29 November: Maak van elke geleentheid die beste gebruik.– Jan van der Watt

1 Pet 3:8-22 (fokus 3:12-17)

Ons moet die kanse wat ons in die lewe kry, benut, want ons weet nie wanneer daardie kanse weer oor ons pad gaan kom nie. Dit geld ook vir kanse om te vertel watter rol God in jou lewe speel.

Elkeen van ons weet hoe ongemaklik dit kan wees as ons saam kuier of oor iets by die werk gesels en iemand “getuig” skielik. Daar is plekke en geleenthede vir alles en daarvoor moet ons ‘n fyn aanvoeling ontwikkel. As die geleentheid kom om wel oor die Here te praat, moet ons dit nie laat verbygaan nie. Maar maak seker dit is die regte geleentheid – as die situasie reg is, moet die woorde daar wees (15).

Maar dit gaan nie net oor “getuig” nie. Vir Petrus is die manier waarop ons dit doen net so belangrik (16). ‘n Geleentheid kan net eenmaal kom en ons moet dit nie opmors nie. Ons moet absoluut die beste daarvan maak, want die saak waarom dit gaan is lewensbelangrik. As hy sê: “Doen dit mooi” gee hy nie ‘n resep nie, maar praat hy oor sensitiwiteit en gesindheid. As jy in die situasie kom, moet jou oë en ore oop wees om die situasie so te lees dat jy die beste daaruit kan haal. Jy moet elke situasie voluit benut om jou doel te bereik. Daarom is dit so belangrik om dit reg te doen. Moenie maak soos die assuransieagent wat sê: “Jy moet die polis koop. Ek het ‘n paar weke gelede ‘n polis aan iemand verkoop en hy is verlede week dood. Toe betaal hulle R1,000,000 aan sy familie uit. Jy kan net so gelukkig wees” nie. Lees die situasie mooi, hou die persoon se reaksies dop, reageer daarop en moet bo alles nie aan die stry gaan nie.

Maak goeie gebruik van elke geleentheid, maar net as dit regtig ‘n geleentheid is.




28 November: Erken jou skuld; dit is nie so swaar nie.– Jan van der Watt

1 Pet 2:22-3:7 (fokus 2:22-25)

Dit is so maklik om ons skuld vir ander uit te deel en ons doen dit gereeld, want dit laat ons beter voel. So gaan dit mos maar. As iets verkeerd loop is dit altyd almal se skuld behalwe jou eie. Dit werk baie soos jou wenkbroue – dit is so deel van jou, jy sien dit nie eers raak nie.

Die probleem is dat as ons nie eerlik met onsself is nie, ons die skuld op ander begin pak. As ons eers dit begin doen, land ons in ‘n bose spiraal. Ons neem ander kwalik en begin redes soek waarom hulle skuldig is. As ons redes uitgedink het, blaas ons dit op en begin dan daaroor kla. Die ander probeer hulleself dan verdedig en so ontstaan ‘n gestryery… en wie weet waar dit alles gaan eindig? As ek maar net aan die begin my fout erken het, was die hele bose spiraal nie nodig nie.

Ons moet liewer soos Jesus leef (2:22). Hy het nie skuld op ander gepak nie. Hy het eerder die skuld van ander op homself gelaai, solank dit ander gehelp het. As Hy wat geen skuld gehad het nie, dit gedoen het, hoeveel te meer moet ons – wat skuld het – nie oppas om verkeerdelik die skuld op ander te pak nie.

Ons wenkbroue is ons s’n… ons skuld ook. Die regte weg is om eerlik met jouself te wees en te erken as jy ‘n fout gemaak het. Dit is die vinnigste manier om dit reg te maak. Onthou, om ‘n fout te maak is nie ‘n skande nie. Maar om so dwaas te wees dat jy nie jou eie foute te wil raaksien of dit nie wil probeer regmaak nie, neig nogal in daardie rigting.




27 November: Van boemelaar na prins.– Jan van der Watt

1 Pet 2:9-21 (fokus 2:2:9-12)

Sjoe, die mense in Petrus se gemeente het swaargekry. Hulle is wel nie fisies doodgemaak nie, maar is sosiaal vermoor. Ons lei af dat die dorpsmense niks met hulle te doen wou gehad het nie, hulle geïgnoreer het en eenkant toe geskuif het. Innerlik is hulle afgetakel. Daarom het hulle begin wonder of dit nog die moeite werd is om God te dien. Sou dit nie dalk makliker wees om jou godsdiens in te ruil vir die aanvaarding van die wêreld nie? Petrus moes hulle help.

As Petrus mense moet help wat onseker is of aan hulle geloof twyfel, vat hy hulle terug na hulle fondamente toe. Hy herinner hulle weer aan wie hulle is. Hulle is God se mense, want Hy self het hulle Syne gemaak. En wie wil nou die wêreld s’n word, as jy God s’n is? Wie gee nou om vir ‘n paar lelike woorde van ongelowige mense as jy God se groot en goeie nuus ken. Ja, God het jou van boemelaar na prins verander; van niks na iets… na sy kind (9-10).

Daarom moet jy nie leef vir die goedkeuring van mense nie; jy moet so leef dat God met jou tevrede is. Die besef van sy goedheid en genade moet die pyle van jaloesie en belediging afweer wat ongelowiges so kwistig afvuur. Die alleenheid in ‘n wêreld wat jou eenkant toe skuif moet verdwyn onder die wete dat God by jou is. Die kwaai kyke of skewe woorde wat jou probeer lamlê moet jou juis aanspoor om die goeie nuus wat sulke mense so nodig het, te lééf.

Swaarkry omdat jy ‘n Christen is, was eintlik nog nooit regtig swaarkry nie. Dit was nog altyd net ‘n geleentheid… ‘n geleentheid om jouself weer as God se kind te ontdek en so ‘n verskil te gaan maak waar dit die moeilikste maar die nodigste is.




26 November: Die lewe is verganklik… jy ook.– Jan van der Watt

1 Pet 1:22-2:8 (fokus 1:22-25)

Al het ons al die geld in die wêreld, kan ons jeugdigheid nie koop of ouderdom keer nie. Op een of ander stadium haal die engel van die dood ons ook maar in en dan het ons niks om agter weg te kruip nie, nie ons geld nie, nie ons status nie, nie ons invloedryke vriende nie, nee, niks nie. Dan is ons alleen. En as daai engel eers klop, is dit verby. Dan het jy jou kanse gehad. Dan word die somme opgetel en die boeke gebalanseer.

Dit is waarvan die Bybel praat as dit sê ons is soos gras van die veld, tydelik, verganklik (1:24). Dit is juis as jy jou eie verganklikheid besef dat jy na vastigheid begin soek. Jy sal dan gou ontdek, die enigste werklike vastigheid lê buite jouself. Dit lê in God. As daai doodsengel klop, is net God oor, want Hy is ewig. As jy Hom ken, lei die doodsengel jou na Hom toe. Ken jy Hom nie, het jy niks nie… behalwe jou eie verganklikheid.

Jy moet besluit, ja, betyds besluit, want die doodsengel is oppad…