Laat sy Liefde jou Lei: God vergeet nie

Laat sy Liefde jou Lei: God vergeet nie – Milanie Vosloo

God vergeet nie!

Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die Here sal my styf vashou. Psalm 27:10

Dis so maklik om minderbevoorregtes, mens in nood en dié in pyn eenvoudig uit ons gedagtes te skuif. Dit maak die skuldgevoelens minder en maak die stemmetjie van “ons-moet-iets-vir-hulle-doen” stil. Dis juis as gevolg van hierdie menslike ignoreer-styl wat ons soms kan wonder of God dan regtig mense in hul nood onthou …

 

 

Die Woord leer ons, God dóén! Hy is by uitstek ‘n Vader vir swaarkrymense, vir hulle wat deur die samelewing verwerp word, wat gebroke, moedeloos en geskok is. Hier op aarde het Hy ‘n prostituut se saak verdedig, melaats-stukkende mense heel gemaak, sy skoene onder ‘n tollenaar se tafel uitgeskop en aan ‘n moordenaar gesê dat Hy saam met Hom in die paradys sal wees. Ons God van liefde huil saam met seerkrymense, Hy hou hulle vas, troos hulle en laat hulle nóóit alleen nie.

‘n Stukkie Skrif wat my al vele kere gedra het wanneer ek met dinge worstel en gewonder het of God my regtig lief het, is die bekende Romeine 8:28: En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. In uitsiglose tye wanneer ons ontredderd en alleen voel, kan ons maar wéét: Ons getroue Vader laat nooit een van sy kinders in die steek nie.

 

Ons aanbid ‘n God wat áltyd onthou. Veral wanneer ons vergeet!

 

Dankie dierbare Vader dat ek aan U, die onveranderlike, mag vashou. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


 

 

 

 

 

Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Lewende water van genade

Laat sy Liefde jou Lei: Lewende water van genade – Milanie Vosloo

Lewende water van genade

Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind. En as kind het God jou sy erfgenaam gemaak. Galasiёrs 4:7

Gedurende die vroeё 1500 was die kerk se voortbestaan op ‘n mespunt. Talle het probeer om God se genade onder die skuld van sonde toe te gooi.

Onder geweldige druk van verskillende bronne, besluit één man om die dwalende kerk te red. Op 31 Oktober 1516 gaan timmer Maarten Luther die 95 stellings op die kerk in Wittenberg, Duitsland, vas. Daarmee stuur hy God se onsinkbare genadeboot weer op koers. En daarmee sê hy vir die wêreld dat ons God nie ‘n God-van-sondeskuld is nie, maar dat ons ‘n Here aanbid wie se goedheid geen perke ken nie. Dat ons ‘n God dien wat ons keer op keer onvoorwaardelik in sy arms toevou.

Moet nooit toelaat dat enige iemand van jou ‘n skuldslaaf maak nie. In tye van twyfel kan jy maar die Here op sy Woord neem wanneer Hy sê dat sy bloed jou van álle skuld vrygewas het. Christus se koms het van sondaars, soos ek en jy, hemelse erfgename gemaak! Niemand se sonde is te groot vir God se genade nie en niemand is te ver weggedryf vir sy reddingsdade nie. Ook nie jy nie!

 

Gaan staan vandag onder die waterval van God se vloeiende goedheid en voel hoe Hy elke stukkie skuldgevoel van jou skouers afwas en nuwe lewe in jou lewe laat vloei. Gaan dan en gaan leef met verligting en dankbare vreugde.

 

Here-van-Genade, dankie dat U elke stukkie skuldlas eenvoudig van my af wegwas.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 


 

 

 

 

 

Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Ma se glo

Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Ma se glo – Milanie Vosloo

‘n Ma se glo

Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Vrou, daar is u seun.” Johannes 19:26

Ma’s is mense wat ‘n ekstra porsie geloof nodig het. Lank voordat hul bondeltjie mens nog gebore word, moet hulle al glo dat hul kind gesond, volmaak gevorm en sterk gaan wees.

Dwarsdeur hul kinders se grootwordjare is dit geloof wat hulle lei om hul kinders op te voed. En so géé ma’s regdeur hul kinders se lewens stukkies van hulself weg. Wanneer hierdie kind, wat hulle met soveel sorg grootgemaak en versorg het, uiteindelik die huis verlaat, gee sy wéér. Dan stuur sy ‘n stukkie van haar hart saam met haar kind die wilde wêreld in.Dis in hierdie tyd wat ma’s meer as ooit móét glo. Hulle moet eenvoudig glo dat opvoeding en onderbou, hul kind sal laat oorleef. Onwrikbaar moet hulle vashou aan dié wete dat hul Vader hul geliefde kind sal bewaar teen gevaar, sal beskerm teen onheil en hom/haar ‘n veilige tuiskoms sal gee.

Lank gelede was daar ‘n ma wat moes aanskou hoe haar Seun aan ‘n kruishout vasgespyker word. Gelate moes sy dit aanvaar sodat ons as ma’s vandag met dié seker wete kan leef dat Hy ook vir ons kinders gesterf het sodat hulle – ongeag wat die lewe hulle gaan bied – eendag saam met ons in die hemel sal wees.

 

Liewe ma, gló vandag dat jou Vader ook jou kind se getroue God is en altyd sal bly!

Here, ek glo onwrikbaar in u trou!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


 

 

 

 

Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Spoelklip-mense

Laat sy Liefde jou Lei: Spoelklip-mense – Milanie Vosloo

Spoelklip-mense

Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. Johannes 12:25

Die lewe, het Alba Bouwer gesê, is alte veel soos die bergwater wat hier langs die huis in die voor afkom: dit werkskaf aljimmers vorentoe, vorentoe, daar is nooit stilstaan nie.

En as ‘n mens jou geloef in die lieven Heer nie het nie, sal daai water jou lateraan so deurmekaar spoel lat jy onderstebo die Ewigheid indiewel. 

Ons is almal spoelklippie-mense wat deur die strome van die lewe gemaal word. Soms vloei die koel fonteinwater-van-vreugde lawend oor ons harte. Ander kere is dit asof nuwe lewenservaring-water ons siele suiwer. Maar dan is daar ook dié kere wanneer die maalstrome van die wêreld ons amper wreed wil laat verdrink. Dis die tye wanneer ons geneig is om baie gou ons harte tot ons Vader te wend. En natuurlik is ons Redder altyd dan slaggereed om ons te help! Maar … wanneer ons Hom passievol lief het, roep ons nie net na Hom wanneer ons deur die lewe oorweldig word nie. Dan kies ons om daagliks … uurliks in totale afhanklikheid aan Hom te leef.

Vir ons almal kom daar ‘n dag wanneer die lewensstroom ons tot stilstand gaan bring. Dan is ons aardse lewe totaal irrelevant. Al wat dan gaan saak maak, is hoe naby ons aan Hom geleef het.  Waar is jy vandag, spoelklippie-mens?

 

Here, ek wil nie één dag sonder U die waters van die lewe aandurf nie. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


 

 

 

 

Milanie Vosloo