselfsprekend is. Niemand sal twyfel oor wat gebeur nie (vgl.
Luk 17:24). Vir mense wat deur hulle geloof en lewe aan Christus verbind is, is
dit ’n dag van vreugde; vir mense sonder Christus ’n vreeslike dag van oordeel.  Die Pinkstergebeure is ’n voorafskouing
van die finale dag van oordeel
.

2:21 Hier gaan dit nou oor die werk van God in die laaste dae waarvan die uitstorting van die Heilige Gees deel is. Dán sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep gered word. In die Hebreeuse teks word Jahweh (‘Die Ek is’ van Eks 3:15) gebruik, wat deurgaans in die Griekse vertaling as Here (kurios) vertaal is, en so aangehaal word deur Lukas wat Petrus se Aramese preek in Grieks weergee. Daarmee word aangedui dat Jesus God is, soos Joh 1:1-5 sê. Die Naam van iemand dui sy hele persoonlikheid en sy reputasie aan. Hier gaan dit juis om Jesus se sterwe vir ons sonde en sy opstanding tot ’n nuwe soort lewe vir ons om in sy liefde te leef. Hier gaan dit ook nie net oor Israel, soos in Joël 2:32 nie, maar oor ‘elkeen,’ (pas hos an ‘wie ookal,’ soos in die Septuaginta), elke mens wat in Jesus glo sal gered word,’ soos in Romeine 10:12-13 en Galasiërs 3:28-29; vgl. Jesaja 28:16-17a; 1 Korinthiërs 1:2 (sōzō word gebruik vir red uit gevaar en herstel tot veiligheid en welwese; ook vir goddelike verlossing uit sonde en uit die oordeel; en vir genees van siekte. Hier gaan dit veral oor die redding uit die oordeel, maar ook oor die redding van ’n mens se lewe in hierdie bedeling.Hiermee word die aanhaling uit Joël afgesluit.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die gevolge van die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2:5-13) – Francois Malan

2:5 Onder die leiding van die Heilige
Gees begin die gemeente in Jerusalem om die opdrag van Jesus in 1:8 te vervul.
Hulle begin by Jerusalem se godsdienstige Jode oor Jesus getuig. Dié Jode word
beskryf as vroominwoners van die stad (eulabês toegewyd) ’n
woord wat in die Nuwe Testament slegs deur Lukas gebruik word, eenmaal in Lukas
en driemaal in Handelinge:aan die begin van Lukas oor Simeon, wat die
Here gereeld in die tempel kom aanbid het (Luk 2:25); hier aan die begin van
Handelinge (2:5); die vroom manne wat vir Stefanus begrawe het (Hand 8:2), en
Ananias ’n vroom man volgens die wet wat vir Paulus gedoop het (Hand 22:12).
Hierdie vroom Jode in Jerusalem kom blykbaar uit die verstrooiing onder
die nasies en het in Jerusalem kom woon, waarskynlik omdat hulle deur die
Heilige Gees gelei is. Hulle het die koms van die Gesalfde van die Here, die
Messias van Israel, en die herstel van Israel verwag, soos Simeon (Luk
2:25,27). Hulle verwagting was gebou op Maleagi se profesie, dat die Here na
wie hulle soek, skielik na sy tempel toe sou kom (Mal 3:1). Met dié toegewyde
Jode kon die eerste gemeente so vinnig en geweldig groei (Hand 2:41 tot
ongeveer 3,000 lede; Hand 4:4 tot ongeveer 5,000).

Die verwagting van die Here se koms
kom ook onder die lede van ander nasies voor, bv. by Kornelius (10:2),
Antiogië se Jode en godsdienstige proseliete (13:43), Athene se Grieke wat God
vereer (17:4,12). So het die Heilige Gees die uitbreiding van die kerk van
Christus in die harte van Jode en heidene voorberei nog voor die apostels by
hulle aangekom het.Jesaja 66:18 voorspel ’n tyd dat die Here al die
nasies en al die taalgroepe bymekaar gaan maak; dat hulle na Jerusalem gebring
sal word (Jes 66:20). Hier is ’n voorsmaak daarvan en van die wêreldsending van
Handelinge 1:8. 

2:6 Deur daardie geluid het die
menigte vrome Jode wat in Jerusalem kom woon het, saamgedrom, waarskynlik op
die tempelterrein, want dit was die grootste plek vir die duisende wat dié dag
tot bekering gekom het (2:41). Hulle was verward. Die woordkunstenaar Lukas
speel hier met klanknabootsing van die Griekse woorde sunêlthen saamdrom,
to plêthos die menigte kai sunechuthê en hulle was verward deur
die êchos geluid/gedruis se fōnês klank en die verskillende tale
wat hulle hoor. Lukas verwys met vier verskillende woorde, na hulle verwarring
2:6 (sunechuthê verward wees), 2:7,12 verstom wees (eksistamai)
en verwonderd wees (thaumazō), en verbysterd wees (diaporeō). Dit
beskryf die verrassende uitwerking van die gedruis wat hulle bymekaar laat kom
het en die talewonder wat met die gedruis begin het.

Die rede vir hulle verwarring is dat
die gedruis ’n verskeidenheid van tale geword het sodat elkeen van hulle gehoor
het hoe daar in sy eie taal (dialektos) gepraat word. Dit verwys
na die tale van die lande waar die toegewyde Jode groot geword het. Teen dié
tyd het van die Joodse pelgrims wat uit verskillende lande vir die Pinksterfees
na Jerusalem gekom waarskynlik uit nuuskierigheid ook kom kyk wat hier by die
tempel gebeur, soos blyk uit die gespot in vers 13.

2:7-8 Verstom (eksitamai so
verbaas dat dit jou oorweldig, dat jy amper nie kan verstaan wat aangaan nie)
en verwonderd (thaumazo positief: verwondering, negatief verbaas
onsteld) het hulle gesê: Is almal wat daar praat dan nie Galileërs nie?
– die Griekse konstruksie suggereer’n positewe antwoord op die vraag. Die vroom
Jode wat in Jerusalem kom woon het, het waarskynlik van die gebeure met Jesus
en sy volgelinge uit Galilea geweet, en kon die groep ook deur hulle uitspraak
identifiseer as Galileërs (Matt 26:73; vgl bv. Rigt 12:6). Daarby was daar in
Jerusalem ook neergesien op Galileërs, soos op die Seun van Josef uit Galilea
(Joh 6:42; 7:41,52).

En hoe hoor ons elkeen in sy eie taal
waarin ons gebore is? Dit verwys na elkeen se moedertaal waarin hulle
grootgeword het. In hierdie prototipe van die wêreldsending is ’n doel
van Christus se sending in die wêreld geskilder (vgl. Matt 28:19 ‘Gaan dan en
maak dissipels van al die nasies…). Dit behels ook die aanleer en getuienis in
die tale van die nasies en die vertaling van die Bybel vir alle mense in hulle
eie taal.

2:9-11 Hier word die volke waar die
verskillende Jode gebore is deur hulle opgenoem om hulle verwondering oor die
talewonder te beskryf:

Parthe, inwoners van die land Parthië,
suid-oos van Medië, deel van die huidige Iran (vgl. Thomas: Hand 1:13 hierbo).

Mediërs – Medië lê oos van die Tigris,
met hoofstad Ecbatana en is tans ook deel van Iran (vgl. Dan 5:28; 6:1).

Elamiete – Elam lê suid van Medië, met
hoofstad Susa, ook deel van die huidige Iran (vgl. Dan 8:2).

Die drie lande het nie meer die
bogenoemde name in die tyd van daardie Pinkster gehad nie, maar die inwoners
van die gebiede het waarskynlik nog die tale van die ou streke gepraat.

Die volgende lys noem nie die volke nie maar die woonplekke waar hulle toe gewoon het en net vir die fees na Jerusalem toe gekom het:

Inwoners van Mesopotamië (tussen
Tigris- en Eufraatriviere), ou Babel met Ur en Haran, huidige Irak (vgl. Hand
7:2).

Judea – die provinsie in Palestina met
hoofstad Jerusalem waar die tempel is.

Kappadosië – provinsie in Klein-Asië
met o.a. Derbe van Hand. 14:20; 16:1, huidige Oos-Turkye (vgl. 1 Petr 1:1).

Pontus – provinsie in die noorde van
Klein-Asië aan die Swart See, deel van huidige Turkye (Hand 18:2; 1 Petr 1:1).

Asië – provinsie in Klein-Asië met
Efese as hoofstad, huidige wes-Turkye (vgl. Hand 16:6; 19:10,22,26; Openb 1:4).

Frigië – provinsie in middel
Klein-Asië, met o.a. die stad Antiogië, in die huidige Turkye (Hand 13:14
Pisidië; 16:6).

Pamfilië – provinsie in die suide van
Klein-Asië aan die Middellandse See, stede Perge en Attalia (Hand 13:13;
14:25).

Egipte – land aan die noordpunt van
Afrika, waaruit Israel verlos is in Moses se tyd, waarheen met baba Jesus
gevlug is.

Streke van Libië – direk wes van
Egipte – in die omgewing van Sirene (Dan 11:43; Matt 27:32; Hand 11:20; 13:1)

Na die 12 lande kom nog drie by:                  

Romeine, wat nou tydelik in Jerusalem
woon (epidêmeō) en Latyn praat,             

Mense uit Rome, hoofsaaklik Jode en proseliete. Proseliete is nie-Jode wat ten volle tot die Jodendom oorgegaan het. Van hierdie Romeine het blykbaar die gemeente in Rome gaan stig voordat enige apostel daar uitgekom het.

Kretense – vanaf die eiland Kreta, suid van Griekeland (vgl. Hand 27:7; Titus
1:5).

Arabiere – vanaf Arabië, die land oos
en suid van Palestina, die huidige Sirië en Jordanië (vgl. Gal 1:17; 4:25; Neh
4:7). 

Al dié mense was in Jerusalem vir die
Pinksterfees, ook genoem die Fees van die Weke (vgl. Deutr 16:16). Die vrome
Jode en Joodse pelgrims kom oorspronklik uit bogenoemde lande oos, noord, wes
en suid van Israel, waarheen die Jode uitgewyk en versprei is, eers deur
Assirië in 722 v.C., later in 584 v.C. deur Babel, en in die tyd van die
Griekse oorheersing vanaf 330 v.C. Die lys, wat die omringende volke
verteenwoordig, word getuies van die pinksterwonders en so word hulle ook die
eerstelinge van die kerk van Jesus Christus. Die groot dade van God,
waarvan hulle in hulle eie tale hoor, sou gaan oor wat Jesus as die verwagte
Messias gedoen en onderrig het, oor sy dood en veral oor sy opstanding en
hemelvaart tot aan die regterhand van God (Hand 2:22-24,32-34,36). Die boodskap
dat Hy mense wat in Hom glo van sonde verlos (Hand 2:21) moet aan alle mense
tot aan die eindes van die aarde bekendgemaak word (Hand 1:8).

Daar is tweërlei reaksie op die groot
gedruis wat tot ’n boodskap in elkeen se eie taal gelei het.

2:12 Almal was verstom (eksitamai)
en verbysterd (diaporeō) en het vir mekaar gesê: ‘wat beteken dit tog?’
(letterlik: wat wens dit om te wees? – ’n idioom vir: hoe moet dit verstaan
word). So het die mense ook oor Johannes die Doper se geboorte uit twee ou
mense, en Sagaria wat weer kon praat, gewonder (Luk 1:66), en het die Atheners
gewonder oor Paulus se verkondiging (Hand 17:20). ‘Almal’ sluit nie die mense
van vers 13 in nie, en beteken dan eintlik dat die meeste nie kon verklaar wat
hier gebeur nie en daarom vir mekaar uitgevra het oor wat hulle daarvan dink.

2:13 Die ander is nie geraak deur die
gebeure nie en spot daarmee. Terwyl die meerderheid soek om te verstaan
wat hier gebeur, lag ‘die ander’ dit af met: ‘hulle is vol soetwyn;’ gleukos
mos, wat nog maar begin gis en nie eintlik dronk maak nie. Wat vir die
meerderheid ’n getuienis in hulle eie taal is oor die groot dade van God, is
vir ‘die ander’ gemaakte, aangesitte dronkmanstaal. Dit maak hulle spot bytend
en aspris, moedswillig, teen hulle beterwete. Hulle wíl nie hoor nie. Die
Fariseërs het ook smalend van Jesus gepraat (Luk 16:14), ook die tempelwag wat
Jesus in Getsemane gevang het (Luk 22:63,65). So is Paulus ook in Athene
uitgelag omdat hy die opstanding van die dooies verkondig het (Hand 17:32).
Hulle begryp nie dat dit alles getuig van God se liefdevolle ingryping in die
lewe van sy skepsels om hulle na hulle Skepper terug te bring nie, en hulle
hoor nie dat dit waarskuwings is van sy oordeel oor hulle lewe nie (vgl. Luk
10:13-16;  11:29-33; 17:31; Joh 16:8-11).
Dit is die wêreld se reaksie op God se liefdesoffer, wat dwarsdeur Handelinge
sal blyk, en deur die eeue. 

Lukas se tonele wat in Handelinge
geskilder word, het parallelle met sy Evangelie en met Ou Testamentiese tonele:

Met die begin van Jesus se openbare
bediening met sy doop (Luk 3:21-22): Terwyl die hele volk gedoop is, is
Jesus ook gedoop. En terwyl Hy besig was om te bid, het die hemel
oopgegaan, die Heilige Gees het in ’n sigbare vorm soos ’n
duif op Hom neergedaal. Daar het ook ’n stem uit die hemel gekom:
‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.’

Met die begin van Jesus se werk in sy
kerk deur die Heilige Gees in die gelowiges (Hand 2:1-13): word almal
vervul met die Heilige Gees, hulle het almal eensgesind in gebed
volhard (1:14), onverwags het daar ’n geluid uit die hemel
gekom wat die hele huis gevul het, die Heilige Gees het in ’n sigbare vorm
asof van tonge vuur op elkeen van hulle neergedaal. Hulle het elkeen in
’n ander taal begin praat soos die Gees dit aan hulle gegee het. Die
mense het almal in hulle eie taal oor die groot dade van God gehoor. 

 Toe God die gebooie by Sinaiberg aangekondig het (Eks 19:18-19) het die berg begin rook en die Here het in vuur daarop afkom. Die hele berg het geweldig geskud, en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. En toe het die Here die tien gebooie afgekondig (Eks 20). Die Pinkstergebeure is ’n weerklank daarvan, en die vervulling daarvan in die nuwe verbond wat die Here reeds in Jeremia 31:31-34 voorspel het. Die nuwe verbond vervang die wet op kliptafels met die woord van die Here op ons harte en in ons gedagtes met die inwoning van die Heilige Gees soos in Esegiël 36:25-28 beloof. Genesis 19 vertel van die 70 volke wat uit die huisgesin van Noag gestam het en oor die aarde versprei het. Genesis 11:1-9 vertel hoe die Here verwarring in hulle een taal gebring het sodat die een nie die ander verstaan het nie, en hulle verstrooi het oor die hele aarde. Dit was die gevolg van hulle hoogmoed om vir hulle ’n naam te wil maak sonder die Here, en van hulle strewe na onsterflikheid om die Here se oordeel te omseil met ’n toring wat tot God se woning in die hemel reik. ‘Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.’ Die opdrag van die Here was egter ‘wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en bewerk dit… (Gen 1:28). Met die mense uit 15 lande wat op die Pinksterdag van die groot dade van God in hulle eie taal gehoor het, reik die Here na alle volke uit, om hulle na Hom toe terug te lei om weer kinders van sy een groot huisgesin te word deur te glo in sy Geliefde Seun en Hom te gehoorsaam.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2:1-4) – Francois Malan

Met Pinksterfees (pentekoste ‘vyftigste’
op die vyftigste dag na paasfees) vier die Jode die oesfees. Die eerste gerwe
wat op die land gesny word aan die begin van die koringoes, word op Paasfees,
met die aanbreek van die sewe dae se ongesuurde brood, as offer aan die Here
gebring (Eks 23:15-16a). Die fees van die weke word sewe weke na die
paasfees gevier, en daarom Pinksterfees genoem. Dit word ook die fees
van die insameling genoem, wanneer die vrug van die arbeid op die lande
ingesamel is (Eks 23:16b; 34:22b; Lev 23:15-21: van die dag ná die Sabbat
af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet
julle sewe volle weke tel. Die dag ná die sewende Sabbat, op die vyftigste dag
(Sondag), moet julle vir die Here ’n graanoffer bring uit die pasgeoeste
graan, brode van drie kilogram meel met suurdeeg gebak, sewe jaaroud lammers
sonder liggaamsgebrek, ’n jong bul en twee ramme, en drankoffers. Niemand mag
op die dag werk nie en julle moet ’n gewyde byeenkoms hou; Deutr 16:9-12: Vier
die fees van die weke tot eer van die Here. In die mate waarin die Here jou God
jou geseën het, moet jy ’n vrywillige offer  vir Hom bring. In die plek wat die Here jou
God sal kies om sy Naam daar te laat woon, moet jy bly wees in die
teenwoordigheid van die Here jou God…met jou hele gesin.

Ná die verwoesting van Jerusalem in 70
n.C. word die Pinksterfees vir die Jode ’n fees oor die wetgewing by Sinai
en sedert die tweede eeu n.C. word Eksodus 19 op dié dag voorgelees. Die
Paasfees is in Eksodus 12 verbind aan die nag van die bevryding van Israel uit
Egipte. Volgens Eks 19:1 kom hulle drie maande daarna in die Sinaiwoestyn aan
(3×28 dae = 84 dae) en word die wet (Eks 20) enkele dae daarna deur die Here
van die berg af aangekondig.

2:1 Na sy opstanding op die derde dag
vanaf sy kruisiging (van Goeie Vrydag tot Sondag met sy opstanding) het Jesus
gedurende die volgende 40 dae voor sy hemelvaart aan sy dissipels verskyn (Hand
1:3). Daarna moes hulle 10 dae wag tot die uitstorting van die Heilige Gees op
Pinksterdag. Die dag van die Joodse Pinksterfees, die 50ste dag na paasfees, is
weer ’n Sondag en ’n fees van volheid en vreugde wanneer die volle oes
ingesamel is. 

‘Toe die dag van die Pinksterfees
aanbreek
…’ Lukas gebruik vir ‘aanbreek’ die woord sumplêrousthai wat
verwys na die einde van ’n periode met die implikasie van die voltooiing van ’n
mikpunt of ’n plan. Daarmee word hierdie eerste Pinksterdag van die kerk
voorgestel as die vervulling van Jesus se doel met sy aardse bediening. Die
doel van Jesus se aardse bediening is sy voortgaande werk deur die Heilige Gees
in en deur sy volgelinge tot by sy wederkoms.

Die saamwees van die eerste groep op
een plek, wys ook na die gemeenskap van die gelowiges (vgl. Joh 17:22-23).
Paulus noem die gemeente ’n tempel van God waarin die Heilige Gees woon
(2 Kor 3:16-17). In 1 Kor 6:19 noem hy elke gelowige se liggaam die tempel van
die Heilige Gees in ons. Hulle (die groep) was almal op ‘een’ (auto dieselfde)
plek ‘bymekaar’ (homou saam). Die ‘hulle’ verwys na die twaalf apostels
(1:26) en waarskynlik ook na die res van die ongeveer 120 mense van Hand 1:15.
Die samekoms op een plek sou seker ook op die tempelterrein gewees het (vgl. by
1:15 se bespreking), waar die menigte ook saamgedrom het (2:6).

2:2 Skielik (agnō met die
implikasie van onverwags) was daar uit die hemel ’n geluid soos van ’n magtige
stormwind wat aankom en die geluid het die hele huis waarin hulle
sit, gevul
(êchos geluid, gedruis; plêroō volmaak. Die ‘huis’
verwys waarskynlik na die tempelterrein waar Jesus voor die Paasfees onderrig
gegee het (Luk 21:37-38) en waar die Raad Hom die Vrydag teen dagbreek
offisieel verhoor het. Daar het Jesus gesê het dat hulle Hom van nou af sal
sien sit aan die regterhand van die mag van God (Luk 22:66,69). Die woord oikos
word gebruik vir ’n woonhuis, ’n heiligdom en vir ’n tempel. Die tempel
word as die huis van God beskryf (vgl. Hand 7:47-48; Luk 6:4;19:46; Matt 12:4;
Eseg 9:6; Jes 6:3-4).

Die tempelterrein was in Jesus
se tyd 15 hektaar groot, rondom met ’n dubbele muur ommuur om die gewyde gebied
van die wêreld af te grens (Eseg 42:20) met poorte aan elk van die vier kante,
en binne die groot tempel, die heiligdom (letterlik ‘huis;’ Luk 11:51, 2 Kron 24:21),
en rondom die tempel die afsonderlike voorhowe, die voorhof van die priesters
met die brandofferaltaar en die waskom, die voorhof van die Israeliete, van die
vroue, en van die heidene waaruit Jesus die verkopers en kopers gejaag het
(Mark 11:15). Om die tempel was die skatkamers, die pilaargang van Salomo (Joh
10:23; Hand 3:11) wat toegang tot vergadersale aan die oostekant gebied het,
sowel as die westelike pilaargang met die koninklike sale. In een saal het die
twaalfjarige Jesus destyds by die leermeesters gesit (Luk 2:46), die Sanhedrin
het ’n raadsaal vir sy 71 lede gehad; ens.   

Dat die geluid uit die hemel gekom
het, beteken dat dit van God af gekom het (vgl. Luk 3:21-22; 11:16: die teken
uit die hemel wat hulle gevra het; Luk 20:4-5). Die geluid wat soos ’n magtige
stormwind aangekom het en die huis gevul het, is ‘n teken van God se magtige
teenwoordigheid
(2 Sam 5:24; 1 Kon 19:12; Ps 104:4). So het die sterk
helder klank van ’n ramshoring saam met die donderweer die volk in die kamp by
Sinai laat bewe (Eks 19:16; 20:18). So het die Here ook vir Job aangespreek uit
’n stormwind (Job 38:1).

2:3 Na die hoorbare teken volg die
sigbare teken: ‘en daar is gesien verdelende tonge soos van vuur, en dit (’n
tong) het op elkeen van hulle gaan sit.’ So word dit sigbaar dat die Gees van
God aan hulle elkeen gegee word. Vuur is ’n teken van God se teenwoordigheid
(vgl. 2 Thess  1:8 se vuurvlam waarin
Jesus sal terugkeer; Eks 3:2 die braambos wat nie uitbrand nie; 13:21 die
vuurkolom wat snags lig verskaf het; Ps 104:4 vlammende vuur as die Here se
dienaars). Dit is hier ’n beeld van die onbegryplike dat elkeen met die vuur
van die Heilige Gees
vervul word, en dat Hy steeds een Gees van God is en
bly (1 Joh 4:13 Hy het ons aan sy Gees laat deel kry; 1 Kor 12:11 Een en
dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik
uitdeel volgens sy wil).

Die teken van die Heilige Gees wat op Jesus neergedaal het om sy bediening te tipeer was ’n vredesduif en die vreugdestem van die Vader oor sy geliefde Seun (Luk 3:12). Die Gees werk egter onhoorbaar en onsigbaar, en die geluid en die tonge was slegs uiterlike tekens van sy koms en van die uitwerking van sy koms op Jesus se volgelinge, dat hulle vurig met luide stem sal begin getuig van Jesus en van sy koninkryk. Nadat God Homself by die brandende braambos geopenbaar het as die ‘Ek is’ wat saam met Moses gaan, moes hy voor die Farao van die HERE gaan getuig. Jesus het juis gekom om vuur op die aarde aan te steek en het gewens dat dit al aan die brand was (Luk 12:49). Nou het die vuur gekom as teken van die werk van die Gees in die gelowiges, soos deur Johannes die Doper voorspel (Luk 3:16). 2:4  ‘En almal is (deur God) vervul met die Heilige Gees…’ Die passief ‘is vervul’ impliseer dat dit God is wat dit gedoen het. Hier word nou genoem dat die geluid en die tonge tekens is van die Heilige Gees se koms. Dit is die Vader se belofte waarvan Jesus gepraat het (Hand 1:4). Vervul met die Gees beteken dat die Heilige Gees hulle totaal oorneem. Hy stel hulle ook in staat om te begin praat in ander (verstaanbare) tale (glōsseis) soos die Gees aan hulle gegee het ‘om uit te spreek’ (apoftheggomai die spesiale woord wat in die Nuwe Testament slegs in Handelinge gebruik word, verwys na die hoë kwaliteit en duidelik geartikuleerde woorde wat die Heilige Gees aan hulle gee). Die verskillende taalgroepe, wat verstaan wat in hulle tale gesê word, veronderstel dat die ongeveer 120 op wie tonge soos van vuur gaan sit het, in verskillende tale die boodskap vertolk het toe die Gees hulle in sy diens opgeneem het.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Mattias word in Judas se plek gekies (Hand 1:15-26) – Francois Malan

1:15 ‘In
daardie dae’ is ’n onbepaalde uitdrukking wat Lukas graag gebruik (6:1; 11:27).
Soos met die ‘eerste periode’ van Jesus se werke (Luk 1:5) plaas Lukas hier ’n
belangrike gebeurtenis aan die begin van die ‘tweede periode’ van Jesus se
werke. In hierdie wagtyd wat Jesus beveel het (1:4) plaas Lukas die verkiesing
van ’n persoon in die plek van Judas tot die twaalftal wat Jesus as apostels
aangestel het (Luk 6:13). Dit is die begin van Jesus se optrede deur sy
gemeente
. Die verkiesing vind plaas in ’n byeenkoms van die apostels saam
met die res van die gemeente (vgl. ook 6:2).

Petrus staan
op tussen die broers as die woordvoerder van die twaalf, soos in Lukas 9:20;
8:45; 12:41; 18:28. Jesus het hom ook aangestel om sy broers te versterk (Luk
22:32). ‘Broers’ is ‘n benaming wat van die Ou Verbond oorgeneem is
(vgl. Hand 13:15; 22:5; 28:17,21). Maar vir die gelowiges het broers ’n dieper
en breër betekenis gekry deurdat Jesus sy volgelinge broers genoem het (Matt
25:40; 28:10; Joh 20:17). Broers (adelfoi) word dikwels gebruik vir
almal wat in Christus glo en sluit susters in. As broers van Jesus word
Christen-gelowiges kinders van God se gesin. Die gemeente in Jerusalem het
intussen aangegroei tot tien maal die aposteltal. In die lig van 1:14 was dit
120 mans en vroue. Die plek waar die 120 vergader het kon beswaarlik ’n
bovertrek van ’n huis gewees het, en verwys moontlik na een van die sale op die
tempelterrein vanuit die pilaargang van Salomo (vgl. Luk 24:53; Hand 3:11;
5:12).

1:16 Hier is
die eerste van ’n reeks toesprake van Petrus wat Lukas opteken. Hy spreek die
byeenkoms aan as ‘manne broers’ (andres adelfoi; die manlike anêr verwys
na ’n man, maar die meervoud ‘manne’ verwys dikwels na mense in die algemeen,
soos ‘broers’ ook ’n algemene term is vir gelowige mans en vroue. Die
kombinasie ‘manne broers’ gebruik Lukas ook in 2:29,27; 7:2; 13:15,26,38;
15:7,13; 22:1; 23:1,6; 28:17).

Petrus verwys
na Ps 41:10 waar die Heilige Gees by monde van Dawid oor Judas gepraat het, en
nou met die Seun van Dawid andermaal vervul is: ’Selfs my vriend, wat ek
vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’ So het
Judas as gids opgetree vir die mense wat Jesus gearresteer het. Vir Lukas is
die eintlike spreker by alle profesieë die Heilige Gees wat deur mense praat
(Hand 4:25; 28:25), so ook vir die getuienisse van gelowiges oor Christus deur
die eeue (vgl. 2 Petr 1:20-21). Daarom sê Petrus aan die begin van sy rede dat
dit so moes gebeur het. Die woord ‘moes’ (edei imperfektum van dei
wys op die voortgang van die noodwendigheid) wys hier na God se woord in die
Skrif wat vervul moes word (plêroō volmaak, voltooi, die ware betekenis
gee). Soos Dawid destyds ondervind het dat sy skoonvader Saul en later sy seun
Absalom en sy vriend Agitofel teen hom gedraai het (2 Sam 15:31), het die
Heilige Gees vir Dawid die woord laat neerskryf wat ook met Jesus sou gebeur.
Dawid word verder aangehaal in Hand 2:25, 29,34; 4:25 wat telkens na die Psalms
verwys. In Handelinge haal Lukas die Skrifte aan om die voortsetting van
Christus se werk deur sy volgelinge te verduidelik. Ps 41:10 word ook na verwys
in Mattheus 26:24; Markus 14:18; Lukas 22:21 en Johannes 17:12.

1:17 Petrus
verwys na Judas Iskariot se roeping, dat hy as een van hulle groep gereken is (katarithmeomai
as lid getel word, wat aan hulle behoort). Die passiewe perfektumvorm van
die werkwoord dui aan dat God hom as ’n blywende lid van hulle groep (van
twaalf apostels) gereken het (vgl. Luk 22:3); en hy het ’n aandeel aan hierdie
diens (van God) ontvang (vgl. Luk 6:12-13; 9:1-2). Daarmee beskryf Petrus
die bevoorregte posisie van Judas
.

1:18-19
Hierdie weergawe verskil van Mattheus 27:3-10 se weergawe van wat met Judas en
sy geld gebeur het.  In Mattheus 27:6,8
word die naam van die plek Bloedgrond 
afgelei van die onskuldige bloed van Jesus (Matt 27:4). In Handelinge
word die naam afgelei van die skuldige bloed van die verraaier (Hand 1:19). In
Matt 27:7 het die hoëpriester die grond met die bloedgeld gekoop as ‘n
begraafplaas vir vreemdelinge. Volgens Handelinge het Judas self die grond
gekoop. Mattheus 27:5 beskryf sy selfmoord as ’n oordeel oor homself.
Handelinge skep die indruk dat dit God se oordeel oor Hom is – hy val en bars
oop. Die verskil wys na twee verskillende mondelinge tradisies daaroor wat by
Mattheus en Lukas uitgekom het. Augustinus het die twee gekombineer met die
voorstel dat Judas homself opgehang het, afgeval en oopgebars het. Mattheus
beklemtoon Judas se wroeging, wat hom tot selfmoord lei; Petrus op dit wat ná
Judas se dood moet gebeur, dat sy plek gevul moet word. Handelinge voeg
die ouer Aramese naam Akeldama vir Bloedgrond by. Die grond is geleë oorkant
die Hinnomdal aan die suidekant van die ou stad Jerusalem.

1:20  Die berig oor Judas se dood het Petrus se
inleiding tot die verkiesing van iemand in Judas se plek onderbreek om aan te
toon dat daar ’n vakature ontstaan het met Judas se dood. Die argument in vers
17 gaan hier voort om ’n rede uit die Skrif te gee waarom Judas se vakature
gevul moet word: ‘want daar is in die boek van die Psalms geskryf:

‘laat sy
woonplek verlate word, en laat geen inwoner daarin (in sy tente) bly nie’ (Ps
69:26)

en ‘laat ’n ander sy diens as kerkleier (episkopê) oorneem (laat oorneem laboi optatief,’n wens)’  (Ps 109:8).

laat oorneem (labetō imperatief, ’n opdrag) (Handelinge 1:20)

Die twee
aanhalings kom amper net so voor in die Septuaginta, die Griekse
vertaling van die Ou Testament, wat die Bybel van die eerste gemeentes was. Dit
was nog voordat die Nuwe Testament se boeke versamel was en later saam met die
Ou Testament gebruik is. Die aanhalings word egter hier in ’n ander sin as in
die Psalms gebruik. Ps 69 gaan oor ’n lydende regverdige wat sy vyande vervloek.
Petrus pas Ps 69:26 se ‘verlate woonplek sonder inwoner’ toe op Judas, wat sy
apostelskap vakant/verlate gelaat het.

Die bidder se
wens in Ps 109:8, verander Petrus in ’n opdrag van die Here oor Judas se
amp. In Ps 109:8 kla die bidder dat sy vyande sê: iemand anders moet sy amp
oorneem. Daarom vra die bidder dat die Here sy vyande moet straf. Petrus pas
die teks egter toe op Judas se vakature in die apostelamp en dat ’n ander
daarom Judas se amp moet oorneem.

Ou
Testamentiese tekste word toegepas op Christus en sy gemeente. In
Christus is daar ’n innerlike eenheid tussen die Ou en Nuwe Testamente. Die Ou
Testament is vir die skrywers van die Nuwe Testament ’n boek vol geheimenisse
van God. Die Heilige Gees onthul aan hulle stellings en gebeure in die Ou Testament
wat op Christus en Christene van toepassing is. Daarom word die Ou Testament in
die lig van die Christusgebeure uitgelê en kry Ou Testamentiese stellings,
onder leiding van die Heilige Gees, ’n heel nuwe en voller betekenis. So
gebruik die Heilige Gees die Ou Tstamentiese tekste om Petrus te lei.

Wat Hand 1:25
die ‘apostelamp’ noem (apostolê spesiale gesant), word volgens Ps 109:8
as ’n ‘opsienersamp’ gesien (episkopê diens as leier).Volgens Hand 20:28
word die ouderlinge deur die Heilige Gees aangestel as opsieners (episkopos
versorger, helper en leier) oor die hele kudde om die gemeente van God
herderlik te versorg. Die beslissende kenmerk van die christelike apostelamp
is egter diens
, in navolging van Christus (Hand 1:25 hierdie diens, diakonia,van apostel; Luk 22:27 ‘Tussen julle is Ek egter soos een wat dien (diakoneō).’
[episkopos is in Engels vertaal as bishop, wat wel ’n opsienersamp
aandui, wat dikwels net as ’n gesagvoerder oor ander beskou is en nie altyd as
’n diens aan ander nie].

1:21-22  Die gevolg van die Skrifaanhalings in vers 20
is dat iemand in Judas se plek gekies moet word. Maar dit moet van die manne
wees wat van Jesus se doop deur Johannes tot die dag van Jesus se hemelvaart,
die hele tyd saam met Jesus en die apostels was. Een van dié verkose manne moet
saam met die apostels getuig van Jesus se opstanding uit die dood. Om een van
die kring van twaalf apostels te word, moes hy die hele tyd ’n ooggetuie
gewees het van Jesus se optrede. Die eintlike vereiste is dat hy Jesus persoonlik
moes ken, Hom gevolg het en getuie van sy opstanding is. Letterlik staan daar
dat hy ‘die hele tyd wat Jesus in en uit onder ons was,’ saam met ons was. ‘In-
en uitgaan’ is ’n Semitiese uitdrukking wat daaglikse omgang aandui, soos in
9:28 se ‘assosieer en besoek.’ 

1:23 Die
gelowiges wat daar bymekaar was, neem Petrus se voorstel aan, dat iemand in
Judas se plek gekies moet word, volgens die tekste wat Petrus aangehaal
het. Hulle het toe twee manne voorgestel (moontlik was hulle twee deel van die
72 van Lukas 10:1).

Josef het drie
name, twee Joodse en een Latynse naam: Josef heet na die stamvader Josef, maar
word ook Barsabbas ‘genoem’ (kaleō iemand op sy naam noem) – Bar-sabbas,
seun van die Sabbat, of Sabbatseun – op die Sabbat gebore. In Latyn is hy
genoem (epikaleō iemand ’n hoedanigheid toesê) Justus, wat regverdig
beteken (Afrikaanse Joost). Die twee name vertel iets van die goeie naam van
die man.

Die tweede
nominant is Mattias, ’n verkorting van Mattatias, ‘Geskenk van Jahweh’
(Sy beendere is later glo deur keiser Konstantyn na Trier gestuur; deur die
Noormanne uitgehaal, wonderbaarlik later weer gevind. Dit is dan die enigste
apostel wie se beendere in Duitsland rus – die skedel in Italië).

Ons hoor egter
nie weer van die twee in die Nuwe Testament nie, behalwe in Hand 6:2 waar die
twaalf
vir die laaste keer saam opgetree het, met Mattias waarskynlik onder
hulle (vgl. Openb 21:14 vir die twaalf name op die simboliese twaalf fondamente
van die Nuwe Jerusalem, as grondleggers van Jesus se kerk, vgl. Matt 16:18). In
Luk 22:29-30 het Jesus vir die twaalf wat deur al sy beproewings by Hom gebly
het, gesê dat Hy aan hulle ’n koninkryk bemaak sodat hulle in sy koninkryk aan
sy tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf
stamme van Israel. 

1:24 Die
verkiesing word deur die eensgesinde gebed van die hele groep voorberei (proseuksamenoi
eipan ‘
biddende het hulle gevra’). So het Jesus ’n nag in gebed deurgebring
voor Hy die twaalf apostels uitgekies het (Luk 6:12-13; vgl. Hand 1:2) en het
die gemeente in Antiogië biddende vir Paulus en Silas uitgestuur (Hand 13:2-3;
vgl. ook Hand 6:6). As Here en kenner van die harte word Jesus gevra om
die regte persoon van die twee aan te wys, wat Hy reeds as sy apostel uitgekies
het, omdat Hy as God weet wat in die mens is (Joh 2:25; Luk 5:22; 6:8; 9:47).
Die verkiesing van Mattias is die eerste taak wat Jesus deur die apostels
verrig ná sy hemelvaart. 

1:25 Die Here
word gevra om iemand aan te wys ‘om die plek (ton topon) in hierdie diens
(diakonias tautês) van apostelskap oor te neem…’ Hier beklemtoon die
gemeente se gebed dat die apostolaat ‘’n diens’ is. Jesus stuur mense uit (apostellō)
in sy diens, om soos Hy, sy nederige dienende getuies te wees.

Judas
(Iskariot) het egter sy ‘plek’ in hierdie diens van apostel laat vaar om na sy
‘eie plek’ of ‘besondere plek’ te gaan. Lukas speel met die woord topos ‘plek.’
Sy eie plek verwys waarskynlik nie net na sy eie grond van 1:18 nie, maar na
die plek van pyniging van Lukas 16:28 waarna die rykman verwys het. ‘Eie’ (idios)
verwys hier na sy besondere plek. In Johannes 17:12 verwys Jesus na Judas wat
verlore gegaan het as die seun van die verderf (apōleia vernietiging).
Daarvolgens het Judas sy plek in die koninkryk van God opgegee en ’n plek in
die ryk van die Satan ingeneem. Hoewel die Here hom gekies het as een van sy
twaalf apostels, het hy die plek, wat die Here vir hom aangewys het, verlaat
vir die plek van sy eie keuse

1:26 Die aanwysing deur die lot word noú verbind aan die gebed van die gemeente dat die Here moet aanwys wie Hy gekies het (Luk 1:24; vgl. Spr 16:33). ‘Hulle het geloot…’ (letterlik: hulle het aan hulle die lotte gegee). Beslissing deur die lot was goed bekend terwyl die tempel nog bestaan het. Vgl. Levitikus 16:8 waar Aäron lootjies moes trek oor die twee bokke, een gemerk ‘vir die Here’ wat hy as sondeoffer offer,  en die ander een ‘vir Asasel’ waarop hy na al die reinigings sy hande lê met al die sonde van die Israeliete, waarna iemand wat beskikbaar is die bok die woestyn injaag waar die bok agtergelaat word. Die diensbeurte van die priesters by die tempel en die keuse van die priester wat die wierook in die heiligdom moes bring is met die lot aangewys (Luk 1:9). So is die verskillende take in en om die tempel ook daagliks met die lot aan persone toegeken. Hier val die lot van die Here toe nie op dié Judas met drie name wat skynbaar die gunsteling was nie, maar op Mattias van wie niks verder gesê word nie. Hy is daarop by die elftal apostels gevoeg as die twaalfde lid in Judas Iskariot se plek. Na die uitstorting van die Heilige Gees word nie weer van die gebruik van die lot gepraat nie, maar van die direkte leiding deur die Heilige Gees. Keiser Gratianus (regeer 375-383 n.C.) het as gevolg van die misbruik van die lot, die lot saam met heidense gebruike in die kerk verbied

Skrywer: Prof Francois Malan