10 September: Ons moenie rus as ons verhoudings nie reg is nie. – Jan van der Watt

Ef 4:11-32 (fokus 4:17-32)

 “Julle moet ʼn nuwe gesindheid kry en op ʼn nuwe manier oor dinge dink… Ons nuwe lewe moet ons al meer na God laat lyk” (4:23-24). Die ideaal is: Lyk meer soos God; die resep: voel nuut en dink nuut!

Paulus gee ʼn interessante stukkie praktiese raad om die ideaal om meer soos God te lyk te bereik: moenie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie (4:26-27). Voor jy jou kop op daai kussing sit, moet jy nuut dink omdat jy nuut voel. Jy moet nuut dink oor wat die belangrikste is: om jou verhoudings reg te maak of om te lê en broei oor alles wat jy gaan doen om daai persoon terug te kry. As jy die verhouding dan regmaak, sal jy sommer nuut voel ook.

Die Here wil hê jy moet nuut dink oor hoe jy jou gedra. Jou verhoudings met die mense rondom jou moet vir jou so belangrik wees, dat jy nie sal kan rus as iets daar verkeerd loop nie. Jy sal dit wil regmaak, want jy sal nuut wil voel, omdat jy nuut dink.

Natuurlik weet die Here dat dit nie altyd so maklik is nie – om verskoning te vra was nog nooit maklik nie. Maar dit verander niks daaraan dat ons nie moet rus voor ons verhoudings met ander reg is nie.

Anders gestel: God het nie gerus toe dit by sy verhouding met ons gekom het nie. Hy het iets daaraan gedoen.  As ons soos Hy lyk, sal ons ook nie rus nie as ons verhoudings nie reg is nie…




09 September: Haal diep asem… in liefde. – Jan van der Watt

Ef 3:14-4:10 (fokus 3:14-21)

 Liefde is die asem waarvan ʼn gelowige leef – met een groot verskil! Dit is nie soos gewone asem nie – wat ons inasem moet ons ook uitasem! Ons asem mos gewoonlik suurstof in en koolsuurgas uit. Suurstof gee ons lewe. Die koolsuurgas wat ons uitasem kan niemand aan die lewe hou nie – dit dra die dood.

So moet ons geestelike asemhaling nie wees nie. Liefde is so anders. Ons moet nie Jesus se liefde geestelik inasem (3:18) en dan iets anders “uitasem” nie, veral nie iets wat ander mense kan laat verstik of versmoor nie. Ons moet daardie liefde ook geestelik “uitasem” sodat ander daarvan kan leef (3:17). Wat jy kry, moet jy gee; ja, wat jy het as jy liefde het, is eintlik nie joune nie. Soos asem gee dit jou lewe, maar dan moet dit “uit” om vir ander lewe te gee.

Daarom kan ʼn mens die krag van ware liefde nooit keer nie, net so min as wat ʼn mens die gang van lug kan keer. Dit gaan net wyer en wyer en raak net meer en meer mense.

Haal elke dag diep asem…




07 September: Wat Syne is, is joune ook. – Jan van der Watt

Ef 2:1-10 (fokus 2:1-10)

God dink oor mense soos ons oor ʼn rugbyspan dink. Wat met die span gebeur, gebeur met jou as deel van die span. As daar ʼn strafskop teen die span is, is dit ook teen jou as deel van die span, al het jy niks verkeerd gedoen nie. Gelukkig werk dit ook andersom – as die span wen, al het jy ʼn slegte wedstryd gehad, wen jy saam met die span.

God werk met Jesus se span; dit sien ons hier in Ef 2. Wat Jesus sʼn is, is ook sy span sʼn en wat met Hom gebeur, gebeur ook met sy span. Wat het jy omdat jy in Jesus se span is? Wel, as ons dit begin lys, is dit nogal die moeite werd om in Jesus se span te wees:

  • Jy lewe saam met Jesus ʼn nuwe lewe (2:4)
  • Vir God is jy nou spesiaal – jou plek is gereserveer by Hom in die hemel (2:6)
  • Jy word oorstroom deur God se goedheid en genade, meer as wat jy kan opgebruik(2:8)
  • Jy weet hoe om sin uit die lewe te haal, want God wys self vir jou deur Jesus hoe om dit te doen. Jy moet net mooi oplet (2:10)

As jy in God se span speel, speel voluit – jy het die beste Kaptein wat enige span kan hê. Onthou, Hy is nie suinig nie. Wat Syne is, is joune ook.




06 September: God se krag kan jou laat opstaan. – Jan van der Watt

Ef 1:15-23 (fokus 1:15-23)

 Die lewensreis het vir Herman te swaar en donker geword. Alles waaraan en waarvoor hy sy hele lewe lank gewerk het is in een oomblik met ʼn enkele veeg voor hom weggevee – daarvoor het die buite-egtelike verhouding waarin hy geland het, gesorg.

Dit het gelyk of sy pad klaar was… maar ʼn ruk later kon hy weer verder stap, al was dit met ʼn ietwat geboë rug en ʼn skuifel in sy pas. Hy het immers seergekry en het self baie ander seergemaak. Wat was dit wat hom sy kop weer laat optel het, daar waar hy gebroke en stukkend langs die lewenspad gelê het?

Net een ding: God se krag, dieselfde krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het! En dit is krag soos geen ander krag nie (Ef 1:19-21). Toe hy daar langs die pad begin tas het na iets om aan vas te hou, het hy God se kragtige hand gevoel. Toe hy net wou hoor dat iemand vir hom sê: “Jy’s nie so sleg nie”, was dit God se stem wat hy gehoor het. Toe die strale van die son te skerp was vir sy donker siel, was dit God wat hom lig gegee het met die woorde: “Jy is vergewe”. En hy kon weer opstaan.

God se krag het Jesus laat opstaan. Hoeveel te meer kan dit jou nie laat opstaan nie?