Laat sy liefde jou lei: Sterf … in vrede

Laat sy liefde jou lei: Sterf … in vrede – Milanie Vosloo

Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word: “Die dood is totaal uitgewis, want dit is heeltemal oorwin.” 1 Korintiёrs 15:54  

 

Kan inkeer té laat kom? Kan daar ‘n tyd kom wanneer ons kanse om God te kies vir altyd verby is? Ja, leer die Woord ons.

Net soos wat iemand ‘n paar minute voor sy dood gered kan word, kan daardie laaste paar oomblikke ook net té onverwags en té laat kom om nog ons saak met God reg te maak. Geen mens kan dus daarop reken om sy redding tot net voor sy dood uit te stel nie.

 

Miskien het jy ook al gewonder hoe, wanneer en waar jy gaan sterf? Die feit is: ons wéét nie. En miskien maak dit ook nie saak nie. Al wat regtig saak maak is of ons nou, terwyl ons nog die kans het, ons lewe aan die lewende God gegee het. As ons dit gedoen het, kan ons maar rustig wees oor die dood en die lewe ná die dood.

 

‘n Chinese kommunis, wat duisende Christene eiehandig doodgemaak het, het op ‘n dag aan ‘n pastoor gesê: “Ek het baie van julle Christene gesien sterf. Julle sterf anders. Wat is julle geheim?”

 

Kinders van die Vader het vrede wanneer hulle sterf. Hul geheim? Hul onwrikbare geloof in God en die sekerheid van die ewige lewe! 

 

Here, U ís my Verlosser, my Here en my God. 

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Hoor jy reg?

Laat sy liefde jou lei: Hoor jy reg? – Milanie Vosloo

Abraham het 175 jaar oud geword. Hy het in ’n rype ouderdom na ’n lang en vol lewe gesterf … Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseёn … Genesis 25:7, 13a *

 

Wonder jy soms of jy God reg hoor en twyfel jy met tye aan die sinvolheid van dit wat Hy van jou verwag? Staan dan vandag ’n oomblik stil by die Abraham-verhaal.

God het Abraham male sonder tal met die feitlik onmoontlike getoets. Eers beveel hy hom om – sonder dat hy weet waarheen hy gaan – uit sy land van herkoms te trek. Kort hierna belowe God hom dat hy die voorvader van ’n groot nasie sal word … maar dan kan sy vrou nie swanger raak nie. Abraham moet tot op 100-jarige leeftyd vir sy seun, Isak, wag. En toe … vra God dat Abraham hierdie selfde seun op ’n brandstapel moet gaan offer!

 

Abraham het rede gehad om telkens te wonder: ”Hoor ek reg?” en dan gerieflikheidshalwe ’n ander koers in te slaan. Maar hierdie man van God kies ánders. Hy maak die keuse om God te gehoorsaam ongeag die vreemdheid van sy beloftes en opdragte. En die uiteinde daarvan is dat die Here hom in alle fasette van sy lewe onmeetlik seёn en elke belofte in oorvloed nakom.

 

Wanneer jy oortuig daarvan is dat God met jou praat, wees dan gehoorsaam. Bly getrou en volg sy stem onvoorwaardelik. Jy sal die seёn van jou gehoorsaamheid in oormaat ervaar.

 

Here, help my om U rég te hoor en dan rég te doen asseblief!

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: God se beloftes van trou

Laat sy liefde jou lei: God se beloftes van trou – Milanie Vosloo

Hy sal julle oppas soos ’n herder sy skape oppas. Jeremia 31:10c

 

Onthou jy nog hoe bang ons vir die donker was toe ons klein was? Hoe ons soms na pa of ma toe gehardloop het as die groot nag sy arms om ons vou? En onthou jy hoe gerusstellend dit was wanneer hulle ons styf vasgehou en ons verseker het dat die donker niks aan ons sal doen nie?

Nou’s ons groot en lê ons begrip van die “nag” in dinge soos huwelikskonflik, werksonsekerheid, vrees oor die toekoms, die bedreiging van siekte … die dood. Ja, grootmense is heel dikwels banger as kleuters omdat die konsekwensies van ons tipe “gevare” so helder soos daglig is. Daar is maar een plek waarheen ons as volwassenes met ons vrese kan gaan en dit is in die arms van ons hemelse Vader. Vind vandag rus in sy gerusstellende stem wanneer Hy vir jou uit die boek Jeremia sê:

 

  • Die Here sê ook: “Israel, julle moet nie bang of angstig wees nie … Julle sal vir niemand hoef bang te wees nie. Wees gerus. Ek sal julle nie in die steek laat nie…“ (30:10a,c en 11a)
  • …“Ek sal sorg dat dit weer met julle goed sal gaan. Ek sal julle wonde gesond maak.” (30:17)

 

Ons Vader wag vandag steeds op elke bang kind wat uit sy donker wêreld na Hom toe hardloop. En dan sê Hy vir ons: ”Julle moet nie bang wees nie …” Hoor jy dit?

 

Here, ek is bang. Wees by my asseblief.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: U-is-mý-God-liefde

Laat sy liefde jou lei: U-is-mý-God-liefde – Milanie Vosloo

Hierdie liefde van julle moet as’t ware hard en duidelik ’praat’. Mens moet daarna kyk en sê: ’Kyk net, daar’s ’n volgeling van Jesus.’” Johannes 13:35

 

Hoe lyk jou liefde vir God? Is dit die eenmaal-per-week kerk-toe-gaan-liefde wat jy Sondae bewys? Is dit dalk die liefde van eenmaal-’n-dag-Bybellees-roetine? Of is jou liefde vir Hom so groot dat jy Hom eenvoudig met alles in jou wil loof en prys?

 

Wanneer ons besef hoe onbeskryflik groot ons Vader se goedheidliefde vir ons is, kan ons nie anders as om oorloop-liefde vir Hom te hê nie. Dan is ons harte so vol van Hom dat ons maar net oor en oor ons liefde vir Hom wil verklaar. En dis sulke tye wanneer ons, soos Dawid, spontaan wil uitroep: “Here, U is my God. Ek wil U met alles in my prys. U Naam wil ek altyd grootmaak.” (Psalm 86:12)

 

Wanneer ek en jy God met ons hele hart, siel en verstand liefhet, kan ons dit nie wegsteek nie. Dan kry ons dit reg om Hom met ons hele lewenswandel te eer. Só te eer dat ander na ons kyk en dink: “Daar’s iets anders in hierdie mens. Iets wat vir my sê sy het Jesus régtig lief.” 

 

Hoe lyk jou liefde vir God? Is dit ‘n ek-wil-heeltyd-by-Hom-wees-liefde … ‘n ek-wil-doen-wat Hy-vra-liefde? Indien wél, is jy daagliks besig om sy grootheid hard en duidelik sal verkondig.

 

Here, wees so deel van my dat my lewe die soet klanke van u liefde aan hierdie wêreld sal uitbasuin. 

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo