Laat sy liefde jou lei: “Ek kan nie bid nie!”

Laat sy liefde jou lei: “Ek kan nie bid nie!” – Milanie Vosloo

Die Gees van God help ons ook nog boonop met ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugting wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Romeine 8:26

 

Daar’s tye wat ons eenvoudig nie kan bid nie. Dis asof daar ‘n groot muur tussen ons en God is en ons wil uitroep: “Here, ek kan nie met U praat nie! Woorde wil nie vorm uit my seer nie. My gedagtes spring soos popcorn in ‘n mikro rond. Miskien … wíl ek nie bid nie? … O Gees, bid asseblief vir my …”*

Die oomblik as jy so jou afhanklikheid verklaar, kan jy weet: Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. (Rom 8:27) Hoor jy dit? En besef jy dat die liefdevolle Gees van God jou hart verstaan en dat Hy in sulke tye vir jou bid? Jy hoef dus nooit te wanhoop wanneer jy nie kan bid nie. Jy kan in sulke tye maar net stil word in die teenwoordigheid van God, jou gedagtes vrylik laat vloei en toelaat dat die Gees jou gedagtes vir jou vorm.

Heilige Gees, ek kan nie bid nie. Sal U dit asseblief vandag vir my doen?

*Uit: In Gesprek met God, Milanie Vosloo Uitgegee deur Lux Verbi BM

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

Laat sy liefde jou lei: Nuwe mens. Genademens.

Laat sy liefde jou lei: Nuwe mens. Genademens. – Milanie Vosloo

Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Jy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees. Filippense 1:6

 

Dis darem maar ‘n groot stuk genade dat ons Vader nie net die gate van ons lewens toestop nie! Hoe wonderlik dat Hy kies om ons eerder keer op keer óór te maak! Ons God neem élke dag ons vuil lap-lewens sodat Hy dit kan weggooi en ons weer met ‘n splinternuwe genadedag kan bederf!

Die Ontwerper-van-harte het jou innig lief. Só lief dat Hy, ten spyte van énige iets, daagliks wéér vir jou die geleentheid gee om binne sy perfekte patroonafmetings vir jou lewe te leef. Hy weet immers dat, wanneer jy binne sy wil vir jou lewe leef, jy elke dag sal groei in jou geloof, jou liefde, jou menswees en jou geluk. Ongeag al die gisters van jou lewe, is daar geen rede waarom jy ooit ‘n uitgetorringde en ongelukkige mens hoef te bly nie. God kan en wil elke nuwe môre weer jou hart nuut maak in sy volmaakte liefde..

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Praat tog met my!

Laat sy liefde jou lei: Praat tog met my! – Milanie Vosloo

Daar’s tye wat ons nie met God kan praat nie. En dan is daar dié tye wat ons ernstig op ons knieё met Hom worstel en dit vir ons voel of Hy eenvoudig doof vir ons geword het. Dis dan wanneer ons maar net kan bid:

“Here, ek hoor U nie! Ek soek bakens, padwysers, vuurtorings, antwoorde, rigting, leiding in die Bybel, mense se raad, toevallige gebeure … en ek weet nie of dit U is wat praat nie. Leer my U hóór. Help my om u hand ráák te vat. Loop u pad met my, Here. Laat ek U sonder voorbehoud volg – vertrou – al verstaan ek niks. Wys my u leidrade. Wys my u rigting. Leer my U sién. Leer my die alfabet van u taal.”*

Weet vandag: God hóór elke versugting en soeke van jou hart. Hy het ook al die antwoorde wat jy nodig het. Jy hoef geensins spesiale kennis oor God te hê om Hom te hoor nie, want jy het die Gees in jou. En die Gees van Christus salf jou en bind jou oomblik vir oomblik aan die waarheid vas.

Onthou vandag: Julle almal (ja, ook jý,!) weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees. 1 Joh 2:20

Dankie dat u waarheid my begelei, Vader-God

* Uit: In Gesprek met God, Milanie Vosloo Uitgegee deur Lux Verbi BM

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: God gee nét genoeg

Laat sy liefde jou lei: God gee nét genoeg – Milanie Vosloo

Dié wat baie (manna en kwartels) opgetel het, het niks oorgehou nie. Dié wat min opgetel het, het nie te min gehad nie. Daar was net mooi genoeg vir elkeen om van te eet. Exodus 16:18b

 

Die meeste van ons hou daarvan as ons lewens min of meer georganiseerd is; as ons weet waarheen ons oppad is, wat ons moet doen en hoe ons dit behoort te doen. Dis mos maar menslik om in beheer te wil wees. Juis daarom vind ons dit dikwels frustrerend as ons na God se wil vra … en voel of Hy nie antwoord nie. Dis ook nie altyd maklik om in die duister te wees oor wat Hy vir ons toekoms beplan nie.

Die feit is: God laat Hom nie voorskryf deur ons menslike vereistes, ons horlosies en manier van leef nie. Hy doen dinge op sý unieke en soewereine manier: ook wanneer en die manier hoe Hy ons op ons vrae en gebede antwoord. Boonop maak ons Vader dit ook duidelik dat Hy ’n ”Een-tree-op-’n slag-God” is. Hy gee dit wat ons vir vandag nodig het, vandág. Môre sorg Hy vir môre. Soos Hy in Eksodus 16 manna en kwartels dag-vir-dag aan sy volk gee, so sal Hy ook vir ons dit gee wat ons op hierdie tydstip nodig het. Niks meer nie en niks minder nie!.

Dit help nie om vandag al môre se antwoorde te probeer bymekaarmaak nie. God gee een woord op ’n slag.

Here, dankie dat U stukkie-vir-stukkie die antwoorde sal gee wat ek nodig het.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo