27 Julie: Huweliksmaats moet mekaar respekteer. – Jan van der Watt

1 Kor 11:2-22 (fokus 11:2-16)

In die ou dae het vrouens hoede kerk toe gedra, want dit staan in die Bybel dat jy ‘iets op jou kop moet hê’ (11:5-6). Dis nie hoe Paulus dit bedoel het nie.

Destyds moes vrouens kopbedekkings dra as hulle uitgaan in die publiek. Dit was ‘n teken dat hulle hulle mans asook normale gesonde gesinsverhoudings respekteer. As jy nie so kopdoek opgehad het nie, het mense gedink jy is ‘n slegte vrou wat mans soek. In die privaatheid van die huis was dit egter nie nodig om kopdoeke te dra nie. Toe gebeur daar iets – die Christene begin kerk hou in huise. Skielik is die huis nou nie meer ‘n privaat plek as die gemeente daar bymekaar kom nie, maar ‘n publieke plek (‘n kerk). Wat Paulus nou sê is dat vrouens ook in die huis maar kopdoeke moet dra as die kerk aan die gang is, anders dink mense wat daar inloer dalk hulle is slegte vrouens. As die diens verby is en die huis is weer huis kan hulle maar weer die kopdoeke afhaal.

Dit gaan dus nie oor kopdoeke nie, maar oor die ‘seine’ wat ‘n vrou uitstuur. As jy nie jou ‘kopdoek’ dra nie, stuur jy seine uit dat ander mans maar na jou kan kyk… en dalk ‘n bietjie meer. Ons doen dit vandag anders en daarom moet getroudes hier katvoet loop. Ons stuur ander, miskien meer subtiele seine uit om ander mans en vrouens na ons te laat kyk… en nie net kyk nie. Dit kan ons kleredrag wees, ons manier van praat of die uitnodigende kyk. Daarvan hou die Here nie. As jy getroud is, is die tyd vir uitnodigende seine verby! Dan moet jy so aantrek en so met die teenoorgestelde geslag omgaan dat mense die groot sein kry: Ek respekteer my huweliksmaat. Ons behoort aan mekaar.




26 Julie: Moenie die vreugde van die lewe misloop nie. – Jan van der Watt

1 Kor 10:14-11:1 (fokus 10:23-33)

Dit is ‘n wonderlike voorreg om die God te aanbid wat alles gemaak het, om die eenvoudige rede dat alles syne is. As ons musiek speel, kan ons dit geniet, want God het musiek gemaak. As ons kos eet hoef ons nie bang te wees dat daar allerhande bose geeste in is  nie, want God het dit ook gemaak. Ja, ons kan regtig alles geniet met ‘n lied in ons hart, ‘n lied wat die hele tyd vir die Here dankie sê vir alles wat Hy vir ons gee (10:31). Ons kan dit net geniet.

Ons moet egter veral vir twee afdraaipaadjies versigtig wees:

  • Die een afdraaipaadjie is om te vergeet dat die Here alles gemaak het vir ons om te geniet. Ons begin dan weghardloop vir alles en gaan kruip in ‘n koekon van wette weg. Oppas vir dans… jy mag nie daai musiek speel nie… jy mag nie dat in jou huis hê nie en so aan. Moenie dat die wonderlike geleenthede wat die Here vir jou in jou lewe geskep het by jou verbygaan omdat jy in ‘n koekon van wette lê en wegkruip nie.
  • Dit gesê, moet ons ook die ander sy onthou. Daar is dinge waarvoor jy maar versigtig moet wees en liefs moet vermy. Die tweede afdraaipaadjie is om dit wat die Here vir jou gegee het verkeerd of sleg te gebruik. Jy gebruik dit nie om God gelukkig te maak nie, maar om ander mense seer te maak of te laat struikel. Oppas daarvoor. Jy kan nie die Here se skepping gebruik om af te breek of stukkend te maak nie.

Moenie die vreugde van die lewe misloop nie. Geniet dit op die regte manier. Probeer om nie ander mense of veral God seer te maak met die manier waarop jy leef nie.




25 Julie: Maak tyd vir jou geestelike oefeninge. – Jan van der Watt

1 Kor 9:24-10:13 (fokus 9:24-27)

“My vrou het gesê dat as ek nie ophou golf speel nie, sy my gaan los”, sê ‘n ou eendag vir sy vriend. “Dis jammer”, antwoord die vriend. “Ja, ek gaan haar mis”. Prioriteite in die lewe is belangrik. Snaaks genoeg vra ons nie altyd wat regtig belangrik is nie. Ons spandeer meer tyd aan goed wat minder belangrik is as aan dit wat regtig tel.

Een van die geheime van ‘n normale Christelike lewe is om reg te fokus. Jou prioriteite moet reg wees. Eerste dinge moet eerste kom. Dit is waarvan Paulus praat as hy sê ons moet soos atlete oefen (9:24-27). Destyds het ‘n tweede of derde plek niks getel nie; jy moes wen. Om dit te kon doen, moes jy hard en doelgerig oefen. Jy moes reg eet en om aan die Olimpiese spele deel te neem het atlete partymaal vir maande voor die tyd in oefenkampe gaan bly. Om te kon wen moes jou prioriteite en fokus reg wees. Dit werk nie anders met ‘n mens se geestelike lewe nie.

Ons is dikwels so besig met ons alledaagse ‘golf’ dat ons die Here ‘n bietjie afskeep, nie noodwendig omdat ons dit wil doen nie. Dit gebeur maar, omdat ons nie tyd maak vir ons ‘geestelike oefening’ nie. Ons bedoel om te bid en stil te word, maar voor ons ons kon kry is die dag verby en dan moet die Here met net ‘n kort gebed tevrede wees. As jou lewe so lyk, moet jy weet… jou prioriteite is besig om deurmekaar te loop.

Jou prioriteite moet reg wees – maak genoeg tyd vir jou ‘geestelike oefeninge’.




24 Julie: Oppas vir Christen “freaks”. – Jan van der Watt

1 Kor 9:1-23 (fokus 9:19-23)

 ‘n Mens kry nogal Christen “freaks”. Hulle is so vreemd aan die samelewing dat niemand regtig soos hulle wil wees nie. Hulle wil uitstaan, ja, op allerhande manier wys hulle is anders. Dan dink hulle hulle is regtig Christene. Hulle doen soms sulke vreemde dinge dat gewone mense net hulle wenkbroue lig en een ding weet: so wil hulle nie wees nie.

Natuurlik is daar dinge wat Christene anders maak as nie-Christene, maar ons moet seker maak ons weet wat dit is. Paulus sê juis dat een van sy belangrikste maniere om Christen te wees is om met die “skares saam te smelt”. Hy lyk soos een van hulle en leef normaal tussen hulle (9:20-22). Dit maak tog nie vir die Here saak wat se klere hy dra, of hoe hy eet of waar hy inkopies doen nie. As sulke dinge jou nader aan ander mense bring sodat jy die kans kry om hulle aan jou vriend Jesus bekend te stel, hoekom nie? As jy daar eenkant staan omdat jy kamma so anders is en almal lag vir jou gaan niemand ook in jou vriend belangstel nie.

Hier is die sleutel: jy moet aanpas en inskakel… maar net tot op die punt waar Jesus nog saam met jou sal wil gaan. Dit help nie jy skakel so in dat Jesus agterbly nie. Dit vra fyn aanvoeling en balans van jou. Jy moenie te ver gaan nie, maar jy moet ook nie te ver wegbly nie.

As jy wonder… vra Jesus om jou te help om reg op te tree. Hy is immers die Een wat saam met jou moet gaan.