Christene met depressie

image_pdfimage_print

 

If you were arrested for being a Christian, would there be enough evidence to convict you? (David Otis Fuller).

 

Christene met depressie

Ons het baie meegevoel met hierdie mense en probeer hulle help, maar in die proses sê ons dikwels dinge wat sake net vererger. Die bedoeling is eerbaar. Hierdie mense wil werklik help. Hier is ’n paar voorbeelde:

  1. Kom daaruit – ruk jou reg

Ons dink dit is maklik om sommer net daaruit te kom. Ons glo al wat nodig is, is wilskrag – jy moet net die regte besluite neem. Dit werk nie so nie. Mense met depressie sou tog onmiddellik daaruit gekom het as dit so maklik was. Mense wil nie depressief wees nie.

 

  1. Dink positief

Klink reg. Ongelukkig kan mense met depressie meestal nie positief dink nie. Dit is hoekom hulle depressief is. Hulle wil nie negatief dink nie, maar hulle kan net nie anders nie.

 

  1. Bely jou sondes

Natuurlik is daar sonde in die lewe van iemand met depressie, maar dink hieroor:

  • Almal doen sonde, maar nie almal het depressie nie. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie (1 Johannes 1:8).
  • Hulle kan nie die verlede verander nie. Die sondes in hulle lewe is dikwels jare gelede se keuses oor lewenswyses. As hulle hul keuses kon verander het, sou hulle dit gedoen het.
  • Hulle weet reeds dat hulle sondaars is. ’n Persoon wat depressie het, sal weet of dit sonde is wat dit veroorsaak – alkohol, dwelms, ens. As sonde die oorsaak van die depressie is, is uiterste takt nodig.

 

  1. Kry net vir jou medisyne

Natuurlik is medisyne ook ’n gawe van God. In sommige gevalle is dit beslis nodig, maar dan moet dit reg gebruik word. Die vraag is of daar nie gou na medisyne gegryp word nie. Vir sommige is medisyne nodig om net oor die heuwel te kom; ander moet dit permanent gebruik.

 

  1. Ek was al deur erger dinge

Maak nie saak hoe goed jy dit bedoel nie, moet dit net nooit sê nie. Dit mag waar wees, maar vir iemand met depressie is dit waardeloos, want:

  • Die donker gat waarin iemand met depressie mag wees, is die ergste ding wat nog ooit met hom gebeur het. Die tragiese gebeure wat hom daar gebring het, verdwyn op die agtergrond.
  • Lyding is relatief. Daar sal altyd mense wees wat slegter as jy af is. Wat belangrik is, is hoe jy jou lyding internaliseer relatief tot wie jy vantevore was.

 

  1. God sal nie meer aan jou gee as wat jy kan hanteer nie

Die Bybel sê wel dat ons nie bo ons kragte versoek sal word nie (1 Korintiërs 10:13). Nooit sê die Bybel dat ons nie meer pyn of lyding sal kry as wat ons kan hanteer nie. Wat ons wel kan sê, is dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Die los nie ons depressie op nie, maar gee vir ons perspektief.

 

  1. Depressie is sonde – jy moet vreugde in jou lewe hê

Net iemand wat nog nooit depressie ondervind het nie, sal so iets sê. Depressie is nie ’n sonde nie.

 

Hierdie is die dinge wat jy nie moet doen nie. Maar wat moet jy dan doen? Dit is nie jou taak om die depressie op te los nie, maar jy kan baie doen om die persoon met depressie beter te laat voel. Moenie jouself verantwoordelik hou vir iets wat jy nie kan doen nie. Job se vriende het sewe dae by hom gesit en niks gesê nie Hulle moes nog langer stilgebly het.

 

Stilte met jou arm om die persoon is die beste raad. Daar mag ’n tyd kom om vrae te vra, maar dit moet natuurlik kom en sonder veroordeling. Moenie preek nie; hou hulle vas. Jou doel is nie om hulle te genees nie, maar om daar te wees as hulle jou nodig het.

 “Silences make the real conversations between friends. Not the saying but the never needing to say is what counts.” – Margaret Runbeck

 

image_pdfimage_print