25 November: Moenie dink aan wie jy nie is nie, maar aan wie jy is..– Jan van der Watt

1 Pet 1:10-21 (fokus 1:10-12)

As gelowiges dink ons heeltemal te min van onsself. Ons dink in alle geval gewoonlik baie minder van onsself as wat God van ons dink. Ons word dikwels so in die kerk gekondisioneer dat ons sleg en vol sonde is, dat ons later vergeet dat God ons sy eie kinders gemaak het. Ons word soos ‘n rugbyspeler wat die hele tyd net hoor hoe sleg hy speel – so iemand verloor vinnig die lus en belangstelling of verder te speel.

Dit is dikwels wat met gelowiges gebeur. Die slegste is dat dit ‘n stuk waninformasie is. Gelowiges vergeet so maklik wie hulle eintlik is: hulle is kinders van God. Hy het hulle vergewe en hulle nuut gemaak. Vir hulle sonde is betaal. Hulle hoef nie onder elke fout of sonde wat hulle maak inmekaar te sak nie. Jesus het dit klaar gedra. Wat oorbly is om voluit en positief te speel.

God wil hê ons moet die bal van die lewe vat en speel, al maak ons foute. Almal maak immers foute, maar dit moet ons nie keer om te speel nie. As ons ‘n fout maak moet dit ons nie afsit nie, want God self het ons gekies om in sy span te speel.

As sy speler verwag God baie van jou, omdat Hy weet wat Hy in jou belê het: sy liefde, sy genade, sy Gees. Hy weet dat as jy positief met daardie gawes van Hom “speel”, jy goed sal speel. Soos ‘n goeie afrigter sê Hy ons moet op ons spel fokus. Ons moenie fokus op wat ons miskien verkeerd kan doen nie, maar hoe om reg te speel (14-16). Ons moenie aan die sonde dink nie, nee, dit moet nie eers by ons opkom nie. Ons moet positief dink aan wat ons vir God gedoen het en nog kan doen… en dan moet ons voluit speel. Leef daarom uit daardie gawes van God. Laat dit jou gedagtes vul. Laat dit die dade van jou hande vorm en die woorde van jou mond skep.

Moenie die hele tyd dink aan wie jy nie is nie, maar aan wie jy is. Jy is nie meer ‘n verlore sondaar nie, maar ‘n lewende kind van God. Wees daarom soos jou Vader (16).




24 November: Sleg is nie altyd sleg nie.– Jan van der Watt

1 Pet 1:1-9 (fokus 1:3-9)

Waarom gebeur slegte dinge met ons? Een fout wat ons nie moet maak nie, is om net een antwoord te gee. Daar is baie redes. Wat die redes ook mag al mag wees, Christene mag nooit toelaat dat teëspoed jou van stryk bring nie. Dit moet jou geestelik net sterker en meer gedetermineerd maak.

Baie mense neem God kwalik as dinge vir hulle verkeerd loop, want hulle sê God se werk is juis om te sorg dat dinge nie met hulle verkeerd loop nie. Hy is mos hulle Pa, en pa’s moet sorg dat dit goed met hulle kinders moet gaan. As God dit nie doen nie, is Hy ‘n slegte pa. Tog het Jesus nooit beloof dat as jy ‘n kind van God word, alles nou skielik net goed met jou sal gaan nie. Nee, wat Hy wel beloof het, is dat as iets met jou verkeerd gaan, Hy jou nooit sal los nie. Jy sal nie oor jou kragte beproef word nie en sal vir alles krag ontvang… en dit maak ‘n groot verskil. Nie jou situasie verander nie, maar jy verander om jou situasie te kan hanteer.

Goud moet eers deur kwaai hitte gaan om suiwer te word. Daarsonder sal ons nie goud hê nie. Net so sal ons as gelowiges nie werklik weet hoe groot die krag van God in ons lewens is en hoe naby Hy aan ons kan wees as ons dit nie eers toets nie. Die oomblikke waar ons voel ons knieë knak of ons krag raak nou te min, is die oomblikke waarin ons leer dat God ons verder dra; dat sy krag ons krag word. Juis dan wanneer ek alleen of teneergedruk voel en my hand uitsteek, voel ek God se hand soveel stywer vat. En dit maak my geestelik sterk omdat ek in my swakheid God se krag ontdek.

Hierdie is nie dinge wat iemand vir jou kan vertel nie. Dit is dinge wat jy moet ervaar. Jy kan dit alleen ervaar as jy ook deur die dal van donker skaduwee stap en dan agterkom hoe naby God aan jou is; as jy ook die pyn van swaarkry voel, maar leer dat God se krag en genade groter is. Ja-nee, sleg is nie altyd sleg nie.




23 November: Geduld is nodig.– Jan van der Watt

Jak 5:7-20 (fokus 5:7-12)

Geduld is ‘n eienskap wat al hoe skaarser word hoe besiger ons wêreld raak. Ons kan nie meer wag dat dinge gebeur nie; ons moet dit láát gebeur. Vir geduld en ‘n gewagery is daar nie meer plek of tyd nie. Wat moet gebeur moet nóú gebeur. Jakobus wil ons uit die natuur ‘n ander les leer: soos ‘n boer kan ons niks ryp druk nie. Ons moet geduld hê en dinge kans gee om hulle gang te gaan (7-8). Ons weet tog dat as jy iets ryp probeer druk, druk jy dit eintlik vrot.

Ongeduld werk maklik deur na ons persoonlike verhoudings toe. Ons het net nie meer die geduld wat ons moet hê met die mense wat naaste aan ons is nie, want ons is te besig. Alles wat nie presies reg is nie, irriteer ons en dan is dit nie lank voor dinge tot uitbarsting kom nie. Geduld is God se resep om dit te keer. Ons moet onsself die tyd gun om na ons huweliksmaat of kind of broer of suster te luister, regtig te luister. In ‘n gejaagde lewe vat dit geduld. As my boekie oorloop van afsprake en ek sien my huweliksmaat vra desperaat vir aandag, moet die boekie maar verder oorloop… dit vra ook geduld. Ja, geduld maak vir ander plek, saai vir hulle rose waar daar eintlik dorings moes lê. Geduld is iets wat binne in jou gebeur. Dit is om jou prioriteite en emosies te herorganiseer sodat daar tyd is… tyd vir ander, tyd vir jouself en tyd om te wag. Met ons besige lewens het ons verleer dat dit soms ook goed is om net te wag… geduldig te wag dat dinge gebeur.

In ons geestelike lewe is geduld net so belangrik. Alles gebeur nie oornag nie. Dikwels stap die Here ‘n lang pad met ons voor ons by ons bestemming uitkom. Op die pad mag ons ongeduldig raak omdat dit nie vir ons lyk of “dinge” gebeur nie, maar ons moet die Here geduldig die kans gee om sy pad met ons te stap. Uiteindelik kom ons baie ryper anderkant uit, want op die langer pad het ons soveel meer geleer.

Geduld is nodig… om nie dinge ryp, nee, vrot te druk nie.




22 November: Beplan, maar nie sonder God nie.– Jan van der Watt

Jak 4:13-5:6 (fokus 4:13-17)

Ons is deesdae super beplanners. Met ons elektroniese boekies, en almanakke werk ons ons lewens mooi uit. Ons boekies is vol tot die einde van die jaar. Ons “weet” selfs dat ons hele familie Desember see toe gaan en Kersfees skaapboud op die strand gaan eet… sê wie? Ons sê miskien so, maar wat sê God?

Om eerlik te wees, weet ons nie eers wat in die volgende paar minute met ons gaan gebeur nie (14). Tog beplan ons asof ons alles in ons hand hou. Dit is natuurlik nie verkeerd om te beplan nie. Nee, deesdae is dit absoluut noodsaaklik, anders gaan jy dalk nie by alles uitkom nie. Maar ‘n mens mag nooit vergeet dat jou lewe eintlik in God se hande is nie.

Net so mag jy ook nie vergeet dat God ‘n plan vir jou lewe het nie. Hy dra die padkaart van jou lewe en dit is ‘n geweldige troos. As dinge in jou lewe vir jou lyk of dit verkeerd loop, hoef jy nie paniekerig te voel asof alles buite beheer begin raak nie. Vir jou mag dit dalk so voel, maar God weet dit is nie so nie. Op sy padkaart raak niks buite beheer nie en daar is ook nie so plek soos paniek nie. As my beplanning dalk vir my gesê het ek moet by die see wees, maar ek is op ‘n ander plek waar ek miskien nie wou gewees het nie, kan ek weet… ek is nie sommer net daar nie. Ek is daar omdat God se beplanning my dáár gesit het. Dit is waar hy my nou nodig het en dit is waar ek nou die beste van die saak moet maak. Een troos het jy altyd: God is saam met jou daar, want dit is waar Hy jou wou hê.

Onthou om saam met God jou lewe te beplan. As dit dalk volgens jou afspraakboekie nie reg uitwerk nie, wees verseker niks het met God se boekie verkeerd geloop nie. Maak dan die beste van waar jy op daardie oomblik is, want dit is waar God jou dan wil hê.