Laat sy Liefde jou Lei: Voed jou liefdesemense

Laat sy Liefde jou Lei: Voed jou liefdesemense – Milanie Vosloo

Drie van Job se vriende … het gehoor van die tragedies wat Job getref nie. Toe het hulle mekaar ontmoet en saam na Job gekom om hom te kom bemoedig. Job 2:11

Daar is net een manier om verhoudings te bou en dit is om voortdurend positiewe liefdesenergie daarin te sit!  Slegs wanneer ons gereelde liefdesdeposito’s in ander se harte maak, sal daardie verhouding bly floreer en dividende oplewer. As jy dalk deur ‘n fase gaan waar jy weet dat jy jou liefdesmense afskeep het, moet jy dalk weer vir jouself sê:

  • Ek wíl gesonde en goeie verhoudings hê. Dis immers die hartsvitamienes wat my energie vir die lewe gee.
  • Ek gaan nie toelaat dat griewe in die teelaarde van my verbeelding floreer nie. Ek gaan elke stukkie vooroordeel, wrokkigheid en onvergewensgesindheid met wortel en tak uit my hart uitroei.
  • Ek gaan tyd maak om rus by my Vader te vind sodat Hy aan my die vrede en liefde kan gee wat ek nodig het om goeie verhoudings te handhaaf.
  • Ek gaan ophou om so op myself gefokus te wees en myself te bejammer. Veel eerder gaan ek my hart instel op ander se belange en iets van myself vir hulle gee.
  • Ek gaan met groter begrip, meer deernis en ‘n ruimer hart die mense om my aanvaar, erken en liefhê.

Maak die Gees jou vennoot in die handhawing van suksesvolle verhoudings. Hy sal jou graag wys watter positiewe deposito’s jou mense nodig het.

Vader, wys my die pad na ander se harte asseblief. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Koester jou vriendskappe

Laat sy Liefde jou Lei: Koester jou vriendskappe – Milanie Vosloo

Vriende kan mekaar verwoes. Daar kan ook ‘n vriend wees vir wie jy liewer is as vir jou eie broer. Spreuke 18:24

Navorsing het bewys dat vroue ‘n sekere goedvoel-hormoon afskei wanneer hulle tussen ander vertroueling-vriendinne is. Klaarblyklik vryf ons letterlik positiewe energie op mekaar af wanneer ons weet dat ons tussen opregte vriendinne is. Is dit nie wonderlik dat ons Vader vroue-vriendinne vir mekaar gegee het nie?   Opregte vriendinne weet hoe kosbaar hulle verhouding is, Daarom sal hulle altyd:

  •  onderlinge vertroue bewaar;
  •  mekaar onveroordelend aanvaar en onvoorwaardelik vergewe;
  •  tyd en moeite doen om die ander een te leer ken; en
  •  energie in die verhouding sit.

Onthou Ralph Waldo Emerson se woorde: Die enigste manier om ‘n vriend te hê is om een te wees. Die grootste geskenk wat jy jou vriend kan gee, is ‘n stukkie van jouself. Moet nooit toelaat dat jou besige program of enige iets anders jou kosbare verhoudings met ander vroue in die wiele ry nie. Jy het dit nodig. Hulle het jou nodig. En meer nog: God gun jou die heerlikheid van koesterende vriendskappe.

Opregte vriendskap is soos ‘n helder ster in jou donker nag: Dit gee altyd hoop. Dis soos ‘n verkwikkende glas koue water op ‘n warm dag: Dit les jou dors. Dis soos ‘n hangmat in ‘n stil tuin: Dit maak jou rustig. Opregte vriendskap is ‘n kosbare meesterstuk wat deur twee harte geskilder word. En moet met albei hande vasgehou word.

Here, maak van my ‘n ware omgee-vriendin by wie ander veilig voel, asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Jasmyn-liefde

Laat sy Liefde jou Lei: Jasmyn-liefde – Milanie Vosloo

Eerlike raad van ‘n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook. ‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag. Spreuke 27:9, 17:22

Sekere blomme ruik onmiskenbaar blóm: soos jasmyn, katjiepiering, die roos en die veelkleurige yesterday-today-and-tomorrow. Dis asof hulle in jou verbygaan vir jou uitroep: “Kom nader. Kom rúík en geniet my skoonheid in voordat jy verder gaan.”

So is party mense onmiskenbaar líéfde. Hul hele wese sê: “Jy’s welkom in my hart. Vertoef gerus ‘n wyle by my sodat ek ‘n stukkie van my liefdesgeur op jou kan afvryf. Kom sit in die koelte van my mensweesskadu sodat ek jou kan verkwik en jou met nuwe inspirasie kan vul.” En omdat jy veilig voel by hierdie jasmyn-mense, wíl jy in hul teenwoordigheid wees, wíl jy by hulle verwyl en het jy altyd weer ‘n behoefte om na hulle terug te keer.

Ons liewe Vader wil hê dat ons gegeurde mense sal wees. Iets wat ons net kan regkry as Hy deel van ons wese is, as ons Hom toelaat om ons daagliks te vernuwe en sy Gees die kern van ons menswees vul. Want nét God kan van gewone, feilbare en hartelose mense, liefdesmense maak. Net Hy kan ons help om die wierook van liefde grensloos te versprei.

Kom ons bid vandag vir die suiwering en vernuwing van ons harte sodat ons lewens sal sê: Welkom in my lewe. Welkom by die liefde.

Gees van God, ek kan net u liefde aan hierdie wêreld wys as U dit deur my doen.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Hoort sy liefde by die werk?

Laat sy Liefde jou Lei: Hoort sy liefde by die werk? – Milanie Vosloo

‘n Mens wat wys is, sê verstandige dinge. Hy kan ander mense onderrig. Spreuke 16:23

‘n Paar jaar gelede was dit aanvaarbaar om jou geloof openlik by jou werk uit te leef. Niemand sou jou daaroor verkwalik het of oor die vingers getik het nie. Vandag is dit anders. Omdat ons in ‘n land leef waar ons probeer om mekaar op alle terreine te akkommodeer en te respekteer, vra die werkplek soms van ons dat ons ons geloof met oorleg en versigtigheid sal uitleef.

Die vraag is nou, hoe kan ons – te midde van beperkinge en voorgeskrewe reёls – steeds Christus se liefde in die werkplek uitleef?

  • Ons kan dit doen deur die Gees toe te laat om ons elke nuwe oggend te suiwer van alle vorme van magsbeheptheid, afguns, geïrriteerdheid of onvergewensgesindheid.
  • Ons kan bid dat Hy in die plek daarvan vir ons begrip en deernis sal gee vir die mense aan wie ons rapporteer, vir ons medekollegas veral ook vir die mense aan wie ons moet leiding gee.
  • Alleen wanneer ons in totale afhanklikheid voor Hom staan, kan ons Vader ons dan met sy soort liefde vul. Dié liefde wat so leef, werk, praat en doen dat ons – te midde van ‘n harde wêreld – iets van sy sagtheid weerkaats.

Die werkplek is ‘n uitdagende akker om in te ploeg, want dit is heel dikwels daar waar dit die heel moeilikste is om geloofsliefde te leef. Maar kom ons probeer!

Here, gee aan my die wysheid en moed om u waarhede ook in my werkplek te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo