3 Desember: Luister na jou hemelse afrigter. – Jan van der Watt

2 Pet 1:1-15 (fokus 1:3-8)

ʼn Afrigter maak dikwels die span, maar kan die span ook breek. Dit is hy wat moet sorg dat die span fiks genoeg is en dat elkeen weet wat om te doen.

God wil ook hê dat sy span in die wêreld goed moet doen – nee, Hy wil hê hulle moet die beste wees. Sy afrigtershandboek vir sukses lees ons in 1:5-7.

  • Die basis van alles is: Ons moet luister na ons Afrigter en doen wat Jesus wil hê.
  • Ons moet weet wat Hy van ons verwag deur sy Handboek (die Bybel) mooi te bestudeer.
  • Ons moet nie toelaat dat die opponente ons met slim taktiek uitvang nie. Ons moet wakker wees en nie in versoeking kom nie.
  • Ons moet ons ook nie agteruit speel of moed verloor nie. Terugval moet nie deel van ons woordeskat wees nie. Ons moet sterk bly staan.
  • Ons moet nie vir onsself speel nie, maar vir die Here. Ons moet daaraan dink dat as óns verloor mense eintlik dink die Here het verloor. Dit mag nie gebeur nie.
  • Ons moet goeie spangees hê. Ons moet vir ons spanmaats omgee en hulle help. Sonder spangees gaan ons nêrens kom nie.
  • Ons moet so speel dat ons vyand respek vir ons sal hê. Om die waarheid te sê, dit moet vir hulle so lekker lyk om vir ons span te speel, dat hulle graag ook deel van die span sal wil word.

So ‘n span sal moeilik geklop kan word!




2 Desember: God se leierskapstyl.– Jan van der Watt

1 Pet 5:1-14 (fokus 5:1-4)

God se leierskap laat jou nie in troonsale of parlemente land nie. Sy leierskapstyl is anders. Om die waarheid te sê, as ons sy leiers in die wêreld begin soek, gaan ons lank soek as ons nie reg soek nie. Ons moet weet wat om te soek.

Waar begin ek as ek reg wil soek? Op die kansel? In die kerkraad? By die dagbestuur van die vrouediens? Jy sal sekerlik ook daar (gemengde) sukses behaal. Maar as die Here sou begin soek, sal hy begin by die plek in die gemeente waar die armste mense bly, sal Hy gaan stop by die ou tannie wat nie meer uit haar bed kan kom of haarself kan help nie. Hy sal stop en soek by die persoon wat geestelik sukkel, of die dogtertjie wat nie ʼn ma of pa het nie. By die broos mense, die mense wat hulp nodig het, sal Hy gaan soek.

Want vir Hom is ware leiers mense wat Jesus se voorbeeld volg: om te help en te versorg. Toe Hy hier was, het hulle hom nie in paleise by die konings gekry nie, maar by die sondaars aan tafel… hulle het Hom nodig gehad. Hy het by die blindes en siekes gaan staan toe sy dissipels verder wou stap.

God se leiers gaan staan stil waar sy hulp nodig is. Daar sal hulle nooit verbystap nie.




1 Desember: Nie lyding nie, maar onwrikbare gehoorsaamheid.– Jan van der Watt

1 Pet 4:12-19 (fokus 4:12-19)

“Christene moet swaarkry” (1 Pet 4:12). Toe Petrus dit geskryf het, het hy waarskynlik nie geweet watter invloed hierdie woorde op Christene sou hê nie. Martelare deur die eeue het hierdie woorde aangegryp en is daarmee tronke, brandstapels, of arenas met wilde diere in sonder om ʼn oog te knip. Hulle was oortuig hulle doen net wat die Bybel van hulle vra. Party van hulle wou selfs doelbewus gemartel word om so te bewys dat hulle tot die dood toe aan die Here gehoorsaam is (en ʼn plekkie in die hemel verseker).

Die spreuk is waar: die kerk het uit die bloed van die martelare gegroei. In die eerste eeue het die onverskrokke toewyding van die martelare hulle vyande aangegryp. Iemand wat bereid is om sy lewe so te gee, moet darem sowaar glo aan die waarheid waarvoor hy sterf. Dieselfde het in die twintigste eeu in Korea gebeur. Dit het die kerk geword wat die vinnigste in die wêreld gegroei het omdat Christene ten spyte van die vreeslikste martelinge onvoorwaardelik vas bly staan het.

Tog verstaan ons Petrus verkeerd as ons dink hy het bedoel dat om Christen te wees beteken dat ons móét ly. Nee, wat ons móét doen is om onwrikbaar aan die Here gehoorsaam te bly, selfs al vra dit van ons opoffering en lyding. Die Here gaan nie eendag vra hoe baie jy vir Hom gely het nie, maar hoe onverskrokke jy in jou toewyding en diens aan die Hom was, al het dit jou wat gekos.

As daar iewers op jou pad lyding ter wille van die Here gevra word, betaal die prys gewilliglik.




30 November: Gebruik God se veiligheidskleppe.– Jan van der Watt

1 Pet 4:1-11 (fokus 4:7-11)

‘n Les wat die lewe ons keer op keer leer is dat jy nie liefde kan forseer nie. Tog vra die Here oor en oor van ons om mekaar lief te hê. Dit is omdat Bybelse liefde nie in die eerste plek “hartliefde” is nie, maar “kopliefde”. Dit gaan nie oor emosie nie, maar oor gesindheid. As dit by gesindheid kom, vra die Here van ons lojaliteit en opoffering.

Lojaliteit lê in jou hande – dit is iets waaroor jy kan besluit. Jy kan besluit om iemand te help wat jou nodig het. As daar op jou knoppie gedruk word, is jy die een wat sal besluit of jy wil reageer of nie. Dit is ‘n besluit wat jy neem en nie ‘n gevoel wat jy voel nie. Daarom het niemand van ons ‘n verskoning as dit by die Bybelse liefde kom nie. Jy kan besluit om lojaal teenoor God en jou mede-gelowiges te wees, want jy is baas oor jou eie besluite…

Lojaliteit kan ook maar knak… veral as jy probeer, maar net ondankbaarheid terugkry van mense wat jy probeer help of jy kom agter mense misbruik net jou lojaliteit. Later vra jy jouself of dit alles die moeite werd is.

Juis daarom het die Here soveel veiligheidskleppe in die liefde ingebou. Hy vra dat ons mekaar se foute moet oorsien, want ons almal maak foute. As jy elkeen se foute gaan onthou wat iets verkeerd teen jou gedoen het, gaan jou lojaliteit en liefde verseker daaronder steier. As iemand om hulp vra, help… moenie dan toelaat dat negatiewe dinge in die situasie jou aan die kla of brom sit nie (8-9). Dan gaan jou lojaliteit ook nie lank hou nie. Hierdie gesindheid hang nie van jou emosies af nie, maar van wat jy besluit. Bybelse liefde is inderdaad “kopliefde”.

Lojaliteit maak dus jou oë toe vir die negatiewe en fokus jou aandag op die positiewe… en as bonus gee dit jou nog ‘n kort geheue ook as dit by mense kom wat jou skade aangedoen het. Hierdie veiligheidskleppe van God sal jou help om te kan aanhou liefhê. Gebruik dit.