23 Julie: Liefde en manupilasie is nie vriende nie. – Jan van der Watt

1 Kor 8:1-13 (fokus 8:1-13)

 ‘n Christen het sowaar ‘n bietjie lewenswysheid nodig as dit by liefde kom. Aan die een kant kan Christene nie sonder liefde klaarkom nie. Aan die ander kant word liefde in die hande van party ‘n regte manipulasiemonster.

Mense gebruik liefde maklik om Christene te kry om te doen wat hulle wil. Hulle weet liefde wil goed wees, wil gee, wil help of vergewe en dit maak liefde die perfekte manipulasiemiddel. “Jy’s mos ‘n Christen wat liefhet… daarom móét jy vir my gee as ek bedel, móét jy my maar vergewe en bly vergewe as ek droogmaak, móét jy die een wees wat opoffer”, en so aan. Natuurlik hang die swaard dan oor jou kop… as jy nie doen wat gesê word nie, is jy nie ‘n Christen nie. Christene moenie hulleself toelaat in om die spel van manipulasie ingetrek te word nie. Dit is nie hoe liefde werk nie.

Liefde offer wel op, maar dan om op te bou (8:1). Die Christen sal terugstaan en die minste wees maar dan juis met die doel om die ander nader aan Jesus te bring (8:12). Dit is die verskil tussen werklike liefde en manipulasie. Die manipuleerder wil net sy eie doel dien en hy wil jou gebruik om daar uit te kom. Liefde wil die ander persoon opbou deur hom nader aan Jesus te bring.

Daarom het die Christen ‘n bietjie lewenswysheid nodig om mooi te kan onderskei wat wat is. Maar ‘n stukkie goeie raad, as jy nie seker is nie, “sondig” dan maar eerder na die kant toe van ‘n biejtie te veel liefde.




22 Julie: Trou is nie perdekoop nie. – Jan van der Watt

1 Kor 7:25-40 (fokus 7:36-40)

 Daar is ‘n ou gesegde: As jy dink trou is perdekoop kry jy dalk ‘n donkie. Jy kies nie sommer een oggend vinnig op ‘n “fundisie” ‘n huweliksmaat nie, want die persoon wat jy kry gaan nie in die “stal” slaap nie, maar in jou bed.

Om te trou is soos om ‘n koek te bak. Die troue is net die openbare verklaring dat julle tweetjies meen julle het saam die regte bestanddele om ‘n lekker koek te bak. As die dominee sê: “Julle is nou man en vrou” begin die bakkery eers en dit duur lewenslank. Nou weet ons dat as jy die regte bestanddele op die verkeerde manier meng, misluk die koek. As ons te min of te veel van sekere bestanddele insit proe die koek na niks. As daar te veel hitte met die bakkery is, brand die koek swart en te min hitte kan die koek laat platval. Nee, ‘n mens moet dit reg doen, van die begin af… en nooit ophou om dit reg te doen nie. Dit is ‘n lewenslange proses, want jy koop nie sommer vinnig ‘n perd nie, jy trou ‘n lewensmaat.

In die huwelik kry jy baie, maar jy moet meer gee; jy moet jouself gee met al jou “bestanddele”. Dit vat harde werk en baie opoffering om saam met jou lewensmaat die regte mates en mengsels in julle huwelik te kry. Maar jy moet bereid wees om dit te gee. Die huwelik vra konstante, harde werk, elke dag. As jy dit verwaarloos, moet jy verwag dat daar iets met die bakkery verkeerd kan loop. En dan is daai koek sleg.

Pas jou huwelik op deur genoeg aandag te gee aan hoe jy dit “bak”.




21 Julie: God verander nie jou omstandighede nie. Hy verander jou. – Jan van der Watt

1 Kor 7:10-24 (fokus 7:17-24)

 God verander nie noodwendig jou omstandighede nie, Hy verander jou om juis daardie omstandighede behoorlik te kan hanteer.

Ons probeer dikwels van die Here ons privaat straatveër maak. Waar ons loop moet Hy sorg dat dit skoon is en dat ons nie struikel nie. Natuurlik is dit nie die Here se werk nie. Die Here werk nie met strate nie, Hy werk met mense. Hy verander jou om op enige straat te kan loop en selfs as daar nie meer ‘n straat is nie, nog staande te kan bly.

Ja, die Here verander jou om situasies behoorlik te kan hanteer. So is Hy seker dat geen situasie jou sal kan platslaan nie. Ongelukkig kyk ons dit dikwels mis. Ons is baie geneig om ons situasie en selfs vir God of ander mense die skuld te gee as dinge nie is soos ons dit wil hê nie. Dan raak ons vinnig baie ontevrede met ons situasie. Ons pak onsself dan so toe met klagtes en foutvindery dat ons knieë uiteindelik knak.

Ons moet liewer by God die krag kry om in die situasie die beste te doen wat ons kan. Sien dit so: as jy aan die Here behoort, is jy in sy hand. En op hierdie oomblik is die plek waar God jou vashou, die situasie waarin jy nou is. Dit is waar Hy jou nou wil hê. Die geluk is dat jy nie alleen daar is nie, maar dat Hy by jou is. En solank Hy by jou is, is die krag genoeg. Met God by jou sal die situasie jou nie oorleef nie, jy sal die situasie oorleef.

 Geen situasie is so groot dat jy dit nie kan hanteer nie, nie as die Here by jou is nie.




20 Julie: Pas jou liggaam mooi op. – Jan van der Watt

1 Kor 6:12-7:9 (fokus 6:12-20)

‘n Mens kan nie sommer met jou liggaam doen wat jy wil nie. Dit is net so belangrik vir die Here as wat jou gees is. Hy het altwee gemaak en altwee behoort aan Hom.

Paulus moes destyds hierdie boodskap net weer onderstreep, want onder die ryker vry mense was daar die idee dat jy letterlik enigiets kon doen (6:12), veral by drinkpartytjies. Dit is hoe hulle vryheid verstaan het, om eenvoudig te kan doen wat jy wil. Selfs hulle groot filosoof, Aristoteles, het vryheid so gedefinieer. By die groot drinkpartytjies was daar natuurlik vroue ook en dan was daar geen keer nie. Teen die agtergrond skryf Paulus 6:12-20.

Christene se vryheid word altyd beperk, omdat hulle nooit alleen is nie. God se Gees is in hulle (6:19). Saam met Hom is hulle vry om te doen wat hulle wil, mits die Gees gemaklik daarmee voel. Dit geld ook vir hulle liggame. Hulle moenie dinge met hulle liggame doen waarvan die Gees nie hou nie. Immers, destyds het die mense alles wat hulle kon gedoen om hulle tempel mooi te hou. Hulle sou hulle laaste sente daarvoor gee. Ons liggame is nou die blyplek of tempel van die Gees. Net so moet ons alles in ons vermoë doen om ons liggame so gesond en fiks te hou sodat dit ‘n goeie blyplek vir die Gees kan wees.

Jou liggaam behoort ook aan die Here (6:20). Pas dit mooi op.